“Tussen my en jou, lê daar 'n berg... Tafelberg”
Wie dit sing, weet ek nie, maar dit is beslis 'n liedjie – ek het
dit al gehoor.
Vriende van ons hou skool by 'n skool waar die hoof onder die
wanindruk is dat skoolhou nog is wat dit 30 jaar terug was toe hy nog
skoolgehou het, net voor destyds hoof geword het. Een oggend, na hy weer gepieker
en gepredik het oor praktyke wat meer as twee dekades gelede al nie die toets van
die tyd deurstaan het nie, laat hoor 'n juffrou mismoedig van haar: “Tussen my
en jou, Meneer,” en toe sing sy dit hardop verder, “lê daar 'n berg,
Tafelberg.”
Vandag wou ek dit sing, hét dit trouens deur my gedagtes gemaal.
Nie in die personeelkamer en vir my hoof nie; in die klas – vir die kinders!
Tussen my
en julle, lê daar 'n berg, hoër as Tafelberg, langer as Drakens- en breër as
die Lebombo-berge.
Dis verskriklik. Maar dis waar.
Dit voel nie altyd so nie, maar dit is.
Ek en die kinders leef in twee totaal verskillende wêrelde, en nie
berge nie, maar oseane wat ons skei.
Gelukkig word ons nie elke dag daaraan herinner nie.
Vandag was egter een van daardie dae dat ek dit opnuut besef het.
Die graad 10’s skryf more letterkundevraestel, so op die eerste
dag van die eksamen wat in die middel van die week begin.
Wat die letterkundevraestel betref, stel ek die leerders van graad
10 af al aan keuses bloot, dan is dit niks vreemds of iets wat hulle onkant
betrap, kom hulle die dag in graad 12 nie.
Hulle het seker so 8 gedigte om voor te berei, 8 waaruit ek 4
gekies het en hulle op die ou einde net 2 van hoef te doen.
Nou ken ek 'n kind (of so het ek gedink) en weet dat hulle slegs die
gedigte gaan leer wat hulle weet ek van hou, en die res gaan hulle ignoreer.
Ja, ek is in baie opsigte 'n slegte onderwyser – ek kan nie
wegsteek as ek meer van 'n spesifieke gedig as ‘n ander hou nie, ek kan nog
minder 'n geheim daarvan maak as 'n betrokke gedig my nie rasend van
opgewondenheid laat nie – so hulle weet, hulle weet goed.
Die gevolg is dat drie van die vier behandelde gedigte wat ek in
die vraestel ingesluit het, die drie gedigte met die minste om die lyf is.
En ek doen dit vir net een rede – ek wil nie hê hulle moet in
matriek met 'n tiental gedigte konfronteer word, en dan leer hulle net die
helfte in die hoop en vertroue dat húl keuse in die vraestel ingesluit sal wees
nie.
Hulle moenie spot nie.
So toe die een klas vandag by my is, toe preek ek my
eksamenprekie, die eksamenprekie waarvan die belangrikste boodskap die een is
wat hulle juis daarvan afraai om te spot.
En dis toe 'n kind vra wat spot
is en ek oomblikke later agterkom nie 'n enkele kind in die klas ken die
woord of gebruik dit nie, dat ek wil sing van die berg wat daar tussen my en
die kinders lê.
Tweede klas? Dieselfde. Derde klas ook.
Die kinders weet nie wat spot is nie! Die graad 10’s in my skool,
in die jaar 2011 weet nie wat spot is
nie.
Vandag se kinders weet nie wat dit is om te spot nie!
Ek kan dit aanvanklik nie glo nie.
Dalk het hulle 'n ander woord vir dieselfde praktyk.
Kinders kys immers al
jare nie meer soos toe ek op skool was nie, of sal ek sê hulle doen nog al die
jare dieselfde, maar onder 'n ander naam.
Maar nee, hulle het ook nie 'n ander woord vir vrae of gedigte spot nie.
Die naaste wat daaraan kom is Nigel.
Maar nie eers 10% van die kinders is vertroud met die begrip Nigel nie. En in drie klasse het ek drie
verskillende definisies van Nigel gekry.
Dis as jy
net die helfte van die werk leer, dan doen jy goed in die helfte van die
vraestel, vrot in die ander helfte en dan kom jy net-net deur.
Dis as jy
net genoeg leer om te slaag en nie warrie oor verder nie. (Ja, dis
hoe hulle hom spel.)
Jy Nigel
as jy op jou gat deurskuur. (Vreemd dat hierdie ouderwetse uitdrukking
behoue gebly het.)
Nie een van hierdie drie verduidelikings is spot nie.
En toe ek hulle vra of kinders van die buurskole sal weet wat dit
is om te Nigel toe is ook nie een
vreeslik seker nie. Straks is dit sterk idiolekties wat ons skool betref. (So
het die kinders 11 jaar terug by ons nie van 'n sigaret gepraat nie, maar van 'n
toon. Pass bietjie daar vir my 'n toon
aan!)
Toe ek verduidelik wat spot is,
laat val 'n kind in die laaste klas darem:
“O, dis wat my ma altyd gedoen het toe sy nog geswot het.”
So sy ken die woord.
Maar nee, hulle weet nie
van spot of iets soortgelyks nie.
Wanneer die woord uitgesterf het, weet ek regtig nie.
Is dit met die nuwe onderwysstelsel wat Kader Asmal en sy gesante
destyds ingevoer het. Hulle het nie meer nodig om te leer nie. Hulle het nie
meer so baie om te leer nie. Parate kennis word nie meer verwag nie, eerder
insig en toepassing?
Miskien.
Dalk bodder hulle nie om te spot nie, hulle leer sommer net half,
want met half leer doen hulle nog goed genoeg?
Ek weet nie.
Die leerwerk in Afrikaans het sedert ek op skool was maklik 75%
minder geword; sedert ek begin skoolhou het, seker met 50%
Antwoorde het ek egter nie.
Ek is nie sommer iemand wat oud voel nie. Maar vandag is ek
daaraan herinner dat ek oud is.
Tye verander. En dis goed so.
Die een meisie kom agter sy het nie die aantekeninge oor 'n gedig
wat ons behandel het toe sy afwesig was nie. Sy skryf more oor die werk. Sy
weet ek gaan binnekort met my les begin (hulle is by my vir twee periodes, en
ons gaan oorbeweeg drama toe.)
So wat doen sy – sy gryp haar selfoon en neem 'n skrander maatjie
se aantekeninge met die ingeboude kamera af.
Presies soos wat James Bond in die sestiger-/sewentigerjare in sy
flieks die vyand se geheime dokumente met iets klein soos 'n pen of brilkassie
afgeneem het.
En dis 'n feit, wat regtige egtige spioene daardie jare nie kon
doen nie, vermag skooldogters soos sy vandag in die klas.
So waarom sal die kinders hulself met iets so oudedoos soos spot wil ophou!
Naskrif: Ek google toe die woorde wat ek uit die
liedjie onthou. Dis Dozi wat dit sing.
Tussen jou
en my
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg
Tussen jou en my
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg
Die rawe op die telefoondrade
Luister na die gesprek
en vlug op die plek,
want tussen jou en my lê daar 'n berg
Tussen jou en my
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg
Tussen jou en my
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg
Outeniekwaberg se baard is nat
Teen sy wang loop daar 'n traan
‘n Stroompie oor die pad,
maar tussen jou en my lê daar 'n berg(2x)
So sleep ek voort deur Meiringspoort
Sonder jou en sonder 'n woord,
want tussen jou en my lê daar 'n berg
ja, tussen jou en my lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg
Tussen jou en my
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg
Die rawe op die telefoondrade
Luister na die gesprek
en vlug op die plek,
want tussen jou en my lê daar 'n berg
Tussen jou en my
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg
Tussen jou en my
Lê daar 'n berg
Lê daar 'n berg
Tafelberg
Outeniekwaberg se baard is nat
Teen sy wang loop daar 'n traan
‘n Stroompie oor die pad,
maar tussen jou en my lê daar 'n berg(2x)
So sleep ek voort deur Meiringspoort
Sonder jou en sonder 'n woord,
want tussen jou en my lê daar 'n berg
ja, tussen jou en my lê daar 'n berg