Pages

18.3.11

My Vaaltyn

In die week wat haar pa rondhol tussen A, B en C het Klaradyn self een van die vrotste weke in haar lewe. Eintlik nie één van die vrotstes denkbaar nie, beslis dié vrotste. En dit met 'n pa waarvan die aandag verdeel en elders lê, én 'n ma wie se senuwees op 'n knop gejaag is daarby.

Dinsdag-agtermiddag, baie laat, laat val sy dat sy vir Kyle, haar een kleintyd-maatjie, gesien het. Ek is bly dat hulle paaie uiteindelik gekruis het – hoe lank is die skool nie al aan die gang nie, sy in graad 1; hy in graad 4 of 5, en hulle het mekaar nog nie gesien nie.

By gesels en bespreek, kom ons egter nie uit nie – ek is op en uit en weg toe die foon, die oomblik wat ons klaar geëet het, lui.

Eers die volgende oggend, dat ek hoor hoe dit gekom het dat sy vir Kyle gesien het.

En my hart swel uit, loop oor, by die aanhoor van die storie – veral as ek dink hoe erg dit vir haar moes gewees het, toe sy die vorige aand daarna verwys het, maar niks laat blyk het nie.

Dit moes heeldag op haar gedruk het, maar tyd vir dié klas van gesels wat sy nodig had, was daar nie – eers was dit ballet en drama, toe huiswerk, toe aandete. En dis eers na ete, na badtyd, op pad kooi toe, dat sy rustigheid in die gemoed kry en dit met Mamma deel:  sy en 'n maatjie het in die saal gesels toe moes sy en die maatjie, saam met twee of drie groter kinders wat ook gesels het, voor in die saal gaan staan en vir die ander kyk!

En dís hoe dit gekom het dat sy Kyle gesien het – geen blye weersiens nie, maar soos 'n Middeleeuse heks wat aan 'n stok op die markplein vasgemaak is vir almal om te sien, of 'n veroordeelde in die Kaap tydens die Bataafse tyd wat wag om in die openbaar gevierendeel te word.

Waarmee ek natuurlik geen probleem het nie – sy het gepraat toe sy nie moes gepraat het nie, sy was tien-teen-een ongehoorsaam want ek laat my ook nie vertel dat hulle haar sal uithaal en 'n voorbeeld van maak as hulle dit nie duidelik gestel het dat die kinders stil moet bly nie.

Hopelik het die kind geleer om te sharrap as hulle beleef om blote stilte sou vra.

Behalwe vir die les wat ek bly is my kind hopelik geleer het, is ek die blyste van alles dat sy dit wel met ons gedeel het – stel jou voor sy het dit nie gedeel nie:  óf omdat sy so bang is vir ons, óf omdat sy klaar so skelm is, dat sy weet dis beter om dit stil te hou.

Ja, aan die een kant wil ek nooit hê my kind moet so bang vir my wees dat sy my nie kan vertrou nie; aan die ander kant wil ek haar ook nooit so vertroud met die verkeerde weë sien, dat sy weet dis beter om stil te bly nie.

Dit wil my voorkom jy as ouer moet gevolglik 'n bohaai opskop, groot genoeg dat dit nie weer sal gebeur nie, maar ook nie só groot dat die kind jou nooit weer van iets soortgelyks sal vertel nie.

En waar om die streep te trek met jou bohaai, word nergens in geen handboek uitgespel nie – jy moet dit aanvoel, vir jouself en by jouself.

Maar as Dinsdag erg was, en dit was – gevra hoekom sy so huil toe sy die storie aan Mamma oorvertel, kom die antwoord dat dit is omdat sy so ontsettend skaam gekry het – was Vrydag tien maal erger. Gelukkig nie wat skaam kry betref nie, wel wat die insident op 'n Richterskaal afgemeet, betref.

Hulle moet uittrek vir KDP (ek vermoed dis iets soos ons ou dae se LO – toe LO nog vir Liggaamsopvoeding, en nie Lewensoriëntering nie, gestaan het).

Nou hoe dit kan gebeur dat 'n klas se kinders die kleedkamers ingejaag kan word, sonder toesig, sal ek nie weet nie.

Maar dis seker heel logies – die juffrou kan haar tog nie in twee wil deel en by die seuntjies en dogtertjies tegelyk wees as hulle verklee nie. Sy sal die ouers op haar hê as die twee geslagte saam verklee. Om haarself te vrywaar van vervolging is dit trouens seker beter om nêrens by te wees waar óf die seuntjies óf die dogtertjies verklee nie – netnou word sy van onwelvoeglike gedrag verdink. 'n Moontlikheid sou wees om glad nie KDP te doen nie, maar dit sou nie in belang van die kinders wees nie – so ek vermoed hulle knyp maar oë toe en stuur die kinders in om te gaan verklee.

Hoe dit ook al sy, so gebeur dit toe dat 'n spul energieke graad 1-dogtertjies Vrydag die kleedkamers in is om vir KDP te verklee.

Nou gelukkig is ek self nog 'n kind en nie 'n goody two shoes een daarby nie, 'n dood normale gemiddelde kind; bietjie soet én bietjie stout.

So ek verstaan, onthou nog, hoe werk 'n kind se kop.

Want daar is my kind toe nie met haar sitvlak op die ingeboude bankies nie, maar met haar voete.

Sy hoef ook nie veel moeite te doen om my te oortuig dat sy nie die enigste een was nie, ek ken normale kinders omdat ek self een is.

Al wat anders is in hierdie geval, en in vergelyking met al die vorige kere wat daar kleintjies verklee het, is die feit dat dit toe Klaradyn se voete is wat tussen die planke infoeter, en nie net een voet nie —  beide voete.

Dit verbaas my geensins, dit het op enkele maande ook met haar gebeur. Ek het vir Annieka 'n swaaibankie, soos die wat jy gereeld in Amerikaanse flieks en huishoudings op die stoep of onder die boom by die voordeur sien, gebou. En Klaradyn se een voet is daar tussen twee sparretjies só deeglik in, dat ek met hamer en koevoet moes nader hardloop.

Op 6 sit sy egter toe 'n baie harder keel op as op 7 maande.

Die maatjies kom tot redding, maar dis suiwer by wyse van spreke, want van redding is daar geen sprake nie, hulle ruk en pluk net verder in verskillende windrigtings en maak dit wat reeds seer is, nóg seerder.

Klaradyn se alarm styg nou 'n paar desibels in toonhoogte, maar ook wat volume betref draai sy die krane, saam met haar oë se trane, op volsterkte.

Juffrou kom in – ons het nie gesels nie, maar ek sou my voorstel: wit geskrik.

Ook sy kry niks uitgerig nie.

En na ek verneem begin almal toe op hierdie punt bekommerd raak ook die ruite in die omgewing, so 'n gil en geskree pak die kind tóé uit.

Na ek verneem was dit die teebediende (miskien omdat van haar koppies en glase begin gaan het?) wat die hoof gaan roep het.

En wat doen die hoof?

Die hoof doen wat elke kind en ouer van laerskool verwag – hy storm in en bevry haar met vernuf en tegniek wat geen een tot nou nog toe kon openbaar nie.

En toe hy klaar is, toe gee hy haar 'n drukkie.

Ek weet nie wat die sterkste indruk op haar gemaak het nie, die feit dat hy haar bevry het, of daardie drukkie nie, maar as sy haar hoof voor die tyd verafgod het (wat sy het) dan is dit nou nog tien maal erger.

Dis dan ook nou op hierdie punt dat my hande na my hare toe gaan. Raas ek van voor af? Of nie?

Sy het geskrik. Groot geskrik. Juffrou het geraas. Baie geraas soos sy moes, hoop ek. Sy het 'n les geleer wat sy nie deegliker gaan leer as wat sy hom reeds geleer het nie, so ek raas nie verder nie.

Uit die gesprek met Klaradyn is dit vir my duidelik dat sy weet sy het verkeerd gedoen, en ek kry die idee sy gaan dit nie weer doen nie.

Die stomme kind wil nie eens meer voor skool in die saal gaan liedjies sing nie – oor dit haar te veel aan die verleentheid voor die ander kinders herinner.

Ek het dit al 100 maal gesê, en ek gaan dit seker nog 100 maal sê:  grootword is en bly nie lekker nie.

En dan is Maandag nog Valentynsdag ook.

Vir drie jaar was dit “Liefiedag” - dan het jy rooi aangetrek kleuterskool toe en daar was koekies en koeldrank.

Iemand, een van die “groter” kinders, het egter vanjaar by die klas omgekom en teen R20-00 die een of ander Valentynsbeertjie verkwansel.

Nee, my kind het nooit R20-00 aan haar nie, nie eers op snoepiedag toe nie, so sy kon toe nie vir haar 'n beertjie bestel nie.

Die volgende dag vergeet sy toe om te vra.

En toe sy die daaropvolgende dag wel haar R20-00 hier weg het, toe daag die seun natuurlik nie weer op nie.

Dit pla haar nie vreeslik nie, ons het getroos en gesê ons sal self oor die naweek 'n beertjie gaan koop, so sy is heel rustig.

Maar dit pla my.

Amper “vreeslik”, maar darem nog nie heeltemal nie. 

Fedit bly egter staan:  Maandag gaan daar kinders omkom en pakkies uitdeel, beertjies, Valentynsbeertjies, en 'n hele spul kindertjies in haar klas gaan spesiaal voel – hulle het bestel; my kind gaan afgeskeep voel – sy het nagelaat om te bestel.

So na kerk is ons strate toe om 'n beertjie te kry. Sy kon haar eie beertjie kies. En die een wat sy kies lyk of dit uit Bollywood ontsnap het, so kitsch jy wil kots. Maar ek meng nie in nie, dis haar beertjie wat sy kan bestel, op haar eie. Ma wil nog inmeng, toe praat ek haar dood.

En moenie dink die donderse beer het R20-00 gekos nie – ek moes R60-00 opdok. En moenie dink die skool se beertjie het R20-00 gekos nie – dit het tien teen een R10-00 gekos, indien nie minder nie; en die entrepreneur het R10-00 wins gemaak, indien nie meer nie.

Ma is ook kennelik bewus van die rustelose week in haar kind se gemoed en toe beginne ons 'n vroueding waaroor ons nog 11 jaar spyt gaan wees, Klaradyn se toekomstige man, trouens, eendag en vir die res van hul getroude lewe:  ons gaan koop iets nuuts, iets spesiaal vir Valentynsdag. (Daar is absoluut niks in haar kas wat sy kan aantrek nie.)

En Ackermans en Woolworths se somersgoed is van die rakke af – dis herfs en winter. Ons moet by die designer-plekkies in, daar waar ons in 6 jaar letterlik een of twee keer in was en elke keer laggend vir onsself, en die wat dit kan bekostig om daar te koop, uitgestap het.

En of dit nie genoeg is nie, koop ek by winkel A iets vir weersomstandigheid A, en Annieka by winkel B, vir weersomstandigheid B.

Maar as dit haar dag, haar week, haar maand en haar jaar spesiaal kan maak, sonder dat dit haar verrot laat, is ek bly tot in die diepste uithoek van my hart.

Gelukkige Valentynsdag, my skat.

Ek sal jou later vertel van Mammon, en verder terug waar die dag van Oom Vaaltyn eintlik vandaan kom.

Maar later.

No comments: