Dat die bloggery neerkom op die volmaak van twee gesteelde Statebybel-grootte dagboeke en met verloop van tyd die ekwivalent van Trompie se ma se dahlias by die tuinhekkie geword het, het ek in 'n vorige hoofstuk van vertel en ek heg dit as addenda aan.
Wat ek toe gesê het, geld steeds en is waar, maar...
...maar ek is bevrees dis nie die volle waarheid nie, was ook nie destyds nie.
En dan letterlik nie die volle waarheid nie, nie soos in deurspek met leuens nie, maar soos in slegs een helfte wat vertel is; 'n tweede helfte wat geriefshalwe verswyg is.
Toe ek destyds die Statebybel en Trompie uitgeruk het, was ek egter nog nie opgewasse genoeg om met die volle reine waarheid vorendag te kom nie.
Vandag weet ek dit neem minder as niks van my om te erken dat die oorsprong van die blog niks anders as blote professionele jaloesie, kale afguns, louter naywer en 'n geknakte selfbeeld is nie.
Vanuit die bemarkingskantoor “blog” Annieka weekliks aan die hand van die skool se nuusbrief.
En na hoeveel jaar in die stoel van die bemarker is dit steeds die twee die goed wat dit reg van die begin af was, die twee goed wat my destyds genoop het om te blog: sy sonder haarself weekliks af om “vir die lekker” iets te kan skryf – 'n kreatiewe stukkie skryfwerk wat funksioneel, as redakteursbrief, ingespan word.
En asof dit nie genoeg is nie, is daar na amper 5 jaar steeds weekliks ouers uit die skoolgemeenskap wat o, so positief op haar skrywes reageer – sy en haar tekste geniet 'n aanhang onder die ouers wat ek in geen 10 jaar by die skool, 'n skool, enige skool gesien het nie.
En dit kan nie wees nie, nie die rekreasie van kreatiewe verkeer nie; ook nie die aanhang nie.
Ek is die meer kunssinnige een van ons twee, ék is die een wat woorde in my mond rondrol, slyp en poets, nie sý nie – dit kan nie wees nie, dit mag nie wees nie, dis nie moontlik nie.
En omdat ek haar die luukse van kreatiewe omgang met die woord, nog minder die akkolades wat bly instroom het, nie so alleen en op haar eie gegun het nie, het ek die geleentheid aangegryp om te begin blog.
Ek het my vrou die bietjie son oor haar hoof nie gegun nie, haar dit misgun, haar eenkant toe gestamp, my vol sonroom gesmeer en begin sonbrand – te heerlik.
En nee, ek was nog nie een dag spyt nie.
Of dit te danke aan haar, of te wyte aan haar is, weet ek helaas nog nie verseker nie. Ek vermoed egter ek verkies die tweede een van die volgende vrae (en daarmee neem ek dan natuurlik basies standpunt ten gunste van te wyte aan in):
Hoekom blog jy?
Wie se skuld is dit dat jy blog?
Wie se skuld is dit dat jy blog?
Van die twee vrae na twee argief-antwoorde. Ek het dit Verbale Diarree 1 en 2 genoem.
En nou weet ons almal wat die volle betekenis agter daardie titels was – nie net dat ek heerlik overdadige dubbel-ka-middel-a kwyt raak nie, maar juis dat ek die leser 'n rat voor die oë draai deur sommer strooi en geensins die volle waarheid nie, te praat:
Verbale Diarree 1
Hierdie ongetroude vriendin op Bloemfontein het ‘n ding met bloedoortappings en vigs. “Want as ek dan nou vigs móét kry, laat dit dan tog net op ‘n opwindender manier as aan die hand van ‘n boring bloedoortapping wees,” reken sy.
Daarom dan ook hoekom ek my nie sommer skuldig maak aan diefstal nie. As ek dan nou vervolg móét word, dan tog net nie oor iets so onopwindend soos 'n onbenullige ding wat ek gesteel het nie.
Uit ‘n prille jeug onthou heelparty van my generasie seker tjoklits by die Griek op die hoek gesteel.
In my geval onthou ek ‘n eenmalige insident met sweets, want die tjoklits by Pappa-sous-se-klou (ek vermoed dit was Papasoseklou, of iets dergelik) se kêfie was agter glas, met jare se opgehoopte vlieëmis wat sulke piepklein korreltjies daarin, -om en –op gelê het.
Dan was daar die suikerlepeltjie met die gepoleerde rooskwarts aan die steel wat ek vir my ma gevat het die nag toe ons by rykes in die bodorp wakker gebly het om die geveg tussen Gerrie Coetzee en een of ander Spinks te kyk. Boksentoesiaste uit daai dae, en dis tog of daar daardie jare meer was, behoort die geveg hier teen drie-uur die oggend te onthou.
Toe die geveg begin het ek opgestaan om te gaan piepie.
En toe ek terugkom was die fight iets van die verlede en die TV al af.
Vir wat ek die suikerlepeltjie nou ook die volgende oggend vir my ma loop staan en gee het, sal net ‘n kind weet. Ons (ek en my ma) is later met die kar Skuldbult toe om die ding al verduidelikende terug te besôre.
So was dit ook in standerd ses, 1976, met die koraalboomsade (dendroloë uit daardie dae sal ‘n ander naam onthou) wat die curiowinkel in die foyer van Windhoek se grêndste hotel destyds, teen ‘n asembenemende 99c vir een verkoop het.
Die meeste van ons ken koraalboomsade, ons weet dalk net nie dis koraalboomsade nie. Dis hierdie bloedrooi/knaloranje piepklein saadjies met so kraaiswart klein knoppie in die buig van die boontjievormige saadjie.
(As jy dieretuin toe gaan, of dit nog op Durban se strandfront by die esplanade waag, is daar vrouens wat krale verkoop met van hierdie saadjies in.)
Nou in ’76, en ‘n pakkie Simba tjips is toe net op van 5c na 7c, was ‘n volle 99c vir ‘n 3 mm-koraalboomsaadjie, wat ons pouses by die skool sommerso uit verveling met ons tone opgetel het, darem wragtig ‘n sonde. En oor hulle so kan kroek om daai belaglike prys te vra, het ek gedink ek sal hulle terug kroek en ‘n handvol van die goed skaai.
Dis altans hoe ek dit aan my ouers verduidelik het toe ek, na die relaas oor die belaglike prys, my hande uit my broeksak wurm en die handvol sade as bewys voorlê.
Gelukkig was die hotel (Namib Sands/Windhoek Sun/ Ietsie Inn?) hopeloos te grênd en my ouers nog hopeloser te trots om hul jongste telg aan die ore met die hysbak af te sleep tot voor die winkelbetuurder.
Ag ons nou nie die witboordie- (of is dit in die onderwys se geval blouboordjie-?) insidente rondom ‘n riem afrolpapier so een maal in twee jaar vir die druk van vraestelle en aantekeninge tuis, as diefstal nie, is dit eintlik my vierde, laaste en grootste diefstal waarby ek wil uitkom.
En dit in 2000.
Ek darem toe al 36 en heel toerekeningsvatbaar.
Hans is steeds in die onderwys, maar kantoorgebonde.
Die saal aangrensend aan sy kantoor is gevul met die vrugte van duisende rande se onafgelewerde/verkeerdelik geadresseerde/verdwaalde/misplaasde wanbesteding en swart bemagtiging van en in die onderwys.
En daar eenkant, nog uit die dae van die vorige regime se verwarring met aankope en besending, lê hulle: ‘n hopie leë skooljoernale, lieflik deur die Staatsdrukkery gebind. Twee keer so groot en twee keer so dik as die grootste dikste Familie- of Statebybel wat jy in enige museum in SA sal kry.
Hulle lê al vir jare daar, word al vir jare nie meer aan skole uitgereik nie.
Tog roep hulle my byna daagliks. Staan ek in my kantoor op die lessenaar teen die afskorting wat ons skei, kan ek hulle sien. Hulle vra my om hulle vol te skryf, om dagboek te hou, joernaal te word van my lewe en die huwelik wat ek eersdaags gaan betree.
Maar dan is dit mos nou maar een maal soos dit met die Staatsdiens is. Jy kan nie vir een gaan vra nie; die goed is iewers aangewins en waar dit aangewins is, moet uitreiking gemagtig word. Die lêer waarin dit aangewins is, is weg of vernietig toe die gebou in ‘81 oorstroom het. Die aanwinsbeampte (of is dit nou uitreikingsbeampte?) met verlof/afgetree/afgesterf, sy pos vakant/tydelik vakant/oortollig verklaar. Vorms in triplikaat vir voorlegging aan... Kantoor A405, vyfdevloer, regtervleuel...
Wat ook al die rede, daar’s nie ‘n manier dat jy jou hande, op die regte manier, met die regte papierwerk, volgens die korrekte kanale, in jou dertigjaar-dienstydperk as staatsdiensamptenaar, op een van daardie skooljoernale sal kan lê nie – vergeet dit, skryf dit op jou maag.
Ek smokkel dit toe nou maar een middag daar uit.
Maar smokkel is iets wat jy met diamante die grootte van mieliepitte en kleiner doen. ‘n 900-bladsy, A2, Gutenberg-Bybel tipe Staatsdiensjoernaal is nie die klas van ding wat hom sommerso laat uitsmokkel nie. Nie as jy ‘n pennelekker, waarvan sy kosblik daagliks groter as sy aktetas is, is nie.
Hoe ek dit reggekry het en die ekseemagtige senu-uitslag wat vir maklik twee weke daarmee saamgegaan het, is ‘n hoofstuk op sy eie. En ek haas my want waarby ek met hierdie aanloop en ompad wil uitkom, is hoekom ek hier skryf.
Nodeloos om te sê dat die twee moerse boeke wat ek toe wel daar weg het, vandag... nee, ek weet wraggies nie waar hulle vandag is nie. (Die boekrak se een rak wat hulle in ‘n stadium so min of meer waterpas moes hou, het ek tog al reggemaak.)
Nodeloos, daarom eerder en ook, om te sê dat ek hulle toe nooit as joernaal of dagboek ingespan het nie, al het ek selfs in kalligrafie ‘n titelblad in elkeen laat aanbring.
Ook toe Klaradyn gebore is, en ek die visioene van ‘n Pa wat daarin dagboek hou van haar eerste paar jaar, gekoester het, het niks gekom nie.
Dink net hoe roerend kan dit wees, vir die Pa ook, om die kronieke bewend op ‘n 21ste verjaarsdag/troudag/gradeplegtigheid te oorhandig.
Dink net hoeke verleentheid dit nie vir die stomme brat/bruid moet wees nie!
Maar dis presies wat ek besig is om te doen as ek so sit en skryf: ek’s besig om daai bloody gesteelde joernale vol te skryf. Lyn vir lyn. Bladsy vir bladsy.
Vir my kind. Vir Klaradyn. En haar kinders eendag.
In elke ouer se lewe, ek sien dit met my Altzheimer-ma, ek hoor dit met my skoonouers en die grootouers saam, kom daar 'n stadium wat die kinders uitvra, maar die ouers nie kan onthou nie, die voorouers straks nie meer daar is om helderheid te bring nie.
Nie Hans Moolman nie – as Klaradyn vra, sal ek haar dié gee om te lees – dis wat die moeite werd is om te onthou, om te weet.
In my eie handskrif sal ek dit nooit kan doen nie – enige doktor besig sierskrif in vergelyking met my gekrap – daarom tik ek maar met die twee wysvingers waarmee ek myself destyds leer tik het. En selfs al kry hulle eelte, dan maak dit nie saak nie, want vol sal ek daai gesteelde boeke vol kry.
Verbale Diarree 2
Trompie, Trompie van die Boksombende saam met Blikkies, Dawie en Rooies, het altyd as hy van die skool af kom, een van sy ma se dahlias wat in die bedding by die voorhekkie staan, geskop dat dit oor die dak trek (en, in geestesoog, voor die kombuisdeur beland.)
By ons huis is daar nie dahlias nie en die enigste skopwerk wat ek deesdae doen, is skoene onder die bed in.
‘n Skoolvriend van my, voel hy soos Trompie en wil hy skop, het weer tennisbaan toe gegaan en, wat vir my speel soos ure gevoel het, die bal teen die oefenmuur geslaan. En geslaan. En geslaan. Tot hy beter voel en die draak waarmee hy worstel uit sy gemoed geworstel het.
Ons het nie ‘n tennisbaan nie en ek kry, selfs sonder om tennis te speel, gereeld las van ‘n tenniselmboog.
En dit dan die ander rede waarom ek my wysvingers se voorste litte eelte slaan teen die toetse: by gebrek aan dahlias of ‘n tennisbaan.
Die Groot Afrikaanse roman wou ek weliswaar op een van twee plekke in ons mooi land gaan skryf het.
En nou onthou ek nie eers meer die naam van die strand wat ek een jaar op die Strandloper-staproete raakgestap het nie.
Maar ek weet dit sou lekker gewees het.
En die ou Underwood portable tikmasjientjie wat dié droom voltooi, kry geen mens in elk geval meer lint voor nie.
Die ander plek waar ek gedroom het om die laaste groot Afrikaanse boek (dis nou voor Karel Schoeman my voorgespring het) te skryf was in een van daai ou rondawels (wat nie rond is nie, maar wragtig ook nie ‘n chalet genoem kan word nie) op Punda Maria.
Maar vandat daar nou se dae ook krag en ‘n swembad is, sal daai prentjie ook maar net een in my kop bly. En onvoltooid daarby.
Deur die genade is geen gedig wat ek ooit geskryf het, met enkele uitsonderings hier en daar in tydskrifte wat nie eers meer bestaan nie, ooit gepubliseer nie.
Die ander skrywersdroom het Hennie Aucamp by my gesteel.
Hy noem sy boek Ontmoetings. 'n Lieflike boek, vertellings rondom mense wat hy ontmoet het, mense wat op hom en aan hom afgegee het.
Ek is bevrees, maar na 20 jaar droom om eendag my boek oor die mense wat my gevorm het te skryf, sit ek steeds net met twee, hoogstens vyf, hoofstukke: die een oor die vrou wat destyds in die weermag ‘n baba se lyk uit die yskas gaan pluk het en onder die vroue voor die winkel se neuse loop swaai het in 'n poging om hul tot hul sinne te ru; die ander oor ‘n skilder wat deesdae in die buiteland sit.
Drie, vier en vyf is onderskeidelik my kind, my vrou en my ma (want kan jy nou dink wat sal gebeur as ek hulle nie insluit nie!)
My Ontmoetings-boek se naam sal jy nou nooit op die internet kan google en aankoop via kalahari.com nie, ook nie die groot Afrikaanse roman nie, nog minder die laaste Afrikaanse boek. Vergeet ook die Ingrid Jonker-pryswenners-debuutdigbundel, maar hier darem nou die geleentheid om my te verplig om my teksie so tussen skoolhou, kind grootmaak en by my vrou en ma uitkom, te skryf.
Nie dat skoolhou meer is wat dit was nie.
Ek onthou darem steeds, en verlang daarna, die heerlike Vrydagmiddae na skool hier in die laat tagtiger- begin negentigerjare. As die klok trrr-trrr, dan brrr-brrr my kar reguit kafee toe vir Vrye Weekblad. Dan is dit ek en Max du Preez en die bed.
O, en ek wou so graag ‘n onderwysrubriek in Vrye Weekblad beman!
Maar voordat ek nog my voorlegging kon maak, toe trap hulle die koerant se tjank af en daar bars daardie bubble ook.
My ander en laaste aspirasie as skrywer was tot onlangs om die pa-en-kind-rubriek by 'n universiteitsvriend in 'n Afrikaanse baba- en kleutertydskrif oor te neem.
Om pa te wees, het ek op 40 agtergekom, is waaroor die lewe eintlik gaan en ek het gedog ek sal darem so lekker my en Klaradyn se oomblikke met die lesers kan deel.
Tot onlangs? Ja, vandat ek begin blog het, kom eg agter daar is ander dinge wat my gedagtes op loop neem, nie noodwendig net my kind nie.
Hierdie skrywes daarom my gesteelde Statebybel-joernaal, gelanseerde dahlias, tennisbaanfrustrasie, groot Afrikaanse roman, Ontmoetings a la Aucamp, en sommer twee rubrieke in die Afrikaanse media – alles in een.
No comments:
Post a Comment