Pages

31.3.11

Ushaka

As dit aangaan soos dit nou aangaan, gaan ons vanaand 18:00 slaap. Ons gaan slaap elke aand, nadat ons die eerste aand 20:30 gaan inkruip het, 'n halfuur vroeër as die vorige aand.

Dit móét nou end kry!

Maar ons is net so moeg! En dis net so lekker!

Annieka laat val gister tereg dat sy nie by haar boeke en ek nie by my skootrekenaar uitkom nie – nie hieroor of daaroor nie; bloot omdat ons so voluit en ongebreideld heerlik vakansie hou.

Klaradyn het gister vir die eerste keer in vier jaar selfs in die motor aan die slaap geraak.

Sy hét altyd in die motor geslaap. Dit was trouens vir 2 jaar lank al manier hoe ons haar aan die slaap kon kry. Word dit tyd vir haar middagslapie, dan staan ons motor se kant toe.

Dan ry ons, soms twee blokke, soms vyf en veertig minute, voor ons haar uitdra kamer toe.

As ek die geld gespaar het, wat ek destyds aan brandstofgeld uitgery het om haar aan die slaap te kry, kon ek die kind eendag vir 7 jaar aan 'n mediese fakulteit op universiteit gehou het.

Maar toe, knap na sy twee geword het, vat ons haar toe mos Nasionale Kruger Wildtuin toe. En daar skakel jy mos nie áf, klim jy in die motor nie, jy skakel áán, juis om die diere op te spoor.

En van toe af was dit verby met Doris Day – die mêrrempie maak nie meer 'n enkele oog in die kar toe – dis of haar brein in die hoogste versnelling en rat inskop, die oomblik dat ek die motor aansluit.

Dis nou vir amper vier jaar, tot gister, toe ons 17:00, na ons 09:00 daar gestop het, by Ushaka Marine World wegtrek. Ek dink nie dit was twee blokke nie, toe is sy uit.

Bygesê, groot en sterk soos ons is, was Pappa en Mamma self pootuit en moeg en seer op plekke waar ons lankal nie meer gedink het ons nog plekke oor het wat kan seer word nie.

Eintlik het ons al drie 08:00 nog moeg en pootuit van die vorige dag se dag op die strand in die motor geklim en rigting ingeslaan Durban toe.

Kyk, so lief soos wat ek vir die see is, so haat ek die strand. En gaan ek af, dan is dit af see toe, nie af sand en strand toe nie.

Vir 'n taai, olierige gelê op 'n handdoek, ín die son, of onder die son uit in die een of ander vorm van skaduwee, het ek nog nooit kans gesien nie – dan sny ek eerder gras met 'n naelskêrtjie  of politoer my motor met 'n sagte tandeborsel.

Die gevolg is dat ek die oggend in die water deurbring en net een keer uitkom om 'n vinnige roomys te gaan koop.

Klaradyn, lyk dit my, is net so lief vir die water, en moet sy kies tussen bo by Mamma en haar boek, of onder in die water by Pappa, kies sy die water. (Mamma maak in elk geval ook net of sy lees, sy lê heerlik en slaap terwyl die vlieë en die brommers in en uit by haar mond!)

Saam met die vorige dag se roomys, het ek ook teruggestap gekom met een van hierdie polistireenplanke waarop jy op jou maag met die branders tot op die strand ry.

Dis nou vir Klaradyn.

As ek in 47 jaar nog nie een keer met so 'n plank tot op die strand kon kom nie, gaan ek ook nie vanjaar nie.

Mense en vriende wat direk links en regs van my, op presies dieselfde oomblik as ek, wegtrek, word tot op die strand gedra; my lig die branders hoogstens so paar sentimeter op, en daar bly ek hang terwyl ek toekyk hoe die ander tot voor gedra word.

So my kind leer hoe om dit te doen, kan ek ook nie.

Twee keer breek die brander óp haar en stuur haar gat-oor-kop strand toe. Dan hardloop sy huilend na Ma toe.

Maar teen die tyd dat ek my eie broek weer van om die knieë  aan die bas het, haar ingehaal het en bo by hulle uitkom, dan sê sy:  “Kom, Pappa, kom ons gaan swem!”

En dan wil die kind nou ook nie meer afhanklik van haar pa in die diep water ronddobber nie, nee, sy begin stadig maar seker genoeg selfvertroue ontwikkel om dit op haar eie te wil aanpak. Nie die dieptes nie, daar waar sy kan staan, om met die kom van elke nuwe brander in die water opgelig te word en dan weer oomblikke later neergesit te word.

Daar waar sy kan staan, is daar vir Pa net een van twee moontlikhede – óf hy staan op sy knieë óf hy hang wydsbeen daar rond. (En dís waarom my bene so vreemd styf is – ek spandeer die grootste gedeelte van die dag in die mees ongewone posisie!)

Maar ek gee nie om nie – ek is in die water, en dit saam met my kind, so waarom sal ek kla.

Na so 'n dag in die water, is dit te verstane dat ons nie die laatnagkerse laat brand nie.

Na so 'n dag in die water, is dit te verstane dat dit drie lendelam Moolmans is wat gister in die motor klim Durban toe. (Klaradyn van moeg, Pa van moeg én seer bene, en ons gloeiende rooi beet van 'n Mamma, van te lank aan die slaap val in die son.)

Lendelam egter ook net tot ons 09:00 daar stop, want toe ons uitklim, is dit of daar nuwe krag in ons are borrel.

Annieka kon, te wyte aan haar af been, nie verlede jaar meedoen in die pret nie – so sy voel sy moet inhaal op dit wat sy uitgemis het. Klaradyn gooi haar volle gewig, uit die aard van haar natuur, agter enige iets wat lyk na pret – daarvan het Ushaka sommer hope te bied. En ek stel myself ten doel om twee keer soveel pret as verlede jaar te hê.

So, ja, die Moolmans carpe diem met 'n joie de vivre wat skrik vir niks en min ons sal kan nadoen.

Dis eers toe ons op die rand van tot die dood toe honger en moeg is, dat ons 'n oomblik oorbeweeg in die stadige baan in om 'n ietsie te rus en te eet. Maar ook nie vir lank of te veel nie, hoor – dan roep die glybane en tubes en tjoeps weer.

Ek het as jong seun, selfs jong man, nog gewonder hoe die dikke ooms met hul pekelbalies vir pense dit regkry om so sonder skaamte op die strand en ander openbare plekke rond en uit te hang.

Maar toe kom ek agter dat dit eintlik maklik is – jy word net self ouer en word 'n oom, jy ontwikkel  bloot net jou eie onnodige spaarwiel of twee om die middellyf  - dan kry jy dit sommer vanself lag-lag, skud-skud, waggel-waggel, dril-dril reg.

En as jou eie kind 6 is, maak dit nie saak of jy 26, 36 of 46 is – jy klim en klouter, glip en gly en speel en spat elke oomblik vir 'n vale saam met haar en agter haar aan.

Ons het geleentheid om te gaan sit vir een van twee dolfynvertonings, die robbe en pikkewyne se konsert, die voedingsessie van die pikkewyne en selfs die noenmaal van die haaie, maar kom by niks uit nie. As ons weer by 'n uurglas uitkom dan sien ons hy het deur en leeggeloop:  die vertoning is al lankal aan die gang of die ete iets van die verlede – behalwe nou as ons bly en wag tot hulle dit more weer van vooraf aan doen.

Hoogtes en skuinstes en bulte en hobbels waarvoor Klaradyn voor middagete nie kans gesien het nie, is sy 100% reg en gereed voor na ete:  “Pappa moet net eers gaan, dan wag Pappa daar onder vir my. En Mamma kom na my, vir as ek iewers in die middel vashaak, gaan staan of agterbly.”

Een van die goeterstes, wat hulle adverteer as óf die hoogste, óf die skuinsste, óf die langste in óf Afrika, óf die suidelike halfrond, óf miskien selfs die ganske wêreld, het die slegte gewoonte om my elke keer, as ek onder kom, 'n gratis en verniet enema te gee. En toe ek eers 'n derde keer twee derdes van my swembroek my uitkry daar waar swaartekrag en wringkrag en wrywing dit vir my gaan bêre het, en dit met 'n kloppende sinushoofpyn wat nou al langer as 'n uur amok maak in my kop, toe roep ek halt en klim van die bus af.

Moeder en dogter ry rustig voort terwyl ek 'n apteek gaan soek en op pad soheentoe en terug heerlik window shopping doen.

Teen die tyd dat ek dertig minute later weer by die girls aansluit, het hulle intussen ook die hoogste rat vaarwel geroep – ek spoor hulle in die een of ander kiddies pool op. Annieka verwelk soos 'n verwelkte Lorelei op 'n mensgemaakte rots, terwyl Klaradyn op en af in 'n mini kleuterglybaantjie.

Maar ek het op my omswerwinge na 'n apteek verby 'n plek gestap wat wafels en room verkoop. En dis waar ons drie, net mooi 17:00 instap, om 'n heerlike dag op 'n soet en ryk, soete en ryke noot af te sluit.

No comments: