Pages

21.4.11

Dankbaarheid tot stof

Laat ek ook nou vandag 'n woord waarvan ek nie die vaagste benul het wat dit beteken nie gebruik asof ek presies weet waarvan ek praat:  My kind het 'n bogemiddelde sosiale IK.

Ek het vroeër vandag by Annieka in haar kantoor ingestap gekom met hom:  “Dis oor ons kind so 'n hoë sosiale IK het, dat sulke dinge gebeur wat gebeur.”

Maar moenie dat die selfvertroue waarmee ek die woord rondgooi jou mislei om te dink ek weet waarvan ek praat nie. Vyf jaar terug het ek nie eers geweet van iets soos 'n sosiale IK nie. Toe duik dit kort-kort agter elke bos op, maar ek weet steeds daarvan soveel as 'n kat van saffraan.

Verlede jaar, in die uur se wag by Klaradyn se kunsklas, wanneer ek nie merkwerk had nie, het ek van tyd tot tyd een van Kobus Neethling se boeke wat daar op 'n rak was, nadergetrek en gelees. Dié boek het my toe 'n nadere kennismaking met die verskillende IK’s wat nou se dae onderskei word, gebied.

Maar dis ook al 'n jaar gelede, en “sosiale IK” was hoogstens 'n paragrafie of wat.

Tog is ek oortuig van my kind se bogemiddelde hoë sosiale IK en gebeur die dinge wat gebeur juis oor daai einste hoë sosiale IK.

En as dit nie dit is nie, dan is my kind se nerwe maar net baie dun, is sy liggeraak en vreeslik fyngevoellig, trek sy haar dinge vreeslik aan, en allerhande ander sulke en soortgelyke dinge.

Maar dis nie dit nie; dis haar sosiale IK.

Ek en Annieka het in 1994 ontmoet, ons is 11 jaar getroud; sy weet steeds nie wanneer ek kwaad is en wanneer ek aansit nie, wanneer ek ontsteld is en wanneer ek bloot aandik nie. Klaradyn was 3 dan lag sy vir my geraas, en speel saam, terwyl Annieka haar uit die voete maak om onder my toorn uit te kom. En elke keer is Annieka vies dat sy die een is wat nie kon onderskei nie.

En dan lê daar nie fout by Annieka nie, nee, dis net Klaradyn wat so presies en raak tussen die lyne kan lees, my lyftaal en elke nuanse in my stem juis en op die man af kan onderskei, Klaradyn wat heer geen rat voor die oë laat draai nie.

Dis bloody moeilik vir 'n pa, om nie te kan aandik of voorgee voor sy kind nie – hy kan ook nie net maak of hy kwaad is nie, sý weet wat is wat, en wat nie.

Behalwe dat ek nie kan voorgee sonder dat sy nie onderskei nie, kan ek ook nie wegsteek nie, of dit nou trane en of dit nou jubel is.

Ons drie kuier Sondagagtermiddag by my ma. Hulle groet en ek stoot haar terug sitkamer toe. Klaars laat val toe by Annieka:  “Hy kan my so ontstel as hy so huil.”

Ek het g'n gehuil nie. My stem het nie eers gebewe nie, het miskien 'n breukdeel van 'n sekonde 'n infleksie gehad, maar dis al. Maar ja, my hart hét geruk. En Klaradyn hét dit opgetel.

Gister het haar kosblik vol van die skool af teruggekom.

Sy het vir die eerste keer haar naskool-klere en skoolskoene in die klas gelos.

By die huis gekom het sy dadelik buite gaan speel, hardop met haarself.

Eers na badtyd, by Mamma, kom dit uit. Nie 'n baie lekker dag gewees nie. Kinders hoof toe. Skuldiges op kamera vasgelê. Kos gesteel. Kinders sê dis sy. Hulle mag nie daaroor praat nie.

En baie trane.

Soveel trane dat dit moeilik is om die kloutjie by die oor te bring.

Dis egter duidelik dat sy nie in die moeilikheid is of iets verkeerds gedoen het nie.

Sy is vroeg van haar kamer na ons kamer.

Toe ek om en by 23:00 gaan inkruip toe sit sy oopoog kiersregop op die bed.

Tussen 23:30 en 05:00 skop sy my kort-kort wakker, hoor ek haar kners, en is dit of sy in haar praat slaap.

05:00 toe is sy wakker – ons maak haar gewoonlik 05:55 wakker.

Annieka het dit verwag, maar nie uitgespreek of met my gedeel nie. Dit is egter toe so:  net toe die skoolvergadering vir ons moet begin, lui die foon en dis Ouma:  “Klaradyn huil en wil nie skool toe nie – iets van gister, en diefstal en kameras en kinders na die hoof toe.

Ja, daar is gesteel. OK. seker nie gesteel nie – 'n kind se tjips deur 'n ander skelmpies gevat. En ook nie eerste keer dat dit gebeur nie. Ook nie die eerste keer dat die betrokke maatjie se kos gesteel is nie.

Met behulp van die televisiekamera in die klas is die ongelukkige nemer vasgetrek. (Ja, as die nemer gelukkig was sou hy nooit geneem het nie.)

Ag, seker 'n lang en hartseer storie maar ek vra nie uit nie, maar kinders toe uitgeroep hoof toe.
En toe die skapies ter slagting terug in die klas kom wil almal weet wat gebeur het.

En natuurlik wou Juffrou dit nie oop gooi vir bespreking nie – sy verklaar die saak afgehandel.

Ek ken ook nie die hele storie nie, ek vra nie uit nie, maar nee, Klaradyn se naam was nie eens naby enige skerm om gevaarligte te laat flikker nie – sy was sedert verlede week in Vrydag toe die eerste wiele al begin rol het, niks anders as stille waarnemer nie.

Maar Klaradyn kan dit nie dood leef nie:  sy is een met die slagoffer; sy is een met die nemer/steler/dief. Dan is daar ook nog 'n Horus Oog, 'n Derde Oog, 'n Big Brother in die vorm van 'n kamera in die klas. Dis verskriklik. Alles is vreeslik, te allerallesverskriklik.

En nee, dit was nie lekker nie. Sy wil vanoggend nie skool nie.

En nie sommer net 'n geit nie, want dit kry ons ook.

Daar is dalk baie en ander redes waarom sy nie vandag wou skool toe, maar wat my betref is dit die emosionele intelligensie, die sosiale IK dit wat agter die kap van die byl lê.

En dat sy ontsteld was, is niks, nie 'n faktor nie, gemeet teen 'n Mamma en Pappa wat sit met 'n seuntjie of dogtertjie wat in graad 1 genoop was, gedryf is, om van 'n ander te neem, dit wat hom of haar nie toekom nie.

Ja, ek laat my nie vertel 'n graad 1 kind vat vir niks en sonder rede sommer net van ander nie.

Ons het, haar geite ten spyt, dan tog stof tot dankbaarheid en dankbaarheid tot stof.

Vir eers en tot op datum want die koring is groen.

En uit suiwer genade, natuurlik. Niks anders nie.

En anders as sosiale IK of emosionele intelligensie, is dít, genade, iets wat ek lankal, en al baie van, tot oorlopens toe baie van, leer ken het.

No comments: