Pages

19.4.11

joie de vivre

Ek wonder of ek al ooit 'n jaar sedert ek in 1989 begin skoolhou het, nié by die jaarblad betrokke was nie!

Woensdag is hoeka weer fotodag – 'n nagmerriedag vir sommige personeel; 'n soete droom vir die meeste kinders.

Egter nie die amptelike foto’s wat my nou agter die sleutelbord het nie; wel die impromptu foto’s. Daarmee bedoel ek nou die ongeposeerde nie-amptelike kiekies en snêppies wat die leerders en onnies uit hul eie voorlê om iewers opgeneem en in die een of ander vorm, meesal 'n collage, verewig te word.

Daardie foto’s is nou al jare my nagmerrie. Ek het eerder 'n volle week lank elke dag amptelike fotodag voor ek een keer begin smeek en soebat en lek en omkoop vir informele foto’s!

Dis verniet of jy die kinders so ver kan kry om dit vir jou te bring. Almal is gewillig. Almal het vreeslik baie, vreeslik oulike foto’s – maar almal vergeet daarvan die oomblik wat hulle jou nie meer in die oë kyk nie.

Toe ek tien of elf jaar gelede die jaarblad oorneem hier waar ek nou is, noem die atletiekorganiseerder dat hy vreeslik bly is daar is nuwe bloed in die redakteurstoel, hy kan my atletiekaksiefoto’s in die vorige jaarblad wys – van kinders wat al drie jaar gelede klaar gemaak het met matriek. En dan kan hy my lieflike foto’s wys wat al vier jaar in 'n ry, elke jaar, iewers in die een of ander collage opduik.

Aanvanklik het ek gedink dis 'n skande, maar die oomblik toe ek aan eie bas voel hoe 'n gesukkel dit is om foto’s uit die kinders te kry, het ek tog begin verstaan.

Ek het 'n oog vir 'n treffende foto – die geneuk is net dit gebeur dat ek hierdie lieflike foto’s plaas en dan is dit atlete van ander skole, elke denkbare ander skool onder die son behalwe ons s'n, wat ek opblaas.

Of die lieflike drie waar die seun se gesig so mooi saamwerk om dit 'n meesterlike foto te maak, is die wendrie van die opponente; die betrokke wedstryd (of sal ek eerder sê – nederlaag) 'n nederlaag wat enige getroue rygbyondersteuner nooit in menseheugenis sal vergeet nie.

Dit gebeur ook male sonder tal dat ek 'n foto kies en dan is die dramatiese in die foto, dit wat maak dat ek die foto aangrypend vind, nie ons wat hulle plettervat nie, maar anders om. Ek het een jaar, na die rugbyorganiseerder my minder geskikte keuses aan my uitgewys het, vir die ontwerper gevra of ons nie maar die opponente se ligte hemde, donker kan inkleur dat dit lyk soos ons nie – en dan photo shop ons ons eie span terug in die kleure van die vyand.

Sy wou nie daarvoor val nie, maar in 2002 of 2003 het ek wel 'n simpel kind op seker 6 foto’s moes “uitvee”. Die mak mielie (eintlik sommer 'n simpel seuntjie) het homself vir die snaaksigheid op al wat foto is, ingewerk. Ek verbeel my die kind was daardie jaar in elke graad 10-klas, met die uitsondering nou van C, E en H.

Ek het hom sleg gesê en uitgevreet dat die see hom nie kan skoon was nie, en toe het ek sy pa gebel en my woede vir die kind op die stomme man projekteer.

Hoe die fotograwe dit nie agtergekom het nie, weet ek nie, hoe die meneer wat destyds die fotodae hanteer het, dit nie agtergekom het nie, weet ek nie. Maar ek en die ontwerper hom digitaal toe só verwyder (hy was lank en elke keer in die heel agterste ry) dat hy op die ou einde nie op 'n enkele foto meer was nie – nie sy klas, rugby- of atletiekspan nie.

Mors met my, dan mors ek met jou.

Die grootste frustrasie deesdae met die informele aksiefoto’s, kry jy dit wel in die hande, is die feit dat jy dan letterlik 789 toerfoto’s van 'n enkele toer kry. Ek lieg nie! Dis die reine heilige waarheid. Hulle klim op die bus of vliegtuig met 'n digitale kamera en gedra hulle soos 'n wafferse Sjinese toeris – of dit nou beweeg en of dit nie beweeg nie, hulle neem dit af, van onder, van bo en van die kant. 789 foto’s dan ook as dit eerder 'n naweekkamp as toer was = 'n volwaardige toer, byvoorbeeld oorsee, lewer lag-lag 2000 foto’s wat hulle dan met verloop van 'n halfuur op jou rekenaar kom aflaai. En dan verwag hulle dat jy daardeur sal gaan en die beste 20 uitkies, sodat die ontwerper later, miskien, drie van die 20/2000 kies.

Dan het ek 'n ma wat seker al agt jaar by netbal betrokke is. Sy rig nie net af nie maar toer, lyk dit my, ook met die kinders. En dit wil my voorkom dis ampers half 'n gegewe dat die een of ander ouderdomsgroep waarby sy betrokke is, standaard, elke jaar, see toe gaan.

Hierdie moeder neem ook lieflike foto’s, as redakteur van die jaarblad kon ek nog elke jaar op haar reken vir lieflike foto’s. Die laaste vyf of ses jaar kry ek dan ook elke jaar, en ek vermoed dis van haar, 'n lieflike foto van die mooiste netbalmeisies op die strand. Maar nie sommer enige foto nie, 'n jubelende foto vol joie de vivre: die meisies is opgelyn en dan spring hulle uitgelate in die lug, die arms soos die waaiende palms van Egipte, die bene na agter opgetrek.

Elke jaar is dit vir my die mooiste foto. Ek het hom selfs al een jaar gekry waar hulle blykbaar nagelaat het om die tradisionele foto op 'n sonskyndag te neem; toe moes hulle, laaste dag, in bewolkte weer, met reën op die horison, die foto neem.

Ek is elke jaar gereed om die foto op te blaas en oor die voorblad te gooi, maar word elke jaar tot versigtigheid gemaan deur die om my.

So raai waarmee besig ek my toe nou die laaste oggend op die strand?

En dan is dit 'n digitale kamera – ek het gaan tel, nie minder nie as 36. Van voor, van agter, en van die kant.






Naskrif:  Ek weet nie eers of ek dit reg spel nie, laat staan nog te sê uitspreek, maar nie verniet dat ek die Franse joie de vivre hier bo aan die foto’s toedig nie. Want neem Klaradyn nie die wind uit my en Annieka, beide, se seile nie, toe sy dié dag, op 6, afhaak met:  “Mamma, ek en Pappa het vandag joie de vivre foto’s geneem.

Ja, ek gebruik die uitdrukking. En ja, ek sou dit aan haar verduidelik het nie. Maar dis nie so baie dat ek dit gebruik nie, en dit moes maande gelede gewees dat ek die betekenis aan haar ontsluit het.

Maar, ja, kinders is sponse, tabula rasa’s, piksplinternuwe rekenaars wat geprogrammeer word.

No comments: