Pages

16.4.11

Hou koers


Weliswaar nie kaalvoet en oor die Drakensberge nie, maar in die nuwe netbaltekkies deur Mayville se strate - dit is wat ons Voortrekkertjie daardie aand beleef het.

Dit was die jaarlikse fakkelloop waarvoor ons spesiaal haar Voortrekker-uniform moes aanskaf.

En met die kentekens en dinge is dit mos 'n gedoente wat enige graad 1’tjie opgewonde kan hê. Daar word allerhande lappies en wapentjies aangekoop, daar word gemeet en gepas en met spelde vasgesteek nadat die korrekte uitleg van 'n kaart afgekyk en nageboots is – te heerlik.

Oupa en Ouma, wat nog Mamma en oom Erik se khaki onthou, vra waar die uniform is toe ek met 'n gesellige skelrooi gholfhempie en byderwetse blou onderbaadjie daar aankom, maar tye het verander en dis niks anders nie as jeans wat die kleintjies moet aanskaf om hul uitrusting te voltooi nie.

Klaradyn wat week drie al kennis gemaak het met hoe die klere lyk, noem haar onderbaadjie nie eers 'n  onderbaadjie nie, maar haar “jas-gedoente”, so groot en belangrik is dit vanuit haar verwysingsraamwerk.

Ons het lekker gestap, en na afloop van die stap ook lekker saamgesing en erediens gehou.

Bg. was elders verlede kwartaal, maar ek het vandag eers op die foto’s afgekom en toe eers onthou ek het destyds iets op skrif gesit.

Na 'n volle kwartaal het Klaradyn nog elke Voortrekkerbyeenkoms, met uitsondering van die twee parades, geniet.

Hierdie komende kwartaal gaan ons nou vir ons eerste kenteken.

As sesjarige snap sy nog nie veel van homofone en homonieme nie. So as ek van die Voortrekkers praat, soos dikwels die vakansie in Natal gebeur het en ek praat van Retief en sy tydgenote, dink sy ek praat van hulle groep kinders wat Maandagaande vergader – dan pik sy verward rond.

Ek sal maar weer die boekie rondom die Voortrekkergeskiedenis wat 'n jaar of wat gelede aangeskaf het moet opspoor. Of sy iets daarvan op skool gaan leer, sal net die tyd leer.





No comments: