Ek wil Klaradyn se hoof iets vra, en toe ek my weer kon kry, lyk die vinnige e-pos wat ek wil uitkry só:
Ek het vandag sommer baie lief vir myself geword en tot die slotgevolgtrekking gekom dat ek en dié soos ek, een van die beste goed sedert die koms van klaar gesnyde brood is.
En dis nie iets wat te gereeld gebeur nie – om myself of eie stert so te prys nie.
Dis beslis nie dat ek met 'n permanente minderwaardigheidgevoel sit nie, maar om myself op te hemel is darem ook nie in my aard nie.
Vanwaar die skielike grootheidswaan dan?
Maklik, eenvoudig: Klaradyn se juffrouens, haar skool, Laerskool Voorpos.
Selfs na 24 jaar in die onderwys, het ek nog nooit juis gedink dat onderwysers nou kwansuis sulke wonderlike goeters onder die son is nie.
Darem ook nie die teendeel nie.
Partykeer hoor ‘n onnie, waar hy of sy ook al skoolhou, dat kollegas sê die ouers in die gemeenskap maak hul kinders groot met geen respek vir onderwysers nie – eerder dat onderwysers iets is om op neer te sien.
Self het ek nog nooit tot so 'n gevolgtrekking gekom, of sulke gedagtes gekoester nie.
Ek het my hele onderwysloopbaan trouens, besef ek nou, redelik neutraal teenoor die professie en sy mense gestaan.
Dis nou tot Klaradyn verlede jaar graad 0, en hierdie jaar graad 1 toe gegaan het.
Van toe af word ek elke nou en dan tot stilstand geruk deur die gedagte dat onderwysers darem regtig wonderlike wesens is.
Soos vanmiddag weer.
Ek sit by Klaradyn se kunsklas en wag die uur om – my merkwerk in die klas vergeet.
Ek krap in haar tas.
Kosblik eerste.
Sy het nie al haar brood geëet nie.
Nee, ek gaan dit nie verslind nie, al wil ek – netnou soek sy 'n happie as sy klaar geteken en geverf het.
Dan kom die boeke aan die beurt.
Haai daar is sowaar al 'n derde leesboekie – een van daai wat afgerol en gebind word, dan moet die kinders self inkleur. Ek hou van die geskakeerde, selfs ekspressiewe manier waarop Klaars inkleur. (Toegegee dis beslis seker nie die netjiesste, maar definitief een van die met die rykste kommunikasie, een van die wat van die sterkste, en die sterkste van, 'n joie de vivre spreek.
En ek besef dat dit nie my kind is nie, maar die juffrou(ens) wat oefengeleentheid bied, wat die groei ontwikkeling moontlik maak.
En met die dat ek nou al klaar met rooskleurig getinte brillense oor my oë na die boeke kyk, is dit nou meer nie net my kind wat sulke oulike werk aanbied nie, maar die juffrouens wat sulke lekker, sulke oulike verrykende/oorspronklike/stimulerende werk lewer.
Ek het nog nooit verwag dat iemand my lof moet besing nie, maar opnuut word ek deur die behoefte oorval om die mense wat Klaradyn by die skool probeer opvoed se lof te besing. Self sal ek hulle dit nie kan nadoen nie.
Ek moet my dank en waardering op 'n manier verwoord, dit hoorbaar maak.
Tasbaar, met gawes en geskenke, sal ek dit nooit kan doen nie, maar niks staan in my pad om dit vir die juffrouens te sê nie.
Ek stuur 'n SMS, simpel, eenvoudig, maar opreg en uit die hart (Ongelukkig stoor my foon nie outomaties alle boodskappe wat ek stuur nie, anders het ek dit nou hier gespoeg-en-plak.)
Ek hoop nie sy dink ek teister haar nie, ek hoop nie sy dink ek SMS om die een of ander hond in plaas van die halsband nie. Maar die juffrou laat weet: “Dis so 'n yslike voorreg!” (en nog so bietjie meer).
En ja, dit is 'n voorreg om te kan skoolhou, net soos wat dit midde 'n veranderde en veranderende onderwys Suid-Afrika 'n voorreg geword het, 'n bonus, 'n ekstra, 'n nie-noodwendig-en-uiteraard-vanselfsprekend-nie, om iemand voor in jou kind se klas te hê wat haar sout, en haar gewig in goud, werd is.
Dit sal nie altyd so wees nie, ek weet. Maar ek is van vermoede, waar Klaradyn nou is, sal dit altyd naby daaraan en soortgelyk wees, oorwegend so.
Mog ek die rypheid en volwassenheid behou om te onthou dis wel oorwegend so, sou ons die dag konfronteer word met iets wat van die teendeel getuig.
Ek, met 24 jaar onderwyservaring, weet immers beter as baie, juis hóé menslik en geneig tot foute (soms die grootste van groot foute) ons as mense en onderwysers kan wees.
Feit, aan die ander kant, bly egter staan: as net een enkele ouer, elke jaar die laaste 24, oor my gevoel en van my gedink het, soos ek oor Klaradyn se juffrouens voel en van hulle dink, dan kan en mag ek maar met 'n grootkop rondloop en te koop loop met die gedagte dat ek, en die soos ek, een van die beste goed naas gesnyde brood wat klaar aan altwee kante gebotter is.
Maar, Meneer, dis nie hoekom ek skryf nie, bg. was by die kunsklas en die Voortrekkers waar ek op haar gewag het, ek sluit dit bloot vir jou kennisname in; ek wou skryf oor die muntlegging van verlede week.
By die aanhoor weer van die woord “muntlegging” is ek deur nostalgie oorval. Die graad of die jaar onthou ek nie – dit moes om en by 1970 gewees het. Wat die woord was, wat in vet vierkantige letters op die vierkant gevorm is, onthou ek ook nie – maar die opwinding, die gewydheid, die erns waarmee ek as laerskoollat verbybeweeg en afgebuk het om my bruin geldjies te pak, sal ek nooit vergeet nie.
(Dit kan nét vergelyk word met hoe ek gevoel het toe ons almal in graad 1 met klein oranje-blanje-blou-vlaggies in ons hand ‘n erewag vir Advokaat BJ Vorster oor die rugbyveld gestaan het.)
Én ek, én Annieka het haar vertel hoe werk 'n muntlegging, en hoe spesiaal dit is. Groot was ons almal se teleurstelling toe al wat gebeur het, die leiers was wat van klas tot klas geloop het om die geld in ontvangs te neem.
Miskien het die storie krom en skeef by ons uitgekom; miskien nie.
As sy wel nie die kat aan die stert beet het nie, wil ek vra: Hoe lyk dit, sommer hierdie jaar nog, met 'n propperse, gewyde, muntlegging? Soos van ouds?
Toe skryf ek vir my eie hoof ‘n brief om my gedagtes oor redenaars met hom te deel.
(Hom sal ek nie hier plaas nie, nie nou nie – ek bêre hom vir die dag as my derde versamelbundel aanlyndagboek-inskrywings in harde kopie publiseer word.)
Maar na Annieka beide briewe gelees het, was haar eerste en eerlike kommentaar: “Dis tyd jy weer begin blog, my man.”
So vandaar Gehasi.
Hierdie blog word nêrens op ‘n hoof- of sigblad vir ‘n bloggemeenskap aangekondig nie, sy naam en inhoud word nêrens in ‘n soekenjin gelaai vir ander om dit op te kan spoor nie.
Ek verbeel my dis selfs so gestel dat jy nie eers kan kommentaar lewer nie.
As jy nie via hierdie skakel wat ek per e-pos gestuur het, daar uitkom nie, dan is dit die toeval/noodlot/gode/God (na gelang van jou oortuiging) wat jou daar kry.
As ek uitgewerk het hoe lesers RSS-toevoer kan geniet, of kan inteken. Dan laat weet ek meer en weer.
No comments:
Post a Comment