'n Mens vergeet maklik van goedjies soos skollelade en skottelade en skollolade totdat
sy gisteraand, in die kar, in die reën, oppad huis toe en, soos vir die
volgende 23 jaar, ontevrede met die musiek wat ek aan het, vra of ek nie weer Katkos en Karolus kan insit nie.
So, laat ek die kort sitaat neffens die blogtitel gestand
doen en twee dinge doen: die skottolades aan die vergetelheid ontruk
en, voor ek, voor ons vergeet, van katkos
karolus vertel.
Klaradyn word nié groot in 'n vreeslik musieklike huis
nie – die radio is nie aldag en heeldag aan nie, nog minder die CD-speler.
Wat myself betref hou ek daarvan om aktief te luister – en met
aktiewe luister bedoel ek om op daardie oomblik net een ding te doen, en dit is
om musiek te luister; musiek moenie vir my iets wees wat wit geraas in die agtergrond vorm nie, ek wil sit, fokus, en die musiek
geniet.
Annieka is anders – sy het na 9 jaar van getroude lewe begin
om die radio aan te wil sit (kry 'n mens iets soos musiekhongerte, klankhonger?) en dan kan sy vir goed 'n uur lank
(ek vermoed heeldag, as ek nie hier is nie) die radio in die agtergrond aan hê.
As ek hier is, is dit egter hoogstens 'n uur of twee dan kan
ek die geraas, waarna niemand behalwe ek lankal nie meer luister nie, in die
speelkamer, waar niemand lankal meer is nie, die langer uitstaan nie, dan gaan
sit ek dit af.
Sy kan ook so, met die musiek in die speelkamer as verre
agtergrondmusiek; aan die slaap raak; ek glad nie – ek kan nie anders as om
aktief te wil luister nie. Dan is sy al in droomland – en dit vir 'n middagslapie
– dan lê
ek nog oopoog en so wakker soos 'n akker en probeer uitmaak wat op die radio
aangaan.
En as ek dan eers opgestaan het om dit te gaan afsit, het
die aktiwiteit en veranderde bloedvloei die slaap nog verder weggejaag.
So dit is in ons huis min of meer, nee presies, soos dit met
ligte is – daar is net twee mense wat dit aansit, en dan is daar net een mens
wat dit afsit (en die een wat afsit is nié een van die twee aansit nie).
Klaradyn moes ook 6 word voor sy 'n radio in sowel haar ma
as haar pa se motors leer ken het. Mamma se motorradio was buite werking van
voor haar geboorte, en die een deel van Pappa se motorradio het Ouma Nooi ook
al jare voor haar geboorte êrens verlê.
Maar toe bederf ek myself begin Desember-vakansie met 'n nuwe
ding in die kar, en dit was skaars Tweede Nuwejaarsdag gewees, toe sit ons af
om vir Mamma ook een te kry – ook iets wat CD’s en rekenaargeheuestafies kan
akkommodeer.
Ai, en dis 'n lekkerte – ek het goed vyf jaar lank musiek in
die motor bly mis en Annieka het ook maar net verder gekwyn.
Maar sedert Desember klim ons nie in die kar sonder musiek
nie. (Stomme Annieka, wat Klaradyn soggens by Ouma gaan aflaai, was weliswaar die
hele eerste kwartaal op Liefling se
klankbaan vasgeval – bloot die gevolg van 'n klein dogtertjie se doodnormale besottenheid
oor die fliek en die Van Jaarsveld-mannetjie.)
Ek het bykans daagliks die met die baie CD’s op ons rak
gependel – en die inkopie-halfuur toe Annieka uiteindelik vir my 'n CD-houer
vir die motor koop, een wat 36 CD’s kan vat, is toe mooi die inkopie-halfuur
waarop ek, wat 'n ander rigting in die Mall
as die girls ingeslaan het, vir
myself ook een koop, een wat 72 CD’s kan neem.
Dit wil darem voorkom of Klaradyn 'n versameling, anders as
slegs Liefling, saam met Mamma in die
kar sal toelaat en het ons nou al amper die punt begin bereik waarop Annieka
die 36-een vir haarself sal kan aanwend.
So kom die April-vakansie, toe maak ek my kassie bewend van
opwinding goed vol – Klaradyn se musiekverwysingsraamwerk gaan goed uitgeberei
word.
En dit is ook so.
Sy geniet alles – alles behalwe die Boeremusiek wat vir my 'n
persoonlike terugslag en ramp is – ek het gehoop om 'n tweede mens, naas
myself, in lewende lywe, te leer ken wat van Boeremusiek hou, maar helaas.
Ek het natuurlik genoeg CD’s in die motor gehad dat ons nie
eers nodig had om dieselfde een twee keer te luister nie. En op 'n reënerige
dag, toe ons ver suid gery het en oppad terug is, is dit net mooi die weer en
stemming om aan Coenie de Villiers bekend gestel te word.
Coenie is straks bietjie swaargewig vir 'n sesjarige, maar
dis die einde van die dag, die kind is moeg, die energievlakke laag, net
miskien koop sy in. Ek het die twee uiteenlopende opnames wat hy seker 20 jaar
uit mekaar van Karoonagte laat maak
het, in die kar.
Ek en Annieka, Annieka wat Coenie sou wou getrou het as sy
my nie leer ken het nie, sing lustig uit volle bors saam. En dis toe ons 'n rukkie
later een van die minder kindervriendelike snitte tref, dat Klaradyn afhaak en
vra: “Kan ons weer Katkos en Karolus luister, Pappa.”
Daar was 'n oomblik doodse stilte in die kar, ek vermoed
mooi op die oomblik dat die een snit uitgespeel het en daar so twee of drie
sekondes is voor die aanvang van die volgende, en toe proes ek en Annieka
tegelyk wat ons besef Katkos en Karolus is
niks anders as daai, vir Klaradyn, gans onbekende “ruik jy Katbos en Kambro (as dit reën in die Klein Karoo)” is nie.
En toe vergeet ons daarvan, tot Klaradyn gisteraand,
uitgekuier aan Trekklavier Treffers, tong-in-die-kies
en spottend met haarself, vra of ek nie daai lieflike Katkos Kambrolus-liedjie wil insit nie.
Daarom dat ek dit vanoggend, terwyl die twee girls nog slaap gou kom aanteken, voor
ons vergeet.
En hopelik is daar nie
baie sulke goed wat hierdie komende week in my gedagtes gaan kom aanklop nie –
ek wil my fabels weer iewers in die kuberruim gestoor en aangeteken kry.
Ek lees hoeka gister
in Beeld van Max du Preez wat twee
boeke se werk en drie boeke se magdom navorsingswerk verloor het, toe sy
rekenaar gesteel is. Netnou verloor ek dit wat ek reeds vertaal het op
soortgelyke wyse, of die rekenaar pak op. Daarom ook dat ek verkies om dit op 'n
blog in bewaring te hou.
Die skakel is hier,
dit neem jou na Afrifabels – 'n simpel
naam ek weet, maar ek sien Donderdag in die CD-winkel daar is naas die Afri-Frans en Afri-Spaans nou ook 'n Afritaliaans
uit. So die Afrifabels is vir my
tegelyk Fabels in Afrikaans, en Fabels vir Afrika (juis oor ek, as ek
al 500 van die wat ek wil vertaal, vertaal het, die goed na Afrika wil
transponeer).
Onthou om op daardie
hier in die vorige paragraaf te druk.
Maar, vir jou gerief,
en ingeval jy vergeet het, druk sommer maar hier, of hier, dan neem ek jou deur
na die fabels.
1 comment:
Nou ken ek 2 mense wat regtig van Boeremusiek hou: jy en my ma! Sy het oppie plaas net buite Swartruggens groot geword en sweer hoog en laag dat elke liedjie anders is.........klink vir my maar alles dieselfde ;-)
Rene
Post a Comment