Ek weet nie hoe ver dit was nie; enige iets tussen 6 en 8
kilometer.
En toe ek so 'n kilometer van die huis was, toe loop ek
Cherise raak. OK, nie Cherise nie, iets soos Cherise. Iets met 'n –ch/-sj. Maar
ons praat darem nou van 30 jaar gelede en die Cherise is nie die eerste meisie
wat ek in die donker gesoen het nie, maar so onnosel Pekinese wat aan
broer-hulle behoort het. Een waarvan die oë elke dan en wan uitgepop het
as sy te opgewonde geraak het. Dan moet hulle veearts toe met dier, nat lappe
oor die oë.
Toe sy my sien, dié oggend, het haar oë amper
weer uitgepop van blydskap. Want ja, sy was verdwaal en sou op haar eie nooit
haar weg weer terug huis toe gevind het nie – daarvoor was sy regtig te dom.
Miskien was haar naam Sherry of Chère, dalk selfs Cherie. 'n
Boerse Sjerrie was dit egter beslis nie.
Ek het haar die laaste kilometer van die ongeveer 7 kilometer wat
ek die oggend afgelê het om daar te wees na my broer-hulle se huis gedra.
Daar aangekom, wis hulle nog nie eers dat die hond weg was nie. En
waarom sou hulle – die hele huis was in rep en roer om betyds gereed te wees
voor die uitsending begin.
Ek kon by ons eie huis gekyk het, maar dan was ek alleen. Ek kon
by enige van die bure, of pelle in die omgewing aangesluit het, maar ek wou na
my skoonsussie toe – nie net Engelse nie, maar sommer propperse Britse bloed
wat nog deur haar are vloei. (Daar was plek-plek groot ontsteltenis destyds,
iewers in die vroeë sewentigs toe my broer, hoofseun van sy skool, besluit om
'n Engelse meisie wat nie eens 'n krieseltjie Boerekos kan kook nie, te trou.
Die eerste wat my ma gedoen het was om haar op 'n koskookkursus, wat 'n
bobaaskok en goeie vriendin van my ma in die aande by haar huis aangebied het,
te stuur.)
En toe kyk ons die troue.
En toe dit klaar is en hy haar op die balkon gesoen het, het my ma,
na sy die boetiek wat sy en haar suster saam bedryf het, gesluit het, by ons
aangesluit en het ek darem nie nodig gehad om weer die hele ent pad huis toe
met my Apostelperde aan te durf nie.
Ek onthou regtig nie veel nie – behalwe dat ‘n Britse vakbond van
uitvoerende kunstenaars, Equity, op grond van Apartheid geweier het om die
uitsaairegte van sekere koorwerke aan Suid-Afrika te verkoop. Ons kon kyk hoe
die outjies sing; ons mog dit net nie gehoor het nie.
Toe speel die SAUK (ja, daar was daardie jaar nog iets soos die
SAUK, dit was lank nog voor slegs die SABC sou oorbly) opnames van die
onderskeie snitte uit hul eie ateljees uit. Daardie jare was ons nog gewoond
aan oorgeklankte televisie-uitsendings en as die sinchronisasie tussen beeld en
klank nie altyd 100% was nie, sou dit ons nie vreeslik opgeval of gepla het
nie.
En vandag word daar weer getrou. Dit sal nooit weer die vroeë
tagtigs wees nie, ek sal nooit weer in standerd nege wees nie. Ouma van Wyk wat
elke keer as ons haar gelukwens met nog 'n verjaarsdag wegtrek met “Julle weet
Prins Charles en ek verjaar saam, en Judy met die koninginmoeder,” is al in ’86
oorlede.
Ek weet ook nie of die koningshuis ooit sal wees wat dit toe was
nie.
Maar wat maak dit saak, troues is lekker en vandag trou ons saam.
Klaradyn het Charles en Dianna se troue weke gelede, nog voor daar
heruitsendings en grepe op TV was, al via Youtube
leer ken – die ent pad met die koets, die kerk se gang af, én die sirkus op die
balkon.
Maar my kind is 'n kind van die nuwe millennium... 'n mens sal nou
dink 'n dogtertjie sal opgaan in 'n prinses se trourok, maar nee, sy was regtig
nie vreeslik opgewonde nie. Haar tydgenoot oorkant die straat se vinnige
kommentaar voor sy verder gaan speel het was dat die rok darem regtig nie mooi
is nie.
Ons het via die internet ook 'n draai by die tonnel gemaak, die
blomme voor die paleis en nog hier en daar ook.
Ek het haar Camilla ook gewys en my kind, 6, uit haar eie, sonder
dat iemand 'n saadjie geplant het, het 'n verband tussen die dame en 'n perd
getrek. Ons het haar tereggewys, maar ek was weer eens verstom oor die mond van
'n suigeling.
Toe, om die hype te versterk het ons al vier van The Prince & Me gekyk, ook die twee Princess Diaries.
So Klaradyn is vanoggend soos 'n perd in die wegspringhokke.
Ons het talle uitnodigings gehad, een wat Gin & Tonic beloof het, 'n ander met scones & tea, iewers was komkommertoebroodjies ook ingegooi.
Maar ons gaan ons by Oupa-hulle soos rojaliste gedra.
En net om alles en almal in perspektief te hou, met my gesonde sin
vir ironie, het ek oornag 'n ryk en stewige pot outydse spek-en-bone-sop
gaargeprut in die kombuis.
Ek het al voor 08:00 vir Annieka gevra of ons nie maar kan ry nie –
ek wil daar uitkom dat ek kan sop eet.
No comments:
Post a Comment