Pages

30.4.11

Vyf boeke teen die einde van die jaar (1974 – 1978)

‘n Vriendin van my kry dit nie oor haar hart en ingebore menswees om haar naam, die dag en die datum, en hoogstens ‘n klein boodskap wat die rede sou kon verwoord, in pen voor in ‘n boek te skryf nie. En vra jy haar – gee jy haar eintlik die opdrag – om dit wel te doen, is dit nie ‘n uitgemaakte saak dat dit gebeur nie; jy wag en wag en wag, en vra en vra en vra, en dit het al gebeur dat ek die boek ‘n maand later terugkry, dan staan daar steeds niks in nie.

Dan skryf ek maar self, want ek is nie bang om met ‘n pen in ‘n boek in te vaar nie, maar dis nie dieselfde as wat dit sou wees as die persoon wat jou die present gegee het, dit gedoen het nie.

Ja, ek sal oor 10 jaar nog weet wie my die boek gegee het, selfs oor 20 en meer – maar ek wil nie net onthou nie, ek wil daaraan herinner word – jou handskrif, jou naam, die boodskap moet my oor 20 jaar met mooi en teer herinneringe oorstroom.

Dan het ek ook nie nodig om die boek weer te lees nie – bloot die eerste oogopslag, op die persoonlike aanhef in pen, doen al my siel goed.

Ons het verlede week die studeerkamer van vertrek geskuif, reeds die tweede keer sedert ons 7 jaar gelede hier ingetrek het, en soos met elke trek – of dit nou van huis, of van vertrek is – glo ek nie om boeke bloot net oor te dra en in rakke te sit nie; elke boek het ‘n raak waar hy hoort en dis waar jy hom sit.

Dis waar jý hom sit; dis nie noodwendig waar almal met wie jy die huis deel, of almal wat betaal word om jou boeke agter jou op te tel, hom sit nie. En partykeer gebeur dit ook dat jy self ‘n boek willens en wetens op ‘n verkeerde plek sit en jouself maar daaraan troos dat dit in elk geval weer tyd is om die studeerkamer se boeke reg te pak, te orden. Overgesetsynde jy pak al die boeke op die grond uit en oor twee dae is daar vir jou niks lekkerder as om in jou studeerkamer in te stap nie.

Annieka het verlede week weer gesê dat die mense wat my ken, hoe regterbrein, slordig, verstrooid en ongeorden ek is, sal nie kan glo hoe ‘n pyn ek kan wees as dit kom by boekrakke nie.

Maar ek dwaal af, ek is by die 3 boeke, wat vanoggend voor ek kom sit het 5 geword het, wat ek elkeen ‘n jaar uit mekaar teen die einde van die jaar gekry het. En dit gaan nie oor die boeke nie, maar die inskrywings voor in.

As dit suiwer van die boek en sy inhoud gegaan het, was elkeen van hulle lankal weg, verlore geraak langs die pad, of sommer uitgesmyt. En as dit nie lankal was nie, het dit verlede week gebeur toe ons goed 600 boeke aangery het hospice toe.

1974
Klausmann, Oscar A ( Moller Monica – vert.) Siegfried die Drakedoder. Kaapstad:  Tafelberg-uitgewers. 1968.

Die boek is op 22 November 1974 deur juffrou C Broeze, klasonderwyseres van Standerd 2 (4) aan Laerskool Generaal Alberts, aan Hans Moolman toegeken vir niks anders as “Verdienstelikheid” nie.

Juffrou Broeze onthou ek as Juffrou Hamburger. Nee, dit was nie haar bynaam onder die kinders nie, dit was die bynaam wat ek haar gegee het – op grond van haar gesig. Dit moes eintlik Juffrou Hotdog gewees het, want as ek my dit nie mis het nie was dit haar neus wat my haar hierdie naam laat gee het. Maar dan het sy Amerikaans oorgekom, en met ‘n van soos Broeze was ‘n Duitse Hamburger meer gepas. (Dit maak nie sin nie, ek weet – maar dan is jy nie in standerd 2 nie – enige bogemiddelde graad 4 kind sal presies verstaan waar ek aan my naam kom.)

As onderwyser het ons baie gespot met ‘n sertifikaat vir verdienstelikheid. Dis wat jy toeken aan die leerling wat nie op grond van iets anders ‘n toekenning kry nie, maar die kind is so oulik en jy hou so van die kind dat jy vir hom of haar iets wil gee – en dan doop jy dit verdienstelikheid.

(Die boek, so terloops, het R1-65 gekos. Juffrou Broeze het dit nie nodig geag om die prys wat in potlood neergeskryf is, uit te vee nie.)

1975
Blyton, Enid. Adventure Stories. Glasgow: William Collins Sons and Co. Ltd. 1971.

Hierdie keer nie in amptelike hoedanigheid van die skool nie, maar op 7 Desember 1975 ‘n persoonlike hartsgeskenkie van my standerd 3-klasonderwysers, Juffrou Herhold.

“Baie dankie vir ‘n mooi jaar en vir al jou harde werk en liefde deur die jaar. Dit was ‘n voorreg om jou te kon leer omdat jy so ‘n dierbare, gehoorsame, verstandige kind is. Bly asseblief so want jy gaan nog baie ver kom in die lewe en moenie dat die lewe jou onderkry nie, en weet waar jou hulp en leiding vandaan kom, né.

Hierdie boek is maar net om dankie te sê vir wat jy vir my beteken het deur die jaar en ek sal jou nooit vergeet nie.

Kom kuier vir my, sal jy? Pas Mamma mooi op want onthou jy’s die man in die huis hoor! Onthou nog net een ding ‘moenie dat mense jou onnodig ontstel nie.’ Hulle sal probeer maar moenie dit toelaat nie. Wys hulle jy’s ‘n beter mens en bly kalm.

Nogmaals dankie en onthou my deur is vir jou altyd oop!

Al my liefde

Juf. Sonja
x

O, dit spreek boekdele. Ek was 4 dae laat in Standerd 3, soos ek 3 dae laat was vir graad 1, maar toe was dit omdat ek pampoentjies gekry het; hierdie keer was ek laat omdat ek en my ma by my pa se suster op Brits gaan wegkruip het oor hy ons wou skiet en hy op elke plek in die land, behalwe by sy eie bloedsuster, na ons gesoek het. Ja, dit was nie ‘n mooi egskeiding nie.

Hierdie boodskap hét my baie en lank en ver gedra.

Wat my 36 jaar later vreemd opval is die vermaning om my nie onnodig deur ander te laat ontstel nie. Miskien is dit ‘n verskuilde verwysing na my pa, so in dieselfde paragraaf as die herinnering aan die feit dat ek die man in die huis is en my ma moet oppas.

Ek was jonk, my juffrou was jonk – miskien het sy die “jy gaan nog baie ver kom in die lewe” bedoel soos ek dit destyds verstaan het. En dan het ek beslis nie baie ver gekom in die lewe nie. Vandag het ek die rypheid om te verstaan dat ‘n man wat ‘n goeie man sy vrou en pa vir sy kind is, een is wat baie verder in die lewe gekom het as die besturende direkteur of minister wat dit nie vir sy vrou en kind is nie.

(Nee, die prys is onvermeld. My juffrou sou beslis die prys uitgevee het.)

1976
Blyton, Enid. Five fall into Adventure. Leicester:  Knight Books. 1975.

Op 10 Desember 1975 skryf sy in haar, oor baie jare heen, lieflike  handskrif:

Oubaas, jou eerste vliegtuigrit! Mamma wens jou ‘n aangename en voorspoedige reis toe. Lekker lees hoor, en geniet alles. Liefde Mamma.

Wat hier opval is die “Oubaas.” In die ander twee Enid Blytons wat sy my die vorige jaar op 4 September vir my verjaarsdag vir my gegee het, noem sy my, soos sy my altyd genoem het, “Oubasie.” Hier is dit “Oubaas,” ‘n verwysing wat ek eers 35 jaar later interpreteer as ‘n herinnering aan die feit dat ek groot en sterk moet staan, dat ek man is. Ek het daardie jaar afgevlieg Kaapstad toe, terwyl my pa en sy houvrou, haar kind en kindermeidjie met die motor afry Kaap toe vir my, my pa, sy hoervrou en uitgebreide gesin se enigste vakansie saam, ooit.

Dis lekker om te vlieg, heerlik om ‘n eerste keer te vlieg, maar ek verstaan die boek, die boodskap in die boek só goed.

(Hierdie boek het R0-80 gekos. My ma sou dit uitgevee het, maar dis met ‘n stempel gedruk. Sy sou ‘n lemmetjie geneem het en die prys afgekrap het, soos sy baie gedoen het. Hierdie keer het sy nie. Ek vermoed ek verstaan hoekom sy nie so ver gekom het om dit hierdie keer te doen nie.)

1977
Konsalik, Heinz Günther. Skerwe van die Ysterkruis. Kaapstad:  Tafelber-Uitgewers. 1974.

Die datum word slegs aangedui as “Desember 1977” maar ek weet dit was ‘n Kerspresent. Hierdie boek moews spesiaal gewees het want ek het selfs die kaartjie wat saam met die boek gegee is, voor in die boek geplak.

Die geskryf in die boek self, lees só:

Aan Hansie

Hansie vir jou wens ek net die beste toe. Ek skenk hierdie boek aan jou as ‘n Kersgeskenk en ook as ‘n Herinnering aan ons wonderlike vakansie saam.

Van Yvette
xx

Naskrif:  Lees lekker

Die kaartjie wat ek ingeplak het (en nee dis nie ‘n kaartjie nie, dis ‘n velletjie skryfpapier met regs onder ‘n uitbeelding van ‘n meisie wat in lang gras en tussen rooi blomme op ‘n man se bors in sy arms lê – maar jy sal self ‘n kind van die sewentigs moet wees om enigsins ‘n prentjie op te kan roep):

Aan Hansie

Vir jou ‘n Geseënde Kersfees, en ‘n Baie voorspoedige nuwe jaar. Dit was ‘n lekker vakansie, nè! Dit was lekker om almal saam gesellig te sien. Ja, so kom alle lekker tot ‘n einde. Ek wens vir jou alles wat mooi is vir die Hoërskool.

Lees lekker.

Yvette
xxx

Yvette? Ek wonder wat was haar van. Ek het nog ‘n foto van haar ook, halflyf in ‘n bikini.

En ook nie sommer enige vakansie nie, ‘n Margate-vakansie, die een aan die einde van jou laerskoolloopbaan (net jou matriekvakansie en wittebrood wat hierdie een verbysteek in waarde) én jou eerste vakansieromanse, of soos ‘n mens dit eintlik genoem het, holiday romance.

Ek het vir haar ‘n tape gekoop waarop Joe Dolan ons vakansie-liedjie sing, Hush hush Maria.

Ons het ook na Denis Rousos en Vicki Leandros geluister.

1978
Joubert, Elsa. Bonga. Kaapstad:  Tafelberg-Uitgewers. 1975

Soos die een van 1974 is daar ‘n velletjie voor in geplak met die briefhoof van die skool, hierdie keer Hoërskool Alberton.

Ek was nog nie Hans nie, dit sou ek eers op universiteit word, die boek is toegeken aan Hansie Moolman vir die feit dat hy daardie jaar aangewys is as die skool se beste junior redenaar.

Ek was in standerd 6, en die junior afdeling het standerd sewes ook ingesluit, so vir my was dit ‘n merkwaardige prestasie .

Ek het einde standerd 6 niks van die boek gehou nie, dis eers toe ons in matriek Ons wag op die kaptein gedoen het, en ek elke oomblik van die boek geniet het, dat ek Bonga ‘n tweede keer gelees het en toe meer daarvan gehou het.

En dis my vyf boeke.

Maar daar is meer wat ek wil aanteken, selfs al trek al by 1 800 woorde.

1974 het bv, 'n ander boek wat ek kon kies, een wat illustreer wat ek in die inleiding gestel het:  Dan skryf ek maar self, want ek is nie bang om met ‘n pen in ‘n boek in te vaar nie, maar dis nie dieselfde as wat dit sou wees as die persoon wat jou die present gegee het, dit gedoen het nie.”

Dit lyk my dis 'n ou laai van my, want lees ek die boodskap voor in Die Laaste Mokihaan, die boek wat my peetouers my Desember 1974 gegee het, dan staan daar:  Aan Hansie van Oom Kobus en Tannie Erica – Kersfees 1974. Maar die nóg Oom Kobus, nóg Tannie Erica se handskrif, dis in my beste standerd 4-handskrif, ek wil dit sommer sierskrif noem, geskryf.

Dan het ek nagelaat om in te werk dat die twee Enid Blyton’s wat ek vir my verjaarsdag gekry het nie ingeskryf het nie, maar 'n kaartjie waarop my ma die kort boodskap getik het, ingeplak het. Die feit dat sy die einde van die jaar (met die Oubaas in plaas van Oubasie vliegtuigvakansie-geskenkboek) dit nie soos gebruiklik was, gedoen het nie, verklap net weer eens haar gemoedstoestand toe sy die boek gegee het.

En dan was ek eintlik histeries hier teen die einde van my gesels rondom die vyf boeke. Ek het een boek, net een boek, 'n Afrikaanse vertaling van Fitzpatrick se Jock of the Bushveld, waarin my pa in sy onleesbare mooi handskrif geskryf het “Hansie, van Pappa.” (Vra my, ek weet, ek het nie net die boek oor en oor gelees nie, maar ook al baie na die boek teruggekeer net om die boodskap voorin met liefdevolle en tere herinnering te lees.)

En toe ek wonder in watter jaar hy by die CNA gestop het om die boek vir my te koop, en of daar nie dalk tog 'n datum in is nie (al onthou ek dit nie so nie) besef ek dat ek die betrokke boek, een van die boeke die naaste aan my hart, nie verlede week op sy plek op die rak waar hy hoort, gesit het nie!

Ek weet ook die boek is die hospice toe nie, ek het elke boek wat ons weggemaak het, 'n tweede keer in die hand gehad. So waar is my boek?

Want boeke is soveel meer as inhoud, ontelbaar meer as gedrukte letters, woorde en sinne op papier.

2 comments:

Rene Fourie said...

Baie, baie nice Hans! Ek het hierdie ene regtig geniet. Rene

Hans said...

Dankie baie, ek waardeer baie. Ek het nie gedink iemand sal die tyd en krag beskik om enduit te lees nie.