Pages

22.3.11

Tot in die afgrond? Nooit!

'n Baie belangrike lewensles wat party mense ongelukkig (vir hulself én veral vir almal om hulle,) genoeg is om nooit te leer nie, is die een wat die boodskap helder en duidelik tuisbring dat 'n mens nie noodwendig altyd alles kry wat jy wil hê of jou hart begeer nie.

Party individue vorder nooit veel verder as die smag en sug na die onmiddellike behoeftebevrediging so eie aan 'n suigeling nie en kry lewenslank wat hul wil hê aan die hand van tantrums en trane.

Is jy die vierde of vyfde kind in 'n gesin van sewe, glo ek leer jy die les makliker en gouer as byvoorbeeld 'n enigste kind.

Soos Klaradyn.

Soos ek. (Met 'n Boeta wat 16 jaar ouer as ek is, het ek en hy elkeen basies die voorreg gehad om as het ware soos 'n enkelkind groot te word.)

Maar met een aan die bors, een op die heup, Boetie teen die been en 'n Sussie by Ma se enkels rond (en dan nog een aan die kom ook) val die lewe nou maar net eenmaal so vir jou uiteen dat jy vroeg-vroeg reeds maar al te goed weet dat jy nie alles kry waarna jou handjies of ogies reik nie.

Jy weet ook kleintyd al dat vloermoere en ander desperate measures wat meer dikwels die gewensde vrugte in die enkeling se skoot laat val, jou net mooi nêrens gaan bring nie.

Behalwe dat Klaradyn 'n enkelkind is, en sy daardeur reeds verder na agter in die ry staan vir die aanleer van hierdie les, het sy ruim een derde van haar lewe tot op datum, meer wakker-tyd per week in die geselskap van haar ouma en oupa deurgebring as by haar ouers.

En Oumas en Oupas is daar vir net een ding – om te bederf, omdat hulle mag; of hulle die kind nou twee keer 'n jaar sien, en of hulle die kind nou bykans elke dag sien.

So ja, Sussie is nou 6 en weens die lieflike omstandighede wat haar omring sukkel sy maar nog 'n bietjie om vrede te maak met die uiters onaangename wat elke nou en dan haar pad kruis – sy kry haar eie sin nie.

En om nie jou eie sin te kan smaak nie, is vir die een dalk 'n alledaagse algemeenheid waaraan jy lankal gewoond is, maar vir 'n ander is dit trauma grensend aan 'n onmiddellike eksistensiële krisis, en word die meegaande gevoel van teleurstelling soveel luider en intenser en hewiger en snotter en traner beleef.

Dan is dit natuurlik ook nie die lewe wat die kind die belangrike lewenslessies soos hierdie een moet leer nie – dis hul primêre leermeesters, hul ouers, wat die boodskap tuis moet bring.

En dis waar ek faal en vers te ver tekort skiet.

Was daar vyf, het dit met die derde een, die vierde reeds in die pyplyn, straks makliker begin gaan, maar nou sit ek met net een. En dan sê ek ek, maar dis eintlik ons – Annieka sukkel eweseer, indien nie meer.

En dit onder verswarende in plaas van versagtende omstandighede: ons het haar nie op 'n jong en jeukerige stadium in ons eie lewens deel van ons bestaan gemaak nie; nee, ons beide was reeds gevestig in ons beroepe, klaar geresies en gejaag, toe ons haar gehad het.

So van verdeelde aandag is daar weinig sprake – ons is nie jonk en onbesonne nie, maar oud en oorversigtig, grys en wys genoeg om te weet ons kind kom eerste, meer eerste, verder eerste, as wat miskien die geval sou gewees het, was ons jare jonger en aan die voetheuwels van ons volwasse lewens.

En dan het ek en Annieka beide sulke slegte voorbeelde in ons eie ouers gehad – aan beide kante sou die ma’s en pa’s letterlik enige iets opoffer in belang en ter wille van hul kinders.

Ek het altyd gesê my ma sal helder oordag, op straat, druk die nood genoeg, haar onderklere van haar lyf stroop en verkoop, as die geld wat sy daardeur verdien, in my of my broer se belang aangewend kon word.

Annieka se ouers nie veel anders nie. Trouens en inteendeel, eerder uit dieselfde hout gesny.
Nou met sulke voorbeelde, kan dit nie anders nie dat ek en Annieka, maar sukkel om ons eie kind te leer dat sy nie alles kan kry waarop sy haar wil sit nie.

Daar was 'n briefie, seker 'n week terug, van 'n boekuitstalling en –verkoping in die saal.

Maar dit was tussen 08:00 en 14:00, en hoe sal ek en sy dit nou kan bybring.

So kom en gaan die Woensdag en die Donderdag van die uitstalling toe, sonder dat iemand 'n sprook of wat sprak.

En hoe mos ons nou weet die kinders gaan in pouse saal toe, loop deur en begeer soos enige grootmens wat van boeke hou, ook maar begeer as hulle in die boekwinkels ronddwaal.

Sy het glo Donderdagmiddag, toe Ouma haar kom optel, gevra of hulle tweetjies nie dan maar saal toe kan stap nie – die tannie is nog daar.

Maar Ouma had nie haar beursie aan haar nie, en hulle moes regmaak vir netbal.

So Vrydagoggend, pas wakker gemaak, toe pruil daai mondjie, toe trek die lippie skeef en is dit of daar 'n traantjie wil biggel.

Nee, Pappa moet geldjie saamstuur, want julle het nie gister en eergister nie, en die tannie weet watter boek dit is wat sy wil hê – so 'n een oor diere, 'n Engelse een, soogdiere.

Ek laat val toe dat die uitstalling verby is, dit was net gister en eersgister.

En sy laat val dat dit is hoekom sy huil – sy weet dis te laat, maar ons het haar nie met 'n boekegeldjie skool toe gestuur nie.

Toe besef ek boekegeldjie is soos koeldrank- en snoepiegeldjie, 'n sewe randjie wat jy in die beursietjie wegsit vir pouse se bederfie.

(Ag siestog, en vandag die graad 1’s in die groot skool, nie meer soos verlede jaar toe hulle nog in gewone klere as kleuters deurgegaan het, na die snoepie begelei word nie, maar in rye moet staan en hul beurt moet afwag en oopstoei en druk, vra sy nie eers meer 'n snoepiegeldjie nie.)

Ek probeer toe verduidelik wat die verskil tussen 'n koeldrankie se prys en die gemiddelde boek se prys is – maar dis nie 'n fiskale feit wat jy op ouderdom ses, oomblikke na jou kind met 'n piepie wakker geword het, tuisbring nie.

Nou dis maklik – hier is geleentheid om te leer 'n mens kan nie altyd alles in die lewe kry wat jy wil nie.

Maar so maklik is dit ook nie:  die trane is byvoorbeeld definitief nie tantrum-trane nie, nie afpers-en-op-gevoel-speel-trane nie; dis nie eers trane nie, maar trane wat terug gehou word, trane wat weg- en toe- en afgeknyp word – opregte hartseer wat 'n pappa se hartsnare roer.

Ja, sy sal vergeet. Ja, ons kan dit ignoreer en daar sal onder die son niks van kom nie.

Maar my kind het 'n boek oor soogdiere by die tannie eenkant gesit en haar gevra om dit vir haar te hou.

My kind vertrou die tannie, vertrou die lewe.

Kan ek haar nie meer leer, meer van die lewe leer, deur die boek in die hande te kry nie?

Ek weet nie.

Materieel kan ons haar nie bederf nie, al wou ons.
Maar emosioneel? Te veel liefde (enige iets met 'n te is ongesond)?

Tog kan ek haar nie teleurstel nie.

Fout, miskien, ek weet.

Maar wat gaan dit van my vat?

Ek bel die kleuterskool waar ek weet die vrou al die jare haar boeke uitgestal het.

Dit kos my 'n oproep, niks meer nie – nie eers van my tyd nie, want ek bel my belle terwyl ek by die skool stap en terreindiens doen.

'n Tweede oproep verder (ja, sy weet presies watter boek dit is) en sy sal die boek Maandag by die kleuterskool aflaai – ek kan dit daar optel en die R120-00 wat dit my uit die sak jaag daar laat.

Klaradyn se gesig toe sy dit daar aflaai (Maandae tel die kleuterskooljuffrou haar vir een middag 'n week se naskool op) kon ek nie beleef nie, maar 'n uur later, toe ek daar stop, het ek haar op my sien afhardloop om my die boek te wys, en dankie te sê en om die bene te val.

Wat 'n vreugde!

Ek betwyfel ook nie die opregtheid van die dankbaarheid en blydskap nie, geveinsd is dit beslis nie:

Ons ry Voortrekkers toe, sy met die boek op haar skoot – haar kop en neus tussen die blaaie.

Ek stop vir 'n kouedrankie vir ons elkeen. Ek klim in, en koeldrank in die hand, terwyl sy blaai, sê sy steeds ingedagte en haar aandag eintlik net in die boek:  “Baie dankie vir die koeldrank, Pappa!”

Toe weet ek, dis nie bederf nie, dit kom vir haar nie sommer net vanselfsprekend nie – nie die boek nie; ook nie die koeldrank nie.

No comments: