Pages

22.4.11

3 korteres oor 21 April

Een

Die afgelope vakansie ry ons deur Margate se strate. Toegegee, seker nie strate nie, maar straat, die een straat met die woonstelle, die hotel en dan die besighede links en regs. Ons ry deur Margate se straat en ek onthou einde standerd 4 (1976) se Margate-seevakansie.

Ek onthou haar naam was Yvette en die boek wat sy as Kerspresent gegee het, was Konsalik se Skerwe van die Ysterkruis. Sonja Herholdt, twee jaar terug was ons by haar in die klas, het opgetree in die teater wat later 'n fliek geword het en ons het gaan luister. Ek onthou ook die pretpark, die winkel waar ek my nuwe swembroek gekoop het en die apteek waar ek my ma se Kerspresent, 'n bottel A Rose is a Rose-reukwater, gekoop het.

Yvette het ek nooit weer gesien nie. Skerwe het ek steeds, met haar kaartjie voor in. Ek het nie die idee gekry die teater wat 'n fliek geword het, is nog steeds 'n fliek nie. Die swembroekwinkel verkoop steeds swembroeke, maar die apteek bestaan nie meer nie – nou ook nog 'n plek wat ontwerpersklere aan die skoolverlaters wat elke jaar daar toesak, verkoop.

A Rose is a Rose het 'n paar jaar daarna van die Suid-Afrikaanse mark verdwyn, en vir 'n ruk lank was daar niks vir Judy se Kersfees-, Moeders- of verjaarsdagpresente wat aan roos herinner nie. Toe kom Tea Rose, nie dieselfde nie, maar naby genoeg.

Tea Rose kry jy so ver ek die laaste twintig jaar weet net op een plek in Pretoria, ses dagreise te perd van waar ons bly.

Toe ek Woensdag daar staan, toe gee ek dit een kyk en sê vir die vrou om sommer 3 bottels op te lui. Ek kan dit in my klerekas bêre en dan hoef ek in twee jaar se tyd nie weer spesiaal al die pad uit te ry om daarvan in die hande te kry nie.

As dit nie was dat die goed gevaar loop om te verslaan nie, het ek sommer 5 gekoop, want Judy het 83 geword en om soggens 'n iets in haar nek en aan haar polse te spuit, gee my iets om te doen.

Voorsien ek dat sy gaan vasbyt tot 87? Nee, ek weet nie. Enige iets is moontlik. En op 83 hoef 'n mens mos nie te wag vir 'n verjaarsdag vir 'n spesiale bederfie nie – as die een op is, kan daar mos nie beter tyd as juis dán wees om 'n volgende oop te maak nie.

Twee

Mense sluit seker maar almal met verloop van jare goeie vriendskappe. Party vriendskappe seker beter as ander, sterker, en strek oor meer jare as ander.

Nie alle vriendskappe is noodwendig goed nie. Nie alle baie goeie vriende is noodwendig baie goeie mense, so goed soos engele, nie.

Hoe lank duur 'n lewenslange vriendskap?

Van Judy se vriende leef heelwat nog – baie natuurlik al oorlede.

Egter net twee vriende wat na vyftig jaar of langer nog die moeite ontsien om met haar vriende te probeer wees:  Oom Cas en Tannie en Marie.

Ja, vriende “probeer wees” want hoe is jy nou vriende met iemand wat amper twee jaar gelede al vergeet het wie jy is?

Hoe moeilik nie om vriende te wees met iemand wat, voor sy opgehou het om te weet jy is, vir drie jaar oor en oor dieselfde ding vir jou vertel het, as jy kom kuier, as julle saam met vakansie is?

Van ek my verstand het, is my ma-hulle bevriend met Oom Cas en Tannie Marie.

Ma-hulle dan eers my ma en my pa, en ons wat gereeld op Tannie Marie se ouers se plaas gaan kuier. Of was dit Oom Cas se ouers? Dis soveel jare gelede. Ek onthou selfs 'n buitetoilet.

Toe, na die egskeiding, was dit hulle by wie my ma smiddaes na skool kon laat bly oor sy nie wou hê dat ek alleen by die woonstel rondhang nie. Ek het 'n tweede huis, 'n tweede ouerpaar bygekry, boetie en 'n ouer sussie bygekry.

Na 14 jaar van alleen wees, toe trou sy Oom Jack, toe word Ma-hulle weer Judy én Jack. Hierdie keer nie klein Hansie wat by hulle intrek nie, maar Judy. Dis toe Oom Jack sy been breek en vier maande gehospitaliseer bly omdat die hegting na die eerste ontslag twee keer los gaan. Alleen en op haar eie kan my ma nie meer na haarself omsien nie – Sonsak, dan kom tel Tannie Marie vir Judy op en more oggend neem sy haar terug huis toe.

Oom Jack is uit die hospitaal ouetehuis toe, Pretoria toe en my ma saam met hom. Kort daarna het Oom Cas-hulle ook Pretoria toe getrek en die twee pare vriende, die een paar heelwat jare jonger as die ander, was weer op dieselfde dorp.

Soos op Alberton het hulle steeds jaarliks saam vakansie gehou. Die twee oues kan nie meer bestuur nie, maar Cas en Marie bestuur en die vier van hulle ry die land vol.

Na Oom Jack se dood, ook amper 'n jaar gelede, die skuif na 'n enkelkamer, en toe die heupbreuk wat haar in 'n rolstoel los, het my ma in minder as 'n maand vyftien jaar ouer en twintig jaar agteruit gegaan.

Oom Cas self lank op sy rug – maar in die gees nog net so sterk soos al die jare.

En kom ek soggens voor skool by Judy, van tyd tot tyd 'n vreemde bossie blomme in 'n vreemde potjie langs haar bed, dan weet ek – Tannie Marie.

En toe Woensdagaand, 21:30, toe kry ek die volgende SMS:  Sjoe lifi dit is mos verjaarsdag more. Het gedink om 10 bietjie te kuier by Judy. Het julle enige reëlings met haar. Lekker slaap. X

Donderdagaand, toe Annieka en Klaradyn saamgaan om te kuier, toe is daar 'n vreemde pakkie wat nie 06:00 toe ek voor skool daar was, daar was nie.

Maar dit help nie ek vra nie, dit help twee of drie jaar al nie meer ek vra nie.

Drie

Of so het ek gedink.

Nee, so weet ek.

Maar weet 'n mens ooit 100% reg?

Want van Woensdag se SMS na die een Donderdag terwyl ek klas gee.

Ek het graad 8’s in die klas – nie vir Afrikaans nie, vir Drama. Ek is aan het verduidelik op 'n PowerPoint-aanbieding wat skrik vir niks.

Met arms wuiwend en strekkend na iets regs bo in die hoek van die skerm, gaan die selfoon aan’t kloek om te kenne te gee daar is 'n boodskap in die posbus.

Terwyl die kinders die opdrag waarmee my vraag op die skerm hulle konfronteer het, voltooi, lees ek gou die boodskap.

En toe gaan ons aan na die volgende opdrag – hulle moet neerskryf wanneer laas die karakter wat hulle besig is om in hulle verbeelding en op papier te skep in die koerant was. En hoekom.

Maar voor ek kon aangaan moes ek net eers die les opnderbreek:
Kinders julle is nou al 8 jaar op skool. Julle het seker al 'n juffrou een of ander tyd voor julle sien huil. Het julle al 'n juffrou sien huil? Bykans almal knik instemmend. Ek glo nie julle het al ooit 'n meneer in die klas sien huil nie, en ek dink nie julle sal ooit nie, maar ek wil hê julle moet weet ek byt nou op my lippe om nie voor julle te huil nie.

En ek vertel hulle van die verlamde ou Alzheimer-tannie wat vanoggend 83 geword het, en haar seun wat vir haar winterspantoffels en 'n botteltjie reukwater geneem het – welwetende dat sy teen die tyd wat hy by die skool kom nie eers meer gaan weet dat haar seun vanoggend by haar was, of dat dit haar verjaarsdag is nie.

Toe lees ek ook vir hulle my skoonma se SMS:  Gedink sal lekker wees om te hoor Judy het vir my vertel haar seun het vanoggend vir haar die pantoffels gebring.X

Ek kon dit die glo nie, ek kan so iets amper twee jaar al nie glo nie – en was dit nie komende van my skoonma nie hét ek dit nooit geglo nie.

Hoe sal ons ooit weet wat in daardie deurmekaar stil stukkie kop van Judy Moolman aangaan.

Ja, Moolman, nie Steyl nie.

Die personeel sê, vra hulle haar wie sy is, dan antwoord sy Judy Moolman.

Maar dan was sy darem vir 41 van daardie 83 jaar Moolman en is dit eers die laaste 23 jaar dat sy Steyl is.

Ek weet sy het 'n lekker dag gehad. Met my twee keer daar. Met Marie, straks Marie én Cas, daar, én dan nog Ma Louise ook, kon dit nie anders as om 'n lekker dag te gewees het nie.

Ek het 50 kolwyntjies en 50 kaaskoekies ook afgelaai die oggend. Genoeg vir die inwoners op die vloer, die nagpersoneel, die dagpersoneel en die ander skof dagpersoneel. So daar was nog partytjie ook.

Ek glo dit was ‘n spesiale dag.

Geluk, nogmaals jou liewe ou vrou.

No comments: