‘n Mens maak nogal ‘n lekker ertjiesop (en as dit nie vir jou lekker is nie, sal jy ten minste met my moet saamstem dat dit ‘n lekker dik ertjiesop is) van 18 kleinerige blikkies ingelegde ertjies, gemeng met so 4 blikkies melk, ‘n blokkie of wat ekstrak en heelwat snippers spekvleis.
Ons het sowat ‘n week gelede heerlike ertjiesop aan huis by vriende geniet en hierdie gasvrou se heerlike ertjiesop het my by die gedagte gebring om my ertjiesop, nie van gedroogde groen erte nie, maar van blikkies ingelegde ertjies te maak.
Saam met haar, eintlik ook seker C. Louis Leipoldt wat moet pa staan vir die lekker dik sop waarvan ek seker nog genoeg vir ‘n weermag in die yskas het.
En dan het dit niks met sy Kos vir die kenner of Polfyntjies vir die proe, of enige van die drie ander Leipoldt-kookboeke wat ek op die rak het, te doen nie; dis die man se empatie met die Boerevolk en die veel nader kennismaking met die Anglo-Boereoorlog as wat ek en my generasie ooit sal kan hê, wat die sop vandag in die Moolmans se yskas het.
Hy gaan skryf toe mos nou destyds Die ou blikkie, een van die baie gedigte wat hedendaagse lesers lankal nie meer lees nie, nie net omdat hulle twee en drie en meer geslagte, en meer as 110 jaar, van die Anglo-Boereoorlog verwyder is nie, maar ook omdat dit daarom so ouderwets, so oudmodies uit de oude doos, en so sielswroegend en so lank is:
Die ou Blikkie.
Wat is die ding, wat jy daar hou?
Wat droom jy oor 'n blikkie, vrou?
'n Armsalige ou blikkie?
Wat is die ding tog nou vir jou?
"Ek wil hom skoonmaak, dat hy blink
Soos silwer in die sonskyn: dink,
Die armsalige ou blikkie,
Daaruit het Gert en Griet gedrink.
"Ek wil hom met die grond hier vul,
Hier, waar die suring bloei so gul,
Die armsalige ou blikkie:
Miskien kan ek my droefnis kul.
“Ek wil daarin 'n plantjie plant,
Wat groei aan Griet haar graf se kant:
Die armsalige ou blikkie,
Was vasgeklem in Griet haar hand.
"As ek so in die sonskyn sit,
So blou die hemel bo, so wit
Die armsalige ou blikkie,
Dan droom ek weer oor dat en dit:
"Ons konsentrasiekamp is daar;
Die oorlog word ek weer gewaar—
Ag, armsalige ou blikkie,
Waarom het God ons nie gespaar?
"Was Gert en Griet nie heel my hart?
Die plaas is afgebrand en swart—
En jy, armsalige ou blikkie,
Herinner my nog aan my smart.
"Ons kan die plaas weer opbou: ja,
Jan het al geld op leen gevra;
Maar, armsalige ou blikkie,
Kan Gert en Griet my ooit weer pla?
"Daar in die konsentrasiekamp,
Daar in ons aaklig oorlogsdamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Daar is hul lewe uitgestamp!"
Vergeet, wat jy gely het, vrou:
Ons is weer vredevrinde nou!
Die armsalige ou blikkie,
Wat is die ding tog nog vir jou?
"Dit laat my dink aan Gert en Griet:
Al is dit 'n gebroke riet,
Die armsalige ou blikkie
Is anker teen my sielsverdriet.
"Die plantjie, wat hierin sal groei,
Sal elke jaar opnuut weer bloei,
Ag, armsalige ou blikkie,
Al is my trane opgeskroei;
"Want ek het nog 'n traan gespaar,
Nog 'n paar sugte opgegaar,
Om, armsalige ou blikkie,
Jou plantjie veilig te bewaar.
"As ek vanaand my kers uitblaas,
Dan werp die maan 'n silwerwaas
Oor jou, armsalige ou blikkie,
En oor ons afgebrande plaas.
"Ek luister; en dit skyn vir my,
Klein Gert is weer hier aan my sy,
By jou, armsalige ou blikkie,
Om weer 'n slukkie melk te kry;
"En Grietjie staan daar by die deur—
Ja, kyk, haar voorskoot is verskeur!
Ag, armsalige ou blikkie,
Hoe kan ek eensaam wees en treur?
"Die dood het albei weggehaal;
Ons plaas is afgebrand en vaal;
Maar, armsalige ou blikkie,
My hart is nog nie net so kaal.
"Solank jy op die vensterbank
Hier by my staan, so skoon en blank,
Kan ek, armsalige ou blikkie,
Nog stil wees en vir God nog dank,
"Dat Hy, toe daardie oorlogsdamp
My kinders al twee in die kamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Die lewe so het uitgestamp,
"Nog in my hart het hoop gegee,
Dat ek bedaard was in my wee,
Ag, armsalige ou blikkie,
Te dink, ek sien hul weer, al twee!
"Met jou het Griet en Gert gespeel,
En ek het nog in jou 'n deel;
Ag, armsalige ou blikkie,
Laat ek my maar nog iets verbeel!
"Verbeelding — dit is alles nou,
Wat ek nog het: laat my dit hou!
Ag, armsalige ou blikkie,
Jy is my anker teen die rou!"
Maar kom ons so ver om wel deur die gedig te lees, en verby die styl en manier van doen, die digterlike vryhede, argaïsmes en rymdwang, wat ons lankal nie meer in gedigte ken nie, kyk, dan is daar beswaarlik ‘n leser wat nie aan die hart gegryp word deur die storie en gebeure wat in die gedig afspeel en opgeroep word nie.
En alhoewel Klaradyn gaan tafel dek en roereiers maak het om haar Junior Kok-kenteken te verwerf, was daar ‘n ander Voortrekkers-graadgroep wat ‘n eerste kennismaking met die Anglo-Boereoorlog moes hê en ek is toe gevra om rondom die poësie wat die oorlog opgelewer het, ‘n inset te lewer.
Ek het nog op skool kennis gemaak met Leipoldt se Aan ‘n seepkissie, Dis al deur Jan F. E. Cilliers, en Totius se Vergewe en vergeet. Maar nadat ek ‘n jaar of wat gelede al met onderwysowerheidsweë langs aangespreek is omdat ek nog gestruktureerd en geroetineerd een maal ‘n week met my graad 8’s en 9’s ‘n poësieperiode op die rooster het, ‘n poësieperiode waarin ek hulle gedigte en van gedigte leer, het ek vermoed my graad 4’s gaan nie een van die gedigte ken nie en ek kan hulle aan al vier bekend stel.
Ek was reg. Maar onderwys Suid-Afrika het my stoutste verwagtinge oortref: ons is nou amper soos Engeland wat lankal reeds die ganske Anglo-Boeroorlog uit hul skoolkinders se geskiedenishandboeke uitgeskryf het, die kinders leer nie juis meer van die ABO nie, hulle leer op laerskool trouens niks meer van die ABO nie.
Maar dit daar gelaat.
Ons het vandag die internet wat die geskiedenis soveel makliker toegankliker maak. Ek het op skool nie geweet hoe lyk so ‘n seepkissie waarmee Leipoldt destyds in gesprek getree het nie:
Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier in ons land as 'n doodkis te dien;
Hulle het op jou letters geverwe, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Het hier in die kamp met sy sussie gekom—
En jy was bestem, soos jy weet, seepkissie,
Daar oorkant in England, as doodkis vir hom!
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Was fluks en gesond, vir sy jare nog groot;
Maar hier in die kamp, soos jy weet, seepkissie,
Was hy maar drie weke, en toe—was hy dood!
Onthou jy vir Jannie? Jy weet, seepkissie,
Hy het in sy speletjies met jou gespeel;
Die son het sy krulkop geskilder, seepkissie,
So blink as sy strale, as goud so geel.
Op die Vrydagmôre, onthou jy, kissie?
Het Tannie gesê: "Ag, klein Jannie die hoes!"
En die Vrydagaand, soos jy weet, seepkissie,
Was Jannie se lewe al half verwoes.
Hulle het jou op Saterdagmiddag, seepkissie,
Gedra na sy tent as 'n doodkis daar!
Die wit gesiggie—jy weet, seepkissie,
Die handjies gevou en gekruis oormekaar.
Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier vir ons kinders as doodkis te dien:
Hulle het vir jou lykies gevinde, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.
Nou se dae kan 'n mens sommer ‘n stuk of agt of nege van die goed vir die kinders wys.
Twee van die meeloper-mammas of spankapteins het my na die tyd kom geluk wens en dankie sê vir die feit dat hulle Dis al nou vir die eerste keer, sedert skooldae kan insien en verstaan. En dan is daar so min om in te sien of te verstaan. En hierdie min is al wat daar is.
Ek het so gesoek na ‘n afbeelding van die bekende skets wat ek in 1989 by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkunde Navorsingsmuseum?) op Bloemfontein gekoop het. Dit beeld die banneling by sy vrou se graf uit, iewers in die agtergrond die murasie van die afgebrande plaasopstal en ook die voël iewers bo in vlug. Maar hoofsaaklik net veld en lug, die blond en die blou. Ek kon dit nêrens opspoor nie.
Dis al
Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en 'n voël draai bowe in eensame vlug -
dis al
Dis ‘n balling gekom
oor die oseaan,
dis ‘n graf in die gras,
dis ‘n vallende traan -
dis al
Ek is oortuig daarvan dat Vergewe en vergeet my eerste blootstelling aan beeldspraak en allegorie was, ons sou seker net die woord simbolies gebruik het om die verwysing na die doringboompie en die ossewa te ontsluit:
Vergewe en vergeet
Daar het 'n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.
En eendag kom daarlanges
'n osseswa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.
"Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap."
Die ossewa verdwyn weer
agter 'n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.
Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.
Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.
Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.
Ook het die loop van jare
die wonde weggewis-
net een plek bly 'n teken
wat onuitwisbaar is.
Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.
Daar was drie ander mede-aanbieders van die dag se program. In die ou dae kon ek glo is so ‘n program miskien aangewend om haat teen die Engelse aan te blaas, die hele Voortrekkersbeweging is immers in die opbloei van Afrikaner nasionalisme gebore, die ABO het die beweging name soos penkoppe en verkenners gegee om na van die lede te verwys. Maar ek het niks hiervan in die 10 ure wat ons die kinders besig gehou het, by enige een van hulle opgetel nie.
Toe ek in 1989 begin skoolhou het, kon ek dit dadelik sien, vandag, in 2012 kan ek dit steeds duidelik op skool sien: die leerders wat Voortrekkers is het ‘n iets positiefs, ‘n iets sterks, ‘n tikkie selfvertroue en anderse leierskapsontwikkeling wat hulle van die res onderskei.
En dis hoekom ek Klaradyn daar het – dit doen die kinders goed. Miskien was dit jare terug ‘n propagandamasjien; ek kry beslis nie die idee dit is vandag meer so nie.
Ek het hoendervleis gekry, gister, by die aanskoue van die ontwikkelingsgeleenthede wat die kinders geniet het, en hoe hulle dit aangegryp het. Daardie outjies het geleenthede geoes terwyl ander kinders, dieselfde ouderdom en saam met hulle op skool, se lande nog braak lê.
Klaradyn se kenteken het aangehou tot 14:00, ons het deurgedruk tot 18:00. Ek dink ek was gisteraand voor haar aan die slaap. Toe Mamma terugkom van die koor, het ek nie eers wakker geword nie.
En vandag kan ek ook maar ontspan: die middagete, aandete en Maandagoggend se ontbyt staan immers klaar gemaak in die yskas - heerlike ertjiesop.
No comments:
Post a Comment