Van almal wat ek al met haar gedeel het, is die een wat ek
vanoggend gepos het die enkele fabel wat Klaradyn die meeste na verwys.
Gisteraand weer, terwyl ons vir Mamma wag om die DVD te begin kyk, toe trek
Klaradyn weer 'n lyn tussen dit wat in ons huis gebeur en dit wat Babrius
ongeveer 2000 jaar gelede van vertel het.
Maar dis net om haar siel uit te trek dat Klaradyn van tyd
tot daarna verwys – Annieka is beslis nie 'n draaikous nie; as mamma het sy het
net soveel ander dinge om te doen.
Maar eintlik is dit tog maar geaardheid ook: sê vir my om die tafel te dek, dan dek
ek die tafel en kry klaar. Sê vir Annieka om tafel te dek, dan moet
sy eers die tafel leeg maak. My koffiekoppie wat daar staan, word wasbak toe
geneem, ook hare wat sy langs die pad op die rak opspoor. Voor die wasbak is
die waslap skielik te vuil – hy word inspekteer en in die asblik gegooi; 'n
varse word uit die kas gehaal. Nou moet die melk yskas toe – maar daar is 'n
vreemde vingermerk teen die yskas en dit moet eers skoon. As die melk
uiteindelik in die yskas ingaan, spoor sy die Marmite in die yskas op – dit
moet koskas toe gaan. Kom sy by die koskas uit, was ek daarin en staan die
botteltjies nie meer soos soldaatjies van lank na kort met hul name na voor nie
– nou word die kas eers reggepak.
Teen daardie tyd het die kos al gebrand omdat ek intussen
die tafel gedek het – en die kos wat nie verbrand het nie, het koud geword of
skoon verslaan.
Ek praat onder korreksie, maar ek verbeel my gisteraand se
wag vir Mamma sodat ons kan begin fliek kyk, het begin met 'n “Ek gaan gou
wieps,” maar opgeëindig in 'n operasie badkameropruim: toe ons later gaan inkruip toe is die badtyd
se klere wat op die vloer gelê het in die wasbalie, die bad gewas,
die handdoeke opgehang, die water, wat tot in die gang geloop het, opgedroog,
die gastehanddoek geruil en die leë toiletrolletjie vervang met 'n nuwe.
En dis nie asof sy die hele dag niks gedoen het en daarom
teen afskakeltyd met hope opgekropte energie gesit het nie – ons het altwee
vrek hard gewerk, twee dae lank: ek en Annieka het ontslae geraak van meer as 'n
derde van ons boeke. Ek praat hier van 'n Venter-sleepwaentjie met bitter min
plek oor na ons die boeke 18 bokse verpak het.
Maar dit kon nie anders nie. Ons het 6 meter boekrakke,
dakhoogte, vra my, ek weet, ek het hulle self gemaak. Dis nie ongesond baie
boekrak vir twee taalonderwysers nie, geensins; die probleem is net dat meer as
die helfte van daardie rakke, met die uitsondering eintlik net van die
folioboeke, elkeen twee rye boeke, die een agter die ander, akkommodeer het. En
dit kon net nie langer nie.
Ek en Annieka was dan duidelik ook nie teenoorgestelde pole
wat mekaar aangetrek het nie, want kyk jy na die groot aantal boeke waarvan
daar twee op die rak was, een myne, een hare, dan is dit eerder asof ons uit
dieselfde hout gekap is. En ook nie suiwer Afrikaanse en Engelse universiteitsboeke
nie (ons het beide Afrikaans-Nederlands en Engels aan twee verskillende
universiteite studeer) maar selfs kunsboeke.
En dan was hier boeke waarvan daar nie net twee was nie,
maar drie: Annotated Art, Hennie Aucamp se Die Hartseerwals, Dekker se Literatuurgeskiedenis,
Haasbroek se Heupvuur (of was
dit iets soos Voorslag?)
Ook nie een Versameldwerke
van Langenhoven nie, maar twee.
Nie-fiksie het ons gehou, maar onder die fiksie was daar 'n slagting.
Ons het nie meer een Afrikaanse of Engelse drama in ons besit nie – en ons het
baie gehad. 'n Kortverhaalbundel wat ons nog net een keer deurgewerk het en ook
nooit weer sal lees nie – en daar was baie – is weg. AP Brink en Elsa Joubert
se romans is voor die voet gehou, ook Dalene Matthee, die ander slegs as ons
dit beslis voor ons eendag ouetehuis toe gaan weer gaan lees.
Nie-fiksie waarvan die inligting maklik op die internet
beskikbaar is, is ook nie gespaar nie.
Elke Afrikaanse digbundel is as kroonwild geag – daaraan raak
niemand. Behalwe nou die waarvan ons dubbeld had.
Die geneuk is net, toe ons klaar het, toe is daar vier leë
rakke.
Maar ek soek 'n boek wat ek die oggend gesien het, maar nou
nie op die rak kan opspoor nie.
En Annieka stel voor ek gaan deur die 18 bokse, vir ingeval.
En ek doen dit.
Maar in die proses hou ek die Afrikaanse kortverhaalbundels en
romans eenkant.
Ek roep Annieka om my te kom help – ek vra haar om saam met
my op te tree soos Gustav Schindler teenoor die Jode opgetree het, en 'n paar
te red. Maar sy hou voet by stuk: arbeit macht frei – en dan het sy nou
klaar gearbei, sy dra nie 'n enkele boek terug nie.
Ek het toe die vier leë rakke weer vol/vollerig
gesmokkel.
Die rak waaroor ek die meeste opgewonde is, is die bykans
meterlange boekrakspasie met boeke wat ons nog nie gelees het nie – want dit
gebeur ook, veral as jy by tweedehandse boekwinkels inloer.
Ek het hoeka uitgesien na die hospice-winkel in Lynnwoodweg
waar ek die boeke gaan aflaai het, ek het geweet ek gaan nie met leë
hande terugkom nie.
Maar toe is die winkel toe vir besigheid, trouens net via
die hospice se ingang self dat ek die boeke kon aflaai.
Ja, ek het laas jaar geskrik toe ek sien hoeveel geld 'n mens
vir die regte boeke by die regte tweedehandse handelaar kan kry. Maar daardeur
is ons verlede jaar.
Die bietjie geld wat ek sou kon kry wat ek nou nie gekry
het, deur dit nie by 'n tweedehandse handelaar af te laai nie, gaan ons in elk
geval nie armer maak as wat ons reeds is nie.
En wie is nou in elk die rykste? Hy met sy sakke vol geld,
of hy met sy kop vol wonderlike stories?
***
O, ja, om by die fabels uit te kom, druk hier.
No comments:
Post a Comment