Toe ek die volgende
geselsie 'n jaar of wat gelede aangeknoop het, het ek nooit kon dink ek gaan
eendag iets soortgelyks beleef as die stomme man teen die einde van die
vertelling nie:
‘n Ding waarvoor Annieka
regtig baie skrikkerig en grillerig en gillerig is, is ‘n roman, nie die boek
nie, die spinnekop. Wat natuurlik nie ‘n spinnekop is nie, maar, oor dit net
ses pote het, ‘n insek.
Self het ek regtig nog
nie veel van die goed gesien nie en geleentheid om hulle pote te tel en van
naderby te beskou, het ek ook nog nie juis gehad nie.
So miskien is dit wat ek
van die dierasietjies weet, glad nie waar nie en sommer net stories.
Want stories oor die
goed, het ek al baie gehoor. In bykans twee jaar op die grens, het ek nooit
beleef dat die goed na die ligkring van die vuur beweeg, en die skerpioene wat
skynbaar versot op die goed is, dan net buite die ligkring gereed staan om toe
te slaan, maar te bang is vir die vuur, nie.
Die eerste keer wat ek as
jong verliefde egter die geleentheid had om my aanstaande vrou pens en pootjies
bo op my op ‘n kampeerstoeltjie te hê, was een aand op Punda Maria in die
wildtuin, toe sy skynbaar ‘n visioen van die goed gehad het wat soos
malkop-hoenders daar rondgehol het.
Maar dan was dit ook die
vakansie toe ‘n vlakvark, as dit dan nie ‘n bosbok was nie, haar een nag op pad
badkamer toe byna onderstebo gehardloop het.
Die vorige vrou wat so
pens en pootjies bo op my kom sit het, was my skoonsuster. ‘n Muis agter ‘n
skildery.
Dis ‘n irrasionele vrees
wat ek nie verstaan nie.
‘n Vriend van my, in
Dubai vir besigheid, kry teen slaaptyd (Suid-Afrikaanse tyd) ‘n oproep van sy
vrou. Sy is in die bed en daar oorkant amper by die en suite badkamer wás nie net ‘n muis nie, sy is seker hy ís nog daar – wat moet sy doen.
Maar enige iets wat van
haar verwag om van die gordyn se kapstok af te klim, sien sy nie voor kans nie.
Behalwe nou as sy die kapstok vir die slaapkamerlig moet verruil.
Hoe later hoe kwater.
“What must I do to get rid of the mouse,” word toe, “but what are you going to
do about the mouse.”
En elke voorstel word
teengestaan. “Out of the question.” “Now ways.” “Over my dead body.” Selfs ‘n
sarkastiese “you must be joking.”
Dit word lateraan soos
die huidige salarisonderhandelinge in die staatsdiens: daar word baie oor en weer gepraat maar
absoluut geen maar geen vordering gemaak nie. En hy het more ‘n baie belangrike
aanbieding waarvan bevordering en ‘n nuwe huis en sprake van ‘n tweede baba
afhang. En dit word laat.
En dis toe dat hy ‘n
rigting inslaan wat hy liefs nie moes nie, in ‘n saaklike korporatiewe
besigheidstemtoon soos wat ek dit hom nie sou kon nadoen nie.
Hy wil weet of sy reken
die muis is steeds daar waar hy was toe sy hom so ‘n bietjie meer as ‘n
driekwart uur gelede vir die derde keer gebel het.
Sy is oortuig.
En hy haak af: “So would you do me favour and hand the phone
over to him, then I’ll try to negotiate with him from this side.”
Dit was die einde van die
gesprek.
Wat eers weer hervat is
nadat hy bykans ‘n week later reeds drie dae by die huis was.
***
Ek gaan soek hierdie
storie toe nou vanaand op die rekenaar, want vanoggend... o, vanoggend:
Ek is op pad hospice toe
om 'n spul boeke te gaan aflaai waarmee hulle hopelik 'n paar sent sal kan
maak.
Die kombuisdeur is al
agter my gesluit, toe dit vanuit die badkamer, waar die twee girls bad, kom: “Pappa! Kom bietjie hier asseblief.”
Ook nie Klaradyn wat my
so Pappa nie, maar Annieka.
Ek kan vir al die geld in
die wêreld nie dink wat sy wil sê wat sy nie deur die
venster kan sê nie, maar ek draai om, sluit oop en stap die gang af, badkamer
toe, waar ek hulle netnou gegroet het.
Daar gekom, sien ek met die intrapslag niks –
maar dis die oor vrouens, beide van hulle, nie 'n vyfde van die bad volsit nie,
eerder vier-vyfdes uit die bad uit, hier teen die koppenent se kant, hulself
gelyk gemaak met die spieël, vasbyt aan die spieël en teels.
“En dit nou?”
Nee, blyk dit, daar is 'n spinnekop agter by
die wasbak – Klaradyn weier om haar hare af te spoel voor die ding nie weg is
nie. En eintlik kan nie een van die twee iets doen nie – hulle altwee se kop
staan wit van die skuim.
Annieka verseg ook om iets te doen voor die
ding nie weg is nie.
Maar die ding is klaar weg.
Vra my, ek weet. Ek kyk, ek kyk op my knieë
met my neus van onder agter die wasbak in – daar is niks, niks behalwe die lap
waarmee die bad uitgewas word nie.
Nee, dit kan nie wees nie.
Om te wys, kry ek pajamas wat daar rondlê en
verjaag al wat moontlike spinnekop is uit sy wegkruiplek, deur van bo tot onder
die ganske agter- en binnekant van die agterkant van die wasbak te befroetel en
bevryf en te sjoe en te voetsek.
Nes ek gedink het – niks.
Maar nou moet ek hoor ek soek op die
verkeerde plek. Die dink is by die blink pypie, daardie blink pypie, die een
wat uit die muur kom.
Hierdie pypie is so blink en skoon, ek kan my
baard in sy refleksie skeer – daar is geen spinnekop nie.
Maar ek moet met die spinnekop afreken!
Nou vra ek met trane in my oë, hoe reken jy
met 'n spinnekop af wat jy nie kan sien nie?
Hoe maak jy iets dood wat nie daar is nie.
As ek kon, het ek (teen my grein in) gaan Doom haal, maar daar is nie en ek kan
my nie voorstel dat die ZEB-oondsproei of die lugverfrisser iets gaan vermag
nie.
Toe, om my punt te bewys dat daar nie 'n
spinnekop in sig is nie, roep ek die ding, eerder as om hom uit te wil jaag
soos vaneffe.
Ek smak en klap my lippe, op 'n plooi, en op
minder van 'n plooi. Ek siewie-wiewie en
kietsie-kietsie. Ek koeloe-koeloe soos vir 'n kalkoen. Ek pielie-pielie selfs soos vir 'n gans –
net vir ingeval die spinnekop gans kan praat en sukkel met Afrikaans. Maar
verniet.
Toe sit ek nou met twee vrouens wat vir my
kwaad is omdat ek niks doen om hulle te red nie.
Vra ek hulle wat hulle dan nou wil hê ek moet
doen met die arachnida wat nie daar is om iets aan, of iets mee te doen nie, kan
hulle my ook nie sê nie. Hulle is sommer net kwaad.
Dis ook toe op daardie punt dat ek, wat al
hospice toe en terug kon gewees het, moet hoor sekere mense gaan volgende keer
hulle pa bel om hulle te kom red van die spinnekop.
Maar toe draai ek om en loop.
Net om te moet hoor dat die spinnekop
waarvoor hulle so bang is, niks anders as 'n Vadertjie Langbeen-spinnekop is
nie.
'n Daddy
Long Legs! Bid jou dit aan!
Die goed leef van muskiete en soortgelyke
insekte! Hul bytende monddele is nie eens gemaak om hul “tande’ in 'n mens se
vleis te kan inslaan nie.
En self al kon hulle jou byt, kan hulle jou
nie bykom met wat dit ook al is waarmee hulle hul prooi bykom nie – hulle bene
is so lank, só lank dat hulle die muskiet van bo kan bykom, dat hulle nie kan
af buk met daai moewiese lang bene van hulle om hul byt- en vergifwerk in en op
jou lyf van stapel te stuur nie. 'n Mens moet letterlik iets soos jou pinkie
tussen hulle bene indruk – dit terwyl hulle nie op jou hand nie, maar op die
tafelblad staan, voor hulle jou kan byt – sou hulle enigsins wou. Want hulle
het mos eintlik 'n voorliefde vir muskiete.
Nou vra ek weer eens met trane in my oë...
Maar dan moet ek hoor die fout lê by my!
No comments:
Post a Comment