Pages

31.3.11

Af see toe

'n Kollega van my het dit verkies om in twee dae af te ry Bloemfontein of Durban toe; nie van Windhoek af nie – van Pretoria af. Af Kaap toe, slaap hulle drie keer oor.

Deesdae ook nie húlle nie, maar hý – die huwelik het nie gehou nie. Maar of dit met sy rustige gearendheid te doen het, weet ek nie.

Ek het hom en sy vrou altyd hul vakansies, en besonder die heen- en weerreis, beny, want hoewel ek nie oorslaap nie – ek slaap te veel op die pad en agter die stuur self – is beide die Blommestad en Durban vir my 'n dagreis, nie te perd nie maar per auto, van Pretoria af.

En dis nie oor ek so stadig ry nie – ek betrap myself deesdae al hoe meer dat ek die motor in die rooi druk en plek-plek, veral teen afdraandes, vinniger as 100 km/h ry – dis dat ek so baie van stop en bene  rek hou.

Ek mis die wit tafeltjies en ingeboude stoeltjies die hele land vol langs die pad na al die jare steeds – deesdae ook net kol-kol in die Vrystaat en darem minder wyd versprei in die Kolonie dat 'n reisiger dié rustige hawes langs die pad aantref.

Ek is nog nie die eerste keer oor die Jukskeirivier nie, dan wil ek al gestop het en 'n lekseltjie koffie oor die lippe gestuur het. Maar deesdae is dit mos snelweg en die gemiddelde man wat daagliks tussen Johannesburg en Pretoria pendel, weet nie eers meer hoeveel keer en waar hy oor die Jukskeirivier ry nie.

Voorts verkies ek dit om die geld wat ek op topaaie sou mors, uit te gee vir ekstra petrolgeld om die alternatiewe roetes via mooi en interessante dorpies en plekkies te ry. (Stel dit as 'n uitdaging – Durban toe sonder tol! Wanneer laas was jý byvoorbeeld op Weenen en onthou jy nog hoe mooi dit in daardie omgewing is?)

Om 'n lang storie kort te maak, sonder om ompad te vat: verlede jaar was hel – ek en Annieka het na 17:00 in nat en bewolkte weer hier by die kampplek aangekom. Dié wat mooi onthou, sal onthou dat sy met 'n gebreekte been en krukke in die pad geval het.

Ons het die aand net met een van die twee tente gesukkel, toe jaag ek die twee vrouens – ter wille van die volgende twee weke my én hulle behoud – in die kar en af na die eerste beste (en toevallig ook die duurste) restaurant in 'n 200 km radius vanaf waar ons bedremmelde tentjie staan en verwelk onder die aanslag van ‘n seewind en 'n spoegseltjie reën.

Hierdie jaar, toe doen ons dit anders.

Dis nie ek wat sê ons moet vroeg ry nie, dis Mamma self – en sy sê nie 'n vae algemene vroeg nie (verlede jaar se vroeg was immers in die omgewing van 10:00)  – sy koppel 'n baie spesifieke tydstip daaraan:  04:00.

Ek lê toe van 02:00 af wakker en wag vir die wekker om 03:30 af te gaan. 04:02 toe groet ons die honde en Klaradyn pik 'n traantjie oor sy hulle so gaan mis.

Ons is toe 11:30 hier.

Ons het net een keer gestop – op Harrismith en dit het ons R300-00 aan petrol en R300-00 aan 'n motorwerktuigkundige gekos.

Die motor het die hebbelikheid om nie aan te wil sluit as hy baie warm gery is nie – dit het al twee keer van te vore (een keer op Colesberg, en die ander keer kan ek nie onthou waar nie) gebeur. Maar wag jy 'n rukkie, dan sluit hy dadelik soos 'n droom aan. Maar gister word toe 'n nagmerrie met die dat ons van die ding se geneigdheid vergeet, en die eerste wat ek doen is om die man te skakel wat die petroljoggie by my aan beveel. (Maar dis oor ek mos nou 'n sleepwa agter my aankarring dat ek omtrent die heeltyd wág vir 'n onheil om my en my gesin te tref.)

Toe die tandelose teertang en lunsriem van 'n man 15 minute later daar aankom in 'n motor wat ek oortuig van is hulle iewers teen 'n afdraande aan die gang moes stoot, en hom wil wys hoe die motor nie vat nie, die luier die enjin as het ware al nog voor ek die sleutel klaar gedraai het, en weg is ons – R300-00 later.

En net daar kry ek toe verskoning om nie weer te wil stop voor ons nie die motor by ons staanplek afsluit nie. Mamma Annieka se tande trap al vir ure water, en dis al of Klaradyn self nat hier om die ore uitslaan, toe ons 11:30 hier stop.

Drie, vier ure later toe het ons die tente met militêre presisie staangemaak en is ons ingetrek.

Toe gaan koop ons kruideniersware.

En dan kan 'n mens mos nie tradisie wat jyself begin het, jaar twee sommer net so staan en verbreek nie. Waar is jou sin vir rite, vir roetine, vir die sakrale dan? Ons maak mos nie aand een kos nie, ons trakteer onsself op 'n welverdiende uiteet.

Tuisgekom, gaan maak ons in die maanlig weer voete nat op die strand; ons het, soos Pappa en Klaradyn dit noem, 'n middernagtelike avontuur, as ons almal in die swembad gaan afkoel. Toe is dit koffie en iets soets, en toe die bed.

Dit moet vreeslik gereën het, maar daarvan weet ons niks, dit besef ons eers 02:00 toe iemand wil gaan piepie en ons kom af op die tent en gazebo se dakke wat vol poele water staan en wag om uitgegooi te word.

Ek gooi dit uit en word weer aan die slaap met die branders wat my droomland toe sus.

Dit is en bly lekker by die see.


No comments: