Annieka hou niks van die eerste trek, Pretoria tot Heidelberg, nie – sy reken jy ry en jy ry laterhand al 'n uur, maar dis steeds of jy nêrens kom nie – jy bly maar al om Johannesburg rond. Dit is dan ook die eerste van die baie stukke pad wat sy verkies om om te slaap.
Foeter jy op noordkus toe, is daar straks geleentheid om af te draai voor jy Durban tref, maar suidkus toe, al is dit hoe ver af, is daar nie afdraai nie, jy móét tot op Durban en dan regs af.
As kind was daardie trek, Durban tot sê maar Margate, vir my die ergste – jy is by die see, maar jy is nog lank nie daar nie. Jou roomys, deur die eerste die see te sien, het jy verdien, maar dis nog 'n helse ent se ry voor jy hom met jou tone in die sand kan geniet.
(As mens in ag neem dat ons, toe ek kind was, op Alberton weggetrek het, en ek 40 km verder, op Heidelberg al met 'n klaende, knaende stygende infleksie gevra het “hoe ver nog” sal jy miskien verstaan hoekom die stuk pad tussen Durban en Margate my geknak en oor die rand gestuur het.)
Later jare, en vandag nog steeds, is dit egter die Pietermaritzburg-na-Durban-been van die pad, eintlik al hier van Mooirivier af, wat my onder kry.
Dis 'n slegte stuk pad om te ry, of dit nou veertig jaar gelede met slegs een baan in beide rigtings was, en of dit nou vandag met drie bane in elke rigting is. Behalwe vir die afdraande, die konstante bottelnek van trokke en die talle gevaarlike draaie bly dit voorts 'n feit dat hulle nou al vir veertig jaar onophoudelik en ononderbroke sukkel om twee bane, ses bane te kry – so daar is altyd iewers 'n opeenhoping of 'n vernouing met twee bane wat een word.
Ook altyd iewers 'n trok wat op loop gegaan het, en as hy nie op loop gegaan het nie, het hy, of een van die waens wat hy met hom saam sleep, van die pad gegaan.
Met niks van bogenoemde het ek egter 'n probleem nie – dis iets anders, iets gans anders.
Miskien is dit die mis en die reën – dit voel vir my ek het nog nooit daar gery, dit maak nie saak watter tyd van die dag of die jaar nie, sonder dat dit nié plek-plek toegemis of aan die kiesa was nie.
Maar suiwer die mis en reën kan dit ook nie wees nie; miskien hou dit verband met die skielike afdaal seespieël en –vlak toe wat iets aan ons Moolmans se emosies doen.
Eers was dit altyd net ek en my broer en my ma wat afgekom het see toe, met die karavaan. Dan, na 'n week of twee, het my pa sy prokureurskantoor gesluit en by ons aangesluit.
Later met my broer én my pa uit die huis uit – die een lankal klaar met skool, die ander met 'n ander vrou – was dit net ek en my ma.
Nou of dit voor die egskeiding was, of daarna, sal ek vandag nou al lankal nie meer weet nie, maar dit het toe gebeur dat ons die ent pad tussen Pietermaritzburg en Durban tref, met my ma, die bestuurder, die enigste een wat wakker is in die kar. En of dit die mis en die weer was, sal ons nie weet nie, maar daar begin my ma glo, sonder enige oënskynlike rede, vreeslik, ontsettend, geweldig hartseer voel – hartseer tot verby die rand van trane, hartseer dat sy veertig kilometer lank, tot onder, snot, snik, trane en tjank.
En toe, elke keer daarna, ry ons af see toe, tussen Pietermaritzburg en Durban, dan vertel my ma ons almal van die een keer, jare gelede, dat sy af bestuur het see toe en toe onverklaarbaar so vreeslik aan die huil gegaan het toe sy dié stuk pad getref het.
Daar is seker niemand wat minder van 'n vrou se onverklaarbare huil verstaan as 'n jong seuntjie nie, maar ek was later al klaar met skool en universiteit en die weermag en selfs gevestig as onderwyser, dan ry ek die twee oues af na hul vakansiewoonstel op Ramsgate, dan verstaan ek steeds nie as sy vertel van haar skielike spontane huil tussen NP en ND nie.
Dis trouens eers nog 'n verdere tien later met twee vrouens in my eie huis, dat ek besef het seuntjies leer nie om as mans meer te verstaan van vrouens se huil nie; hulle leer dit jaarliks trouens net al minder en minder, en later nóg minder, verstaan.
Die geneuk is net, kom ek toe agter toe ek eers op my eie en sonder Judy in die motor afry see toe, die tranedal af in die dal by Pietermaritzburg, is oor al die jare so in my kop ingeprent dat ek ampers moreel verplig voel om uit empatie, simpatie en 'n goeie skeut familie-groepsdruk, ook te wil tjank.
En dis hoeka vir my of ek die krane deesdae makliker en lekkerder oopdraai as in die verlede.
Maar ons luister David Kramer en die manne van die Royal Hotel, Blokkies Joubert, Johny and the Jets en Biscuits en Diamonds nie sommer die ding wat jou aan die huil sal kry nie.
Wat jy waar kry!
Daar loop my hart die paaie terug tot 1985 toe ek die man die eerste keer in die Mark Teater lewendig gehoor het. Ek halt, voor die tragiese dood van Taliep Petersen en sy shows met David wat ons ook Mark toe laat ry het, ook op Oudtshoorn waar ek en Annieka iewers in die negentigs na hom geluister het.
En dit was juis so 'n bevrydende oomblik vir my. Dis daar waar ek vrede gemaak het met lekkende, druppende en lopende krane; daar waar ek my omring bevind het van vier groot en sterk en uitgevrete mans, ooms, plaasboere een en elk, wat onbeskaamd gesit en huil het na die man Skipskop vir ons gesing het.
Skipskop kom van sy langspeler Baboondogs, die een album wat die Afrikaner destyds nié opgeslurp het nie, miskien oor dit té polities, té Engels na sy mening was.
Ons moes toe wag tot Sonja Herholdt die liedjie opneem, en ander na haar. Maar niemand kan hom sing soos die hart en siel en gemoed wat die liedjie oorspronklik geskryf het nie, die neweteks, die gedagtes wat die woorde vergesel, kom van binne – dit gryp mens aan die hart en ruk daai hart met 'n moerse pluk los uit die veiligheid van sy groef.
En toe maak ek die fout om vir Klaradyn te vertel dat een van David Kramer se konserte die eerste lewendige musiekkonsert was wat sy nog ooit bygewoon het, en dat sy dit vreeslik geniet het. Iets wat, al is dit die reine heilige waarheid, ook 'n volslae leuen is.
Klaarsie was toe nog nie eers gebore nie, 'n hoogswanger Annieka en Hans het die konsert saam met Pat en Ina bygewoon. En Klaradyn moes dit óf baie geniet het, óf hoogs traumaties bevind het, want sy het in haar ma se buik aan die skop gegaan soos nog nooit te vore nie – dit was kompleet of sy 'n baarmoederlike riel gedans het.
Dis dan toe nou ook met die aanvoorwerk van al dié tere gedagtes dat ons Skipskop te gemoed loop.
Maar Skipskop is 'n vulletjie, miskien 'n 3 gemeet op die Richterskaal van my emosie, dit word toe opgevolg met die mees onbekende, maar ook heel mooiste liriek ooit uit die pen van David Kramer: Prisoners of war.
Hy sing daarin van die pad wat die Italiaanse krygsgevangenes gebou het, maak 'n draai in my eie tyd se bosoorlog en eindig op met die gedagte dat ons almal op die ou einde op die een of ander manier oorlogsgevangenes geword het en is.
En dis al wat ek nodig had om my oor die rand en anderkant verby te kry. Ek het Pinetown in trane ontmoet, en ek het hom in die lekkerste van lekkerste trane gegroet. Annieka en Klaradyn het heerlik vir my gelag. En ek het saam gelag. Want hoe sal hulle weet van 'n bosoorlog-krygsgevangene wees? En hoe sal hulle weet van my inisiasie in 'n ou Moolman-tradisie rondom die pad af see toe, tussen Pietermaritzburg en Durban?
Die liriek het ek opgespoor by David Kramer se webwerf. Ek glo nie hy sal omgee as ek dit met julle deel nie. Dis nog mooier as hy dit sing:
The Italians built the road
that bumped down to the sea
to the old beach house
near the river mouth. It was 1943
and they cracked the rocks with fire
and they sweated and they swore
and the sun beat down like in Italy
on these prisoners of war.
My father fought in Egypt
he was twenty-five years old
where the days were white
and hot as hell and the nights
were black and cold
with the Allies they fought for freedom
against Rommel and the Afrika Korp
until a bomb exploded & all his dreams
became prisoners of war.
Every summer we went down
to the house at the lagoon
every summer I turned brown
and played war games in the dunes
every summer our new regime
passed another law
as the boat sailed for Robben Island
with more prisoners of war
I came back from Angola. It was 1975
my heart was hard
and my mind was scarred
I'd forgotten how to cry
wearing civvies for the first time
just trying to be me
I walked the road the Italians built
that leads down to the sea
and the question I was asking was:
what were we fighting for?
Cause in the end we had all become
prisoners of war
No comments:
Post a Comment