Pages

27.5.12

Katbos en Kambro, as dit reën in KwaZulu-Natal

Die heuwels roep uit, met die klank van m-u-u-siek! Hulle word nie net lewendig en roep uit nie, hulle gee saam met die kranse antwoord dat harte bibber en beef.

Ja, in vergelyking met Pappa, Mamma en Klaars is die ganse Von Trapp-gesin ‘n swerm stom swane gewees wat, volgens ‘n Antieke Griekse legende, kort voor die einde van hul ondermaanse bestaan vir die een en enigste keer ‘n stem kry, ‘n ietsie sing, en dan knap daarna sommer net vanself sterf.

Ons, aan die ander kant, sal vir ons ‘n pad uit enige oorlog oop kan sing, van hier tot in Timboektoe, en weer terug ook as dit moet. Die mense maak net pad as ons sing. En hulle maak nie net pad nie, hulle gee sommer pad.

Ek dink ek het dit al genoem dat dit nogal ‘n vreemde gesig, en net so vreemd op die oor is, as ek en Klaradyn die strate in vaar op ons fietse en hierdie sewejarige meisietjie met die blonde haartjies sing as ons verby kom, soos Jacques Brel haar dit nooit in sy eie leeftyd sou kon nadoen nie, sy Drinklied uit volle bors:  “Dit ruik na bier, en dit ruik na wyn, van Londen af, tot in Berlyn; dit ruik na bier, en dit ruik na wyn, hier van Parys, tot in Turyn.”

En as ons weer verby op pad  terug kom, kuier ons in Amsterdam op die kaai:  “Op die Amsterdamkaai eet matrose hul vis, dit is fyn opgedis maar die porsies tamaai...”

Genadiglik gaan dit hier teen die einde so vinnig en opgerui dat Klaradyn nie voor 16 die volle waarheid en strekking van die lied se slot sal snap nie.

Ons is ‘n singende gesin, dis nou maar wors. Annieka sing nie juis nie; sy kan nie sing nie en hou haar mond maar toe. Ek kan nog minder sing, maar het in al die jare nog nooit die vaardigheid en takt bemeester om my bek toe te hou nie.

Ek onthou, soos gister, die dag in standerd 1 toe ons in die klas gesing het. Dit was vroegoggend en vir al wat ek weet het ons gewyde liedjies gesing. My juffrou, Juffrou van Rooyen, wat deur die loop van die jaar Tannie Marthie sou word omdat ek en haar seun daardie jaar, tot vandag toe nog, die beste van vriende sou word, was agter in haar stoor besig. Sy het uit gekom en by die stoordeur bly staan. Toe ons met die een versie klaar het, en inasem vir die wegtrek aan die volgende versie, het sy, baie ordentlik en eintlik vreeslik diplomaties, gesê:  “Hansie, jy hoef nie so hard te sing nie.”

Ai, en my arme kind is dieselfde. Sy het in haar graad 1-jaar DRIE keer vir ‘n kooroudisie gegaan. Sy was vanjaar al twee keer vir die oudisie. En toe hoor ek die koor tydens die skool se Hemelvaart-erediens. Dis regtig die skool se juniorste van junior kore, en dan is hy nog baie klein ook. Ek het heel agter in die kerk gesit en gesien die kindertjies se mondjies gaan oop en daar is ‘n tannie wat handbewegings maak, maar ek het my hoogstens verbeel ek hoor iets. Dit kon selfs ‘n selfoon gewees het wat iewers gelui het, ek is nie seker nie.

Maar toe vertsaan ek waarom my kind in haar lewe nie vir haarself ‘n plek ‘n hierdie koortjie oop sal kan sing nie – sy doen wat haar pa doen, wat haar pa haar kleintyd al geleer het: sy sing nie om mooi te sing nie, sy sing om lekker te sing, met oorgawe lekker te sing.

Dis dan ook miskien hoekom sy toe na die vyfde onsuksesvolle kooroudisie by die huis kom en te vertelle het dat die kinders haar vertel sy nie bekommerd hoef te wees nie – volgende jaar se koor is die senior koor, daardie koor is heelwat groter en sterker en dan hoef die kinders nie almal heeltemal so mooi te sing nie.

My arme kind. Maar ek moet bieg, as ek enigsins ‘n juffrou met ‘n hart vir kinders was, en dieselfde kind is voor my vir haar vyfde selfopgelegde kooroudisie, het ek die kind in my koor gesit met die woorde:  “Poppie, jy kan kom koor sing maar dan moet jy Juffrou belowe om net jou mondjie oop en toe te maak en te maak of jy sing.”

Dis presies wat met my gebeur het toe ek die eerste dag in graad 1 instap; ek moes saam met maatjies op die verhoog op koorbankies staan en maak of ek sing. Ek het mos twee dae voor ek moes skool toe gaan, pampoentjies of masels gekry en is twee weke, wat soos ‘n maand gevoel het, in ‘n donker kamer opgesluit gehou. En toe ek uiteindelik vir my eerste dag instap, toe is sommer reguit saal toe, verhoog en koorbankies toe, om iets te sing waaraan die ander maatjies twee weke lank geoefen het.

In elk geval, dit gaan eintlik oor drie goedjies, wat ek nie wil vergeet nie, wat ek hier wil aanteken; drie goedjies waarvan ek die derde een, drie jaar later, hoeka al halfpad vergeet het.

Hulle sê mos ‘n mens moet sekere goed aanteken, ons het selfs ‘n boek daarvoor gekry: wanneer die kind die eerste keer kruip, die eerste woorde (dag en datum), gewig en lengte en omtrek, ‘n stamboom wat terug gaan tot in die voorste geslagte in, en ek weet nie wat nog alles nie. Ons het hierdie boek nie bygehou nie, en die meeste klein goedjies wat ek wou onthou, het ek lankal vergeet. Maar twee en ‘n half van vandag se drie, gelukkig nie.

Ons is in Pilanesberg Natuurreservaat. Klaradyn sit agter in haar karstoeltjie en begin, terwyl ons ry en diere soek, uit volle bors te sing, oor en oor, soos ‘n plaat wat vasgehaak het: “Foo, foo, glôdie-da-fóó – glôdie-da-fóó.” En dan weer, omdat die plaat regtig vasgehaak het, oor en nogmaals oor: “Foo, foo, glôdie-da-fóó – glôdie-da-fóó.”

Nou sy was nog regtig klein en kon skaars praat of dan nou woorde inmekaar geryg kry  om samehangende sinne agtermekaar in ‘n ry te kry.

Omdat daar duidelik ‘n wysie is, weet ons dis ‘n liedjie, maar kry uit haar uit dat dit beslis nie ‘n liedjie is wat sy by die kleuterskool waar sy pas begin het, geleer het nie. Dis iets wat sy op ‘n video (ons praat steeds van video al is dit lankal ‘n DVD) gekyk het, en ek en Annieka wonder hardop in die kar watse video dit dan nou kan wees wat die juffrou met haar maatjies gekyk het.

Nee, kom dit toe byna dadelik en baie duidelik van agter, dis nie ‘n kleuterskoolvideo nie, dis een by ons eie huis, ons het die video al baie gekyk.

Maar die kind is klein, baie klein, sy weet nie wat die naam is nie. En sy kan regtig nie die storie vertel nie – die storie is mos nou in Engels, die kind kyk eintlik net prentjies en luister byklanke. Maar die brein, soos ‘n spons, neem alles in, onder andere: “Foo, foo, glôdie-da-fóó – glôdie-da-fóó.”

Klaradyn het vir nog ‘n halfuur gesing, en ons het vir nog ‘n halfuur getob oor wat dit dan nou is waaruit hierdie liedjie van Klaradyn kom, maar toe sou iets ons aandag weggelei het en ons is huis toe. Klaradyn het van tyd tot tyd haar liedjie gesing en ons het selfs saam begin sing.

Dit was September dat ons in die wildtuin was; vir ons jaarlikse wegbreeknaweek as Pappa verjaar. Oktobervakansie kyk ons een aand ‘n video, en toe ons die video insit en hy begin, sê Klaradyn dat dít die video van haar liedjie is. Ek en Annieka staan nie eers op om te gaan piepie nie, ons is te bang ons mis die liedjie, want selfs al weet ons nou “foo-foo, glôdie-da-fóó” kom uit Ice Age, het ons steeds nie die vaagste benul watter liedjie dit kan wees nie.

En toe, seker so twee derdes deur die fliek, val alles in plek – die verhongerde diere trek weg, iewers vanuit ‘n boom hou ‘n groepie aasvoëls die exodus dop. Al wat hulle sien, is ‘n spul sterwende diere wat binnekort aas gaan wees, en hulle sing:  “food, food, glorious food.”

Wat my kind se brein in Pilanesberg daarby uitgebring het, sal ek nie weet nie. Is ons verby ‘n trop iets wat in die pad geval, gelyk het, of herinner het aan, die trekkende diere in die fliek?




Of was ons, wat gery en kyk het, vir haar soos die starende aasvoëls, ek weet nie.


Feit bly staan, haar ontwikkelende breintjie het iewers ‘n laterale denkpatroon ingeslaan en sy het die lyn getrek.

Skottelade en skottolade is die ander woordjies uit daardie tyd wat ek nooit wil vergeet nie. Dit was nie verkeerd onthou of dekodeer, soos met glorious food nie, maar ‘n artikulatoriese onvermoë van die tande, tong en lippe om die woord sjokolade korrek te vorm en uit te spreek. En nou weet almal dat sjokolade iets is wat enige kind altyd opgewonde het, so dis met ekstase en oorgawe dat my lieflingsdogtertjie, kleintyd, altyd van skotte- of skottolade gepraat het. Ek sien en hoor haar, soos gister. Maar die sien raak by die dag moeiliker, juis omdat ons so gewoond raak aan ‘n sewejarige, amper agtjarige, gesiggie.

Soortgelyk hieraan is die tongetjie wat in stadium met probeer gesukkel het, en al wat wou uitkom poebee was. Maar die derde een, wat ek net halfpad onthou, hou soos glôdie-da-fóó ook verband met ‘n liedjie. En ons is weer met vakansie en in die kar. Ons is vir die eerste keer af see toe. Ons ry vir die dag uit en ek sit Coenie de Villiers in die CD speler.

En oor ons ‘n singende gesin is, soos die Von Trapps voorgegee het om te wees, sing ons almal binne oomblikke saam, Klaradyn die hardste van almal:  “...ruik jy katkos en kano, as dit reën in die Klein-Karoo...”

En ek help haar toe, tot ontsteltenis van haar ma, reg en hê te vertelle dat dit nie katkos is waarvan die man sing nie, maar katkots (in plaas van katbos).

Wat ons egter, laf en verspot, daardie dag met die kambro wat kano geword het, gemaak het, kan ek vir al die geld in die wêreld nie vandag onthou nie.

Maar so bou ‘n mens, ‘n pappa, herinneringe op wat hy nooit as nimmerste nooit-ooit vir al die geld in die wêreld sal verruil nie.
 

No comments: