Pages

15.4.12

10 Vrae; 20, nee 30, antwoorde

‘n Skoolleerder konfronteer my toe ‘n week of wat gelede met die volgende vrae – dis kamma-kamma vir ‘n skoolkoerantjie (maar net kamma-kamma, want dis eintlik vir ‘n skooltaak wat die vorm van ‘n kamma-kamma-skooltydskrif aanneem):

1.    Hoe voel Meneer oor Meneer se titel as “onnie van die kwartaal”?
2.    Waarom het Meneer Afrikaans as vak gekies?
3.    Wat is die vreemdste antwoord wat Meneer nog in ‘n vraestel teëgekom het?
4.    Is Meneer opgewonde oor die jeug van vandag? Motiveer asb.
5.    As Meneer iets in die skool kon verander, wat sou dit wees?
6.    Wat is Meneer se gunsteling gereg?
7.    Waar wil Meneer eendag aftree?
8.    Wat is Meneer se gunsteling tydverdryf?
9.    Wat is Meneer se gunsteling vakansiebestemming?
10.  Wie is Meneer se rolmodel?

Die dag toe ek haar antwoorde stuur, was dit ongelukkig vir my belangriker om ‘n poging aan te wend om haar iets te probeer leer, as wat dit vir my was om haar te vermaak met oulike antwoorde; toe laat weet ek soos volg:

1.    Hoe voel Meneer oor Meneer se titel as “onnie van die kwartaal”?
Hoe ek daaroor voel, is nie belangrik nie. Wat belangrik is, is hoe ander daaroor voel. Ek wonder of daar nie baie ander onderwysers is wat sal voel die eer moes hulle eerder te beurt geval het nie.

2.    Waarom het Meneer Afrikaans as vak gekies?
Dit was, saam met Geskiedenis, my gunsteling vak op skool.

3.    Wat is die vreemdste antwoord wat Meneer nog in ‘n vraestel tee gekom het?
Die kind wat die teenoorgestelde geslag van 'n Tom cat as Jerry cat gesien het - dit moes 'n tabby cat wees.

4.    Is Meneer opgewonde oor die jeug van vandag? Motiveer asb.
Dis in my aard, omdat ek altyd opgewonde oor enige iets met potensiaal is, om oor die jeug ook opgewonde te wees. Hulle gaan nie dieselfde pas as ons loop nie, maar langs ander paaie en op ander maniere as waaraan ons gewoond is, nog baie bereik.

5.    As Meneer iets in die skool kon verander, wat sou dit wees?
Die rekenaarnetwerk!

6.    Wat is Meneer se gunsteling gereg?
Ek het elke uur van die dag 'n ander gunsteling. En dan hang dit ook af van watter tyd van die jaar dit is. Nou, op hierdie oomblik, is lamsosaties my gunsteling. Vanaand is dit dalk iets anders.

7.    Waar wil Meneer eendag aftree?
Naby my vrou en my kind.

8.    Wat is Meneer se gunsteling tydverdryf?
Om meer te wete te kom van goed, van ander en van myself.

9.    Wat is Meneer se gunsteling vakansiebestemming?
Balule in die NKW

10.  Wie is Meneer se rolmodel?
Hoe ouer 'n mens word, hoe minder belangrik word rolmodelle vir jou. Ek kan vandag nie eers meer onthou wie 30 jaar gelede my rolmodelle was nie, en of ek enigsins sulke goed gehad het nie. Beide my ouers was en is steeds belangrike rolmodelle.

Met heelparty van hierdie vrae is ek nog nooit gekonfronteer nie; met ander in geen jare nie. Aan een die vrae word ek sedert ek haar geantwoord het gereeld herinner – so sterk draai dit in my kop, dat ek nou al van Vrydag dreig om weer hierna terug te keer.

Maar my rekenaar was stukkend, my skoolwerk het opgehoop, en ek moes wag tot vanaand voor ek weer my dinkwerk op datum kon kry.

Kom ek kyk weer daarna:

Hoe voel Meneer oor Meneer se titel as “onnie van die kwartaal”?

Kyk, as daar nou een ding is wat lelik kan skeefloop, dan is dit so ‘n Onnie-vannie-kwartaal-ding. Beheerliggame en goed bedoelende ouers het al male sonder tal met so ‘n inisiatief begin, en elke keer (waarvan ek weet) loop dit op onenigheid uit. “Skofbaas van die maand” en “Werker van die week” kan dalk elders ‘n lieflike aansporing wees, maar NIE in die onderwys NIE. Daarom dat ek haar so aweregs beantwoord het.

Waarom het Meneer Afrikaans as vak gekies?

Die ander skoolvakke wat ek (op papier) bevoeg is om te gee, is Drama en Engels. Engels het saam met Drama, Spraak en Vertolkingskunde en Toneelkunde, destyds baie meer sin gemaak. In daardie kombinasie sal ek dit steeds kies. Maar dit sal vir my net so lekker gewees het om ‘n Geskiedenis-onderwyser te kon wees.

Ek het al baie gewens ek beland by ‘n skool waar die nood druk en ek by Geskiedenis moet inspring – dan word ek die tweede helfte van my onderwysloopbaan ‘n Geskiedenis-onnie.

Engels het ek laas in 1987 en 1988 gegee. Ek het dit so drie jaar gelede amper weer moes doen en ek het nogal daarna uitgesien. Ek is egter bly dinge het toe anders uitgedraai, want ek dink dit sou ‘n baie goeie vriendskap (met my Engelse eweknie) in die wiele kon gery het.

Wat is die vreemdste antwoord wat Meneer nog in ‘n vraestel tee gekom het?

My antwoord was ‘n jok – ek het vreemdste ook met snaaksste verwar. Ek wou vertel van die kind wat die ontbrekende woord moes invul:  Die mens wik, maar God _______.
Toe antwoord die kind nie “beskik” nie, maar “weeg.” Ek is egter van mening dat vandag se kinders nie eers weet van “wik en weeg” nie; wat nog te sê van  “Die mens wik, maar God beskik.”

Hierdie antwoord, noudat ek mooi daaroor nadink, sou ook ‘n jok gewees het – ‘n kind het dit nooit vir my geskryf nie – ‘n universiteitsvriendin het dit iewers op skool op ‘n antwoordstel kwytgeraak.
Is Meneer opgewonde oor die jeug van vandag? Motiveer asb.

Siestog, die arme kind – ek sien nou eers ek het ‘n tikfout gemaak – ek het vertel van die kinders wat nie dieselfde “pas” as ons gaan loop nie, en dit terwyl ek eintlik “pad” bedoel het.

Wat ek eintlik met my antwoord bedoel het is:  Hulle gaan groot mense wees wat nie kan lees of skryf of spel of somme doen nie – party van hulle sit vandag al met onderwysers wat nie kan lees of skryf of spel of somme doen nie. Maar dan is dit vir my en my generasie belangrik om te kan lees en skryf en spel en somme doen. Die jeug van vandag gaan, as hulle (heel geyk) “more se leiers” is, waarskynlik steun op gans ander vaardighede as die wat vandag vir my belangrik is – vaardighede waaroor ek geensins beskik nie. So ek moenie veroordeel nie – dis strakkies ek en my manier van doen wat dan uitgedien gaan wees.

Ek dink natuurlik nie sy sou hierdie antwoord tussen die lyne kon lees nie.

As Meneer iets in die skool kon verander, wat sou dit wees?

Die rekenaarnetwerk!

Ek het maar by ‘n twee-woord-antwoord gebly. Ek sou “my salaris” wou byvoeg. En miskien ‘n paar ander dinge. Straks ‘n hele paar ander dinge.

Kom ons volstaan by die “rekenaarnetwerk.”

En moenie my woorde en gedagtes inkleur soos jy wil nie.
Jare gelede het ek die antwoorde op elke vraag en probleem geken, vandag verstaan ek nie eens meer die vrae nie –onthou die meeste van die vrae waarop ek antwoorde gereed had nie eers meer nie, en is ek vir al wat ek weet deesdae eerder deel van die probleem homself, as deel van die oplossing.

Wat is Meneer se gunsteling gereg?

Ek het “sosaties” genoem omdat ek die oggend die lekkerste lamsosaties by die Hazelwood kosmark gekoop het, ek verbeel my by ‘n man wie se blog ek ruk lank gevolg het, ek is nie seker nie, maar ek gaan hom vra as ek weer daar kom.

Is dit moontlik dat “Zak die Priester”/Izak du Plessis nou sosaties op ‘n kosmark verkoop?

Lyk my nooit anders nie – ek het “Izak du Plessis” en”sosaties” ge-google en gesien iemand met dié naam het in 2010 vir nie Nuwe Hervormers/NHN’ers lamsosaties gebraai.

Miskien ook nie. My sosaties het April 2012 R20-00 stuk gekos, en hierdie Izak se sosaties het in 2010 al R20-00 een gekos. As dit dieselfde man was, sou ek vandag al R30-00 vir my sosaties betaal het.

Waar wil Meneer eendag aftree?

Dit moes seker wees “Naby my kind en in die geselskap van my vrou.” Ek sou ook wou byvoeg dat ek liefs nie wil aftree nie, maar lank na aftreeouderdom iewers “in die tuig” (een of ander “tuig” al is dit nie die onderwys nie) die emmer wil skop terwyl ek die lepel in die dak steek.

Wat is Meneer se gunsteling tydverdryf?

Hier wou ek so veel as mootlik in so min as moontlik sê, en ek dink ek het dit reggekry:  Om meer te wete te kom van goed, van ander en van myself.

Wat is Meneer se gunsteling vakansiebestemming?

Balule in die NKW. Hulle kan my kampopsigter maak, dan gaan tree ek daar af voor ek my Apostelteelepel, die goue een waarmee ek in die mond gebore is, in een van die rondawels se grasdakke steek.

Wie is Meneer se rolmodel?

Dis hierdie laaste vraag waarheen ek die hele week terugkeer – dat dinge toe so heel anders uitgedraai het as wat ek 30 jaar gelede gereken het.

Hoeveel keer is ek nie al met hierdie vraag konfronteer nie! Hoe lekker het ek nie al, sedert skooldae, daarop en daaroor uitgewei nie!

En toe ek in seker 20 jaar weer skielik met die vraag konfronteer word, toe het al my studentikoosvermakerige antwoorde in die niet verdwyn – toe is daar net een, NET EEN, antwoord:  my ma en my pa.

Ek sou in my lewe al Jesus Christus geantwoord het. Dis nou net soos wat die Bybel die een boek is wat jy as kind verplig voel om te noem as die boek wat jy by jou sal wil hê as jy alleen op ‘n eiland gestrand is. Later van tyd het my gewete my vir jare toegelaat om NP Van Wyk Louw se Versamelde Werke te noem. Vandag is my keuse iets in die lyn van:  How to survive in the woods on your own.

Ek sou ook dalk  ‘n onnie of twee genoem het, ‘n kollega of twee genoem het, na ‘n celebrity of twee drie verwys het.

Maar dit was lank gelede.

Noudat alles wat pronk en sieraad was, weggeval het, noudat ek in party opsigte klaar het met sommige dinge van ‘n kind, en net die drie belangrikstes oorbly, met die grootste daarvan die liefde, nou is dit duidelik dat net my ma en my pa, ten goede goede of ten kwade, vir my ‘n rolmodel was.

En is en bly en sal bly.

Ek kan nie meer by een van hulle iets leer nie – beide is in die graf, tog poog ek elke dag om te doen soos hulle my geleer het, en dan nie geleer het deur “voorskrif en vermaning” nie, maar geleer het aan die hand van die voorbeeld wat hulle gestel het.

Ek het nooit nodig om in die donker te tas of rond te val nie – wat dinge wat regtig saak maak, betref nie: ek het my ouers om op terug te val.

As kind sou ek dit nie glo nie, sou ek dit nie wou hoor of daarvoor val nie; vandag is dit onteenseglik: jou ouers is jou enigste ware en blywende rolmodelle, dit maak nie saak waar jy staan of in watter posisie jy jou bevind nie.

Ek dink dis omdat, in ‘n stadium, van alles, tereg, net die liefde oorbly, en as alles wat belangrik was weggeval het sodat net die liefde bly, kan dit nie anders nie – al rolmodelle wat bly staan, is die van die liefde – jou ouers.

Ás jy so gelukkig is soos ek was, bygesê natuurlik.

Al wat ek wil wees, al wat ek ooit vir Klaradyn wil wees, al wat ek hoop om ooit vir Klaradyn te kan wees, is eenvoudig:  “soos my ouers, in liefde en met liefde, hul gebreke ten spyt, soos Judy en Hans Moolman.”

Dis nie maklik nie, maar wat ‘n voorreg – ‘n voorreg wat min beskore is.

No comments: