Vir die goudprys kyk jy die nuus om sewe in Afrikaans; landbouradio bring jou hoogte wat die huidige prys van mielies, koring en wol betref.
En wonder jy hoeveel 'n wetsgehoorsame landsburger die laaste tyd vir 'n liter brandstof opdok, is dit nóg makliker – jy kyk op die pomp as jy gou R10-00 se petrol ingooi om jou tot by die eerste stopstraat te neem.
Maar waarteen verhandel dentien deesdae?
Ek het die mark al 'n goeie veertig jaar gelede vaarwel geroep en het al hierdie jare later nie meer 'n idee op watter vlak om weer tot die kleinhandelmark toe te tree nie.
Ek het 5, of 10, of 20 sent gekry – 50 sent of ‘n rand, wat 'n plaas se prys was, sou ek onthou het as dit was hoeveel ek gekry het. En buitendien, R1-00 was in daardie jare nog lank nie 'n munt nie – dit was ‘n bruin noot met 'n skaap (verbeel ek my) en Jan van Riebeeck se golwende haredos op.
En papiergeld vir 'n melktand! Vanwaar Gehasi! Nog nooit gehoor nie!
Klaradyn was destyds baie laat om tande te sny. En soos wat sy babatyd tot soveel as agt tande agter haar portuur was, sit sy al van verlede jaar letterlik met 'n bek vol tande, terwyl ander maatjies in dieselfde klas reeds soveel as 6 tot 8 tande gewissel het.
En dis nie 'n geval dat sy nog nie permanente tande kry nie, sy krý – hulle laat trouens net nie op hulle wag nie; om die waarheid te sê, húlle wag nie vir die melktande om te verkas nie en steek sommer agter hul voorgangers kop uit.
Te aardig!
Maar die tandarts, Oom George, sê ons moet los. Niks wat ons nou doen, of nou nié doen nie, gaan dinge oor twee, drie jaar bemoeilik óf vergemaklik nie.
En wie is ek om van George te wil verskil. Hy is 'n knappe en eerbare oudleerling wat in ’91 matrikuleer het. Hy krap nou al vir jare in my bek rond, Klaradyn vertrou hom al en Annieka sou ook by hom gewees het as dit nie was dat sy die eerste ekeer per toeval by sy vennoot beland het en nou nêrens anders wil gaan nie.
Hierdie week is ons weer met Klaradyn by hom. 'n Ander maatjie wie se permanente tande ook nie kon wag vir die melktande om te verkas nie, se tandarts het die eerstes onder verdowing die trekpas gegee; sy argument die plaak wat op die nuwe tande ophoop en skade kan veroorsaak.
Toe weet ek nie of dit hy is wat nóú geld wil maak, en of dit George is wat oor drie, vier jaar, as ons met baie probleme sit, sommer baie meer geld wil maak nie.
Maar toe blyk dit dat dit nie tandarts is wat jare later geld maak as daar probleme is nie, dis die ortodontis.
Vir 'n oomblik wonder ek toe of die ortodontis 'n sekere persentasie van wat hy uit jou maak aan die verwysende tandarts oorbetaal of nie. Maar die man werk so mooi met Klaradyn, dat ek sommer opnuut respek vir hom kry.
Ek is daar oortuig van dat dit die maatjie se tandarts was wat 'n vinnige pennie of wat wou maak, toe hy die kind deur die trauma wat net 'n tandetrekker kan aanbring, gesit het.
George wil glad nie nou totter nie, hy stel dit dat sy eers emosioneel meer ryp en opgewasse moet wees om ingryping te hanteer.
En waar ons toe raas as Klaradyn aan die een tand wat sy teen 'n maatjie se skedel losgestamp het, wikkel en woel, laat George haar met die volgende opdrag: “As jy weer by my kom, moet jy daardie tand lankal self los- en uitgewikkel het – dis jou verantwoordelikheid, en as jy hom uit het moet jy sorg dat Mamma en Pappa jou beloon vir die werk wat jy gedoen het.”
Wat hy sê maak sin: dis beter as die kind wikkel en woel, voor ander ruk en pluk; die kind weet en voel waar en wanneer om te stop, die ander nie.
Ons maak van die tand gaan uit iets groot. Ons neem selfs die fliek Tooth Fairy weer uit, net om die regte gemoedstemming te kom. Ek oortuig Klaradyn dat Afrika tandemuise en die res van die wêreld tandefeetjies het.
Ek vertel van die keer wat ek nie 'n enkele sent van die tandemuis gekry het nie – my tand was te vol gaatjies en hulle kon hom nie eens vir een van die tandepaleis se buitegeboue, wat nog te sê die voorkant, gebruik nie. Miskien moet sy haar tand uitkry voor hy sleg word en die muise niks met hom kan doen nie.
Ook Ma val in met 'n storie en 'n stertjie.
O, en daar laat Klaradyn nie op haar wag nie: sy word 'n meisie met 'n missie.
En toe ons weer sien toe is die tand uit. (Met miskien so bietjie aansporing, of letterlike in-grýp-ing van Oupa se kant af.) Dit gebeur voor skool, en daar moet die tand opsluit skool toe, toegedraai vir almal om te sien.
Die aand word twee skoene uitgesit – een met 'n blokkie kaas in, die ander met die tand.
Ons maak seker dat die geldjie in en die kaas geknaag is voor ons gaan slaap – dit het een jaar gebeur dat Klaradyn wakker was voor Sinterklaas sy rondes gedoen het, en ek en Annieka moes lelik bontstaan.
En op die ou einde sou dit nie saakgemaak het of ons R5-00, R10-00 of R20-00 in haar skoen gesit het nie – sy sou steeds, salig onbewus van die waarde van geld (of die gebrek aan waarde daarvan) die R30-00 speelding gekies het, wat sy wel gekies het toe ons iets gaan koop het.
Maar ons het haar maar laat begaan – jy is immers net een maal jonk genoeg om onvoorwaardelik in die tandemuis te glo.
***
Die eerste helfte van dit alles hier bo is meer as 'n maand gelede, maar ek kon nie klaar kry nie, toe volg die tweede helfte nou die anderdag toe die skool en sy werk my so 'n rukkie 'n gelaatstaan het.
Maar vandag het die twee helftes toe nie twee derdes geword van dit wat daar is om te vertel, en het ons gister die laaste derde bygekry.
En is ons nie spyt dat ons haar toegelaat het om onvoorwaardelik in die tandemuis te glo nie!
Hulle het toe mos nou 'n grag loop staan en bou al om Durban se nuwe akwarium, soorts van 'n kanaal waarop jy en jou kind in bloedrooi eietydse trekkerbinnebande kan dryf. Dan is dit Ma en Klaradyn op een, en ek op my eie; dan weer andersom.
Hierdie ronde is dit ek en Klaars wat deel. Wat presies gebeur het, sal ek nie weet nie. Ek sien net die kind vat-vat skielik so na haar mond, ek raak bewus van 'n spatseltjie rooi, en toe van die tand wat afsak in die soutwater (nie van die see nie, maar van al die ou ooms en tannies en kindertjies se piepie) om ons.
Losserig, maar hoogstens losserig en glad nie los soos in los-los nie, was die tand beslis; egter nog meer as 'n maand van enige nuwe haasbekstatus af. Ek vermoed sy het hom seker maar aan die opblaastjoep se handvatsel gestamp, of iets.
En dit maak ook nou nie saak hoe dit gebeur het nie – die feit bly staan: die kind se tand is uit en weg, en sommer baie weg.n dit terwyl haar tande so goed opgepas is dat die spitterwit goedjies in die tandepaleis se voorste fasade gemessel kan word vir versiering.
Vroeër die dag, toe Pappa met Dogter tussen sy bene in een van die 11 glybane af is, het hy, die oomblik toe swaartekrag die twee in die poel aan die onderste ent spoeg, so gekonsentreer om Doggie se kop bo water te hou, dat hy skoon van sy eie bril vergeet het – en daar is dié toe nou in die mensgemaakte maalkolk ingesuig.
Gelukkig het hulle lewensredders gereed om diegene wat nog in die lewe is teen die tyd dat hulle aan die onderpunt van die glybaan kom, te red. Ek wink dié man, wat jare gelede sou kon deurgaan as een van Koning Shaka se impi’s, toe nader en hy duik ewe behendig in die maalkolk af.
Ek lei af die man moes al talle valstande, haarstukke, donkerbrille en silikon boesems uitduik , want hy weet dadelik waar om te gaan soek, en dis nie lank nie of ek skud sy hand in dankbaarheid.
Maar 'n stel valstande in 'n maalkolk aan die einde van 'n glybaan is gans anders as 'n enkele wisseltandjie in die kilometerlange grag om die vesting gegrawe. En self al is die keel wat Klaradyn toe daar in die water opsit, so 'n keel dat die bestuur selfs besluit om die hele grag vir haar leeg te tap, weet ek ons sal daardie stukkie skitterwit nooit weer sien nie.
En nou kan ek Annieka ook nie vir 'n oomblik sonder Klaradyn saam by mekaar kom om op 'n plan van aksie te besluit nie. Die gevolg is dat sy borduur in die rigting van 'n antwoord, en ek borduur voort in die rigting van my oplossing. Maar dis duidelik dat haar antwoord en my oplossing twee verskillende goed is. Tussen rietrotte, oewermuise, GPS’e en SMS’e, duikspanne, 'n knaakdierflottielje en –verkennerskorps, selfs die Paashaas wat op nommer 199 bygesleep is, is die hele storie is nou al so aangelap dat Klaradyn regtig breindood moet wees as sy nog enigsins enige iets glo.
Maar met 'n Pa en Ma wat so lekker speel, kan sy nie anders as om heerlik saam te wil speel nie, en sy doen.
Met die dat dit een van die tande is wat sy plaasvervangende permanente tand lankal uit en gereed het, is daar nie juis van haasbek sprake nie.
Dis tog of die –s so effentjies sleep en sing, nie soos dit moet nie – juis oor die ander tand reeds uit is – maar tog. En dit klink vir hierdie pappa tog te strelend op die oor.
Ek subsidieer die bloody tandemuis sommer met 'n rand of wat.