Pages

30.4.11

Vyf boeke teen die einde van die jaar (1974 – 1978)

‘n Vriendin van my kry dit nie oor haar hart en ingebore menswees om haar naam, die dag en die datum, en hoogstens ‘n klein boodskap wat die rede sou kon verwoord, in pen voor in ‘n boek te skryf nie. En vra jy haar – gee jy haar eintlik die opdrag – om dit wel te doen, is dit nie ‘n uitgemaakte saak dat dit gebeur nie; jy wag en wag en wag, en vra en vra en vra, en dit het al gebeur dat ek die boek ‘n maand later terugkry, dan staan daar steeds niks in nie.

Dan skryf ek maar self, want ek is nie bang om met ‘n pen in ‘n boek in te vaar nie, maar dis nie dieselfde as wat dit sou wees as die persoon wat jou die present gegee het, dit gedoen het nie.

Ja, ek sal oor 10 jaar nog weet wie my die boek gegee het, selfs oor 20 en meer – maar ek wil nie net onthou nie, ek wil daaraan herinner word – jou handskrif, jou naam, die boodskap moet my oor 20 jaar met mooi en teer herinneringe oorstroom.

Dan het ek ook nie nodig om die boek weer te lees nie – bloot die eerste oogopslag, op die persoonlike aanhef in pen, doen al my siel goed.

Ons het verlede week die studeerkamer van vertrek geskuif, reeds die tweede keer sedert ons 7 jaar gelede hier ingetrek het, en soos met elke trek – of dit nou van huis, of van vertrek is – glo ek nie om boeke bloot net oor te dra en in rakke te sit nie; elke boek het ‘n raak waar hy hoort en dis waar jy hom sit.

Dis waar jý hom sit; dis nie noodwendig waar almal met wie jy die huis deel, of almal wat betaal word om jou boeke agter jou op te tel, hom sit nie. En partykeer gebeur dit ook dat jy self ‘n boek willens en wetens op ‘n verkeerde plek sit en jouself maar daaraan troos dat dit in elk geval weer tyd is om die studeerkamer se boeke reg te pak, te orden. Overgesetsynde jy pak al die boeke op die grond uit en oor twee dae is daar vir jou niks lekkerder as om in jou studeerkamer in te stap nie.

Annieka het verlede week weer gesê dat die mense wat my ken, hoe regterbrein, slordig, verstrooid en ongeorden ek is, sal nie kan glo hoe ‘n pyn ek kan wees as dit kom by boekrakke nie.

Maar ek dwaal af, ek is by die 3 boeke, wat vanoggend voor ek kom sit het 5 geword het, wat ek elkeen ‘n jaar uit mekaar teen die einde van die jaar gekry het. En dit gaan nie oor die boeke nie, maar die inskrywings voor in.

As dit suiwer van die boek en sy inhoud gegaan het, was elkeen van hulle lankal weg, verlore geraak langs die pad, of sommer uitgesmyt. En as dit nie lankal was nie, het dit verlede week gebeur toe ons goed 600 boeke aangery het hospice toe.

1974
Klausmann, Oscar A ( Moller Monica – vert.) Siegfried die Drakedoder. Kaapstad:  Tafelberg-uitgewers. 1968.

Die boek is op 22 November 1974 deur juffrou C Broeze, klasonderwyseres van Standerd 2 (4) aan Laerskool Generaal Alberts, aan Hans Moolman toegeken vir niks anders as “Verdienstelikheid” nie.

Juffrou Broeze onthou ek as Juffrou Hamburger. Nee, dit was nie haar bynaam onder die kinders nie, dit was die bynaam wat ek haar gegee het – op grond van haar gesig. Dit moes eintlik Juffrou Hotdog gewees het, want as ek my dit nie mis het nie was dit haar neus wat my haar hierdie naam laat gee het. Maar dan het sy Amerikaans oorgekom, en met ‘n van soos Broeze was ‘n Duitse Hamburger meer gepas. (Dit maak nie sin nie, ek weet – maar dan is jy nie in standerd 2 nie – enige bogemiddelde graad 4 kind sal presies verstaan waar ek aan my naam kom.)

As onderwyser het ons baie gespot met ‘n sertifikaat vir verdienstelikheid. Dis wat jy toeken aan die leerling wat nie op grond van iets anders ‘n toekenning kry nie, maar die kind is so oulik en jy hou so van die kind dat jy vir hom of haar iets wil gee – en dan doop jy dit verdienstelikheid.

(Die boek, so terloops, het R1-65 gekos. Juffrou Broeze het dit nie nodig geag om die prys wat in potlood neergeskryf is, uit te vee nie.)

1975
Blyton, Enid. Adventure Stories. Glasgow: William Collins Sons and Co. Ltd. 1971.

Hierdie keer nie in amptelike hoedanigheid van die skool nie, maar op 7 Desember 1975 ‘n persoonlike hartsgeskenkie van my standerd 3-klasonderwysers, Juffrou Herhold.

“Baie dankie vir ‘n mooi jaar en vir al jou harde werk en liefde deur die jaar. Dit was ‘n voorreg om jou te kon leer omdat jy so ‘n dierbare, gehoorsame, verstandige kind is. Bly asseblief so want jy gaan nog baie ver kom in die lewe en moenie dat die lewe jou onderkry nie, en weet waar jou hulp en leiding vandaan kom, né.

Hierdie boek is maar net om dankie te sê vir wat jy vir my beteken het deur die jaar en ek sal jou nooit vergeet nie.

Kom kuier vir my, sal jy? Pas Mamma mooi op want onthou jy’s die man in die huis hoor! Onthou nog net een ding ‘moenie dat mense jou onnodig ontstel nie.’ Hulle sal probeer maar moenie dit toelaat nie. Wys hulle jy’s ‘n beter mens en bly kalm.

Nogmaals dankie en onthou my deur is vir jou altyd oop!

Al my liefde

Juf. Sonja
x

O, dit spreek boekdele. Ek was 4 dae laat in Standerd 3, soos ek 3 dae laat was vir graad 1, maar toe was dit omdat ek pampoentjies gekry het; hierdie keer was ek laat omdat ek en my ma by my pa se suster op Brits gaan wegkruip het oor hy ons wou skiet en hy op elke plek in die land, behalwe by sy eie bloedsuster, na ons gesoek het. Ja, dit was nie ‘n mooi egskeiding nie.

Hierdie boodskap hét my baie en lank en ver gedra.

Wat my 36 jaar later vreemd opval is die vermaning om my nie onnodig deur ander te laat ontstel nie. Miskien is dit ‘n verskuilde verwysing na my pa, so in dieselfde paragraaf as die herinnering aan die feit dat ek die man in die huis is en my ma moet oppas.

Ek was jonk, my juffrou was jonk – miskien het sy die “jy gaan nog baie ver kom in die lewe” bedoel soos ek dit destyds verstaan het. En dan het ek beslis nie baie ver gekom in die lewe nie. Vandag het ek die rypheid om te verstaan dat ‘n man wat ‘n goeie man sy vrou en pa vir sy kind is, een is wat baie verder in die lewe gekom het as die besturende direkteur of minister wat dit nie vir sy vrou en kind is nie.

(Nee, die prys is onvermeld. My juffrou sou beslis die prys uitgevee het.)

1976
Blyton, Enid. Five fall into Adventure. Leicester:  Knight Books. 1975.

Op 10 Desember 1975 skryf sy in haar, oor baie jare heen, lieflike  handskrif:

Oubaas, jou eerste vliegtuigrit! Mamma wens jou ‘n aangename en voorspoedige reis toe. Lekker lees hoor, en geniet alles. Liefde Mamma.

Wat hier opval is die “Oubaas.” In die ander twee Enid Blytons wat sy my die vorige jaar op 4 September vir my verjaarsdag vir my gegee het, noem sy my, soos sy my altyd genoem het, “Oubasie.” Hier is dit “Oubaas,” ‘n verwysing wat ek eers 35 jaar later interpreteer as ‘n herinnering aan die feit dat ek groot en sterk moet staan, dat ek man is. Ek het daardie jaar afgevlieg Kaapstad toe, terwyl my pa en sy houvrou, haar kind en kindermeidjie met die motor afry Kaap toe vir my, my pa, sy hoervrou en uitgebreide gesin se enigste vakansie saam, ooit.

Dis lekker om te vlieg, heerlik om ‘n eerste keer te vlieg, maar ek verstaan die boek, die boodskap in die boek só goed.

(Hierdie boek het R0-80 gekos. My ma sou dit uitgevee het, maar dis met ‘n stempel gedruk. Sy sou ‘n lemmetjie geneem het en die prys afgekrap het, soos sy baie gedoen het. Hierdie keer het sy nie. Ek vermoed ek verstaan hoekom sy nie so ver gekom het om dit hierdie keer te doen nie.)

1977
Konsalik, Heinz Günther. Skerwe van die Ysterkruis. Kaapstad:  Tafelber-Uitgewers. 1974.

Die datum word slegs aangedui as “Desember 1977” maar ek weet dit was ‘n Kerspresent. Hierdie boek moews spesiaal gewees het want ek het selfs die kaartjie wat saam met die boek gegee is, voor in die boek geplak.

Die geskryf in die boek self, lees só:

Aan Hansie

Hansie vir jou wens ek net die beste toe. Ek skenk hierdie boek aan jou as ‘n Kersgeskenk en ook as ‘n Herinnering aan ons wonderlike vakansie saam.

Van Yvette
xx

Naskrif:  Lees lekker

Die kaartjie wat ek ingeplak het (en nee dis nie ‘n kaartjie nie, dis ‘n velletjie skryfpapier met regs onder ‘n uitbeelding van ‘n meisie wat in lang gras en tussen rooi blomme op ‘n man se bors in sy arms lê – maar jy sal self ‘n kind van die sewentigs moet wees om enigsins ‘n prentjie op te kan roep):

Aan Hansie

Vir jou ‘n Geseënde Kersfees, en ‘n Baie voorspoedige nuwe jaar. Dit was ‘n lekker vakansie, nè! Dit was lekker om almal saam gesellig te sien. Ja, so kom alle lekker tot ‘n einde. Ek wens vir jou alles wat mooi is vir die Hoërskool.

Lees lekker.

Yvette
xxx

Yvette? Ek wonder wat was haar van. Ek het nog ‘n foto van haar ook, halflyf in ‘n bikini.

En ook nie sommer enige vakansie nie, ‘n Margate-vakansie, die een aan die einde van jou laerskoolloopbaan (net jou matriekvakansie en wittebrood wat hierdie een verbysteek in waarde) én jou eerste vakansieromanse, of soos ‘n mens dit eintlik genoem het, holiday romance.

Ek het vir haar ‘n tape gekoop waarop Joe Dolan ons vakansie-liedjie sing, Hush hush Maria.

Ons het ook na Denis Rousos en Vicki Leandros geluister.

1978
Joubert, Elsa. Bonga. Kaapstad:  Tafelberg-Uitgewers. 1975

Soos die een van 1974 is daar ‘n velletjie voor in geplak met die briefhoof van die skool, hierdie keer Hoërskool Alberton.

Ek was nog nie Hans nie, dit sou ek eers op universiteit word, die boek is toegeken aan Hansie Moolman vir die feit dat hy daardie jaar aangewys is as die skool se beste junior redenaar.

Ek was in standerd 6, en die junior afdeling het standerd sewes ook ingesluit, so vir my was dit ‘n merkwaardige prestasie .

Ek het einde standerd 6 niks van die boek gehou nie, dis eers toe ons in matriek Ons wag op die kaptein gedoen het, en ek elke oomblik van die boek geniet het, dat ek Bonga ‘n tweede keer gelees het en toe meer daarvan gehou het.

En dis my vyf boeke.

Maar daar is meer wat ek wil aanteken, selfs al trek al by 1 800 woorde.

1974 het bv, 'n ander boek wat ek kon kies, een wat illustreer wat ek in die inleiding gestel het:  Dan skryf ek maar self, want ek is nie bang om met ‘n pen in ‘n boek in te vaar nie, maar dis nie dieselfde as wat dit sou wees as die persoon wat jou die present gegee het, dit gedoen het nie.”

Dit lyk my dis 'n ou laai van my, want lees ek die boodskap voor in Die Laaste Mokihaan, die boek wat my peetouers my Desember 1974 gegee het, dan staan daar:  Aan Hansie van Oom Kobus en Tannie Erica – Kersfees 1974. Maar die nóg Oom Kobus, nóg Tannie Erica se handskrif, dis in my beste standerd 4-handskrif, ek wil dit sommer sierskrif noem, geskryf.

Dan het ek nagelaat om in te werk dat die twee Enid Blyton’s wat ek vir my verjaarsdag gekry het nie ingeskryf het nie, maar 'n kaartjie waarop my ma die kort boodskap getik het, ingeplak het. Die feit dat sy die einde van die jaar (met die Oubaas in plaas van Oubasie vliegtuigvakansie-geskenkboek) dit nie soos gebruiklik was, gedoen het nie, verklap net weer eens haar gemoedstoestand toe sy die boek gegee het.

En dan was ek eintlik histeries hier teen die einde van my gesels rondom die vyf boeke. Ek het een boek, net een boek, 'n Afrikaanse vertaling van Fitzpatrick se Jock of the Bushveld, waarin my pa in sy onleesbare mooi handskrif geskryf het “Hansie, van Pappa.” (Vra my, ek weet, ek het nie net die boek oor en oor gelees nie, maar ook al baie na die boek teruggekeer net om die boodskap voorin met liefdevolle en tere herinnering te lees.)

En toe ek wonder in watter jaar hy by die CNA gestop het om die boek vir my te koop, en of daar nie dalk tog 'n datum in is nie (al onthou ek dit nie so nie) besef ek dat ek die betrokke boek, een van die boeke die naaste aan my hart, nie verlede week op sy plek op die rak waar hy hoort, gesit het nie!

Ek weet ook die boek is die hospice toe nie, ek het elke boek wat ons weggemaak het, 'n tweede keer in die hand gehad. So waar is my boek?

Want boeke is soveel meer as inhoud, ontelbaar meer as gedrukte letters, woorde en sinne op papier.

29.4.11

In die gees van die dag

Ek weet nie hoe ver dit was nie; enige iets tussen 6 en 8 kilometer.

En toe ek so 'n kilometer van die huis was, toe loop ek Cherise raak. OK, nie Cherise nie, iets soos Cherise. Iets met 'n –ch/-sj. Maar ons praat darem nou van 30 jaar gelede en die Cherise is nie die eerste meisie wat ek in die donker gesoen het nie, maar so onnosel Pekinese wat aan broer-hulle behoort het. Een waarvan die oë elke dan en wan uitgepop het as sy te opgewonde geraak het. Dan moet hulle veearts toe met dier, nat lappe oor die oë.

Toe sy my sien, dié oggend, het haar oë amper weer uitgepop van blydskap. Want ja, sy was verdwaal en sou op haar eie nooit haar weg weer terug huis toe gevind het nie – daarvoor was sy regtig te dom.

Miskien was haar naam Sherry of Chère, dalk selfs Cherie. 'n Boerse Sjerrie was dit egter beslis nie.

Ek het haar die laaste kilometer van die ongeveer 7 kilometer wat ek die oggend afgelê het om daar te wees na my broer-hulle se huis gedra.

Daar aangekom, wis hulle nog nie eers dat die hond weg was nie. En waarom sou hulle – die hele huis was in rep en roer om betyds gereed te wees voor die uitsending begin.

Ek kon by ons eie huis gekyk het, maar dan was ek alleen. Ek kon by enige van die bure, of pelle in die omgewing aangesluit het, maar ek wou na my skoonsussie toe – nie net Engelse nie, maar sommer propperse Britse bloed wat nog deur haar are vloei. (Daar was plek-plek groot ontsteltenis destyds, iewers in die vroeë sewentigs toe my broer, hoofseun van sy skool, besluit om 'n Engelse meisie wat nie eens 'n krieseltjie Boerekos kan kook nie, te trou. Die eerste wat my ma gedoen het was om haar op 'n koskookkursus, wat 'n bobaaskok en goeie vriendin van my ma in die aande by haar huis aangebied het, te stuur.)

En toe kyk ons die troue.

En toe dit klaar is en hy haar op die balkon gesoen het, het my ma, na sy die boetiek wat sy en haar suster saam bedryf het, gesluit het, by ons aangesluit en het ek darem nie nodig gehad om weer die hele ent pad huis toe met my Apostelperde aan te durf nie.

Ek onthou regtig nie veel nie – behalwe dat ‘n Britse vakbond van uitvoerende kunstenaars, Equity, op grond van Apartheid geweier het om die uitsaairegte van sekere koorwerke aan Suid-Afrika te verkoop. Ons kon kyk hoe die outjies sing; ons mog dit net nie gehoor het nie.

Toe speel die SAUK (ja, daar was daardie jaar nog iets soos die SAUK, dit was lank nog voor slegs die SABC sou oorbly) opnames van die onderskeie snitte uit hul eie ateljees uit. Daardie jare was ons nog gewoond aan oorgeklankte televisie-uitsendings en as die sinchronisasie tussen beeld en klank nie altyd 100% was nie, sou dit ons nie vreeslik opgeval of gepla het nie.

En vandag word daar weer getrou. Dit sal nooit weer die vroeë tagtigs wees nie, ek sal nooit weer in standerd nege wees nie. Ouma van Wyk wat elke keer as ons haar gelukwens met nog 'n verjaarsdag wegtrek met “Julle weet Prins Charles en ek verjaar saam, en Judy met die koninginmoeder,” is al in ’86 oorlede.

Ek weet ook nie of die koningshuis ooit sal wees wat dit toe was nie.

Maar wat maak dit saak, troues is lekker en vandag trou ons saam.

Klaradyn het Charles en Dianna se troue weke gelede, nog voor daar heruitsendings en grepe op TV was, al via Youtube leer ken – die ent pad met die koets, die kerk se gang af, én die sirkus op die balkon.

Maar my kind is 'n kind van die nuwe millennium... 'n mens sal nou dink 'n dogtertjie sal opgaan in 'n prinses se trourok, maar nee, sy was regtig nie vreeslik opgewonde nie. Haar tydgenoot oorkant die straat se vinnige kommentaar voor sy verder gaan speel het was dat die rok darem regtig nie mooi is nie.

Ons het via die internet ook 'n draai by die tonnel gemaak, die blomme voor die paleis en nog hier en daar ook.

Ek het haar Camilla ook gewys en my kind, 6, uit haar eie, sonder dat iemand 'n saadjie geplant het, het 'n verband tussen die dame en 'n perd getrek. Ons het haar tereggewys, maar ek was weer eens verstom oor die mond van 'n suigeling.

Toe, om die hype te versterk het ons al vier van The Prince & Me gekyk, ook die twee Princess Diaries.

So Klaradyn is vanoggend soos 'n perd in die wegspringhokke.

Ons het talle uitnodigings gehad, een wat Gin & Tonic beloof het, 'n ander met scones & tea, iewers was komkommertoebroodjies ook ingegooi.

Maar ons gaan ons by Oupa-hulle soos rojaliste gedra.

En net om alles en almal in perspektief te hou, met my gesonde sin vir ironie, het ek oornag 'n ryk en stewige pot outydse spek-en-bone-sop gaargeprut in die kombuis.

Ek het al voor 08:00 vir Annieka gevra of ons nie maar kan ry nie – ek wil daar uitkom dat ek kan sop eet.

27.4.11

Ons spinne- (en ander) vriende

Toe ek die volgende geselsie 'n jaar of wat gelede aangeknoop het, het ek nooit kon dink ek gaan eendag iets soortgelyks beleef as die stomme man teen die einde van die vertelling nie:

‘n Ding waarvoor Annieka regtig baie skrikkerig en grillerig en gillerig is, is ‘n roman, nie die boek nie, die spinnekop. Wat natuurlik nie ‘n spinnekop is nie, maar, oor dit net ses pote het, ‘n insek.

Self het ek regtig nog nie veel van die goed gesien nie en geleentheid om hulle pote te tel en van naderby te beskou, het ek ook nog nie juis gehad nie.

So miskien is dit wat ek van die dierasietjies weet, glad nie waar nie en sommer net stories.

Want stories oor die goed, het ek al baie gehoor. In bykans twee jaar op die grens, het ek nooit beleef dat die goed na die ligkring van die vuur beweeg, en die skerpioene wat skynbaar versot op die goed is, dan net buite die ligkring gereed staan om toe te slaan, maar te bang is vir die vuur, nie.

Die eerste keer wat ek as jong verliefde egter die geleentheid had om my aanstaande vrou pens en pootjies bo op my op ‘n kampeerstoeltjie te hê, was een aand op Punda Maria in die wildtuin, toe sy skynbaar ‘n visioen van die goed gehad het wat soos malkop-hoenders daar rondgehol het.

Maar dan was dit ook die vakansie toe ‘n vlakvark, as dit dan nie ‘n bosbok was nie, haar een nag op pad badkamer toe byna onderstebo gehardloop het.

Die vorige vrou wat so pens en pootjies bo op my kom sit het, was my skoonsuster. ‘n Muis agter ‘n skildery.

Dis ‘n irrasionele vrees wat ek nie verstaan nie.

‘n Vriend van my, in Dubai vir besigheid, kry teen slaaptyd (Suid-Afrikaanse tyd) ‘n oproep van sy vrou. Sy is in die bed en daar oorkant amper by die en suite badkamer wás nie net ‘n muis nie, sy is seker hy ís nog daar – wat moet sy doen.

Maar enige iets wat van haar verwag om van die gordyn se kapstok af te klim, sien sy nie voor kans nie. Behalwe nou as sy die kapstok vir die slaapkamerlig moet verruil.

Hoe later hoe kwater. “What must I do to get rid of the mouse,” word toe, “but what are you going to do about the mouse.”

En elke voorstel word teengestaan. “Out of the question.” “Now ways.” “Over my dead body.” Selfs ‘n sarkastiese “you must be joking.”

Dit word lateraan soos die huidige salarisonderhandelinge in die staatsdiens:  daar word baie oor en weer gepraat maar absoluut geen maar geen vordering gemaak nie. En hy het more ‘n baie belangrike aanbieding waarvan bevordering en ‘n nuwe huis en sprake van ‘n tweede baba afhang. En dit word laat.

En dis toe dat hy ‘n rigting inslaan wat hy liefs nie moes nie, in ‘n saaklike korporatiewe besigheidstemtoon soos wat ek dit hom nie sou kon nadoen nie.

Hy wil weet of sy reken die muis is steeds daar waar hy was toe sy hom so ‘n bietjie meer as ‘n driekwart uur gelede vir die derde keer gebel het.

Sy is oortuig.

En hy haak af:  “So would you do me favour and hand the phone over to him, then I’ll try to negotiate with him from this side.”

Dit was die einde van die gesprek.

Wat eers weer hervat is nadat hy bykans ‘n week later reeds drie dae by die huis was.

***

Ek gaan soek hierdie storie toe nou vanaand op die rekenaar, want vanoggend... o, vanoggend:

Ek is op pad hospice toe om 'n spul boeke te gaan aflaai waarmee hulle hopelik 'n paar sent sal kan maak.

Die kombuisdeur is al agter my gesluit, toe dit vanuit die badkamer, waar die twee girls bad, kom:  “Pappa! Kom bietjie hier asseblief.”

Ook nie Klaradyn wat my so Pappa nie, maar Annieka.

Ek kan vir al die geld in die wêreld nie dink wat sy wil sê wat sy nie deur die venster kan sê nie, maar ek draai om, sluit oop en stap die gang af, badkamer toe, waar ek hulle netnou gegroet het.

Daar gekom, sien ek met die intrapslag niks – maar dis die oor vrouens, beide van hulle, nie 'n vyfde van die bad volsit nie, eerder vier-vyfdes uit die bad uit, hier teen die koppenent se kant, hulself gelyk gemaak met die spieël, vasbyt aan die spieël en teels.

“En dit nou?”

Nee, blyk dit, daar is 'n spinnekop agter by die wasbak – Klaradyn weier om haar hare af te spoel voor die ding nie weg is nie. En eintlik kan nie een van die twee iets doen nie – hulle altwee se kop staan wit van die skuim.

Annieka verseg ook om iets te doen voor die ding nie weg is nie.

Maar die ding is klaar weg.

Vra my, ek weet. Ek kyk, ek kyk op my knieë met my neus van onder agter die wasbak in – daar is niks, niks behalwe die lap waarmee die bad uitgewas word nie.

Nee, dit kan nie wees nie.

Om te wys, kry ek pajamas wat daar rondlê en verjaag al wat moontlike spinnekop is uit sy wegkruiplek, deur van bo tot onder die ganske agter- en binnekant van die agterkant van die wasbak te befroetel en bevryf en te sjoe en te voetsek.

Nes ek gedink het – niks.

Maar nou moet ek hoor ek soek op die verkeerde plek. Die dink is by die blink pypie, daardie blink pypie, die een wat uit die muur kom.

Hierdie pypie is so blink en skoon, ek kan my baard in sy refleksie skeer – daar is geen spinnekop nie.

Maar ek moet met die spinnekop afreken!

Nou vra ek met trane in my oë, hoe reken jy met 'n spinnekop af wat jy nie kan sien nie?

Hoe maak jy iets dood wat nie daar is nie.

As ek kon, het ek (teen my grein in) gaan Doom haal, maar daar is nie en ek kan my nie voorstel dat die ZEB-oondsproei of die lugverfrisser iets gaan vermag nie.

Toe, om my punt te bewys dat daar nie 'n spinnekop in sig is nie, roep ek die ding, eerder as om hom uit te wil jaag soos vaneffe.

Ek smak en klap my lippe, op 'n plooi, en op minder van 'n plooi. Ek siewie-wiewie en kietsie-kietsie. Ek koeloe-koeloe soos vir 'n kalkoen. Ek pielie-pielie selfs soos vir 'n gans – net vir ingeval die spinnekop gans kan praat en sukkel met Afrikaans. Maar verniet.

Toe sit ek nou met twee vrouens wat vir my kwaad is omdat ek niks doen om hulle te red nie.

Vra ek hulle wat hulle dan nou wil hê ek moet doen met die arachnida wat nie daar is om iets aan, of iets mee te doen nie, kan hulle my ook nie sê nie. Hulle is sommer net kwaad.

Dis ook toe op daardie punt dat ek, wat al hospice toe en terug kon gewees het, moet hoor sekere mense gaan volgende keer hulle pa bel om hulle te kom red van die spinnekop.

Maar toe draai ek om en loop.

Net om te moet hoor dat die spinnekop waarvoor hulle so bang is, niks anders as 'n Vadertjie Langbeen-spinnekop is nie.

'n Daddy Long Legs! Bid jou dit aan!

Die goed leef van muskiete en soortgelyke insekte! Hul bytende monddele is nie eens gemaak om hul “tande’ in 'n mens se vleis te kan inslaan nie.

En self al kon hulle jou byt, kan hulle jou nie bykom met wat dit ook al is waarmee hulle hul prooi bykom nie – hulle bene is so lank, só lank dat hulle die muskiet van bo kan bykom, dat hulle nie kan af buk met daai moewiese lang bene van hulle om hul byt- en vergifwerk in en op jou lyf van stapel te stuur nie. 'n Mens moet letterlik iets soos jou pinkie tussen hulle bene indruk – dit terwyl hulle nie op jou hand nie, maar op die tafelblad staan, voor hulle jou kan byt – sou hulle enigsins wou. Want hulle het mos eintlik 'n voorliefde vir muskiete.

Nou vra ek weer eens met trane in my oë...

Maar dan moet ek hoor die fout lê by my!

26.4.11

Eergister, gister en vandag

Van almal wat ek al met haar gedeel het, is die een wat ek vanoggend gepos het die enkele fabel wat Klaradyn die meeste na verwys. Gisteraand weer, terwyl ons vir Mamma wag om die DVD te begin kyk, toe trek Klaradyn weer 'n lyn tussen dit wat in ons huis gebeur en dit wat Babrius ongeveer 2000 jaar gelede van vertel het.

Maar dis net om haar siel uit te trek dat Klaradyn van tyd tot daarna verwys – Annieka is beslis nie 'n draaikous nie; as mamma het sy het net soveel ander dinge om te doen.

Maar eintlik is dit tog maar geaardheid ook:  sê vir my om die tafel te dek, dan dek ek die tafel en kry klaar. Sê vir Annieka om tafel te dek, dan moet sy eers die tafel leeg maak. My koffiekoppie wat daar staan, word wasbak toe geneem, ook hare wat sy langs die pad op die rak opspoor. Voor die wasbak is die waslap skielik te vuil – hy word inspekteer en in die asblik gegooi; 'n varse word uit die kas gehaal. Nou moet die melk yskas toe – maar daar is 'n vreemde vingermerk teen die yskas en dit moet eers skoon. As die melk uiteindelik in die yskas ingaan, spoor sy die Marmite in die yskas op – dit moet koskas toe gaan. Kom sy by die koskas uit, was ek daarin en staan die botteltjies nie meer soos soldaatjies van lank na kort met hul name na voor nie – nou word die kas eers reggepak.

Teen daardie tyd het die kos al gebrand omdat ek intussen die tafel gedek het – en die kos wat nie verbrand het nie, het koud geword of skoon verslaan.

Ek praat onder korreksie, maar ek verbeel my gisteraand se wag vir Mamma sodat ons kan begin fliek kyk, het begin met 'n “Ek gaan gou wieps,” maar opgeëindig in 'n operasie badkameropruim:  toe ons later gaan inkruip toe is die badtyd se klere wat op die vloer gelê het in die wasbalie, die bad gewas, die handdoeke opgehang, die water, wat tot in die gang geloop het, opgedroog, die gastehanddoek geruil en die leë toiletrolletjie vervang met 'n nuwe.

En dis nie asof sy die hele dag niks gedoen het en daarom teen afskakeltyd met hope opgekropte energie gesit het nie – ons het altwee vrek hard gewerk, twee dae lank: ek en Annieka het ontslae geraak van meer as 'n derde van ons boeke. Ek praat hier van 'n Venter-sleepwaentjie met bitter min plek oor na ons die boeke 18 bokse verpak het.

Maar dit kon nie anders nie. Ons het 6 meter boekrakke, dakhoogte, vra my, ek weet, ek het hulle self gemaak. Dis nie ongesond baie boekrak vir twee taalonderwysers nie, geensins; die probleem is net dat meer as die helfte van daardie rakke, met die uitsondering eintlik net van die folioboeke, elkeen twee rye boeke, die een agter die ander, akkommodeer het. En dit kon net nie langer nie.

Ek en Annieka was dan duidelik ook nie teenoorgestelde pole wat mekaar aangetrek het nie, want kyk jy na die groot aantal boeke waarvan daar twee op die rak was, een myne, een hare, dan is dit eerder asof ons uit dieselfde hout gekap is. En ook nie suiwer Afrikaanse en Engelse universiteitsboeke nie (ons het beide Afrikaans-Nederlands en Engels aan twee verskillende universiteite studeer) maar selfs kunsboeke.

En dan was hier boeke waarvan daar nie net twee was nie, maar drie:  Annotated Art, Hennie Aucamp se Die Hartseerwals, Dekker se Literatuurgeskiedenis, Haasbroek se Heupvuur (of was dit iets soos Voorslag?)

Ook nie een Versameldwerke van Langenhoven nie, maar twee.

Nie-fiksie het ons gehou, maar onder die fiksie was daar 'n slagting. Ons het nie meer een Afrikaanse of Engelse drama in ons besit nie – en ons het baie gehad. 'n Kortverhaalbundel wat ons nog net een keer deurgewerk het en ook nooit weer sal lees nie – en daar was baie – is weg. AP Brink en Elsa Joubert se romans is voor die voet gehou, ook Dalene Matthee, die ander slegs as ons dit beslis voor ons eendag ouetehuis toe gaan weer gaan lees.

Nie-fiksie waarvan die inligting maklik op die internet beskikbaar is, is ook nie gespaar nie.

Elke Afrikaanse digbundel is as kroonwild geag – daaraan raak niemand. Behalwe nou die waarvan ons dubbeld had.

Die geneuk is net, toe ons klaar het, toe is daar vier leë rakke.

Maar ek soek 'n boek wat ek die oggend gesien het, maar nou nie op die rak kan opspoor nie.

En Annieka stel voor ek gaan deur die 18 bokse, vir ingeval.

En ek doen dit.

Maar in die proses hou ek die Afrikaanse kortverhaalbundels en romans eenkant.

Ek roep Annieka om my te kom help – ek vra haar om saam met my op te tree soos Gustav Schindler teenoor die Jode opgetree het, en 'n paar te red. Maar sy hou voet by stuk:  arbeit macht frei – en dan het sy nou klaar gearbei, sy dra nie 'n enkele boek terug nie.

Ek het toe die vier leë rakke weer vol/vollerig gesmokkel.

Die rak waaroor ek die meeste opgewonde is, is die bykans meterlange boekrakspasie met boeke wat ons nog nie gelees het nie – want dit gebeur ook, veral as jy by tweedehandse boekwinkels inloer.

Ek het hoeka uitgesien na die hospice-winkel in Lynnwoodweg waar ek die boeke gaan aflaai het, ek het geweet ek gaan nie met leë hande terugkom nie.

Maar toe is die winkel toe vir besigheid, trouens net via die hospice se ingang self dat ek die boeke kon aflaai.

Ja, ek het laas jaar geskrik toe ek sien hoeveel geld 'n mens vir die regte boeke by die regte tweedehandse handelaar kan kry. Maar daardeur is ons verlede jaar.

Die bietjie geld wat ek sou kon kry wat ek nou nie gekry het, deur dit nie by 'n tweedehandse handelaar af te laai nie, gaan ons in elk geval nie armer maak as wat ons reeds is nie.

En wie is nou in elk die rykste? Hy met sy sakke vol geld, of hy met sy kop vol wonderlike stories?

***
O, ja, om by die fabels uit te kom, druk hier.





24.4.11

Voor ek vergeet

'n Mens vergeet maklik van goedjies soos skollelade en skottelade en skollolade totdat sy gisteraand, in die kar, in die reën, oppad huis toe en, soos vir die volgende 23 jaar, ontevrede met die musiek wat ek aan het, vra of ek nie weer Katkos en Karolus kan insit nie.

So, laat ek die kort sitaat neffens die blogtitel gestand doen en twee dinge doen:  die skottolades aan die vergetelheid ontruk en, voor ek, voor ons vergeet, van katkos karolus vertel.

Klaradyn word nié groot in 'n vreeslik musieklike huis nie – die radio is nie aldag en heeldag aan nie, nog minder die CD-speler.

Wat myself betref hou ek daarvan om aktief te luister – en met aktiewe luister bedoel ek om op daardie oomblik net een ding te doen, en dit is om musiek te luister; musiek moenie vir my iets wees wat wit geraas in die agtergrond vorm nie, ek wil sit, fokus, en die musiek geniet.

Annieka is anders – sy het na 9 jaar van getroude lewe begin om die radio aan te wil sit (kry 'n mens iets soos musiekhongerte, klankhonger?) en dan kan sy vir goed 'n uur lank (ek vermoed heeldag, as ek nie hier is nie) die radio in die agtergrond aan hê.

As ek hier is, is dit egter hoogstens 'n uur of twee dan kan ek die geraas, waarna niemand behalwe ek lankal nie meer luister nie, in die speelkamer, waar niemand lankal meer is nie, die langer uitstaan nie, dan gaan sit ek dit af.

Sy kan ook so, met die musiek in die speelkamer as verre agtergrondmusiek; aan die slaap raak; ek glad nie – ek kan nie anders as om aktief te wil luister nie. Dan is sy al in droomland – en dit vir 'n middagslapie – dan lê ek nog oopoog en so wakker soos 'n akker en probeer uitmaak wat op die radio aangaan.

En as ek dan eers opgestaan het om dit te gaan afsit, het die aktiwiteit en veranderde bloedvloei die slaap nog verder weggejaag.

So dit is in ons huis min of meer, nee presies, soos dit met ligte is – daar is net twee mense wat dit aansit, en dan is daar net een mens wat dit afsit (en die een wat afsit is nié een van die twee aansit nie).

Klaradyn moes ook 6 word voor sy 'n radio in sowel haar ma as haar pa se motors leer ken het. Mamma se motorradio was buite werking van voor haar geboorte, en die een deel van Pappa se motorradio het Ouma Nooi ook al jare voor haar geboorte êrens verlê.

Maar toe bederf ek myself begin Desember-vakansie met 'n nuwe ding in die kar, en dit was skaars Tweede Nuwejaarsdag gewees, toe sit ons af om vir Mamma ook een te kry – ook iets wat CD’s en rekenaargeheuestafies kan akkommodeer.

Ai, en dis 'n lekkerte – ek het goed vyf jaar lank musiek in die motor bly mis en Annieka het ook maar net verder gekwyn.

Maar sedert Desember klim ons nie in die kar sonder musiek nie. (Stomme Annieka, wat Klaradyn soggens by Ouma gaan aflaai, was weliswaar die hele eerste kwartaal op Liefling se klankbaan vasgeval – bloot die gevolg van 'n klein dogtertjie se doodnormale besottenheid oor die fliek en die Van Jaarsveld-mannetjie.)

Ek het bykans daagliks die met die baie CD’s op ons rak gependel – en die inkopie-halfuur toe Annieka uiteindelik vir my 'n CD-houer vir die motor koop, een wat 36 CD’s kan vat, is toe mooi die inkopie-halfuur waarop ek, wat 'n ander rigting in die Mall as die girls ingeslaan het, vir myself ook een koop, een wat 72 CD’s kan neem.

Dit wil darem voorkom of Klaradyn 'n versameling, anders as slegs Liefling, saam met Mamma in die kar sal toelaat en het ons nou al amper die punt begin bereik waarop Annieka die 36-een vir haarself sal kan aanwend.

So kom die April-vakansie, toe maak ek my kassie bewend van opwinding goed vol – Klaradyn se musiekverwysingsraamwerk gaan goed uitgeberei word.

En dit is ook so.

Sy geniet alles – alles behalwe die Boeremusiek wat vir my 'n persoonlike terugslag en ramp is – ek het gehoop om 'n tweede mens, naas myself, in lewende lywe, te leer ken wat van Boeremusiek hou, maar helaas.

Ek het natuurlik genoeg CD’s in die motor gehad dat ons nie eers nodig had om dieselfde een twee keer te luister nie. En op 'n reënerige dag, toe ons ver suid gery het en oppad terug is, is dit net mooi die weer en stemming om aan Coenie de Villiers bekend gestel te word.

Coenie is straks bietjie swaargewig vir 'n sesjarige, maar dis die einde van die dag, die kind is moeg, die energievlakke laag, net miskien koop sy in. Ek het die twee uiteenlopende opnames wat hy seker 20 jaar uit mekaar van Karoonagte laat maak het, in die kar.

Ek en Annieka, Annieka wat Coenie sou wou getrou het as sy my nie leer ken het nie, sing lustig uit volle bors saam. En dis toe ons 'n rukkie later een van die minder kindervriendelike snitte tref, dat Klaradyn afhaak en vra:  “Kan ons weer Katkos en Karolus luister, Pappa.”

Daar was 'n oomblik doodse stilte in die kar, ek vermoed mooi op die oomblik dat die een snit uitgespeel het en daar so twee of drie sekondes is voor die aanvang van die volgende, en toe proes ek en Annieka tegelyk wat ons besef Katkos en Karolus is niks anders as daai, vir Klaradyn, gans onbekende “ruik jy Katbos en Kambro (as dit reën in die Klein Karoo)” is nie.

En toe vergeet ons daarvan, tot Klaradyn gisteraand, uitgekuier aan Trekklavier Treffers, tong-in-die-kies en spottend met haarself, vra of ek nie daai lieflike Katkos Kambrolus-liedjie wil insit nie.

Daarom dat ek dit vanoggend, terwyl die twee girls nog slaap gou kom aanteken, voor ons vergeet.

En hopelik is daar nie baie sulke goed wat hierdie komende week in my gedagtes gaan kom aanklop nie – ek wil my fabels weer iewers in die kuberruim gestoor en aangeteken kry.

Ek lees hoeka gister in Beeld van Max du Preez wat twee boeke se werk en drie boeke se magdom navorsingswerk verloor het, toe sy rekenaar gesteel is. Netnou verloor ek dit wat ek reeds vertaal het op soortgelyke wyse, of die rekenaar pak op. Daarom ook dat ek verkies om dit op 'n blog in bewaring te hou.

Die skakel is hier, dit neem jou na Afrifabels – 'n simpel naam ek weet, maar ek sien Donderdag in die CD-winkel daar is naas die Afri-Frans en Afri-Spaans nou ook 'n Afritaliaans uit. So die Afrifabels is vir my tegelyk Fabels in Afrikaans, en Fabels vir Afrika (juis oor ek, as ek al 500 van die wat ek wil vertaal, vertaal het, die goed na Afrika wil transponeer).

Onthou om op daardie hier in die vorige paragraaf te druk.

Maar, vir jou gerief, en ingeval jy vergeet het, druk sommer maar hier, of hier, dan neem ek jou deur na die fabels.


22.4.11

3 korteres oor 21 April

Een

Die afgelope vakansie ry ons deur Margate se strate. Toegegee, seker nie strate nie, maar straat, die een straat met die woonstelle, die hotel en dan die besighede links en regs. Ons ry deur Margate se straat en ek onthou einde standerd 4 (1976) se Margate-seevakansie.

Ek onthou haar naam was Yvette en die boek wat sy as Kerspresent gegee het, was Konsalik se Skerwe van die Ysterkruis. Sonja Herholdt, twee jaar terug was ons by haar in die klas, het opgetree in die teater wat later 'n fliek geword het en ons het gaan luister. Ek onthou ook die pretpark, die winkel waar ek my nuwe swembroek gekoop het en die apteek waar ek my ma se Kerspresent, 'n bottel A Rose is a Rose-reukwater, gekoop het.

Yvette het ek nooit weer gesien nie. Skerwe het ek steeds, met haar kaartjie voor in. Ek het nie die idee gekry die teater wat 'n fliek geword het, is nog steeds 'n fliek nie. Die swembroekwinkel verkoop steeds swembroeke, maar die apteek bestaan nie meer nie – nou ook nog 'n plek wat ontwerpersklere aan die skoolverlaters wat elke jaar daar toesak, verkoop.

A Rose is a Rose het 'n paar jaar daarna van die Suid-Afrikaanse mark verdwyn, en vir 'n ruk lank was daar niks vir Judy se Kersfees-, Moeders- of verjaarsdagpresente wat aan roos herinner nie. Toe kom Tea Rose, nie dieselfde nie, maar naby genoeg.

Tea Rose kry jy so ver ek die laaste twintig jaar weet net op een plek in Pretoria, ses dagreise te perd van waar ons bly.

Toe ek Woensdag daar staan, toe gee ek dit een kyk en sê vir die vrou om sommer 3 bottels op te lui. Ek kan dit in my klerekas bêre en dan hoef ek in twee jaar se tyd nie weer spesiaal al die pad uit te ry om daarvan in die hande te kry nie.

As dit nie was dat die goed gevaar loop om te verslaan nie, het ek sommer 5 gekoop, want Judy het 83 geword en om soggens 'n iets in haar nek en aan haar polse te spuit, gee my iets om te doen.

Voorsien ek dat sy gaan vasbyt tot 87? Nee, ek weet nie. Enige iets is moontlik. En op 83 hoef 'n mens mos nie te wag vir 'n verjaarsdag vir 'n spesiale bederfie nie – as die een op is, kan daar mos nie beter tyd as juis dán wees om 'n volgende oop te maak nie.

Twee

Mense sluit seker maar almal met verloop van jare goeie vriendskappe. Party vriendskappe seker beter as ander, sterker, en strek oor meer jare as ander.

Nie alle vriendskappe is noodwendig goed nie. Nie alle baie goeie vriende is noodwendig baie goeie mense, so goed soos engele, nie.

Hoe lank duur 'n lewenslange vriendskap?

Van Judy se vriende leef heelwat nog – baie natuurlik al oorlede.

Egter net twee vriende wat na vyftig jaar of langer nog die moeite ontsien om met haar vriende te probeer wees:  Oom Cas en Tannie en Marie.

Ja, vriende “probeer wees” want hoe is jy nou vriende met iemand wat amper twee jaar gelede al vergeet het wie jy is?

Hoe moeilik nie om vriende te wees met iemand wat, voor sy opgehou het om te weet jy is, vir drie jaar oor en oor dieselfde ding vir jou vertel het, as jy kom kuier, as julle saam met vakansie is?

Van ek my verstand het, is my ma-hulle bevriend met Oom Cas en Tannie Marie.

Ma-hulle dan eers my ma en my pa, en ons wat gereeld op Tannie Marie se ouers se plaas gaan kuier. Of was dit Oom Cas se ouers? Dis soveel jare gelede. Ek onthou selfs 'n buitetoilet.

Toe, na die egskeiding, was dit hulle by wie my ma smiddaes na skool kon laat bly oor sy nie wou hê dat ek alleen by die woonstel rondhang nie. Ek het 'n tweede huis, 'n tweede ouerpaar bygekry, boetie en 'n ouer sussie bygekry.

Na 14 jaar van alleen wees, toe trou sy Oom Jack, toe word Ma-hulle weer Judy én Jack. Hierdie keer nie klein Hansie wat by hulle intrek nie, maar Judy. Dis toe Oom Jack sy been breek en vier maande gehospitaliseer bly omdat die hegting na die eerste ontslag twee keer los gaan. Alleen en op haar eie kan my ma nie meer na haarself omsien nie – Sonsak, dan kom tel Tannie Marie vir Judy op en more oggend neem sy haar terug huis toe.

Oom Jack is uit die hospitaal ouetehuis toe, Pretoria toe en my ma saam met hom. Kort daarna het Oom Cas-hulle ook Pretoria toe getrek en die twee pare vriende, die een paar heelwat jare jonger as die ander, was weer op dieselfde dorp.

Soos op Alberton het hulle steeds jaarliks saam vakansie gehou. Die twee oues kan nie meer bestuur nie, maar Cas en Marie bestuur en die vier van hulle ry die land vol.

Na Oom Jack se dood, ook amper 'n jaar gelede, die skuif na 'n enkelkamer, en toe die heupbreuk wat haar in 'n rolstoel los, het my ma in minder as 'n maand vyftien jaar ouer en twintig jaar agteruit gegaan.

Oom Cas self lank op sy rug – maar in die gees nog net so sterk soos al die jare.

En kom ek soggens voor skool by Judy, van tyd tot tyd 'n vreemde bossie blomme in 'n vreemde potjie langs haar bed, dan weet ek – Tannie Marie.

En toe Woensdagaand, 21:30, toe kry ek die volgende SMS:  Sjoe lifi dit is mos verjaarsdag more. Het gedink om 10 bietjie te kuier by Judy. Het julle enige reëlings met haar. Lekker slaap. X

Donderdagaand, toe Annieka en Klaradyn saamgaan om te kuier, toe is daar 'n vreemde pakkie wat nie 06:00 toe ek voor skool daar was, daar was nie.

Maar dit help nie ek vra nie, dit help twee of drie jaar al nie meer ek vra nie.

Drie

Of so het ek gedink.

Nee, so weet ek.

Maar weet 'n mens ooit 100% reg?

Want van Woensdag se SMS na die een Donderdag terwyl ek klas gee.

Ek het graad 8’s in die klas – nie vir Afrikaans nie, vir Drama. Ek is aan het verduidelik op 'n PowerPoint-aanbieding wat skrik vir niks.

Met arms wuiwend en strekkend na iets regs bo in die hoek van die skerm, gaan die selfoon aan’t kloek om te kenne te gee daar is 'n boodskap in die posbus.

Terwyl die kinders die opdrag waarmee my vraag op die skerm hulle konfronteer het, voltooi, lees ek gou die boodskap.

En toe gaan ons aan na die volgende opdrag – hulle moet neerskryf wanneer laas die karakter wat hulle besig is om in hulle verbeelding en op papier te skep in die koerant was. En hoekom.

Maar voor ek kon aangaan moes ek net eers die les opnderbreek:
Kinders julle is nou al 8 jaar op skool. Julle het seker al 'n juffrou een of ander tyd voor julle sien huil. Het julle al 'n juffrou sien huil? Bykans almal knik instemmend. Ek glo nie julle het al ooit 'n meneer in die klas sien huil nie, en ek dink nie julle sal ooit nie, maar ek wil hê julle moet weet ek byt nou op my lippe om nie voor julle te huil nie.

En ek vertel hulle van die verlamde ou Alzheimer-tannie wat vanoggend 83 geword het, en haar seun wat vir haar winterspantoffels en 'n botteltjie reukwater geneem het – welwetende dat sy teen die tyd wat hy by die skool kom nie eers meer gaan weet dat haar seun vanoggend by haar was, of dat dit haar verjaarsdag is nie.

Toe lees ek ook vir hulle my skoonma se SMS:  Gedink sal lekker wees om te hoor Judy het vir my vertel haar seun het vanoggend vir haar die pantoffels gebring.X

Ek kon dit die glo nie, ek kan so iets amper twee jaar al nie glo nie – en was dit nie komende van my skoonma nie hét ek dit nooit geglo nie.

Hoe sal ons ooit weet wat in daardie deurmekaar stil stukkie kop van Judy Moolman aangaan.

Ja, Moolman, nie Steyl nie.

Die personeel sê, vra hulle haar wie sy is, dan antwoord sy Judy Moolman.

Maar dan was sy darem vir 41 van daardie 83 jaar Moolman en is dit eers die laaste 23 jaar dat sy Steyl is.

Ek weet sy het 'n lekker dag gehad. Met my twee keer daar. Met Marie, straks Marie én Cas, daar, én dan nog Ma Louise ook, kon dit nie anders as om 'n lekker dag te gewees het nie.

Ek het 50 kolwyntjies en 50 kaaskoekies ook afgelaai die oggend. Genoeg vir die inwoners op die vloer, die nagpersoneel, die dagpersoneel en die ander skof dagpersoneel. So daar was nog partytjie ook.

Ek glo dit was ‘n spesiale dag.

Geluk, nogmaals jou liewe ou vrou.