Pages

29.6.11

Nog bogtery



Vroeër die week is ek en Annieka en Klaradyn elkeen op ons knieë op die vloer in die buitekamer wat as die merrieperd se speelkamer ingerig word.

Ons het die woonstel vir agt jaar uitverhuur en dit het gehelp om talle gate toe te stop. Toe die laaste huurder einde verlede jaar na drie jaar uit is en die plek nie dadelik geneem word nie, het ons hom aan die mark onttrek.

Dit sou Klaradyn se speelkamer word, die speelkamer wat eers studeerkamer was, sal weer studeerkamer word en dit wat in daardie stadium deurgegaan het as studeerkamer (maar niks anders as 'n pakkamer was nie) sal dan die “hobby raum” word. (Dis 'n Duitse woord van my Duitse Juffrou vir 'n vrou – hou glo verband met stokperdjies – die kunsgoed word daar gepak, en die klei, en krale en mosaïekteëls.

Die buitekamer/tuinwoonstel het egter toe die pakkamer geword. April is ons see toe, so tóé het daar ook niks gebeur nie, die tweede kwartaal ook nie. Die Julie-vakansie word toe die vakansie waarin ons die bordjies gaan verhang.

En het ons dit nie verhang nie!

Die tuinier, wat wintermaande nie juis tuin het om te maak nie en allerhande los werkies in en om die huis doen, het toe misverstand rondom watter blik verf om te gebruik en ons stap een aand in op 'n sjokoladebruin speelkamer. Maar daar is nie tyd vir oordoen nie, die maatjies is al genooi en die vakansie het al begin. Buitendien moet die kind wat nie van sjokolade hou nie, nog gebore word, so waar wil jy nou kindervriendeliker as sjokolade kry!

Dit vat ons twee dae, twee volle dae, om die pakkamer semi-speelkamer te kry.

Maar was dit nou vir jou lekker – ek het vergeet ek en Annieka kan so lekker saamwerk aan 'n lawwe projek. En dis ook nou midde die opruim en opwas dat ons al drie op onse knieë die teëls  beginne skrop asof ons lewens daarvan afhang.

Ons het elkeen 'n skuurgrasserige staalwollerige iets in die hand en ons kry inderdaad  die teëls skoon. Elke huurder trek in en wil die plek na sy smaak uitverf – ons laat dit toe, maar nou sit ons met 'n stuk of ses kleurskakerings se spatsels op die vloere en spatlyste. Dis skraap en skrop en warm water en mop, vir 'n vale. En 'n lekkerte vir 'n soortgelyke vale. Natuurlik taan die kleinding se entoesiasme eerste, toe haar Pa, wat nie op hom laat wag nie en kies voor watter groepsdruk hy wil swig, s'n. Hy spoor haar 'n rukkie later op die punt om te begin grens in haar kamer op: haar sweetpakbroek, die pajamabroek onder die sweetpakbroek én  broek-vest (dis nou soos sy dit noem maar lang-onderbroek in haar pa se woordeskat) is nat, die drie, miskien was dit vier, stelle lang goed aan haar bolyf is by die polse rond waternat en speelkamer agtermekaar kry is nou glad nie meer lekker vir 'n sesjarige dogtertjie nie.

Ons trek vir haar uit en begin van vooraf aan met droë klere – sy kom sit by ons op die outydse skooltafeltjie, waar hulle eersdaags in die speelkamer gaan skool-skool speel, en speel met die een of ander ding terwyl ek en Mamma klaar maak wat ons begin het.

Later die aand, Annieka se rug is seer op plekke waar sy nie geweet het 'n rug kan seer wees nie, sit ons om die kombuistafel en drink 'n wyntjie. Annieka laat val dat sy ons vroeër die dag op ons knieë in die speelkamer so gekyk het, en nie anders kon as om te dink dat nie een van die rykgatte (Klaradyn praat van ryk-gaaate) en hul mans ooit as te nimmerste ooit so saam met hul kinders op hul knieë sal gaan om 'n vloer te skrop wat in geen jare so deeglik geskrop is soos die oggend nie.

En hoewel dit miskien ryk-gaaat genoeg is dat die Mamma nie meer hoef te werk nie en sy al haar tyd in die malls kan spandeer terwyl die twee kleintjies in goeie hande is tot die au pair hulle gaan optel, en hoewel die posseël vir 'n erfie in die Pretoria-estate verruil is vir iets groters op 'n kleiner erfie nader aan Pappa se werk en die lughawe, sê ek vir Annieka:  “Ja, my vrou, jy is reg, hulle sal beslis nie, die rykdom om dit te kan geniet, het hulle nie, hulle is daarvoor te arm. Is ons nie gelukkig nie!”

En so is die speelkamer toe vandag ingewei met 'n skoolmaatjie van kleuterskooldae wat kom speel het.

Die kamera se battery was pap, so ek kon nie glanstydskrif-foto’s neem voor die tornado daardeur getrek het nie – en teen die tyd dat die battery gelaai is, toe is dit ook meer as net 'n tornado wat verbygegaan het, 'n orkaan uit die weste en 'n tsunami uit die ooste.

Die mure kort nog aandag. Aandag, soos in goed om teen die kindervriendelike bruin te hang, maar dit sal kom.





28.6.11

'n Bietjie baie bogtery

Ek verbeel my dit was Pieter W Grobbelaar hier in my kinderdae twee boeke die lig laat sien het, 'n Bietjie Baie Bogtery, opgevolg deur 'n Liewe Lawwe Lollery. Die boeke het in my 'n voorliefde vir alliterasie, jare voor ek sou  leer wat dit is, gekweek.
Van gister af het 'n paar klein los gedagtetjies wat ek wil aanteken, maar elke keer betrap ek my dat ek wonder wat dit dan nou is wat ek wil verwoord, en dan kom ek by die antwoord uit dat dit sommer 'n bietjie baie bogtery is.

Want dis hier waar ek moet aanteken, voor ek vergeet, dat Klaradyn dan nou na 6 maande in graad 1 haar eerste Engelse sin geskryf het, uit haar eie en sonder enige aansporing hoegenaamd.

Ons ry devideoteek (amper soos biblioteek en videoteek, jy neem net DVD’s, en nie boeke of video’s nie, daar uit) toe en Klaradyn is soos altyd aan die totter met 'n pen en papiertjie. Die volgende oomblik sê sy:  “Lees bietjie hier.”

Ek bestuur motor en my aandag moet op die pad wees, maar ek wil ook nie die kind se entoesiasme laat taan nie, so ek laat maar toe dat sy 'n stukkie papier, skaars groter as posseël, in my hand prop.

En as 'n mens nou eers die papiertjie geneem het, raak die verantwoordelikheid soveel groter, want nou moet jy sorg dat jy reg lees – jy wil jou kind se selfbeeld bou, en kan dit nie wil afbreek deur verkeerd te lees nie. En enige graad 1’tjie se spelling kan hier in die begin nogal 'n uitdaging wees.

Ek lees, en ek lees weer – maar daar breek niks deur nie, dit maak nie sin nie. My oë beweeg verbouereerd na Klaradyn en die afwagting in haar oë noop my om onmiddellik maar weer te probeer.

Dis eers toe ek in Engels begin dink dat die betekenis deurskemer:  Merie mie Plis.

Ek vermoed dis vroeër die middag se gesels rondom Guinevere, Arthur en Lancelot (wat Klaradyn die heeltyd Dance-alot noem) wat Klaradyn in sowel 'n Engelse as 'n huwelikstemming het.

Ek het lankal vergeet hoe dit is as 'n kind se lees- en skryflus inskop, en net Klaradyn wat my 40 jaar later weer daaraan kan herinner. Ry ons, begin sy vrae vra oor wat sy raak lees, sit ons iewers in 'n inkopiesentrum, is daar skielik allerhande vrae wat my en Ma se koppe en oë in alle rigtings het om agter die kap van die byl te kom. Selfs die ontbyttafel met sy papboks sorg vir vrae. Te lekker.

Ek onthou hoe ek as jong leser verwonderd was oor die “TOILET”-bordjies wat hulle orals aangebring het. Ek het selfs uitgewerk dat daar een of ander landswet was wat mense verplig het om aan te toon dat daar 'n “TOILET” in elke nuwe winkel en gebou, wat gebou word. Dis eers toe ek my teorie met my ouers deel, dat ek hoor dis “TO LET” en nie “TOILET” nie.

Die ander stukkie bog wat in plek moet kom is die bogtery in die kombuis. Natuurlik help Klaradyn gereeld in die kombuis, maar dan is dit help soos 'n baie klein enigste kind help – die belangstelling wyk so vinnig en gou soos mis voor die son en jy sit met 6 onafgehandelde takies en 'n baie deurmekaar kombuis met meel en eier tot teen die dak.

Nie gister nie. Ek het uiteindelik krag gehad vir vers twee van die hoenderpastei waarvoor ek dag een nie kans gesien het nie en toe maar besluit het op pap en wors:  soetpatats, boereboontjies en gestoofde vrugte.

Die pakkie skilferkorsdeeg was ook ontdooi en ek roep Klaradyn om te kom help.

Die kind is heel behendig met 'n koekroller, maar die lekker het gekom by die uitsny van patroontjies om die pasteie te versier. Die een is afgerond met 'n Pappa-beer, Mamma-beer en Baba-beer. Rondom die ander een is dit 'n jammerte dat Valentynsdag al verby is, want met al die hartjies wat die betrokke pastei oortrek, sal dit geskik wees vir 'n Valentynsdagmaal. Die derde pastei het 'n groot Gemmerbroodmannetjie-vroutjie op. Klaradyn wou haar vlerke aansit dat sy 'n engel word, maar toe is die deeg net mooi klaar en sal die vrou sonder haar vlerke in oond beland.

Maar steeds is dit het einde niet:  toe skil sy die patats en die ertappels en werk met die boontjies en dis net 'n aardigheid.

Kom aandete, toe eet sy van alles behalwe die gestoofde vrugte – want sy het dit nie help maak nie.



Intussen is die speelkamer in gereedheid gebring en staan ons op die vooraand om ons eerste legkaart te bou. Klaradyn het al baie gebou, Mamma ook, dis Pappa wat nie te gewoond aan die goed is nie.

Ek en Annieka het een jaar fluks gevorder met een, maar toe vreet haar babahondjie twee van die stukkies wat op die grond geval het, op. Die hond is seker al agt jaar oorlede, van ouderdom – wat 'n aanduiding behoort te wees van wanneer laas ek/ons legkaart gebou het.

Hierdie een, die voorblad van Maurice Sendak se Where the Wild Things Are, staan bekend as 'n familie-legkaart. 'n Familie-legkaart, sê hulle oor die finale produk so groot soos een van 1000 stukke is, maar dit het net 700, bietjie groter, stukkies. Hoe lank dit ons gaan neem, weet ek nie. Ek vermoed die vakansie gaan te kort wees.

As gesin kon ons nog nie daar uitkom nie. Pa het al 'n geruime tydjie getotter, Klaradyn het eenmalig vir sowat 7 minute en 13 sekondes by my aangesluit en ek vermoed Mamma gaan redeneer die kamer waar ons die bouwerk doen is te koud na haar sin om enigsins by my/ons aan tye sluit.

Maar die hoop beskaam nie.

Ons ander projek – ek sal moet langverlof neem (ai, waar is die dae van langverlof) is 'n mosaïek-takie. Ook ek en die ellendige Boeremark. Want daar is hierdie tannie wat deesdae met die oulikste vetplantjies daar uithang. Littoppies en die klas van ding.

Toe wil ek iets begin.

Maar wat weet ek nie.

Toe wil ek die goed in my ma se ou broodpanne aan die groei hou. Toe wil ek die panne met die hele gesin se insette aan die hand van mosaïek opdollie. Ons sit toe ook af mosaïekwinkel toe maar dit wat ek van afval- en uitskot- en oorskotstukkies beplan het, se kleurskakering welgeval toe nie die hele gesin nie. En toe ons uiteindelik die kleure het wat almal pas, toe pas dit alles en almal behalwe Pappa se beursie.

Maar as dit klaar is, gaan dit lieflik wees.

So as ek nie so pligsgetrou by die blog uitkom, soos 'n mens redelikergewys van 'n man verwag wat met vakansie is nie, dan verstaan 'n een en 'n elk hopelik voortaan: al die bogtery en lollery hou my net te besig.

27.6.11

Hartkos


Toe ek nog op skool was, en dit was in wat bekend staan as die oertyd, kon jy dit gevries koop en in die oond prop; so ek laat my nie vertel Woolworths sal nie in een-en-twintigste-eeu iets soortgelyk hê nie.

Jy kan, as jy dit dan nou self wil maak, sommer twee gaar hoenders by Woolies koop, 'n pakkie of blikkie hoenderroomsop daarby, straks iets met sampioene ook, en die klaar bereide skilferkorsdeeg. En dan kan jy sê jy het self jou eie hoenderpastei gemaak.

Of, as jy van kosmaak hou, kan jy dit op my manier doen.

Daarvoor moet jy ongelukkig 'n plaashoender in die hande kry. Ek is Saterdag op die koudste naweek tot op datum hierdie winter 06:30 Boeremark toe – dit terwyl Annieka en Klaradyn nog inlê en al wat ek uit een van hulle kry, is:  “Bring vir ons elkeen melkkos saam.” En of dit my nou moes oortuig om wel die melkkos te bring, bygevoeg ook:  “Ek is lief vir jou!”

Maar ek het die melkkos gebring – nog warm – omdat ek eers my eie aankopies in die motor gaan plaas het en toe die girls se ontbyt gaan aanskaf het.

Ek het my twee hoenders gekry, twee plaashoenders wat my teen R22-00/kg net onder die R150-00 gekos het – so jy kan jou vir jouself uitwerk hoe groot hierdie hoenders is.

Saam met die hoenders het ek ongelukkig ook 4 kg wildsvleis, die vark en spek om daarby in te werk en nog 'n een en ander om gaar te maak ook gekry. Maar dis vakansie, dis winter, en 'n vriend laat weet hoeka gister per SMS:

Winterkos is hartkos. Dis sielkos. Warm geure:  kaneel, naeltjies, komyn en kardemom. Ek smul aan melkkos. My ouma Stien se resep met regte bottersnysels.

Op my hart het die winter hoenderpastei kom lê. (En beesstert. En eend. En wildspastei... en ek hoop die vakansie is lank genoeg, my beursie dik genoeg.)

Ek het seker so 3,5 liter aftreksel berei vir die kiep om sagkens in sag te word. 'n Bottel droë witwyn waarvan ons vroeër die week net 'n kelkie uit gehad het. Toe Annieka my vra wat sy vir my van die winkel kan bring, toe vra ek vir wyn. Sy kom toe gelukkig/ongelukkig met 'n soeter wyn hier aan – toe drink ons dit maar aan tafel op. Naas die droë witwyn ook water. Hierin het ek opgekook en laat prut ook twee vet wortels, twee vet uie, twee vet huisies knoffel, twee stingels seldery wat in die yskas was, die laaste lourierblare (seker 6 of 8 kleineriges), 'n hele paar (8 of 10) peperkorrels, dieselfde hele paar korrels wonderpeper/all spice en selfs 'n paar meer as 'n hele paar naeltjies.

Ek sit nie 'n hoender in die pot of in die oond, sonder naeltjies nie, sonder te veel naeltjies nie. My Ouma wat in 1900 gebore is, het seker een keer 'n week gebel om te sê ons moet by haar stop, sy het vir ons 'n hoendertjie in die oond gesit wat ons moet kom optel. En Ouma se hoender het, tot sy op 85 ouetehuis toe is, altyd te sterk aan die lekkerste naeltjies geproe. Ek sal selfs net 'n enkele naeltjie by 'n hoenderresep wat geensins na naeltjies vra nie, gooi, net in liefdevolle en tere herinnering aan Ouma van Wyk.

Ek het ook 'n halwe teelepel foelie ingegooi. Ek het nooit geweet wat die foelie is waarvan die kookboeke praat nie. En toe ek so jaar of wat gelede uiteindelik foelie in 'n winkel raakloop, toe koop ek summier genoeg dat dit my sal hou tot ek eendag self ouetehuis toe gaan.

Ander ken foelie dalk goed, maar net in Engels, mace. Dit word van dieselfde saad/peul as neut gemaak. Maar waar neut gerasper word van die middelste en binneste kern of pitgedeelte, is foelie die fyngemaakte dop op buitenste deel.

Ek het ook 'n teelepel of wat sout ingegooi, maar nie te veel nie – hierdie amper 4 liter aftreksels gaan nog afkook tot onder 'n liter, 750 ml as jy wil, en dan wil jy nie las hê van 'n gekonsentreerde sout smaak nie.

Toe die aftreksel goed gekook en lekker lank geprut het – ek, wat nie haastig is nie en met vakansie is, het dit vir ure in die prutpot gehad terwyl ek en Annieka Klaradyn se speelkamer geverf en ingerig het. Toe die groente en die goed, goed sag was, het ek die aftreksel deur 'n sif gegooi en die groente eenkant gehou.

My hoender, die tweede een is maar vrieskas toe – my pot is te klein, is toe van vergeet in die prutpot. Die oomblik toe die hoender sag is, toe het ek hom uit om af te koel.

En dis wat so lekker is van my Boeremark-hoenders, hulle is groot, maar hulle gewig lê nie in hul bene nie, maar in hul vleis. En die hoenders is nie so vet nie, maar so groot. Ek het nie eens nodig gehad om vet af te skep nie – of erger nog, alles te laat afkoel sodat die vet bo-op kan stol nie – daar was die minimum vet.

My aftreksel, wat nou intussen hoenderaftreksel geword het, is nou in 'n pot op die stoof gesit. Ek het die uie en knoffel van vroeër weer bygegooi, die hitte hoog gesit en begin afkook. Ek het in ‘n stadium gou vier eiers daarin hard gekook.

Die hoender is ontbeen en in blokkies gesny. Jy moenie die hoender so kook dat dit in drade van die been kom nie – jy moet nog kan sny aan die vleis.

Toe ek reken die aftreksel is seker nou met die helfte ingedamp, het ek die groente van die eerste aftreksel weer uit gehaal. Ek het toe twee eierwitte daarin posjeer (die geel is aan die einde nodig). Toe ek die eierwit uit het, toe gooi ek 'n halwe koppie (so min of meer) sago in.

En toe die sago net mooi deurskynend is, toe is die aftreksel ook net mooi onder 'n liter, nader aan 750 ml.

Dit is toe verdik met die eiergele waarby 'n halwe suurlemoentjie se sap ingeroer is.

Op hierdie punt het altyd te veel sous en is die twee eiergele te min. Maar ons leef in die een-en-twintigste eeu, ek gaan netnou klaar bereide skilferkorsdeeg gebruik, so waarom sukkel – ek maak die sous toe 'n knertsie dikker met 'n knertsie mielieblom.

Intussen het ek 'n lekker dik skyf gekookte ham in klein blokkies gesny en by die hoendervleis ingewerk. Ook die gekookte eiers, wat ek in skywe gesny het, en die geposjeerde eierwit.

Toe alles gemeng is, het ek geproe vir sout, en bygevoeg. Ook peper. En hierdie keer, die binnekant van die saad – fyn neutmuskaat.

Alles is pasteipanne toe. Die skilferkors is op en versier en blink geverf met eier en melk. Ek maak klein pasteie dat ek kan vries vir ons 3, so ek het nie 'n pasteitregter of skoorsteen in nie – ek maak stoomontsnappingsgaatjies in die deeg en basta met die res.

Toe ek hiermee klaar is, en dit was een vet lekkerte, was ek te gatvol kos gemaak om nou nog twee groentes te kook én gestoofde droëvrugte soet en geurig te kry. Dit terwyl Klaradyn se speelkamer oor die hond se stert is, maar dit Ankie se rug gaan breek as sy nou alleen moet aangaan terwyl ek my in die kombuis afsonder.

Toe braai ek wors en maak mieliepap en sous.

Lekker wildswors met baie koljander, pap soos ek daarvan hou en 'n propperse sous (in plaas van 'n blikkie tamatie-en-uiesmoor).

Die vakansie is lank, die winter lekker, en my pastei gaan more tien teen een geuriger proe as vandag, so waarom nie wag tot more nie!

Dit is en bly soos Hein sê:  Winterkos is hartkos. Dis sielkos. Warm geure:  kaneel, naeltjies, komyn en kardemom.

Foelie en neut daarby.

Die foto's is nie my pastei nie, ek het dit wikimedia onder commons gaan soek.




26.6.11

Mooi, my kind, ons is trots op jou

Ai, my kind het met so 'n mooi verslag van die skool gekom. Dit maak my nederig, beskeie, trots, lief en sommer elke woord met 'n positiewe betekenis, assosiasie en konnotasie.

Dis net 4’s waar jy kyk – jou oë duisel skoon daarvan. ('n 4 in vandag se dae, beteken die kind het die een of ander iets “uitstekend bereik”; 'n 3 beteken “bereik”, 'n 2 slegs “gedeeltelik bereik” en 'n 1 dra die boodskap dat die kind iets “nie bereik” het nie.)

En of dit van slimheid, skranderheid of louter harde werk is, sal ek nie weet nie. Is dit haar eie toedoen, die juffrou se harde werk, of die insette by die huis? Hoe sal ons weet wat alles saamwerk en in welke verhouding elk 'n bydrae lewer, maar feit bly staan, die resultaat wat gister hier aangekom het, is genoeg om enige een oor te wil laat loop van trots.

Die 11 goedjies onder Geletterdheid takseer die juffrou almal as uitstekend. Dis nou goed soos woorde, sinne, lees, praat, skryf, en selfs lúister (van alle dinge). Ek wens die juffrou wil haar luisterassessering een keer eerder bietjie hier by ons aan huis kom doen. Sondagoggend as ons wil regmaak vir ry, sal 'n goeie tyd wees wat heel ander resultate sal oplewer.

Die kommentaar maak gewag van watter goeie spreker Klaradyn is en hoeke goeie woordambag sy ook op papier oor beskik. Dit stel my gerus – die kind is dan duidelik nie in die hospitaal omgeruil nie, 'n mens kan sien beide haar ouers is talemense.

Gesyferdheid is ook net 4’s, met uitsondering nou van 'n enkele opteltaak wat 'n 3 opgelewer het (met die aftrek het dit weer goed gegaan). Dit moet sy alles van haar Ma hê; my kop is vir somme doen geensins bedraad nie.

Wat die gesyferdheid betref, had Klaradyn die huis een aand op hol, en sê ek nou “die huis” dan is dit sommige partye meer as die ander. Sy het dit die betrokke aand toe mos te vertelle dat sy vandag 'n 2 gekry het vir somme doen omdat sy nie goed genoeg in drieë kon tel nie, en daar is nog 'n spul 1’s ook wat in somme gaan kom.

Nou weet ek aanvanklik nie of 'n 2 kort duskant baie goed, of knap anderkant vrotsig, is nie. Maar ek onthou dit soos gister dat ons hoof, 'n Meneer Coetzee, soggens van klas tot klas gegaan het, met 'n stophorlosie, en dan moes ons ons tafels vir hom opsê. Waar sy teenwoordigheid, en die van die stophorlosie, sommige kinders miskien kon aansppor, het dit op my presies die teenoorgestelde uitwerking gehad – dit het my so verbouereer en gespanne gelaat dat ek nie 'n woord kon uitkry nie. (Ek is tot vandag toe nog oortuig dat dit hoeka hierdie besoeke van die hoof as ons moet tafels opsê, wat my, wat somme betref, lewenslank geskaad gelaat het.)

So as my kind vassit met veelvoude van iets opsê, kan ek verstaan en het ek empatie.

Maar toe wil sy die goed oefen om weer vir Juffrou te kan doen, en ek verbeel my die kind het daardie aand nie onder Mamma se gebed nie, maar haar eie drie-maal-tafel, aan die slaap geraak.

My gene staan tien teen een pa vir daardie 3 (wat toe darem nie 'n 2 was nie) in somme. En wat van die 1’s geword waarmee sy te koop geloop het, sal ek ook nie weet nie – ek sweer dit was net om te kyk hoe goed sy die hele gesin, tot skoon die honde ook daarby ingesluit, kan opklits.

Die kleintjies se laaste vak is Lewensvaardighede of Lewensoriëntering. Hier oorheers die oortreffende trap ook. Miskien is die vlytigheid met die mond, ek praat van Kletskous-Klaradyn, bydraend tot die een 3 wat miskien verband hou met selfdissipline en gesels as daar eintlik stil gebly moet word.

As die dominee sê ons sing Psalm 119 vers 1,3 en 5, dan kan ons bly wees Klaradyn se ouers, ten minste een, trek nie weg met Psalm 118 nie. En as daar gekonsentreer is om wel 119 te onthou, dan volg vers 2, en nie vers 3 nie, op vers 1.

Help ook nie jy vra dat ons na 'n liedjie se woorde moet luister nie; nog voor die koorgedeelte vir die eerste keer ingeskop het, is ons gedagtes al op 'n ander kontinent.

So as die kind se konsentrasie wyk en haar gedagtes 'n eie koers inslaan, is dit seker te verstane.

Maar ons werk daaraan.

Ek hou nie van geskenke uitdeel as die rapport goed is nie, so om iets te loop koop om geluk te sê, doen ek nie. Wat nou gemaak as die kind eendag ten spyte van harde werk met 'n swak rapport by die huis kom!

Ek is tevrede met Klaradyn se beste, of dit 'n 2, 'n 3 of 'n 4 is. En die feit dat slegs 4’s met 'n enkele 3 hier en daar is, is 'n bonus.

Ek is van mening sy het haar beste gelewer, so ons het Vrydag gaan shop.

Mamma, wat ook reken dit was 'n moeilike kwartaal waarin die meisiekind net haar beste gelewer het, het gesorg vir die een of ander pop en nog 'n een en ander.

Ek het beweeg na opvoedkundige speelgoed wat 'n mens tot 99 nog kan besig hou.

Op die ou einde kon ek nie kies nie, wou ek nie kies nie, en is ons weg met 4 intellektuele uitdagings:

Architecto en Tangramino van Foxmind

Color Code en Camelot JR van Smartgames

Lees gerus oor elkeen na. Dis 'n ieder en ‘n elk 'n uitgawe wat elke sent die moeite werd is. Of jou kind nou sit 1’s, 2’s, 3’s of 4’s.


As ek kon het ek elke maand iets van elkeen van hierdie twee speelgoedvervaardigers aangeskaf. 'n Mens raak daaraan net nie uitgespeel nie.

Daar is nog een iets wat ek in die pyplyn het om te koop. 'n Afrikaanse kinderboek oor musiek wat ek hierdie week nuut op die rakke gesien het. Dit het 'n CD ingesluit en dek musiek en musiekinstrumente oor alle tye en lande en style.

Die idee was om dit Vrydag vir die viering van die einde van die kwartaal aan te skaf, maar toe weer sien, toe is ons in die speelgoedwinkel.
'n Mens is net een maal jonk, jou kind net een maal in graad 1, so waarom nie.









21.6.11

My beker loop oor

Ek hetnetVIRGEET
Ja, toemaar wat!

Het ek en Annieka nou vanmiddag op hierdie Dinsdagmiddag, met die motor in die koelte parkeer, heel laf en uitbundig vir hierdie twee sinnetjies gelag!

Vir my en Annieka om saam op 'n Dinsdagmiddag in 'n motor onder 'n koelteboom te sit, is uiters raar.

So jaar of wat voor haar geboorte het ons 'n ruk lank die gewoonte gehad om op 'n Dinsdagmiddag saam te gaan uiteet. Dit was net na die boek, Tuesdays with Morrie, uitgekom het en ek het gepraat van Tuesdays with Ankie en sy van Tuesdays with Hans. Roekelose middae was dit gewees, onverantwoordelik en vreeslik ongebonde.

Maar dis ook al 8 jaar gelede. Tussen toe en nou het baie water in die see geloop, waters waarmee die meul nooit weer sal maal nie.

Klaradyn is gebore en daarmee saam het 'n nuwe roetine en struktuur gekom. Twee middae na 15:00 doen Annieka vier middae se werk, twee middae doen ek vier se werk. Die vyfde middag van die skoolweek wat oorbly, gaan dan na dié een, dan na die ander. En die een wat nie laat by die skool bly nie, tel Klaradyn op.

Net iemand wat die onderwys nie ken nie en dink dat dit vir almal 'n halfdag-werk is, sal nie weet welke nagmerrie dit is om so 'n reëling te maak werk nie; maar ons moet maar, in belang van ons kind. (En om dit te maak werk, is daar eintlik net een ding wat jy kan doen – die drie ure waarop jy tussen drie-uur en sesuur uitgemis het deur dit met Klaradyn deur te bring, moet jy vanaand, as jou normale skoolwerk van na ete afgehandel is, inhaal.)

Vanjaar is Maandag en Dinsdag my middae met Klaradyn, Annieka neem die volgende twee dae, en Vrydae is ons beide meestal by die skool en weg van ons kind.

Dan werk dit ook so dat my middae die “buitemuurs” het. Maandag die Voortrekkers, en Dinsdae die Dramaklasse by Tannie Lorraine.

Daar is seker 8 dramajuffrouens tussen ons en Tannie Lorraine, maar nie een so lief en dierbaar en so vol ondervinding soos Tannie Lorraine nie – dit is al so vandat ek in 1988 in Pretoria aangekom het, en dit gaan vir lank nog so bly.

Die gevolg is dat ons oor die berg na die ander kant van die stad en 'n ander klimaatstreek moet ry om by Tannie Lorraine uit te kom. (Mense sal sê ek lieg, maar dis 'n feit – dis beslis warmder anderkant die berg as aan ons kant. Die Kapenaars sal weer lag as hulle sien watse puisie op die landskap ons voormalige Transvalers en Vaalpense aan hierdie kant van die rivier as 'n “berg” aanspreek.)

So Dinsdae met jou wederhelfte is 'n hele paar jaar nou al uit soos koekies in 'n weeshuis.

Dis nou tot vanmiddag, toe Annieka lus voel vir koffie en koek saam met haar man. Ek stem in, maar van wegkom as die skool sluit, is daar nie sprake nie – eers bykans 'n uur nadat die klok gelui het, stap ons na ons onderskeie motors toe. (En oor minder as 'n uur moet ek Klaradyn klaar weer in die kar en anderkant die tolhek hê vir haar dramaklas.)

Klaar die koffie weggesluk en nie gewag vir die koppies om koud te word nie, besluit ons dat hierdie ongewone kuier nou so lekker was, ons gaan sommer altwee drama toe, dan werk ons in die kar op ons skootrekenaars.

Maar daar was 'n slang in die tuin van Eden en dinge realiseer nie soos ons gehoop het nie – toe ek teoreties gesproke klaar laat is om die langpad drama toe aan te pak, gooi Annieka nog brandstof in haar motor. Ek kan beslis nie vir haar wag, Klaradyn by die naskoolsentrum optel én dink ons gaan betyds wees vir die groepsklas drama nie.

Ek bel en ons kanselleer die afspraak tot ons beide se teleurstelling.

Ek tel Klaradyn op en 27 minute later, 1 minuut voor die aanvang van die klas, stop ek by Lorraine se huis. En ek gooi amper die motor in 'n rustige voorstedelike systraatjie om, want wat is die registrasienommer agter op die motor wat presies soos Annieka s'n lyk? Dis nooit anders nie – Annieka het reguit deurgeskiet Lorraine toe en oomblikke voor ons hier aangekom.

Pappa én Mamma én Klaars straal. Ek en Annieka hou Klaradyn dop hoe sy letterlik dramaklas toe hardloop, nie oor sy dink sy is laat nie, omdat drama klas iets is waarheen sy week na week hardloop, waarvan sy week na week terugstap. Is dit nie wonderlik en die beste kompliment vir Lorraine nie – kinders hárdloop klokslag na haar klasse toe, en stáp traag daarvan weg.

En daar sit ek en Ankie toe nou ons kuier voort.

Die juffrou het KIaradyn se baie klaswerkboeke huis toe gestuur vir insae en teken voor die einde van die kwartaal. (In 1970, toe ek in graad 1 was, het ons nog tot Augustus klei gespeel en geoefen om vetkryt vas te hou!)

Ek is trots op my kind se skool, én op my kind – maar dis soos ek vir Klaradyn in die kar sê toe ons kom:  “Dis pragtig my kind, maar dan weet jy net so goed soos ek dat, was dit 100 maal minder pragtig, sou dit nog steeds vir Pappa die pragtigste van pragtig gewees het, net omdat dit joune is.”

En dit ís natuurlik ongelukkig ook so. Of sy nou 6 reg het, en of sy nou 6 verkeerd het, dit is my om het ewe – dis my kind, en daarom is dit goed genoeg en skiet die knope van my hemp af, so swel my bors van trots.

Dis dan toe nou ook hier, in een van die boeke, dat Klaradyn besluit het:  as Juffrou allerhande boodskappies in my boek kan skryf, dan mag ék tog sekerlik ook maar.

Soos alle onderwysers in die fase waarin Klaradyn haar nou bevind, is die juffrou lief daarvoor , en is dit trouens haar werk, om boodskappies te skryf. Hierdie boodskappies is vir Klaradyn belangrik want ons het einde verlede kwartaal gesprek gevoer oor heelparty van die juffrou se boodskappies.

Ek kan regtig nie aflei wat die dag verkeerd gegaan het nie, maar Klaradyn het seker aanvoeling gekry dat hier nou weer een daai boodskappies gaan kom waaroor sy en Mamma en Pappa later oor gaan gesels, toe spring sy die juffrou voor, gryp haar rooi potlood en skryf in dringende dik rooi letters (die meeste van hulle nog hoofletters ook) “EK HETNETVIRGEET.”

En wat kan die stomme juffrou nou anders as om te reageer met: “Ja, toemaar wat.”

Hoe sy vandag reageer het toe Klaradyn daarop sou aangedring het om in drieë tot by 30 te tel, weet ek nie. Sy laat val gisteraand in die bad dat sy die oggend 'n twee gekry het vir tel in drieë. 'n Twee is nie baie goed nie en daar moet nou weer geoefen word, sy wil dit beter kan doen. Daar word toe geoefen en soos ek dit het, is sy vanoggend vroeg na die juffrou toe om oor te tel, sodat Juffrou kan hoor sy kán dit doen, en dan gaan om die 2 'n beter punt/simbool te maak.

Waaraan die onderwysers (ons onderwysers) nie alles uitgelewer word nie!

Beide rooi sinnetjies is dalk glad nie so snaaks soos dit vanmiddag onder die malse omstandighede vir my en Annieka was nie, dis dalk glad nie eers snaaks nie, maar ek en Annieka het onbevange gelag toe ons onself die gedagtes agter die stukkie kommunikasie in die boek indink – en ons ken ons kind, ons weet hoe dit sou geklink het as sy dit moes sê en nie geskryf het nie; ons sien ook hoe span sy haar letters in dat dit kan lyk soos wat sy wil klink.

Toe ry ons huis toe en lag net nog verder. Klaradyn spring op die trampolien, deur 'n hoepel wat sy soos 'n springtou hanteer.

En daar wonder ek of ek dit nog enigsins sal kan doen – my logge lyf deur 'n hoepel kry. Klaradyn skree na haar ma om te kom kyk wat vang haar pa aan. En toe Annieka eers sien wat ek regkry, wonder sy of sy my dit sal kan nadoen. En kort voor lank slaan ons amper vuis oor gebruiksreg van die hoepel.

Wat maar net weer eens bewys dat 'n mens nie geld nodig het om gelukkig te wees nie.

Gromm, Blaff of Miauww se variasie op 'n tema van E se Duitse worsiesop



Die naweek is dit toe nou ook sulke tyd en ek maak die sop.

Sommer duwweld.

Iewers deur die loop van die week het Annieka laat val sy moet in die komende week 'n pot sop vir die tafel waarby sy sit skool toe neem om te geniet.

En in ons huis werk dit maar so:  Ma sê “spring” en Pa vra “hoe hoog.”

So toe ek vra hoe hoog sy wil gaan, kom die antwoord dadelik:  “Daardie Duitse worssop van jou.”

Ek besluit toe net daar en dan om dan sommer vir my tafel ook 'n lekker kuier los te kook met 'n dubbeldosis van Esti se sop (want my sop is dit beslis nie, ek ploeg met 'n ander vrou se kalwers as ek dit as my sop uitgee.)

Saterdag sit ek spesiaal af na die Duitse slaghuis – hulle het 'n rype en wye verskeidenheid worse waarvan ek kan insit. In plaas van 1 kg frankfurters, kry ek nou nagenoeg 250 g van vier verskillende worse elk.

Ek oordink ook die groente. Die resep vra vir 1 kg groente. Die sop is lekker met 1 kg vars groente, net so lekker met 1 kg chunky bevrore groente. Maar die klein en in blokkies gesnyde groente is eweneens nie te versmaai nie. Esti was lief om 'n pak bevrore stir fry groente te gebruik. En ek het self al sukses gehad met 'n pak vars gesnyde roerbraai-groente.

Op die ou einde besluit ek dis Vadersdag, bevrore groente sal dit daarom wees, en oor ek die resep twee keer aanmaak kies ek twee verskillende pakke roerbraaigroente.

Sondagaand besef ek dat ek Maandag pouse nie beskikbaar gaan wees nie. Annieka sal haar helfte dan maar Maandag neem, dan eet my tafel Dinsdag.

Ek verdeel die sop baie regverdig in twee potte, elkeen tot oorlopens toe vol geur en smaak.

Vanoggend toe ek die sop in die kom skep waaruit dit bedien gaan word, weet ek dis genoeg, maar ek dog toe “laat ek tog maar die helfte uit my pot ook bygooi – dis altyd lekker om te weet jy het ruim voorsien.” En in elk geval is een netnou skaam om die laaste sop te skep, maar as daar hopeloos te veel is, en daar bly oor, dan voel dit nie vir die persoon wat laaste skep, hy maak die pot nou leeg nie.

Ek kom teen die einde van pouse by die personeelkamer in, en kry net komplimente.

Annieka stel voor ek kry my tafel om ook te kom eet, daar het dan nou so baie oorgbly.

Maar ek besluit daarteen – ons het Dinsdag aan my tafel 'n verjaarsdag, dan is my sop sommer die verjaarsdagete ook.

So is pouse verby, en waar ek kom, wens mense geluk met die lekker sop. Ek word op die skouer en blad gedruk, my hand word geskud.

Na skool beweeg ek gou kombuis toe om seker te maak Annieka het wat oorgebly het, in die yskas gesit.

En ek begin hond se gedagte kry toe mense wat in tien jaar nie aan Annieka-hulle se tafel gesit het nie, my in die doodsnikke van die skooldag spesiaal kom bedank en lof toeswaai. En dan ek praat nie nou van een mens nie, daar is drie wat die moeite doen om my op te soek.

En dis nie net dat Annieka vergeet het om dit in die yskas te sit nie, sy het nagelaat om dit na pouse af te dek en kombuis toe te neem.

Ai, en toe ek by die tafel kom, toe gaan dit nie boomskraap nie – daar is bloot nie 'n boom of bodem wat nog geskraap kan word nie – plek-plek is dit asof die sopkom self sommer deurgeskraap is soos die mense op- en leeg geskep het.

My moed sak in my skoene – dit pla my geensins dat die sop op is nie, ek is een van daai mense wat kicks daaruit kry as ander mense kos wat ek voorberei het, geniet, en sien die leë kom as 'n wonderlike kompliment – dis net dat dit Maandag is, my middag is gevul met Klaradyn, tot ons 18:00 by die Voortrekkers wegry. En wie wil dan, nadat jy klaar die naweek sop gekook het dat die sop by die voordeur uit en in die straat af kon loop (amper soos daardie sprokie van die betowerde pappot).

Terwyl Klaradyn kunsklas het, sit ek af Spar toe en wonder hoe ek my halwe pot sop gaan rek tot 'n volle.

En dit alles baie vinnig.

Vandaar dan hierdie Gromm of Blaff (miskien is dit Knorr of Miaauww) se variasie op Esti se Duitse wors- en groentesop.

Want ek spoor toe inderdaad 'n plastiek-, winkel-, pakkie kitssop op wat homself uitgee as 'n kerriegroentesop (jy sal dit maklik kry – hulle maak 'n spelfout in die skryf van die sop se naam, jy kan dit nie miskyk nie.)

En toe is dit maklik – jy kook 1 kg bevrore groenteblokkies in die hoeveelheid water wat nodig is vir twee pakkies sop. As die groente sag is, gooi jy die soppoeier by. Dan 500 g frankfurters in wieletjies gesny. Sout en peper.

Dit proe aan niks, glo my. Maar dan is daar nie 'n sop wat nie met room omtower kan word in spyse vir die gode nie. Ek weet nie hoeveel room Esti se sop oorspronklik vra nie, dis iets belagliks soos 'n kwart of agtste kannetjie – ek gooi 'n hele kannetjie by.

Laastens, die ander ding wat geen sop nog nooit enige skade berokken het nie – 'n kelkie of wat sjerrie, of port (of hanepoot of jeropiko of muskadel of enige ander soet bakleiwyn).

En toe ek daarmee klaar is, toe proe die sop sommer strate vorentoe.

En toe ek dit met wat oor was van my helfte van Sondag se swoeg en sweet meng, toe is dit net 'n connoisseur wat hom sal verbeel hy proe die verskil.

Ek sal niemand aanbeveel om vanuit die staanspoor die kortpad te vat nie, maar as die nood druk, of jy moet rek (soos ek vanmiddag) kan jy my kort afdraaipad met vrymoedigheid as nooduitgang inspan.

19.6.11

Vadersdag 2011


En daar wil ek toe nou opstaan en gaan piepie. Maar ek kan nie opstaan en gaan piepie nie want staan ek op en gaan piepie en word uitgevang dat ek opgestaan en gaan piepie het, dan sing Klaars en Mamma my nie wakker met die koffie en beskuit in die skinkbord nie, dan word ek nie vreeslik deur die slaap en hartlik verbaas wakker nie, dan skrik ek my nie nugter wakker by aanskoue van Klaradyn se pakkie en kaartjie nie. En dan het Vadersdag op die verkeerde noot afgeskop. En dit kan tog nie.

Toe knyp ek maar.

Ek knyp laterhand so lank dat dit my voel ek kon in al die tyd wat ek knyp al 'n skaap in die veld loop aankeer het, hom keel-af, én vel-af gemaak het, opgesaag en –gesny, en in pakkies gehad het – en steeds knyp ek vervaard, trap my tande al water, met geen taal of tyding uit die kombuis nie.

Wanneer begin kinders dan nou besef dat dit net nie vir 'n Pa moontlik is om 362 dae van die jaar heel eerste van almal wakker te wees, en twee dae 'n jaar (verjaarsdag en Vadersdag) só vas en só laat te slaap dat dit 'n karnaval langs die bed neem om hom wakker te kry nie?

Na wat soos 'n ewigheid voel, hoor ek hulle die gang af kom. Dit is 'n gejuig en geruis al die pad tot voor die toe deur, en toe begin hulle soos op 'n verhoog te fluister – gemaak sag maar eintlik net asemrig en hard genoeg dat selfs die doofstes in die heel agterste ry van die teater jou nog kan hoor.

Toe val daar iets, en moeder en dogter begin onbevange proes van die giggel en lag.

Toe daar stilte daal, dag ek hulle is terug kombuis toe om te gaan red wat daar te redde is, te herstel wat miskien nog herstel kan word.

Met 'n noot/nood wat die van 'n vendusie-os of sirkusolifant na 'n katspoegie laat lyk, besluit ek nou of nooit, en vlieg op.

Net mooi op die punt wat Mamma en Klaars lostrek en begin sing.

Ek vries in 'n hoogs ongewone posisie, wat herinner aan die versteende figure wat eeue later op Pompeii onder Vesuvius se lawa opgegrawe is.

Maar my kind pla dit nie.

En hulle sing my wakker, en ek is deur die slaap en lekker verbaas – en dit is, om 'n lang storie kort te maak, een van die lekkerste oggende in 'n lang tyd.

Ons vrot in die bed, muf en begin al ontbind, teen die tyd dat ons op staan om ontbyt te gaan maak. 'n Ontbyt wat in elkeen se smaak val want vir voorgereg is dit my gunsteling, ongegeurde jogurt met heuning en neute; hoofgereg is die meisies se gunsteling - Franse roosterbrood met gebraaide spek en stroop.

Klaradyn is ten volle verantwoordelik vir die jogurt se bereiding, sy kap selfs die neute.

Om iets anders as die gewone Franse roosterbrood te hê, dit is immers Vadersdag, eindig die brood in die vorm van harte, gemmerbroodmanne en sneeuvlokkies, eers in die eiermengsel en dan in die pan.

Toe ons afdek laat val Klaradyn terloops dat niemand heuning saam met hul roosterbrood geneem het nie. Annieka noem dat ons darem almal van die Maple syrup geniet het, en daar trek Klaradyn los met die woorde dat dit nie maple syrup is nie. Annieka wil Klaradyn reghelp en sê dat dit is, maar toe is dit Klaradyn wat haar ma reghelp:  “Dis nie maple syrup nie, Mamma, dis regte egte esdoringboomstroop.”

En daardie taaluiting van Klaradyn amper my grootste Vadersdaggeskenk, amper die grootste, want die grootste sou later kom. Annieka noem dat ons die vakansie koesisters moet maak – Klaradyn moet die vreugde van koesisters maak beleef. En wat sê Klaradyn, heeltemal uit haar eie? “Dan vleg ons die koeksisters, Ma, ons maak nie soos die lui tannies wat die goed net draai nie.”

Dit kom uit 'n gesprek van maande gelede, letterlik maande, indien nie 'n jaar gelede nie, verbeel ek my. Ek het by die Boeremark op 'n tannie afgekom wat nog koesisters maak soos koesisters gemaak moet word – gevleg en nie gedraai soos die meeste lui en winsbejagte baksters deesdae uitknoei nie.

Dit verbaas my nog bykans daagliks hoe die kinders goed optel en onthou. Nou, na ek hier begin tik het, tien minute gelede, weer. Sy is in die bed en roep dat ek haar moet kom help met die afkry van 'n slaapdiertjie, die een of ander beertjie of ding wat as trooster dien.

Ek roep dat sy gerus haar ma kan vra, maar los nietemin die rekenaar en stap na haar kamer. Daar moet ek hoor dat sy vir my vra want “dit is immers Vadersdag.”

Verbeel jou – immers! En dit in graad 1.

Maar ek herken myself en weet ek het oomblikke tevore, sonder dat sy dit sal weet, presies dieselfde woorde in my klets agter die sleutelbord gebruik, “dit is immers Vadersdag.”

En dit is een van die baie dinge wat vaderskap vir my lekker maak, die stukkies herken van jouself in jou kind.

Nie alles wat jy herken is altyd positief nie. Klaradyn was seker 3 toe ek haar in die kombuis “gotshont” hoor sê het. Was sy nie op daardie oomblik ongeduldig met 'n hond in interaksie nie, en het haar stemtoon nie so duidelik haar ergenis kommunikeer nie, sou ek straks nie herken het wat sy sê nie. Maar ek het herken. En myself, tot my uiterste skaamte, herken.

Dis dan nou vier jaar al, wat ek my woorde baie versigtiger omdraai en tel.

Natuurlik het sy nie destyds geweet wat sy sê nie, sy het maar net herhaal wat sy my al hoor sê het as ek “op” met die een betrokke hond van ons is.

Kyk net waar loop my gedagtes met my! Ek was nog laas by die ontbyttafel gewees. Toe ons uiteindelik daarvan opstaan, toe is dit al 11:30 gewees. En ons wou nog museum toe! Ook nie museum nie, museums. Dit sal ook maar moet wag tot die vakansie.

Vir aandete het ek probeer om skoonpa te bederf:  wildspastei met gestoofde droë vrugte en patats.

Ek het iets vreesliks met die patats gedoen, iets wat ek nooit weer sal doen nie. Maar ek moes dit net een maal in lewe doen en vanaand was die perfekte geleentheid.

Ek het eintlik nog nooit geleer om van patats te hou nie, maar oor Annieka so lief daarvoor is, maak ek meer gereeld patats as byvoorbeeld Brusselse spruite.

Die eerste keer wat ek onthou ek patats geëet het, op so 'n wyse dat ek teen my sin soorts van verplig was om 'n tweede porsie te neem, was op 1984 of 1985 se Vadersdag. Op Potch, waar ek geswot het, aan huise van 'n kennis wie se ouma ons oorgenooi het vir Sondagete. Dit was 'n stokou Engelse tannie wat 'n sukkelbestaan in 'n armsalige ou huisie op die dorp gevoer het.

Daar was die dag nie 'n enkele Vader aan tafel nie, net die ou tannie, haar kleinseun en 'n paar van sy vriende wat eers oor 'n paar jaar later sou begin om die skoene van 'n vader sou aan te trek. Maar die tannie het met liefde en oorgawe gekook.

Ook soetpatats, en ons is 'n week voor die ete al voorberei op die ouma se spesialiteit, hoe gelukkig ons is en hoe spesiaal dit is dat ons die voorreg gegun gaan word om die ouma se patats te kan geniet.

Ek het nooit gedink ek sou dit eendag self doen nie. Maar ek het vandag, en dit het my met wonderlike nostalgie gevul.

Die tannie het pienk en wit malvalekkers in 'n skaakbordpatroon bo op haar patats gesmelt.

Toe doen ek haar dit amper 30 jaar later na. Darem nie pienk en wit, vanilla- en aarbeigeur nie. Nee, stemmiger wit en baie ligte appelkooskleurige vrugtegeurige malvalekkers. Maar ek het verbrou, ek het elke malvalekker in drie gesny, toe lyk dit hoogstens vreemd, maar proe nie rasend anders as gewone soetpatats nie.

Miskien oor 'n verdere 20 jaar weer.

Hopelik leef ek nog so lank.

Die ander ding wat ek hierdie naweek gedoen het, 'n ding wat ek lankal uit stoutigheid wil doen, maar oor dit vir my so erg is om te doen dat ek myself nie so ver kan kry om te doen nie, hou verband met 'n kleuterherinnering saans voor die kaggel in die sitkamer of my pa se studeerkamer.

Daar sal mense wees. Sondagaand. Hulle kuier of speel kaart.

En dan is daar biltongballetjies. Fyn biltong wat Pa self gekap en geskaaf het. Maar hierdie fyn biltong is nie om broodblokkies wat met 'n botter-marmitemengsel gesmeer is geplak nie. Nee, die fyn biltong is by botter ingemeng en teelepels daarvan is dan weer in die biltong gewikkel om 'n ystervarkie of lamington van biltong in plaas van klapper te vorm.

Ek kan nie glo hulle het dit gedoen nie, maar hulle het, ek onthou dit goed.

En toe ek nou Saterdag met die biltong en plaasbotter voor my sit, toe begin my vingers jeuk en tintel en spring.

Toe doen ek dit.

As ek nie met cholesterol gesukkel het nie, sou dit seker nie vir my lekker gewees het nie. Maar juis oor die klas van ding vir my so lekker is, dat ek met cholesterol sit.

Dit was heerlik. Ek sal dit weer en weer en weer wil doen.

Maar ek sal nie.

Ek het 'n verantwoordelikheid teenoor my kind wat vandag vir haar pa die mooiste van mooi kaartjies gemaak het, teenoor my vrou wat haar man bederf het met Dan Sleigh se nuutste roman, Wals met Matilda.

Toe ek vanaand die mense vra om hul glasies te lig en mekaar in die oë te kyk, toe vra ek dat ons 'n heildronk sal drink op Klaradyn en Annieka. Toe bly ek so rukkie stil, toe gaan ek aan:  Klaradyn en Annieka se wonderlike en absoluut asembenemende Vaders.

Maar eintlik kan ons maar tot die kinders se heil ook drink – dit is immers hulle wat ons aanspoor om te maak soos ons maak, om te doen wat ons doen, en te wees wat ons is.

15.6.11

In die motor by die dramaklas (of was dit Voortrekkers)

Elke kraai dink darem maar sy eier is die witste.

Dis vir my bykans ondenkbaar dat daar ouers kan wees wat hulle kinders nie so lief het soos die oorgrootte meerderheid ouers nie. Maar uit dit wat ek aflei uit party koerantberigte, is daar wel van hulle. Al is dit min.

Ook die vreemdste goed waarmee 'n mens sy gedagtes kan op- en besig hou, terwyl daar vir 'n kind se les of klas gewag word om einde se kant toe te staan!

Maar voor jy nie self in die bootjie is nie, verstaan jy daar maar min van.

Ek ry vanoggend by my ma weg en dink:  “Daar is twee goed wat my ma en pa my geleer het. Die eerste is om jou kind tot die dood toe lief te hê; die ander is om jou ouers tot die dood toe lief te hê.”

En dan het hulle dit nie vir en my broer geleer deur te predik nie, nee, hulle het die voorbeeld gestel, die voorbeeld geleef, en kan ons nie vandag anders as om die twee partye in ons eie lewens, ons ouers en ons kinders, met ons hele hart en siel en wese en verstand lief te hê nie.”

Ewenwel, en om terug te kom by my skitterwit eier, ek betrap haar Dinsdag op twee sinnetjies terwyl sy, onwetend van ek wat toekyk en afluister, met kleiner kindertjies speel; en my ouerhart vermurwe.

(Die afgelope naweek spring sy op en kondig aan dat sy my nou gaan vermurwe. Annieka antwoord:  “Gebruik jy maar net woorde soos ‘vermurwe’ en jou pappa vermurwe al klaar, my skat.”)

Klaradyn se naskool tot een van ons haar kan kom optel, is smiddaes by haar kleuterskool en na slaaptyd is dit vir die kleuters heerlik as die groter naskool-leerders hulle vermaak.

Klaradyn speel juffrou-juffrou met hulle, sy het 'n stuk of vyf of ses voor haar in 'n ry en ek hoor haar sê: “Staan julle nou mooi in 'n ry, dan is daar vir julle elkeen 'n verrassing.”

Sy sê dit met soveel deernis en juffroulike liefde dat my hart skoon saamtrek en inkrimp.

Wat ek hoor en hoe sy dit sê is die beste getuigskrif vir elkeen van die drie onderwyseresse wat sy in haar lewe gehad het – ek is ook oortuig daarvan dat elkeen van die drie onderwysers hulself in haar omgang met die kleintjies sal herken.

Maar ek moet die spelery kortknip – ons het ander verpligtinge en sy moet kom.

In haar eie stemmetjie kom dit toe dat sy moet gaan, haar pa soek haar, maar toe neem die teer juffroustem weer oor en ek hoor:  “Studentejuffrou, neem jy asseblief die klas waar.”

Bid jou dit aan - ek vermurwe net daar in my skoene in die gapende bek van die kleuterskooldeur, van my kroontjie tot my toontjie en ek dog ek vreet haar op.

Gedagtig aan haar drie rolmodelle onthou ek toe ook weer 'n Engelse aanhaling wat ek iewers langs die pad opgetel het en steeds met my saamdra:  “Imitation is the best form of flattery.”

Die goed wat hulle nie alles optel nie.

Nou die dag, na laat slaap en lank inlê oor dit Saterdag is, is dit voor opstaan 'n oor en weer kielie en karnuffel om van opgehoopte energie ontslae te raak. Die volgende oomblik roep sy uit:  pause die game, pause die game.”

Het sy dit by die seuntjies op die speelgrond opgetel, hulle jaag mekaar hoeka so lekker rond?

Of het sy dit self uitgedink? Ons pause gereeld die DVD’s, so sy het 'n goeie idee wat dit beteken. Nou pas sy die breë idee net in 'n ander, en haar eie, konteks toe?

Om etenstafel nou die aand vra sy weer wat noem 'n mens 'n reggemaakte mannetjies perd. Ek dink nie twee keer nie en gee die korrekte antwoord, reun. En sy sê dis korrek.

Dis eers toe dat die vraag my soos 'n voorhamer vol in die gesig tref, nie hoe my kind weet van ‘n reun nie, maar:  “Wat weet my kind van reggemaakte diere af, of dit nou bokkapaters, hamels, osse of reuns is.”

Nee, sê sy toe ek haar daarna uitvra, haar juffrou het haar geleer.

Ek kan my nou nie vir een oomblik voorstel dat woordekatuitbreiding aan die hand van die korrekte selfstandige naamwoorde (soortname) vir gekastreerde plaasdiere, deel van die graad 1-sillabus is nie.

Maar dis moontlik dat sy iewers vir iemand kon vra wat 'n reun is as dit nie 'n mannetjieshond is nie. Dis moontlik dat sy “reën” in gedagte had, maar toe die antwoord rondom die reggemaakte perd of vark gekry het. Ek weet nie.

Tien teen een het sy van “reggemaakte perd” gehoor, en oor sy nie idee het wat dít beteken nie, 'n skoot in die donker gewaag, 'n klip in die bos gegooi, eerder, en gevra wat dit is.

En toe ek so vinnig met antwoord is, daar dadelik 'n hond uit die bos spring, toe speel sy saam en sê dis reg.

Hoe sal 'n mens nou ooit weet.

Hopelik, as die wolke saamspeel, weet sy darem teen more wat 'n maansverduistering is.

Of ons sal kan wakker bly tot 21:30, en eintlik 22:15 wanneer die verskynsel beloof om op sy mooiste te wees, weet ek nie.

Miskien sal ek more beeldmateriaal op die internet moet soek om haar die volle prentjie te laat sien, maar dit maak nie saak nie. Ek is egter bly dis nie more skool vir hulle nie – dan kan ons ten minste iets daarvan beleef.