Pages

11.4.11

All dressed up and nowhere to go (1)


Iewers verlede week by die see - suiwer dagboek, so hou gerus verby. Maar dis lekker vakansieherinneringe. More kom nommer 2 in die reeks, en daar is nog 'n 3 ook. En 'n 4 wat ek nog moet skryf.

Hier sit ek nou soos die opskrif  dit uitspel. By wyse van spreke natuurlik en seker dan maar eerder  all up, and nowhere to go on the wings of my thoughts.

Ek is een van daai mense wat nie 02:00 in die nag moet wakker word nie, want of dit nou 01:30 of 02:30 of 05:05 is, ek is dadelik pikhelderwakker en verklaar myself uitgeslaap.

Dit was so toe ek 7 was. En dis 40 jaar later steeds die geval.

Die laaste klompie jare het ek geleer om darem met my eie kop te smokkel. Ek het agtergekom, maak ek nie my oë oop nie (want dan is dit in klaar verby) en ek hoor nog nie enige voëls nie, is daar 'n geringe kans dat ek weer aan die slaap raak terwyl ek lê en wag vir die eerste voëls om te ontwaak.

As daar natuurlik net die geringste aanduiding van 'n op-en-wakker gevleuelde iewers in 'n boom is, dan is ek onmiddellik wakker en so goed as op.

Dit werk natuurlik net tot vroeg in Maart, want teen daardie tyd word dit so laat lig, dat die voëls so laat begin sing, dat dit nie lank is nie, of ons Moolmans is al al drie by die huis uit en op pad skool toe – dan slaap die geveerde vriende steeds.

Vanoggend, dit kon gisternag of selfs gisteraand laat gewees het, is ek en Annieka saam op en uit om water af te slaan, maar ek word gelukkig weer aan die slaap.

Tot ek wakker word van die bure se gesels.

Hulle baba, verlede jaar hierdie tyd was hy nog baie ferm deel van 'n hoogswanger en hoogsongemaklike jong mamma-op-karavaanvakansie-by-die-see, het my twee keer knap na 03:00 wakker gehuil.

Die eerste keer het sy geskree my egter laat verbeel ek hoor 'n groep skoolkinders onder op die strand joel. En die speelding, of trooster, wat Mamma of Pappa ingespan het om kleinding te troos, was vir my weer die Meneer of Juffrou, in beheer van die groep, se fluitjie.

So toe is ek 'n aks na 03:00 van pure nuuskierigheid  op en uit om die gedoente op die strand gade te slaan. Toe is dit piknagdonker, en toe ek eers op en uit is, eien ek dit as die bure se baba. En toe ek kort daarna 'n selfoon opgespoor het om te registreer dit 03:07, was dit lankal verby – my dag by die see het begin.

Dit help ook nie ek gaan lê weer nie, slaap sal ek nie slaap nie, skarrel sal ek wel skarrel en dan is dit nie lank nie dan het ek almal in die tent wakker geskarrel, iets wat én in Klaradyn se geval, én in Annieka se geval 'n moewiese probleem is.

Ten eerste is Klaradyn al meer en meer soos ek, as sy wakker is, is sy nie halfpad deur die slaap en die mis en die weer nie, sy is wakker met 'n hoofletter –W en 'n uitroepteken aan die einde daarby: Wakker!

En Annieka is die teenoorgestelde. Sy kan 07:00 semiwakker word en verder voort sluimer tot 07:45, en dan weer lag-lag wegdommel in die newels van wakker en slaap tegelyk, tot iewers na 08:00.

So met 'n wakker Pappa, en 'n ewe wakker doggie wat wil carpe diem die oomblik as sy haar oë oopmaak, en 'n Mamma wat liefs nie gepla wil word tot die son haar nie teen 09:00 uit die tent broei nie, sit ons kort voor lank met 'n klein oorloggie op hande as ek enige een van die twee teen 03:30 wakker geskarrel het.

Maar vanoggend was dit nie die flinke skoolgroep en ewe flinke Meneer of Juffrou, overgesetsynde die bure se baba en trooster, wat my wakker had nie, dit was die bure – die pa, die oupa en die ouma wat ek elkeen duidelik kon onderskei.

En hulle is soggens laat eers op – ek het al baie keer my tweede koppie koffie agter die blad, die son het al enige iets na 06:00 sy kop op die horison begin uitsteek, dan kom die eerstes eers verby gestap ablusieblok toe. (En ek vermoed dis nie oor hulle so laat/baie slaap nie, maar so kort/min – die baba!)

So toe ek hulle eers hoor, toe weet ek dis laat, dit voel trouens vir my asof ek vanoggend verslaap het - hoe is dit moontlik!

Ek lê toe sommer vir die lekker 5 minuutjies in en oorweeg dit selfs om die dames te wek dat ons langs die strand kan gaan stap.

Gelukkig doen ek dit nie, want toe ek buite kom, toe is dit nog pikker as pikste nag donker, en van die bure is daar niks nie. Soos in letterlik niks nie. Beide tente en karavane en motors is weg – in die flou lig van die karavaanpark-nagliggie langs die pad onderskei ek net die twee leë groen staanplekke.

Ek spoor 'n selfoon op, Klaradyn wikkel gevaarlik sterk op haar matras:  dis 04:09.

Toe sit ek maar die ketel aan en gaan kry die rekenaar:  all up and nowhere to go.

Met my gedagtes ook nie – daar is niks dringend in my gemoed wat aanklop of hamer om uitgeskryf en vertel te word nie.

Dit alles oor ons in twee dae so bloedweinig gedoen het.

Saterdag was ons sleg, sommer hondsleg.

So sleg dat ons nie eens een keer enige een van ons 6 voete op die strand gesit het nie.

Ek en Klaradyn het darem agtemiddag 'n flou swemmetjie in die swembad deurgewerk – maar dit was bloot omdat ons moreel daartoe verplig gevoel het. Vir die res van die dag was ons óf in die 5m2  tent op die matrasse, of onder die 5m2 skadu op ons stoele.

Dit was heerlik! Ek het PG du Plessis se Fees van die ongenooides gelees, Annieka het gelees, en Klaradyn het geteken en gespeel en boeke deurgeblaai.

Middagete was die oggend se koffie se beskuit wat ons nie gehad het nie – ons het die oggend dadelik gepap-en-melk.

Aandete, het ek hier van 15:00 besef, gaan 'n probleem word. Met die uitsondering van drie pakkies 2 minute noodles niks, letterlik niks, om vir aandete te geniet nie – nie eers beskuit en koffie nie, want ons het die beskuit met middagete gesweep.

16:00 het ek geweet ek moet my gat lig en Pick & Pay toe voor hy toemaak. 17:00 was ek spyt ek het dit nie 15:00 gedoen nie. Maar teen 18:00 het ek almal in die motor geboender en ons het gaan uiteet.

Vir gister het ek vooraf 'n bewolkte reënerige dag afgewens – 'n mens wil nie Durban toe op 'n lekker dag nie, want dan mors jy tyd wat jy in die see kon deurbring. En ja, toe ek my kop die oggend by die tent uitsteek was dit duidelik – die son gaan vandag nie een keer skyn nie. En hy het nie.

Toe spandeer ons die hele oggend by die Umgeni River Bird Park – na 27 jaar steeds elke keer 'n belewenis.

Toe wag ons vir twee ure, wat meer soos drie ure gevoel het (en miskien selfs drie ure was) dat Pappa 'n doktor kan sien om te bevestig dat hy nie 'n kwaadaardige gewas op die brein ontwikkel nie maar wel vir 8 dae nou al slegs sinushoofpyn het. (Omie Doktor sê die pyn sal eers weggaan as ek die einde van die vakansie die rook en roet van Gauteng se PWV-gebied binnery – ek moet daarmee vrede maak.)

En toe tref ons die winkels. In besonder die boekwinkels.

Ons betrap Klaradyn dat sy eerder 'n uur lank aan 'n piepie sal knyp en deur die boeke sal blaai en kyk, as om toilet toe te gaan. Selfs al gaan, eers ek, en toe Annieka toilet toe – en dit terwyl ons uit die staanspoor weet die kind sit met 'n nood.

Ons wou nog so baie doen:  Mini Town, die slangpark, 'n pretpark, die krokodille, iets van die  Zoeloe-kultuur leer ken, die Maritieme museum op die hawe.

Maar helaas.

Die wolke lê dig, maar nie diep of dik nie.

Ek is nie van vermoede ons gaan vandag weer die pad vat nie.

Dit moet dan maar wag tot later, volgende keer. Volgende jaar miskien.

No comments: