Pages

22.5.12

Tamatiesop, nomaals tamatiesop, en nogmaals tamatiesop


So onlangs soos 28 Mei 2011 vertel ek hier van die vrou wat ek trompop in die Spar geloop het om te hoor of sy my kan vertel hoe om tamatiesop te maak. Annieka had mos lus vir tamatieroomsop, maar ek het dit in my ganske lewe nog nooit gemaak nie.
30 Mei 2011 erken en bely ek dat ek, in ‘n poging om ons lus te bevredig, verskillende soorte blikkies sop op die proef gestel het.
Van die wintersop wat ek met ‘n liter tamatiesap saamgeslaan het, het ek nooit vertel nie – ‘n mens hang nie vuil wasgoed in die openbaar op die draad nie; jy gee dit vir jou vrou en kind om te sluk.
Haai, en hier is dit nog nie eers ‘n jaar later nie, en ek het al vier keer, twee verskillende tamatiesoppe gemaak. Een keer, die een op ‘n Vrydagaand, en toe die ander die Saterdagaand, net om die Sondagaand van elk ‘n bietjie te proe, sodat ons kan weet watter een om volgende te maak.
Ons kon toe nie besluit nie, en maak nou maar elke week al om die beurt, eers die een, dan die ander. Neem ek vir ons skool toe, maak ek dit voor skool warm en ry die warmfles aan skool toe – dan mors jy nie pouse kosbare sopdrinktyd om die sop nog warm te kry nie.
En eintlik kom die resepte al van verlede jaar af, ek het dit verlede jaar al by herhaling gemaak. My vriendin wat die Hotelhouding en Spyseniering aanbied, kom toe na ‘n praktiese sessie met die twee lieflike potte tamatiesop daar aan. En oomblikke later teister ek haar vir die resepte.
Ek verbeel my hulle skep beide soppe saam in een bord en kry dit dan met vernuftige vurkbewegings om aan ‘n marmerkoek se beslag te herinner. Ek weet nie waar hulle aan die resepte gekom het nie, dis dalk algemeen en alombekend, ek weet nie. Ek glo nie ek pleeg plagiaat nie – ek wil nie soos Deon Meyer en sy vrou op die rooi tapyt beland omdat ek die een of ander tydskrif se sopresepte aan my lesers afsmeer nie – so hier is dit met die sterkste aanbeveling denkbaar.
Tamatieroomsop
Vir 8 porsies:
30 ml olyfolie (of enige ander olie as niemand kyk nie)
1 ui, fyn gekap
2 knoffelhuisies fyngekap
2 selderystokke aan dieselfde behandeling as die ui en knoffel uitgelewer
4 ml droë oreganum
1500 ml groenteaftreksel
4 x 400 g geblikte tamaties in tamatiesous
30 ml tamatiesmeer (hulle verkoop deesdae sulke oulike klein sakkies, maar as jy ‘n blikkie koop en daar bly oor, kan jy dit net met olyfolie bedek en in die yskas hou)
25 ml suiker
500 ml room
sout en peper
Dan braai jy eers die goed wat jou gesonde verstand jou sê om te braai.
Dan gooi jy alles behalwe die room by en laat dit prut terwyl jy wyn drink.
Dan stuur jy dit deur die versapper.
By met die room (ek het al 250 ml ook gebruik)
Sout en peper.
Tamatiesop
Vir 6 porsies:
30 ml botter (haai, ek sien dit nou eers raak – olie werk net so goed)
1 ui fyngekap
15 ml gekapte knoffel
30 ml tamatiesmeer (daai sakkies of die res van verlede week se blikkie)
1 kg ryp tamaties opgesny (het jy ‘n goeie versapper kan jy die skil maar hou, so nie moet hulle kookwater toe om gestroop te word)
1.2 l groenteaftreksel
25 ml suiker
10 ml sout
10 ml vars basiliekruid gekap
peper na smaak
Soteer uie en knoffel
In met basilie
Dan die tamatie – prut vir 10 minute
Nou die aftreksel – prut vir 35 minute
Voedselverwerker
Suiker, sout en peper
En daar kry ek vandag die volgende resep by ‘n kollega wat my met die beker sop in my hand sien. Ek het dit nog nie geproe nie. Maar ek gaan dit beslis op die proef stel, binnekort:
Tanja se tamatiesop
2 blikkies tamaties in tamatiesous
1 gerasperde ui
3 knoffelhuisies
500 ml hoenderaftreksel
125 ml room
1 pakkie spekvleis
‘n gesonde skeut Worcestershiresous
‘n handvol vars basilieblare
sout, peper, suiker
gerasperde Parmesaankaas as jy bedien.
En dan volg jy maar weer kop. Braai eers en gooi dan by. Verpulp. Room laaste by. En dan Parmesaan.
Ek sal die resep uit die staanspoor verdubbel – sodat ek nie met ‘n halwe kannetjie room in die yskas agterbly nie. Ja, ek weet ‘n mens kry kleiner kannetjies, maar ek gebruik die room maar net as verskoning, dis eintlik maar net omdat dit vir my so lekker lyk en klink.
Ek sal laat weet sodra ek dit gemaak het. Miskien gaan ek ‘n week moet oorslaan want vyf weke in ‘n ry tamatiesop is nie vir my ‘n probleem nie; dis my kind wat al ‘n rooi gelaatskleur begin ontwikkel.

No comments: