Elke onderwyser beleef seker in 'n stadium wat bekend kan staan as sy grootste verleentheid ooit in die onderwys.
Myne was iewers tussen 1989 en 1991.
Die Hoërskool Staatspresident CR Swart se podium in die vierkant, staan soos alle skole s'n in die middel van die een sy van die vierkant.
Daardie jare was daar nog nie 'n geboude podium nie – ons moes wag vir 'n besonderse bang meneer om een van baksteen en sement te bou. In daardie stadium het ons op 'n koorbankie geklim en die woord gevoer.
Ek sê ook nou bang, maar dis nie bang nie, die man het net nie daarvan gehou om voor baie te praat nie, hy het blootgestel gevoel om so voor almal te staan en het aangedring op iets waaragter hy kan staan, net om beter en rustiger en meer op sy gemak te voel.
Nou oor die koorbankie/podium in die middel van die een sy van die vierkant ingerig is, glo ek vandag dit wat 1989 wat ek my most embarrassing moment gehad het – as die standerd 6’e (ja, daardie jare was dit nie graad 8’s nie) heel links gestaan het, dan het die matrieks heel regs gestaan.
Dit beteken die standerd 8’s was in die middel, reg voor die podium/kateder/koorbank – die meisies voor, die seuns agter, 8A na links, 8H heel regs.
En die gesig wat ek die beste uit die oomblik van my allergrootste vernedering onthou, het in 1991 gematrikuleer. Sy was met ander woorde in 1989 in standerd 8, 8D of 8G , om tydens my vernedering en verleentheid voor en eerste in my gesigsveld te kon wees.
Die kind, vandag al getroude vrou en mamma, verjaar eerskomende Vrydag en in my dink aan haar, onthou ek weer haar verbouereerde histeriese gesig voor my, soveel jare gelede.
Want kyk, ander mense mag dalk ongemaklik daarmee wees om voor baie te praat; ek nie.
Ander se broeke mag begin bewe, en hulle sal aandring op stewige baksteenkonstruksies van waaragter hulle kan wegkruip; Hans nie.
So waar elke onderwyser vir jare nou al tot hoogstens op die eerste trap van die koorbankie klim om sy preek te preek en sy sê te sê, rush fools soos Hans in where angels fear to tread – ek klim met selfvertroue tot op die tweede trappie, en vandaar tot op die derde en heel boonste trappie, dat almal my kan sien en ek oor die hele see van gesigte tot heel agter kan uitkyk.
Nou is daar net een rede waarom dié betrokke koorbankie wat ek met soveel selfvertroue bestyg, buite die saal as podiumpie ingespan word, en nie binne in die saal as koorbankie saam met al die ander gebruik word nie – die ding is stukkend.
In plaas van 6 pote, 3 links en 3 regs, het die bankie net 5 – die regter voorste een is afgebreek – as koorbankie word dit gevolglik vir jare reeds nie meer aangewend nie, maar oor geen regdenkende dit ooit sal oorweeg om tot heel bo te klouter nie, dien dit perfek as daai klein verhoginkie vir die personeel wat die opening en afkondigings moet waarneem.
So die oomblik toe ek, Bybel in die hand, heel bó kom, is toe ook mooi die oomblik dat die hele koorbank regs vorentoe oorhel en ek met 'n luide kreet, mikrofoon in die ander hand, tussen die standerd 8-dogters infoeter.
Ek onthou nie veel nie, net Lynette (die oudleerling wat Vrydag verjaar) se gesig, haar oë, haar mond, haar koes, haar wegspring en plek maak vir Meneer.
Ek weet, na die aanvanklike kreet, dat ek die verleentheid met grasie hanteer en selfs as geleentheid ingespan het: ek het my opening geïmproviseerd aangepas om verwysings na die insident in te sluit.
Maar verdomp of ek onthou waaroor die preekbeurt gegaan het, of hoe ek die val bygewerk het. Maar ek het.
Lynette hou baie ander assosiasies en herinneringe in – ek verbeel my selfs sy het, voor sy by ons aangesluit het, van dieselfde tuisdorp en hoërskool gekom as ek, maar die eerste en sterkste onthou wat by opkom, as ek aan haar dink of haar raakloop, is immer die een rondom my grootste verleentheid.
Lekker verjaar Lynette
No comments:
Post a Comment