Pages

12.4.11

All dressed up and nowhere to go? (2)

All dressed up and nowhere to go word toe, toe Mamma haar tweede slapie klaar geslaap het, all dressed up and everywhere EXCEPT THE BEACH to go. Nie vir die dag nie, vir die volgende twee dae!

Maar dis wat so lekker is van 'n vakansie by die see – dit kan maar reën, jy hóéf nie strand toe te gaan om te swem nie, daar is báie ander dinge wat jy kan doen.

Toegegee, jy kan 'n Desember kom en in twee weke nie eers eenkeer regtig ordentlik geleentheid hê om by die strand en al sy aantrekkingskragte te kom nie, maar April is anders en behalwe dat tien dae se slegte weer uiters gering is, is daar minder mense, iets wat alles vir my meer leefbaar maak.

Kyk net hoe sluit ek die vorige skrywe af:  Ons wou nog so baie doen:  Mini Town, die slangpark, 'n pretpark, die krokodille, iets van die  Zoeloe-kultuur leer ken, die Maritieme museum op die hawe.

Dis dan met trots dat ek kan aankondig dat ons dit alles, én nog meer, gedoen en geniet het.

Ek was 4 jaar oud toe Mini Town in 1969 oopgemaak het. Ek glo daarom ook ek was 4 toe ek Mini Town vir die eerste, en tot vanjaar dan, die laaste keer, besoek het. Daarna het Pa Hans my elke keer net met 'n basta of ag nee wat daaraan herinner dat ek al daar was, en darem elke keer iets lekker, indien nie lekkerder nie, in die plek daarvan voorgestel.

En dis hoekom ek Klaradyn so graag by Mini Town wou uitbring:  ek het groot geword dat dit die tipe plek is waar 'n kind een maal in sy lewe op 'n vakansie móét uitkom. En dan is dit oor en verby. Ek het selfs doelbewus 'n foto geneem, sodat ek met 'n rein hart en skoon gewete sal kan sê:  “Been there, got the photo.”

Haai, en dan lyk dit my klaar dis een van daai goed waaroor kinders bestem is om anders as hul ouers te voel. Want, soos ek ook seker maar destyds, het Klaradyn reeds by herhaling frases soos die volgende laat val:  wanneer ons volgende keer weer by daardie klein dorpie en volgende jaar as ons by die miniatuur dorpie...

En toe ons eergister met haar daar instap, toe is ek so bly ons doen dit. As kind het ek dit nooit geweet nie, en selfs al het ek dit geweet, sou dit aan my geen verskil gemaak het nie, maar die Mini Town is eintlik 'n welsynsgedrewe projek.

Daar is regtig onder die son niks om oor te óéé of te ááá nie as jy 'n dag ouer as 7 is nie. Dis nou behalwe om jou kind dop te hou en elke oomblik wat sy geniet met soortgelyke genot gade te slaan.

En dan kan jy jou daaraan troos dat die geld wat jy uitgegee het om haar dop te kan hou darem vir 'n goeie saak gaan.

Klaradyn maak haarself toe ook die selfaangestelde toergids van die dorpie. Twee kindertjies pik na haar sin hopeloos te verward rond en sy spoor hulle in haar beste Engels aan om haar te volg – en kort voor lank hol die drie van hulle heerlik rond en joel en jil dat dit 'n aardigheid is.

Sy het seker agter gekom dat hulle swart is, want hoekom anders sou sy Engels praat. Of miskien het sy hulle Engels hoor praat en nie geregistreer hulle is swart nie.

En selfs al het sy geregistreer hulle is swart en sy wit, het dit nie vir een van die drie iets beteken nie.

Maar voor ons Mini Town toe is, het ons eers op die hawe by die Maritieme Museum gestop. En was dit nou 'n lieflike teleurstelling! 'n Teleurstelling omdat ek iets soos die een op Simonstad verwag het, en toe net drie ou has been skepe (waarvan twee ontoeganklik en gesluit vir herstelwerk is) gekry het.

Maar die een wat ons wel kon verken, het ons elke hoekie en draaitjie en kajuitjie en gaatjie van verken. Dis of daar 'n weet- en leergierige dier in Klaradyn wakker word, een wat nie gekeer kan word nie.

Dit lyk altyd so maklik in flieks. Glo my dit is nie in die werklike lewe (gewees?) nie:  ek het twee keer byna vasgesit in 'n tonnel teen 'n trapleer iewers heen, of iewers weg. En dit help ook nie ek praat Klaradyn bang met iets soos nee, jy kan nie daar af nie, dis donker en jy kan mos sien hulle wil nie ons mense daar hê nie, want sy my al klaar vooruit en hét lankal 'n lig, of luik wat lig deurlaat, opgespoor.

Ag, en toe ís ons nou op die hawe. Ag, en toe kan ek nie glo hulle bestaan nog in vandag se post-1994 dae onder dieselfde naam nie. En toe weet ek ook Skoolreisdienste soos ek dit as kind en jong onderwyser leer ken het, bestaan lankal (van 1994) nie meer nie – so Klaradyn sal nooit ooit in haar lewe, soos ek, en duisende ander wit Afrikaanse standerd 4’tjies, op 'n skooltoer  af kom Durban toe, en op die Sarie Marais kan ry nie.

Dis nou een ding waarteen my ouers vasgeskop het, 'n rit op die Sarie Marais. En as ek terugdink, reken ek nie hulle het nodig gehad om juis vreeslik vas te skop nie – ek sou nie knaend en temend gewees het oor so iets nie: 'n rit op die Sarie Marais was vanuit my perspektief iets wat seker onbekostigbaar duur moes gewees het, dis bloot net iets wat kindertjies soos ek en my broer nie beskore is nie.

Maar toe kom die standerd 4-skooltoer en ons klomp is op 'n hawetoer. (Kinders is darem maar vreemd, ek onthou tot vandag toe dat dit net 'n ondergeskikte “hawetoer” en nie 'n “diepsee toer” nie, was!)

En oor ek toe nou besef dat Skoolreisdienste Klaradyn nooit op die Sarie Marais gaan kry nie, is dit dan darem seker nou my vaderlike plig om haar daarop te kry.

En ek is so trots op hulle dat hulle nog nie handel dryf onder 'n naam so Nelson’s Cruises of Ghandi’s Tours nie, dat ek nie anders kon as om hulle te wil ondersteun nie. (In retrospeksie besef ek natuurlik dat hulle bloot in sestiger- tot tagtigerjare soveel skoolkinders op Skoolreisdienste se toere uitgeneem het, dat daar vandag soveel Mammas en Pappas is wat dit, en hulle, onder die naam Sarie Marais onthou, dat hulle dit nie kan bekostig om van naam te verander nie – hulle sal al hul klandisie verloor.)

Klaradyn word toe die Jolly Rodger se boegbeeld – heel voor in die middel met die wind in haar hare. Ja, die Jolly Rodger (en verniet of ek kan onthou waar hulle hierdie naam gaan steel het – dit was die een of ander literêre boot, 'n seerowersboot as ek my dit nie mis het nie) want die boot se naam is toe nie Sarie Marais nie, bloot die besigheid wat die twee bote besit. (Soos met Mini Town registreer en onthou kinders nou maar een maal anders as grootmense, en andersom.)

Durban se Golden Mile lyk darem nie meer heeltemal soos die Lagos of Hillbrow wat dit 10 jaar gelede gelyk het nie, maar die golden mile wat dit in die apartheidsjare was, sal dit nooit ooit weer wees nie. Natuurlik is ons toe daar op en af, vanaf Addington Hospitaal (nog iets wat nooit weer iets van sy eertydse glorie sal smaak nie) tot bo uit waar die Slangpark al die jare was.

By die pretpark verlang ek onbeskaamd terug na my kinderdae en die verlede wat ek kon geniet.

Natuurlik onthou ek alles veel groter. Natuurlik mis ek die stampkarretjies. Natuurlik krimp my hart ineen by aanskoue van die nuwe swembaddens vir die kinders.

Ja, 'n hunkering na die verlede is dikwels eerder 'n verset in en opstand teen die veranderinge van die hede, maar dis nie so seer om 'n kind van Verwoerd te kon wees, wat ek mis nie, dis om kind te kan wees, wat ek mis. Ek wil dit kan beleef soos Klaradyn dit beleef, want soos sy dit beleef, is hoe ek dit beleef het. Onbevange. Onskuldig.

Dis hoekom ek die poele soek soos dit was, die pretritte en die spookasem. Dat dit nog kan lyk soos in my kinderdae.

Van my gunstelingpretrit, die een wat deur die water gegaan het, is net die bouval, die murasie, eerder die ruïne, op die noordpunt oor.

Iewers kon jy jou fortuin ook laat vertel het, het 'n tannie in 'n glasbal gekyk en jou toekoms voorspel. Miskien het sy kaarte gedeel, miskien die lyne in jou palms bestudeer, ek sal nie weet nie – dit was net vir grootmense en nie vir kindertjies nie.

Om met die sweefspoor langs in 'n kabelkarretjie te ry, was vir 'n oormoeg, oorgestimuleerde Klaradyn nie genoeg nie – sy vra vir nog 'n rit. Sy begin huil vir nog 'n rit.

En wat werk vir 6 jaar nou al as Klaradyn nie haar sin kry nie? Sy begin huil.

En wat werk vir 6 jaar nou as  Klaradyn nie haar sin kry nie en begin huil? Selfs King George en sy oudste dogter buig die knie en stem in.

En daar leer Klaradyn toe een van twee, hopelik altwee, lesse.

Die ding wat sy kies om op te ry is toe hopeloos te wild vir haar.

Sy skree die laaste driekwart van die rit – nie van genot nie, van vrees en angs en naar en histerie en wil-uitval-uit-die-karretjie!

Dis 'n naarheid. Amper letterlik.

Sy skree en snik en huil nog 'n goeie halfuur op pad huis toe.

Ek glo sy het geleer om af te bly van die goed.

Ek sal daarmee geen probleem hê as sy so 'n skrik weg het dat sy nooit ooit weer sommer op iets wat vinniger en wilder as 'n mallemeule se hobbelperdjie sal gaan nie.

Het sy enigsins van haar pa se bloed in haar, sal sy in elk geval agterkom die goed akkordeer nie met ons Moolmans nie – dis soos dit gelukkig met drank en te veel daarvan ook is: dit maak ons nie jolig die, nie vrolik of gesellig nie; dit maak ons dadelik hondsiek.

Die ander lessie waarop ek my hoop het, maar ek weet hy neem jare (dikwels 25 – en meer, as dit met jou goed gaan) is die een om maar te luister as 'n Mamma en 'n Pappa praat, nie net omdat hulle ouer as jy is nie, omdat hulle beter en van baie meer weet.

Ons was egter nog skaars by die suikerfabriek verby, toe is daar weer rus en vrede in die motor hoewel én Pappa, én Doggie steeds 'n hele entjie met 'n maag op 'n knop getrek van die naar, gesit het.

Die suikerfabriek is 'n ander heerlikte waarby ons nog nie gekom het nie – en ek weet nie of ons ooit sal nie. Maar in die laat sestigs, miskien baie vroeg sewentigs het my pa ons in die motor geboender en met ons afgesit Durban toe om, onder andere ook, 'n begeleide toer van die suikerfabriek te doen.

Ons was by Salt Rock, toe Salt Rock nog 'n gehuggie in die middel van nêrens, êrens en Natalse kusbos was, die maatjies van die karavaan langsaan wat ons al jare elke jaar daar ontmoet, het saamgekom.
Ek het die eerste keer in my lewe met molasse te doen gekry en onthou tot vandag toe nog dat ek letterlik narerig begin voel het van die drukkende, swaar,  soet reuk wat die hele plek vol gehang het.

'n Paar jaar later weer. Toe ek op die standerd 4-toer saam met skoolreisdienste daarheen is, hoe dan anders?

Maar of hulle nog toere het, weet ek nie.

En wíl ek my kind siek maak van ‘n mollassige soet siek reuk? Ek glo nie.

No comments: