Ek sê toe gister 'n ding, en terwyl ek dit sê, weet ek dis snert.
En soos ek dit sê, sien ek Annieka stem saam, al sien ek ook sy weet, ek weet dat ek weet, sy weet dat ons altwee weet dis loutere kale snert.
Tog erken ons, terwyl ons letterlik in die badkamer voor die wasbak skouers skuur, aan elkander: “Ons moet leer om Klaradyn te vertrou.”
Dit terwyl ons weet ons vertrou haar.
Net die vorige aand sit ons sardientjies ingeryg op die bank.
Nee ons kyk nie televisie nie, as ons soos sardientjies op die bank ingeryg sit, dan sit ons eerder soos drie vinke op 'n tak – want dan kwetter ons kompleet soos... wel soos die twee Suid-Wes-parkiete nou op hierdie oomblik vanuit die kombuis doen.
Ons kom op datum rondom die dag se gebeure en ons eie doen en late, en Klaars laat val midde die verhaal van 'n insident tydens pouse: “...toe wys hy hierdie teken vir haar.”
En deur my siek gedagtes wat altyd geleentheid soek vir ironie flits onmiddellik: “O, fok, dis die fok jou-middelvinger wat nou reeds deel van my kind se verwysingsraamwerk geword het.”
Duidelik egter ook nie – die gebaar eggo geensins “up your’s” of die Duitse “der stinke finger” nie. Nee, óf Klaradyn, óf sommer al die maatjies, het die kat aan die stert beet, of dalk die klok, al weet hulle nog nie waar die bel hang nie, want my kind se sesjarige middelvingertjie wys onbeholpe af, grond toe, soos 'n verwelkte agurkie.
Maar ons weet, al is dit die stert – dis steeds 'n baie gevaarlike kat, en ons vra: “Wat beteken die teken?”
En Klaradyn is stom, opreg naïef stom, voor sy na 'n breukdeel van 'n sekonde sê: “Ek weet nie, maar ek weet dis nie baie mooi nie.”
En ek glo haar, ek vertrou haar, ek weet dat sy nie 'n idee het waarvoor dit staan of wat dit beteken nie. Ek weet dit.
Maar tog, tussen tande- en hareborsel voor die wasbak en spieël gisteroggend, is ek die een wat lostrek met: “Ons moet leer om Klaradyn te vertrou.”
Nie hieroor of daaroor nie, nie dat ons haar nie vertrou nie, maar suiwer omdat sý straks die idee kan kry dat ons haar nie vertrou nie – miskien selfs haar juffrou kort voor lank met dieselfde gevolgtrekking ook.
Sien, ek en Annieka, is beide soorts van oorversigtig en hopeloos te lugtig, altyd bang ons doen iets, laat iets toe wat Klaradyn in 'n ongemaklike of sommer slegte situasie kan plaas.
Want so laat val Klaradyn Donderdagaand, knap voor slaaptyd, dat hulle Vrydag in Blou Bul-klere kan skool toe.
Die hele middag het sy niks gesê nie, en nóú met slapenstyd die boodskap.
Sê nou ons stuur haar sonder uniform, en sý had met 'n halwe oor gehoor! Hoe ongemaklik gaan sý én Óúma nie wees as hulle voor die skoolhek opdaag nie!
Ons SMS die klasjuffrou, en sy antwoord bevestigend. (Die massa-histerie rondom haar Blou Bul-hempie wat vorige seisoen al te klein en weggegee is, is 'n blog op sy eie, ook die soeke na iets anders, die middernagtelike pendel waskamer, en 'n volle siklus van die elektriese wasgoed-droërmasjien later, ook strykkamer toe.)
Maar dis nie eerste keer hierdie jaar dat Klaradyn, en die klasjuffrou, die idee kan kry haar mamma en pappa vertrou haar nie:
Die kinders se huiswerk vir die hele week word Maandag afgerol in hul boeke geplak. Die een Woensdag staan daar, byvoorbeeld, “Lees Ek en my gesin-boekie tot bladsy 8.” En Klaradyn is adamant – sy moet nie tot by bladsy 8 lees nie, dis net tot bladsy 3.
Ek hou voet by stuk: “Daar staan dit, swart op wit, ‘bladsy 8’!”
Klaradyn skop vas: “Maar Juffrou het gesê net tot bladsy 3.”
Sê nou die kind kom in die moeilikheid oor ek nie haar huiswerk doen nie! Hoe kan ek nie wil doen wat die juffrou vir my uitspel om te doen nie!
Dit word later een van daardie sessies waaroor jy later skaam sal wees as iemand dit skelm met 'n videokamera afgeneem het en dit aan jou voorgespeel word.
Ten einde griffel ek in my krapskrif onder die huiswerksinnetjie in die boek: “Klaradyn hou vol dis tot by p.3”
En volgende dag het Juffrou my gekrap in haar mooiste van mooi handskrif en met 'n rooi pen uitgebrei en aangevul met: “Sy het die boodskap 100% reg oorgedra.”
En na aanleiding van hierdie twee insidente, al vertrou ons haar, dink ek tog dis reg om te wil reken: “Ons moet leer om Klaradyn te vertrou.”
Onvoorwaardelik en sonder voorbehoud te vertrou.
No comments:
Post a Comment