Dag vier van slegte weer was hondsleg van hondslegte weer.
Geen kiesa, motreën of misweer nie, maar propperse reënweer wat jou binnenshuis hou.
Of dan nou binne die tent?
Nog nooit gesien nie!
Uiteindelik het ek geleentheid om ons deur te vat na The Valley Of A Thousand Hills. Ek dreig al hoe lank, maar elke keer haak ons iewers elders vas.
Ek vermoed nou al vir meer as 40 jaar dat 'n mens eintlik na hierdie duisendvoudig-heuwelagtige vallei moet gaan op 'n mooiweersdag – juis om die heuwel op heuwel te kan sien, en nie suiwer op en af te ry nie. Maar in meer as 40 jaar was dit my nog nooit beskore nie.
Sonskyndae, vir ons Vaalpense, is strand- en seedae.
Dit was altyd op 'n gure (of natuurlik ongure) dag, dat Ma of Pa sou noem: “Miskien moet ons deurry in die rigting van The Valley Of A Thousand Hills.” En dan skiet ons deur, suiwer vir die lekker, en die mooi.
Hoe die landskap op 'n oopgetrekte sonnige dag lyk, weet ek nie, maar op 'n mistige, nat, bewolkte dag, is en bly dit een van die mooiste moois in ons land; iets wat ek Annieka en Klaradyn wil wys.
Ons besoek pheZulu wat vreeslik wyd bemark word.
Ek onthou as kind dat jy op 'n Sondag na iewers in Johannesburg of die myne kon uitry en dat het Zoeloes hul danse gedans, die myners hul myndanse gedoen. Maar self was ons nooit daar nie. PheZulu sal Klaradyn geleentheid bied om kontak te maak met dit wat aan buitelandse toeriste as Zoeloe-kultuur opgedis word.
Ons is net betyds vir die 11:00 vertoning.
Klaradyn geniet elke oomblik.
Gelukkig is sy en haar ma in die toilette as ek die hele toneelgeselskap na afloop van die konsert in hul sweaters en jeans met ipods en selfone sien afstap huis toe. Die volgende vertoning is immers eers 14:30.
Met die dat die slangpark by Mini Town ook al 'n geruime rukkie gelede plek moes maak vir parkeerplek, is ek bly oor pheZulu se slange.
Die krokodilplaas wat ek sou wou besoek, kry ek nou al twee jaar nie, maar daar is ook heelwat krokodille en ons het 'n heerlike tydjie daar, en langs die pad waar jy elke kilometer, of dikwels selfs elke paar honderd meter, kan aftrek vir die een of ander stalletjie, winkeltjie of mark.
Terug by die kamp begin dit eers weer reën toe die kruisskyf reeds van die kole en die gnochi met kaassous in die borde is.
Ons klim in die bed met die opregte hoop dat die volgende dag 'n sonskyn stranddag gaan wees.
Helaas toe nie.
Wél 'n swemdag, maar nét ás jy nié die lieflike dae op die strand gehad het, wat ons drie reeds gehad het nie.
Ons is egter hopeloos te veel bederf om die strand in sulke weer aan te pak.
Annieka vra tyd vir 'n uur agter die rekenaar om skoolwerk te kan doen; ek en Klaradyn gee haar twee en 'n half as ons deurskiet dorp toe om by die bank uit te kom – ek moet Ma Judy se ouetehuis-huurgeld oorbetaal. Ek moes dit al twee dae gelede gedoen het, maar elke keer reis ons te lekker, en dis eers om die braaivleisvuur dat ek twee aande nou al skielik uitroep: “Ek het nie my ma se huur betaal nie!”
Na besoek aan die bank, stap ons in die motreën deur die winkeltjies en Sussa score 'n lieflike rokkie van Pappa.
Toe is ons goed honger en gereed vir ontbyt. En dis toe ons in Scottburgh se Wimpy wat oor die see uitkyk, dat ek besef daar is inderdaad mense wat in hierdie slegte weer swem. (Nie dat ons nie presies dieselfde sou doen, was ons nie so bederf nie.)
Ons pik Mamma 'n ruk later op en skiet met haar af in die rigting van Ramsgate.
Ons begin al plek-plek aftrek hier van Hibberdene af, maar ons draaipunt is die Teahouse of the Blue Lagoon.
'n Vakansie by die see is nie 'n vakansie by die see sonder 'n besoek aan die Teahouse of the Blue Lagoon nie.
Die plek is natuurlik al vir 20 jaar nie meer die Teahouse of the Blue Lagoon nie, maar as dit vir die eerste 27 jaar van jou lewe die Teahouse of the Blue Lagoon was, dan sal dit tot en met jou dood die Teahouse of the Blue Lagoon bly.
Ons gaan eet ons tradisionele Belgiese wafel by die Teahouse of the Blue Lagoon wat deesdae onder 'n ander naam bestaan. The Waffle House, of so iets.
Toe is dit stop-stop terug.
Ons klim nie anderkant Hibberdene op die snelweg nie, maar bly op die streekspad wat ons aan lieflike omgewing blootstel.
Dit reën en die wind waai soos hy in dae nie gewaai het nie, toe ons by die kampeerplek kom.
Gelukkig is nie een van ons vreeslik honger nie – die laatagtermiddag se wafel.
Dis met 2-minute noodles dat ons in die bed klim.
Ek is 23:00 op en uit en die eerste wat ek jubel is die baie sterre wat ek die eerste keer in baie nagte sien.
02:00 is dit steeds 'n helder sterrehemel wat my groet.
05:00 word ek weer wakker, dis oop en kaal, ek sien uit na lieflike sonsopkoms, en kom sit agter die rekenaar om die oggend en die tyd te geniet.
Klaradyn sluit 06:00 by my aan. Sy teken verder aan Mamma se verjaarsdagkaartjie. (Sondag)
Dis 07:00 en daar is Mamma ook nou wakker.
Ons is vandag 11 jaar getroud. Ek wou haar 02:00 daaraan herinner , maar het nie.
Ek gaan nou.
Dit gaan 'n lieflike laaste dag by die see wees.
No comments:
Post a Comment