Pages

14.4.11

Ek het groot geword met die storie van die oom wat sy half jack agter in sy vrou se klerekas tussen haar onderklere weggesteek het – juis oor dit, so reg onder haar neus – by wyse van spreke, die enigste plek in die huis, die enigste plek op die hele werf was, waar sy nooit sy wegsteekdrank uitgesnuffel het nie.

So moes ek toe nou vir so ietsie meer as 'n maand iets vir Annieka ook wegsteek.

Agter in haar klerekas tussen die ondergoedjies of al haar slapies sou nie deug nie – die pakkie was te groot.

Tog was dit 'n klerekas wat ek op die ou einde gekies het, die een in die gastekamer waar sy somers haar wintersklere, en andersom, bêre.

En al vroetel sy gereeld daar, het sy niks te verloor in die reistas van my ma wat onder op die bodem van die kas staan nie. Want dis daar, in my ma se tas dat ek die keramiekbeeld wat ek vir haar verjaarsdag gekoop het, versteek tot ons terug is van vakansie.

Dis 'n groot verjaarsdag – een waarop die ene se 9 'n 0 word, en die tiene ook een meer word.

'n Groot verjaarsdag soos dié vra iets anders.

Ek sit af na 'n kunsgalery waar ek weet daar beeldjies is waarvan sy hou.

Ek hou nie van dit wat hulle het nie, dit wat ek in gedagte had nie, maar toe val my oog, en hart, en siel, en verstand, en beursie, en debietkaart, op 'n ander beeld – een wat dubbeld soveel kos as dit wat my reeds buitensporige groot begroting moontlik maak.

Maar ek kan nie anders nie.

Dis die beeld van 'n vrou, 'n gewone vrou, 'n ma, soos Annieka. Sy hou 'n hartjie in haar hand vas, 'n mens kan sien sy is moeg, afgemat en nie blymoedig nie – sy het 'n helse dag, of week, of maand agter die rug. Maar sy is regop, en agter by haar rug kom twee engelvlerke uit. En bo op haar kop is 'n ewe-keramiek stralekrans. Hierdie ma is 'n engel. Hierdie vrou, is 'n engel.

Hierdie vrou is die engel wat Annieka vir my en Klaradyn is.

Hierdie vrou is die Engel wat Annieka partykeer vergeet sy vir my en Klaradyn is.

Hierdie vrou is die Engel wat ek en Klaradyn so selde vir Annieka sê sy is.

So toe gee ek nie om of dit 'n mooi beeldjie is, of nie; ek gee nie om of hy onbekostigbaar duur is nie – die donderse beeld sê alles wat ek wil sê, alles wat Annieka nodig het om aan herinner te word. So toe koop ek die ding.  Met geld wat ek nie het nie.

Ander jare is daar twee en meer presente:  ietsies van Pa, en ietsies van Klaradyn.

Nie vanjaar nie. Ek en Klaradyn maak by die see vir Mamma iets van skulpies.

Vrydag toe is ons terug. Sondag verjaar Mamma. Sy is nog nie eers in die straat, Saterdagoggend op pad winkels toe nie, of Klaradyn kom vra om Mamma se present, waarvan ek haar by die see vertel het, te sien.

(Natuurlik, die oomblik toe ek haar vertel het wat dit is, en Mamma sluit by ons aan vanaf die badkamers, toe hol Klaradyn op haar af om te vertel wat sy vir haar verjaarsdag gaan kry – nie 'n beeld nie, want my kind het 'n sin vir humor – maar 'n ring!)

Ek maak toe maar met opwinding en bewing die present ook, en Klaradyn gee dit nie een kyk nie, sy gee dit nie eers en halwe kyk nie, sy trek dadelik los met:  “Maar Mamma gaan mos nie daarvan hou nie – ek gaan self vir haar iets anders maak.”

Ek is aan stukke.

Ek wonder skielik vir die eerste keer of Annieka wel daarvan gaan hou.

En Klaradyn is weg.

En ek gee nie om nie – wat my betref kan sy die heeldag stilspeletjie op haar eie speel.

Maar hier kom sy aan met 'n boksie en 'n foto. Sy wil iets daarmee vir Mamma maak.

En 'n uur later toe is dit wat jy daar bo gesien het, haar geskenk vir Mamma.

Ek dink dis lieflik. Ek weet nie of Annieka net maak of sy daarvan hou nie, maar sy noem dit ook lieflik.

Maandagaand tydens bedtyd laat val Klaradyn:  “Mamma oe en aa nie genoeg oor my present nie, Mamma oe en aa net oor Pappa se present.”

Wat nie waar is nie - toe Oom Hein kom inloer het, het Mamma trouens nie eers Pappa se present gewys nie, maar Klaradyn is aangesê om hare vir oom Hein te gaan haal dat hy kan sien. Haar slaaptydgesprekkie verklap bloot net hoe belangrik haar geskenkie aan Mamma vir Klaradyn is.

En dit alles, net sodat ek kan kyk of ek 'n foto op hierdie nuwe blog gelaai kan kry:



Klaradyn se skepping

Pappa en Klaradyn se skepping van skulpies

Pappa se Mamma-engel








No comments: