Pages

10.4.11

Kopf schmerzt (so twee weke gelede)

Hoe die Duitsers dit spel, weet ek nie, maar kopf schmerzt klink net meer na 'n kopseer as iets soos die Afrikaanse hoofpyn.

Veral vandag. Maar as daar iets is wat ek nie sommer kry nie, eintlik glad nie kry nie, dan is dit hoofpyn.

Gemiddeld hoogstens een keer elke ses of sewe jaar gryp ek dan 'n aspirien en kort voor lank is alles weer klopdisselboom.

Maar so ongeveer ses of sewe jaar gelede sit ek weer met een, en hierdie keer is dit anders.

Oor ek so min van die goed kry, is dit moeilik om te onthou hoe die vorige een gevoel het, maar met hierdie een weet ek dadelik – hy is van 'n ander kaliber as al die voriges: ek voel my hartklop in my kop, en die Disprin wat ek periode 2 by die tannie in die kantoor kry, het teen pouse nog niks gedoen nie.

Pouse is dit of ek nie links en regs wil kyk nie, asof ek geensins wil af buk om my skoene vas te maak nie, laat staan nog vinnig opstaan as die klok lui.

Ek kry toe ook iets sterkers by 'n kollega wat daarvoor bekend is dat sy 'n hoofpyn wat vir niks skrik nie en vir nog minder ooit terugstaan, kan uitpak.

En na 'n ruk toe is die seer minder – oorweeg ek dit selfs om op te staan en rond te beweeg terwyl ek klas gee.

Teen die einde van die dag hou ek skool op 'n hondegaloppie.

Maar agtermiddag, toe is hy terug soos Wilson se kat waarvan Carike Keuzenkamp as jong meisie so baie oor die radio gesing het.

Gelukkig had die meesterbouer van hoofpyne my twee van haar pille gegee, en ek sluk hom ook weg.

Maar die kat kom weer, glo vir my dis waar – die anderdagmore was die kat weer daar!

En nou skrik ek – 'n hoofpyn binne 24 uur na die vorige is ongehoord – die vorige keer wat ek hoofpyn had was iewers in die vroeë negentigs, én dít was van te veel sjampanje!

So ja, 'n mens gaan nie Doktor toe as jy hoofpyn het nie, maar dis presies wat ek doen – ek stap die middag met 'n kloppende kopseer by my jarelange doktor in.

Vir 'n Indiese prinsie, een vir wie alles gedoen word, is dit trauma as hy die dag self sy eie skoene moet vasmaak, vir my, wat nooit hoofpyn kry nie, is hierdie klas van hoofpyn die ergste nog op my lewenspad en beslis iets wat aandag verdien.

Die man laat neem plate van my gesig en dit bevestig wat hy vermoed het nadat hy netnou aan my gesig gedruk en geklop het – my sinusse is verstop en die kopseer wat ek het is sinushoofpyn – niks om bekommerd oor te wees nie.

Hy gee 'n pil, ek drink twee of drie keer van die goed, en toe is die saak weer van vooraf aan reg.

So drie of vier jaar later (weliswaar nie die normale ses of sewe nie) steek die ding weer kop uit – maar ek herken dit dadelik as sinus en weet wat om te doen – die botteltjie pilletjies van laas is nog net 'n jaar of wat verslaan, ek neem sommer weer daarvan. En twee of drie keer se sluk daarvan, toe is alles reg.

Soos ek egter nou hier sit en tik, eggo elke tik van my vingers oor die sleutelbord se toetse deur my kop, voel dit of my harsings agter my oë en deur my neus- en oorkanale gepers word.

Ergste van alles is – dit het Sondag begin. Vandag is Saterdag, ses dae later.

Sondag het ek gewag dat dit vanself oorgaan. Dit het nie.

Maandag het ek begin drink aan die laaste van die botteltjie van die pille wat Annieka saamgebring het see toe.

Maar daar was ook net drie in, en die hoofpyn 'n kat met nege lewens.

Dinsdag toe gaan ek apteek toe.

Maar wat die vrou my gee, verlig die simptome, die hoofpyn, tydelik – dit neem 'n uur om in te skop, verdoof die pyn vir sowat die helfte van 'n uur, en dan moet jy weer twee en 'n half uur wag voor jy weer 'n pil kan sluk, en eers weer 'n verdere uur moet pyn verduur voor die 30 minute van verlossing.

So gaan dit Dinsdag, Woensdag, Donderdag en Vrydag.

En dis nie of ek andersins las van my neus het nie – Annieka pomp my met iets wat sy Klaradyn injaag oor die kind, nes haar pa, chronies met 'n neus sit wat doen wat voete eerder moet doen. (Gelukkig darem nie andersom ook nie, want dan het ons gesit met neuse wat loop én voete wat ruik!)

Verder is hier so spuiterasie ook waarmee ek die neus kan doktor, maar doen ek dit, kom ek elke keer opnuut agter dat my neus so droog soos 'n kleios se sweetgate is – die doepa beland elke keer dadelik, via my neus, reguit in my keel.

Vrydagmiddag kan ek egter regtig ook nie meer en langer voortsukkel met die gemors van die apsteekster nie, en ek val weer in die pad, hierdie keer na 'n ander apteek.

Maar toe ek die samestelling van hierdie oom se aanbeveling vergelyk met die samestelling van die vorige tannie se aanbeveling, is dit presies dieselfde, net in verskillende verhoudings. En dan 'n R30-00 prysverskil en –verhoging!

Maar ek sluk maar. Die slegte nuus is dat hierdie pille sesuurliks, en nie vieruurliks nie, geneem moet word.

Goeie nuus is dat daar 'n clear in die naam is. En ek interpreteer dit as opklaar – my sinusse gaan opklaar as ek hierdie goedjies sluk.

Maar any other rose by any other name would wither as soon as all the others – die naam is duidelik net 'n goedkoop bemarkingsfoefie (waarvoor duur betaal word).

Maar/En toe praat Annieka gisteraand met haar ma en vertel van my hoofpyn.

Ek hoor Annieka se reaksie is: “Nee, ek sal hom dít maar liewers nie sê nie.”

Ek besluit om nie uit te vra nie.

Maar ons is almal mense, ons weet hoe dit is – Annieka kan nie wag vir die geleentheid om te laat val dat haar ma genoem het dat die seewater my sinus gaan vererger nie.

En daarmee is ek bed toe.

Daarmee, en met 'n kloppende hoofpyn lê ek toe nou wakker tot 22:30 (wanneer die 6 ure van 16:30 af om is en ek weer 'n pil kan sluk) om my pil te sluk.

Wanneer ek, en óf ek enigsins, ingesluimer het, weet ek nie, want van 01:30 lê ek weer met 'n kloppende hoofpyn wakker en wag vir 03:30 om weer 'n pil te kan drink. (En hulle sê jy mag nie die medisyne vir langer as 7 dae neem sonder om jou doktor te raadpleeg nie!)

Maar hier iewers in die middel van die baie nagtelike ure wat ek wakker was, bring ek toe Skoonma se opmerking by een van my opmerkings vroeër die dag aan Annieka uit:  “Snorkels is nie gemaak vir mans met snorre nie!”

Sy, wat glad nie snorkel nie, wil toe weet hoekom nie, en ek vertel haar:  “Die water syfer die heeltyd rondom jou bolip by die duikbril in.”

Wat ek nie vir haar sê nie, is dat hierdie water aan die binnekant van jou bril dan die heeltyd in jou neus inloop nie, en dat hierdie soutwater so 'n neus nogal kan brand nie. Met jou kop die heeltyd so onderstebo drywend op die water, en die manier waarop jy hom partykeer hou om iets te sien, of 'n vis te volg, gebeur dit dat die soutwater sommer in die een of ander neusgang in afvloei en dit voel éérs aardig.

En toe lê ek tot vanoggend wakker en reken ek het nie sinus nie, my sinusse is bloot vol soutwater, minstens twee ure elke dag se gesnorkel se soutwater.

Ek hoop my teorie is reg. Ek gaan nou vir twee dae nie snorkel nie, ook nie Annieka se neusopdroog-medisyne drink nie. Ek is oortuig dat alles gaan regkom.

En as dit wel opklaar, sal ek maar weer begin snorkel en met die hoofpyn saamleef.

Dis eers weer 'n jaar voor ek opnuut kan begin snorkel, 'n jaar sonder hoofpyn – laat ek dan maar die laaste week in silence suffer.

Of my baard afskeer.

Post Script

Dit was die Saterdag. Die Sondag is ek Dokter toe om te hoor of ek nie dalk een of ander gewas groei nie. Die Dokter sê mense wat geneig is tot allergiese reaksies reageer dikwels so op die alledaagse huismyte in Natal se lugdruk en humiditeit.  Hy sê ek gaan hoofpyn hê tot ons teruggaan  Gauteng toe.

Dis vandag 'n week later.

Ons is al 3 dae terug in die rook en roet van die PWV-gebied.

Ek het nog steeds hoofpyn, as ek nie hoofpynpille drink nie.

15 dae van hoofpyn is nie normaal nie.

Sal hierdie week na my jarelange dokter gaan.

No comments: