Toe ek kortpouse destyds begin blog het, was dit vir my belangrik om in die begin 'n inskrywing te maak rondom die naam waarop ek besluit het.
En met 'n lang- en kortpouse by die skool, het dit aanvanklik niks te doen gehad nie – dit het suiwer verband gehou met 'n uitdrukking wat ons op universiteit hehad het: “Pouse is net 'n sigaret lank.”
Heel in die begin is die woorde heel letterlik gebruik – die pouse tussen die eerste en tweede bedryf van die toneelstuk, die pouse tussen die eerste en tweede helfte van die aanbieding en konsert, is net 'n sigaret lank – tyd vir enige iets meer as om gou 'n sigaret te trek, is daar nie.
Later het ek dit figuurlik ingespan – die ontspanning, of die lekker, die sigaret, tussen al die res wat eerder inspanning en sleg is, is van korte duur – net 'n sigaret lank.
Die verposing, die asemskep, die pouse, daarom, is net 'n sigaret lank
So “Pouse-is-net-'n-sigaret-lank” het toe 'n kort verposing onder die naam “kortpouse” geword. So kort en nietig dat dit nie eens 'n eienaamstatus met 'n hoofletter geniet het nie.
Maar oor ek my pouse-sigaret en koppie rooibostee afgestaan het (en vir 'n onnie is pouse heilige tyd) om my dinkwerk agtermekaar en op datum te kry, was kortpouse natuurlik heel gepas – dis immers my skoolpouse wat deur die blog opgeslurp word. En dis 'n Moewieser van moewiese opofferings, as jy in ag neem dat ons by ons skool slegs een pouse het – en selfs dié enkele een was nog altyd te kort vir 'n sigaret én 'n koppie tee, dis óf die een óf die ander – wat nog te sê 'n sigaret, tee, piepie, blog én 'n geselsie of vinnige vakvergadering.
Wat die naam natuurlik gans en al belaglik en verregaande gemaak het, was die feit dat elkeen van my inskrywings so ontsettend lank, en woordryk, en overdadig was – geen kort in dié kortpouse nie.
(Dit het my natuurlik nie gepla nie, en pla my steeds nie – blog jy, soos in blog in die ware sin van die woord, moet jou inskrywing kits en kort en op die man af wees; jou leser is deel van die vinnige verbruikerskultuur. Ek blog nie, ek hang my langdraderige gedagtes en ander wasgoed in die openbaar.)
Maar toe, toe ek agterkom die kort in kortpouse moes eerder lank in langpouse gewees het, was dit lankal te laat – en ek wou toe ook nie verander het nie.
Die betrokke kortpouse was toe oor die lang termyn gesien besonder kort en op die ou einde net 'n sigaret lank – twee jaar en vier maande (om min of meer presies te wil wees).
Toe ek kortpouse afsluit met die woorde “Dit was kortpouse” (eintlik baie melodramaties oor dit die laaste woorde ooit oor Springbokradio eggo – “dit was Springbokradio; this was Springbok Radio”) het ek geweet ek sal nooit weer kortpouse onder die naam kortpouse hou nie.
Boordensvol het ek al by Wordpress geregistreer gehad sedert iewers einde verlede jaar.
Miskien is daar so woord, 'n intensiewe vorm, en ekwivalent van propvol of tjokkenblokvol – die Afrikaanse speltoetser dui dit nie as 'n spelfout aan nie. Miskien het ek die woord uit 'n sonnet van Johan de Lange, Laatherfs, verbeel ek my, in sy tweede digbundel, 'n gedig wat ek op universiteit leer ken het.
Die woord herinner my ook aan 'n gedig in die versamelbundel Groen waarin die volgende frase voorkom: “tot barstens toe vol gepak met fruktose” (waarin soet ryp kersies besing word).
Boordensvol bring my uit by 'n positiewe oor boord gaan, 'n oorloop van wat-ook-al: liefde, emosie, woorde en sinne. Maar ook by vrugte-boorde(ns)vol – en in besonder die kersieboorde rondom Ficksburg wat ek as kind leer ken het.
En hierdie oor boord, overdadig, mildelik, geil, tot oorlopens toe vol, hierdie rykdom wat die woord boordensvol vir my oproep, het my oor twee jaar en twee maande gereeld uitgebring by: Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.
En dis wat kortpouse vir my was, wat blog vir my is – 'n uitlaatklep vir dit wat die hart van vol is – hoofsaaklik die kanariegeel, amber, hiasintblou en papegaaigroen; maar ook die kleure van klip kaneel en wolke (as ek by Lina Spies kan gaan leen).
So ja, Pappa-Mamma-en-Klaars was amper Boordensvol.
Toe wou ek speel met iets rondom “dinkwerk op datum kry”. Ek is van nature vrot met die op datum kry van enige iets – van tuinwerk tot merkwerk, met die een enkele uitsondering natuurlik: my dinkwerk.
En dis iets anders wat ek doen as ek blog – ek teken my gedagtes aan, verwoord dit, ek kry my dinkwerk op datum.
Ek hou van die allitererende -d’s. Maar toe word iets rondom dinkwerk wat op datum gekry word ook opgeweeg en te lig bevind.
Aan die woordgroepverbinding Pappa-Mamma-en-Klaars het Annieka my bekendgestel as sy vertel hoeke lekker tye die Pappa-Mamma-en-Klaars-tydjies is wat ons as gesin geniet.
As sy dit gebruik swymel ek, dis die mooiste van mooi.
As opskrif en titel van blog hou ek daar nie veel van nie – dis Sarie- en Rooi Rose-agtig, nie eers verfynd of verwyfd nie – sommer plein vroulik en chickerig.
Maar dan, aan die anderkant, ek kan nie my blog Die mymeringe van 'n groot grootwildjagter of Agter die doellyn en oor die dwarslat noem nie, bloot omdat daarin nie veel van die veld (nóg die jag- nóg die sportveld) vertel word nie.
Ek hou boek van Pappa, Mamma en Klaars; dikwels bloot Pappa-Mamma-en-Klaars. Maar los van mekaar en sonder 'n koppelteken wel ook.
Vandaar dan die naam.
Na ek kortpouse nekomgedraai het, het ek natuurlik heel halfmas en halfwas probeer aanhou klets met 'n verbeelde leserspubliek, die waarskynlike leser.
Maar dit was nie lekker nie en wou nie vlot nie.
Het ek gedigte geskryf, gebore uit pyn van die een of ander aard, sou ek miskien kon. Maar waar ek eenrigtinggeselsies aanknoop, eerder oor die mooiweer as die onweer, kan ek wat ek skryf nou maar eenmaal nie in my binnekamer hou nie, ek het nodig om dit aan die een of ander klok te hang, al is dit nie die groot klok nie.
Dan noem ek dit eenrigtinggeselsies, want dis wat dit is – ek blog geensins in die sosiale sin van die woord blog nie. Ek soek nie geselskap of uithangplek nie, eerder 'n kapstok vir my woorde, 'n pen om dit aan te hang – en dit bied Blogger my.
Hier is geen Afrikaanse leserspubliek nie – as jy my hier lees is dit oor jy weet ek is hier en jy wil my lees.
Wordpress het 'n Afrikaanse bloggemeenskappie, veel kleiner as die Litnet-platform, 100 keer groter as hier – maar vir 'n Afrikaanse Afrikanerdom se laer- (en ander) trekkery sien ek nie weer kans nie. (Daar sou die naam, vanweë talle soutkoekies wat met die een hand in Wordpress en die ander hand in Litnet staan, Pêrels voor die swyne moes wees – en daarvoor het ek ook nie lus nie. Verder beledig dit 100% van die lesers, terwyl die skoen slegs 10% pas.)
So Pappa-Mamma-en-Klaars sal dit dan wees.
Lekker daarvan is dat ek dit, soos Price Waterhouse & Cooper wat bloot PWC geword het, en die kolonel se braaihoender wat sommer net KFC is, kan PMK – ter wille juis van die haastige kits verbruikerskultuur-leser.
No comments:
Post a Comment