Pages

30.9.11

Quarta horribilis / met 'n bossie pers bergblomme van lap en plastiek


In die jaar wat my baas ‘n hele klompie jare gelede ‘n ouer aan die dood afgestaan het, het hy, die dag toe ons die einde van die jaar, en toe ook al maande na die afsterwe, van mekaar afskeid neem, met emosie erken dat dié betrokke jaar vir hom ‘n annus horribilis was.

Met hierdie kwartaal wat vandag sy gat gesien het, het quarta horribilis gisteraand deur my gedagtes geflits toe ek in die SPAR in die tou val om te betaal.

Ons SPAR het so drie maande gelede homself begin verbeel hy is ‘n Woolworths – jy staan nie meer in 9 toue by die 9 kasregisters nie, nee, jy staan a‘la Woolies in een moewiese lang tou om aan die hand van ‘n lig en luidspreker, een vir een na die eerste oop en beskikbare kasregister opgekommandeer te word.

Om al die mak skape by die kasregisters uit te kry, moet ons nou soos vee in ‘n lang smal drukgang af. En getrou aan die geldwolf en geldmag se gewoonte is hierdie drukgang van links en regs gelaai met sjokolade.

En toe word die tou vir my bietjie lank, want dit was altyd so lekker om hier Judy se sjokolade-aankope te doen – aan die begin van die gang was dit die kommin goed (vir die verpleegpersoneel) en regs voor (amper by die eindpunt) staan die Lindt waarvoor sy so lief was.

Toe flits quarta horribilis momenteel deur my kop.

Dat die ou vrou dood is, het ek geen maar geen probleem mee nie – die mediese wetenskap het haar lewe in 1998 al met 17 jaar verleng. Die dokters het destyds gesê die operasie sal haar hart so 7, maksimum 10, ekstra lewensjare gee.

Dit het toe 17 geword.

Ons gesin het niks anders as stof tot dankbaarheid nie.

Rondom haar dood, is daar egter steeds 'n paar dingetjies waarmee ek moet vrede maak:

Toe haar dokter Vrydag ontbied word, word aangeteken dat hy laat weet hy is te besig om te kom.

Toe ek Sondag 12:00 by haar kom toe was haar dokter, of enige ander dokter wat dan nie te besig is om te kom, nog nie by haar nie.

Tussen Vrydagoggend wat ek my ma slapend aangetref het, en Sondag, toe ons gesin daar opdaag om saam met haar Klaradyn se verjaarsdag, my verjaarsdag en Lentedag te vier, kon die ouetehuis, wat my al hoeveel keer gebel het,  my nie in die hande kry om te sê my ma is nou al drie dae siek nie.

Wanneer haar dokter haar die eerste keer gesien het, weet ek nie – ek vermoed Woensdagoggend voor haar dood, toe hy laat weet het hulle moet ons laat kom sy is sterwend.

Tot op daardie punt, as ek uitvra na die dokter, moet ek hoor verslae en toetsuitslae is heen en weer gefaks en gestuur.

En dan die dierbare Dominee:  Ék doen hóm die guns om enigsins 'n begrafnisdiens te kan hou, dan dring hy aan op 'n diens in die kerk, in plaas van in die tuin onder die bome waar ek (én my ma) bymekaar sou wou kom.

Dit kon ek nog sluk, maar toe hy my begrafnisbrief aanpas om Job in te sluit wat volgens die ’83-vertaling sou gesê het dat die Here gegee en dat die Here toe weer geneem het, het ek lus en gooi hom teen met die blompot aan die voet van sy kansel.

As ek gereken het dit was die Here se wil dat my ma gesterf het soos wat sy gesterf het sou ek sinnetjies soos die volgende ingesit het:

Dit het die Hemelse Vader behaag om van ons weg te neem ons geliefde en beminde...

Onder die Wil en toelating van ons Hemelse Vader is deur die dood van ons weggeneem...

Deur ons Hemelse Vader se besluit is haar gees terug na God, die Gewer daarvan, en haar liggaam terug na die aarde soos dit moet wees.

Haar stem het stil geraak toe God geroep en Sy Wil bekend gemaak het.

Dieselfde hand wat jou aan die slaap gesus het sal jou wakker maak met die opstandingsmôre. Ons Hemelse Vader het dit so beplan om ons geliefde...

Maar oor dit louter kale snert is, doen ek dit doelbewus nie.

En dan het dit niks met ongeloof te doen nie – selfs die Pous, of iemand soortgelyk, soos die Moderator van NG-kerk, sal, ken hy die omstandighede van my ma se dood, moeilik daaraan sluk dat dit 'n God van Liede enigsins kan behaag om 'n geliefde pasiënt, ma en ouma op so 'n wyse en onder sulke omstandighede op te roep vir die een of ander hemelse diens.

Maar ek vergeef hom 100%. Hy herinner my bloot aan die fabel waar die skerpioen die padda, wat hom na veiligheid swem, in die middel van die rivier doodsteek met die woorde:  “Ek kan nie anders nie, dis in my aard!”

Maar toe ek vanoggend wakker word met die pers blom voor my oog en in my gedagtes, en ek lag, toe weet ek daar is 'n tweede ding wat ek vergewe het, 'n tweede iets waarmee ek vrede gemaak het: die bossie pers bergblomme van lap en plastiek.

Toe die dokter haar toe nou die Woensdag te siene kry en besef dis nie deur sy toedoen nie, maar alleenlik deur die genade dat sy nog asemhaal, verlig hy summier die laaste vier dae se alle hel op aarde deur haar met morfien te verdoof (ek is hom dit ewig dankbaar - en ewig spyt dat hy dit so laat eers gedoen het) en laat hy die familie toe ook bel om gou te kom afskeid neem.

Toe ek toe nou, twee ure nadat ek die oggend daar weg is, weer daar aankom, toe is die ou vrou in so toestand dat sy gelukkig nie eers weet sy sterf nie. Of dat een van baie geliefdes, as verteenwoordiger van hulle almal, darem daar is om afskeid te neem nie.

En dit was ook nie lank nie, toe verdrink haar longe in die water wat die versaakte hart en liggaam nie kon wegwerk nie.

Die stomme vrou het geheel en al teen haar aard en natuur in gesterf: luid en met 'n moerse geroggel. Ek glimlag nog so by myself en dink dat as daardie my ma se laaste asem was, dan was dit darem vreeslik teatraal van haar gewees. So asof ek vir haar wil sê:  “Ma, jy kan maar rustig heengaan, jy hoef nie so 'n scene daarvan te maak nie.”

En toe was dit, genadiglik, met 'n glimlag ('n glimlag wat sy sou beantwoord het, was sy by haar volle positiewe) haar laaste asem.

Ek kon toe nou lekker van die ou vrou afskeid neem, my groete groet en geselsies gesels.

Ons gesin doen nie oop kiste en sulke dinge in die kerk nie. Ek vind dit trouens makaber (wat dit natuurlik nie is nie).

Ek wil nie later, of in die gedagtes afskeid neem nie, ek wil daar op die toneel groet en klaar groet.

En dit is my toe gelukkig gegun.

Ja, ek weet dis absurd, jy tree in gesprek met 'n dooie homp menslike afval en oorskot, jy streel en groet en troetel niks anders nie as menslike reste. Maar vanuit die perspektief van die naasbestaande is dit op daardie oomblik (en vandag steeds) die mees rasionele ding onder die son.

So ons kuier toe oulaas en ek kyk gou of hulle goed na my ma gekyk het, en of hulle haar met bedsere aan die lewe laat vasbyt het.

Maar dan kom vra die suster of sy nie my ma kan kom versorg nie. Dan wil ek vir haar sê:  “My donder, Suster, my ma is dood, daar is niks wat jy nou vir haar kan doen nie – los ons uit, ons kuier oulaas.”

Dan dra hulle tee aan. En vra 'n tweede keer beleef of hulle nie maar na my ma kan omsien nie.

Dan wil ek my vererg, want dis mos nou duidelik dat ek nog heerlik kuier en nie nodig het om gepla te word nie. "Bring eerder daar vir my nog 'n koppie tee."

Dis eers die vierde keer dat dit tot my deurskemer – hierdie suster, wat baie meer ondervinding as ek van lyke het, weet meer van rigor mortis af as ek – hulle wil haar uitlê, voor dit ongemaklik raak.

Maar op daardie punt was die Dominee (en op hom kan altyd gereken word) al daar en hy skeur my toe weg om AVBOB te gaan bel.

En toe ons terugkom, toe het die Suster die verpleegpersoneel ingestuur gehad om die lyk “gemaklik te maak”. (Miskien is dit hulle wat die Ds. opkommandeer het:  “Dominee, jy moet kom help! Daardie vrou gaan styf skop en ons kry nie haar seun daar weg nie, ons kan nie ons werk doen nie!”)

Want daar lê die dierbare ou stukkie lyf in die poeierblou pajamas toe nie meer soos ek haar gelos het nie, maar plat op die naat van haar rug soos 'n telefoonpaal, met 'n opgerolde handdoek onder haar ken (seker om te keer dat die mondjie oopgaap)

En teen haar oor: 'n PERS BLOM VAN LAP EN PLASTIEK, dramaties, effekberekend geposisioneer.

Ek het die oggend vroeg, toe ek hoor sy gaan nog vyf dae daar lê om haar kursus antibiotika klaar te maak, na haar kamer gegaan en die imitation potplant wat in haar kamer was, gaan haal om vir 'n bietjie kunsmatige lewe in die hospitaalkamer te sorg.

En dis toe nou 'n tak van hierdie pers viooltjies wat die lykbesorger/lykversorger uitpluk en teen my ma se slaap lê-maak.

Die persoon kan regtig bly wees my ma se verstand was by haar dood so weggekalwe dat sy nie summier in die bed omgedraai het nie. Het hulle haar 10 jaar terug met so plastiek-en-lapblom verfraai, het sy sweerlik van onsteltenis net daar op die plek 'n tweede asem gekry.

Ek het, toe ek klaar geroet het, die handdoek en blom weer op hul oorspronklike plekke gesit.

En as ek my ma weer sien, dan is sy in 'n lieflike houtkissie.

En as jy dink dis mal en laf om met 'n dooie lyk in gesprek te wil tree – het jy 'n idee hoe lekker mens met so kissie kan gesels?

Vra my, ek weet. My ma het seker vir ses of sewe jaar met haar oorlede suster se kissie in die snoepkas gesit – so tussen die chocolates, Kersfeeskoek en beskuit.

Ek mis my ma se geselskap en kan nie wag dat sy weer by ons aansluit nie.

Dit was haar wens dat haar as in die see gegooi word.

Ek reken sy is nou dood en kan nie weet wat ons met haar aanvang nie.

Dit sal nie veel van my vat om haar op die kaggelrak staan te maak tot in lengte van dae nie.

Gelukkig het ons nie eers 'n kaggel nie...

...en heg ek geen waarde aan dit wat na 'n verassing van die liggaam oor is nie, dis materie wat van die begin reeds daar was, en, soverre ons huidige gebrekkige kennis strek, altyd daar sal wees – dit het op enige ander plek, as op die kaggelrak of in die motorhuis (of in 'n gedenkmuur gemessel) 'n veel groter en belangriker doel en funksie.

Vanoggend word ek toe egter wakker, en dis waarby ek wou uitkom, met 'n prentjie van daardie pers blom, so reguit en dood en styf soos 'n lyk, langs my ma gesig.

En ek deins nie terug soos 'n maand gelede nie (wanneer is my ma oorlede, ek weet nie eers nie) – ek kry 'n glimlag.

En ek maak vrede met wie ook al die vulgêre banale handeling gepleeg het, want ek weet die persoon het net goed bedoel, en vanuit haar/sy perspektief was dit die beste, slimste, oulikste ding om te doen.

Ek het die plastiekplant in sy wit pot terug gevat na my ma se kamer toe, en al haar ander very upperclass and stylish artificial plantjies in 'n slapende ou tannie se kamer gelos toe ek die dag oulaas met al haar goedjies daar uit is – miskien bring dit bietjie vreugde in 'n ander se hart.

(Hoekom ek toe nou 'n blinde ou tannie se kamer moes kies om dit in te sit, sal ek nie weet nie, maar saam met die verpleegsuster het ons toe darem 'n beter keuse kon uitoefen.)

Ek sê ook nou ek het vrede gemaak met twee van die vier dinge wat krap. Ek lieg, dis drie van die vier.

Ek het vrede gemaak met die ouetehuis wat my nie gebel het om te laat weet van die siekte nie. Ek weet hulle het probeer, na die beste van hul gebrekkige vermoë. Hulle het my by twee nommers wat verkeerdelik deur administrasie aan hulle deurgegee is(of hulle verkeerderlik neergeskryf het) probeer bel – iets soos 083-739-6886 en 083-739-6686 in plaas van 083-739-6889.

Dis tyd dat ek by die dokter uitkom en gesels.

Gelukkig is ek iemand wat vreeslik maklik 'n rat voor die oë gedraai kan word.

NS:  En soos die noodlot dit bestem, spoor ons Tannie Anne toe vanoggend op. Ons soek reistasse, en daar, in die eerste een wat ons oorweeg, is Tannie Anne se houtkassie. Weliswaar sonder haar as - haar seun het die as by Judy gekry, gestrooi, en die kissie terugbesorg.

27.9.11

Ek het hom by die werk aan die werk gekry

Ek bedryf nou 'n sywurmboerdery vanuit my motor.

Klaradyn het drie van die goedjies present gekry. Haar eie boks met eiers het onder misterieuse omstandighede van die rak in die motorhuis, waar ek en sy dit self gesit en amper 'n jaar lank opgepas het, verdwyn. Laat ek dit eerder stel:  onder misterieuse omstandighede en veelseggende trekke om die mond van Annieka se kant af.

Die drie sywurms het my herinner aan die kennisgewing in 'n vol gepakte winkel, miskien het ek al daarna verwys: unattended children will be given espresso and a baby rabbit to take home.

Sonder 'n boom, stop ek nou elke oggend af in die straat en pluk 'n paar blare, maar oor ek die goed dan moet voer, is dit beter ek hou die wurms in die motor. Ek los selfs die venster op 'n gleufie oop en sorg dat ek nie parkeer as dit nie in die koelte is nie.

Toe laat val Jonathan Jansen gister (ook al meer as 'n week gelede, maar ek kom nou eers weer by hierdie, een van baie onvoltooide inskrywings op my rekenaar se hardeskyf, uit) op sy bladsy die volgende:  Letters to my children #49: the best way to achieve a balanced , unselfish life is to have your own children.” (Ek verbeel myu hy trek al by #54)

Ek lê toe ook 'n eier maar practise toe mooitjies in die proses presies die teenoorgestelde van dit wat ek my leerders altyd preach. (Don’t do as I do, do as I tell you to do.) Werk ons rondom 'n brief aan die pers, waarsku ek hulle altyd daarteen om tog nie presies dieselfde kwyt te raak wat reeds in die berig/brief waarop hulle reageer, kwyt geraak is nie. Waarom sal die redakteur immers koerantspasie afstaan aan 'n skrywe wat onder die son niks nuut kwytraak nie.

Maar in die sosiale media is daar nie 'n redakteur wat redigeer en kortknip nie en my eiertjie sal tot wie weet wanneer daar bly:  “Hoe vreeslik waar is dit nie.”

Op daardie oomblik, toe ek sy opmerking lees, het ek net so sterk daarmee identifiseer, dat ek nie anders kon as om op die een manier te beaam nie. En my kommentaar was die beste waarmee ek op in daardie stadium en met die tyd tot my beskikking vorendag kon kom. Siestog.

Dit was natuurlik nie die eerste keer dat hierdie woorde my ore bereik het nie. Ek het dit al vantevore, by herhaling aangehoor, in ander woorde miskien, maar steeds dieselfde boodskap.

Hoe selfsugtig, selfgesentreerd, egosentries en egoïsties ek en Annieka voor Klaradyn alles, en dan bedoel ek ALLES, deurmekaar kom krap het, sal ek nie weet nie.

Maar dis 'n feit dat nóg ek, nóg Annieka ons vorige wederhelftes geskei het, voor ons met mekaar getrou het. En hoewel daar nie sprake van veelmannery en –wywery sprake kan wees nie, is ons al twee met derde partye in ons huwelik in.

Voor ons huwelik sou Annieka kon deurgaan as Mej. Annieka Hoërskool Staatspresident CR Swart en ek as Mnr. Hans Jurgens Moolman Menlopark. Na ons huwelik het sy bloot Mev. Annieka Moolman Menlopark geword, en ek het onveranderd gebly – 'n man verander mos nie van van nie.

Die huweliksbootjie waarin ek en sy beide met ons werk was, was wonderlike bootjies – die roete wat ons gevolg het, was ook sonder enige gevaar:  nêrens was daar rotse waarop die huwelik kon loop nie. En soos die Titanic kon die bootjie nie sink nie.

Anders as die Titanic, hét hy ook nie gesink nie.

Dis nou tot Merrieperd Klaradyn Moolman op 30 Augustus 2004 by ons aangesluit het.

Niks was daarna ooit weer dieselfde nie – die meeste daarvan natuurlik positief.

Behalwe dan nou enkele klein veranderinkies wat by die werksplek ingetree het.

Kyk, ek is mos vir jare een van daardie onderwysers gewees wat, as die skool in die eksamen vir drie weke 12:00 uitkom, ek vir drie weke by die skool sal bly tot 14:00 – dit terwyl die meeste personeel wat na 10:30 nie meer toesig het nie, teen 10:31 al kilometers in die straat af of in die koffiewinkels en malls was.

Ek verbeel my ek het in die eerste 18 jaar van onderwys MISKIEN een keer in skooltyd in my motor geklim en skelm afgery kafee toe om sigarette te koop. En ek het dit daarna nooit weer gedoen nie. Want ek was 'n wrak, natuurlik! Wat anders?

Sê nou hulle vang my uit! Sê nou ek kom iets oor en ek was nie by die skool nie. Sê nou die Engel van die Here kom om my te haal en hy kan nie by die hemelpoorte van my getuig dat hy my in die tuig aan die werk by my werk gekry het nie!

Dit kan mos nie.

En daar klim ek vanmiddag 13:20, enkele nanosekondes na die klok vir die aanvang van die laaste periode gelui het. in die motor en verlaat die skoolterrerin sonder om iewers toestemming te vra of kennis te gee van my voorneme om die skool voor die einde van die skooldag te verlaat.

Kolegas wat my goed ken, weet dit is geensins in my aard om so iets aan te vang nie, nie Hans nie, enige iemand anders.

En daar is net een rede voor:  Klaradyn.

Die hoof het na 18 maande, spottendergewys – and many a true word spoken in jest – genoem dat ek nie eers 'n skadu meer is van die arbeider wat ek was voor ek Pa geword het nie.

Maar Klaradyn het vir swemles gegaan en ek wou die juffrou uitkyk om self agter te kom of sy so oulik is soos wat almal sê.

Ek het toevallig die laaste periode nie klas gehad nie en besef dat ek by die les sal kan insit as ek my ry gou genoeg kry en daar val niks voor nie.

Ongelooflik hoe vinnig nie net ons vooropgestelde idees rondom ons werk nie, maar selfs ek en Annieka self, gekrimp het tot bykans niks na die geboorte van die merrieperd nie.

Dat so klein bondeltjie lewensvreugde so veel ruimte kan inneem. Daar is soveel toegewings wat 'n mens langs die pad maak (die groot badhanddoek, die laaste slukkie melk, die laaste R200-00, die eerste Japonica, noem maar op, die lys sal oor bladsye strek) dat 'n mens, onder aansporing van Jonathan Jansen, nie anders kan nie as om te dink:  “Liewe maggies, maar ek was 'n selfsugtige wese, ek en my dierbare vrou was van die selfsugtigste wesens denkbaar, voor die koms van ons kleinding.”

Ons kind is waarlik vir ons 'n seën.

En as die Engel van die dood my kom haal, laat hy nie meer eendag nodig het om te rappotrteer dat hy my aan die werk by my werk gekry het nie; mog hy eerder kan laat val dat hy my in bemoeienis met en gedagtig aan my geliefdes opgespoor het.

Nog een wat ek soos gisteraand s'n af moes jaag, maar hy lê nou al so lank dat ek een van die dae nie eers meer die hooftrekke van dit wat ek in gedagte had, sal kan aanvoel en onthou nie. Die hoofgedagtes, verbeel ek my, skemer steeds deur. En ek moet buitendien nou ry – as alles goed gaan het die goed begin spin; so nie, moet ek nog stop vir padkos langs die pad ook.

26.9.11

Kos is nie sommer net kos nie


Vir my sal kos nooit in der ewigheid sommer net kos wees nie. Met die beste wil op aarde sal dit nie sommer net kos kán wees nie – nie vir my nie, ook nie vir my broer nie.

Hoe lank my pa met my ma getroud was voor kos ook vir hom 'n ander gedaante aangeneem en nuwe betekenis gekry het, sal ek nie weet nie, maar dit hét.

En dan gaan dit nie daaroor dat Judy van die mans in haar lewe lekkerbekkige smulpape gemaak het nie, nee, geensins – Judy kon jou 'n appel in 'n bordjie met 'n messie en jammerlappie aangebied het, en dit was asof jy pas 'n geskenk van die gode ontvang het.

Jy kon weet sy het minstens drie of vier appels ondersoek en opgeweeg om die een wat na haar oordeel die geskikte een vir jou sal wees. Die gekose een is dan nie net gewas en gedroog nie, dit is blink gepoets op so 'n wyse dat jy dit reeds met jou oë kon begin geniet, selfs nog voor jou hand 'n mes, of jou mond 'n tand daaraan geslaan het.

Dan ook die regte messie.

En om alles af te rond, dan die nat jammerlappie.

Dan praat ek nie van 'n muwwerige smetterige vadoek vol van drie weke se vuil skottelgoed en skottelgoedwater nie – ek praat van 'n kraakvars jammerlappie.

Ek mis dit seker al ses of sewe jaar, ek lieg, seker amper agt jaar. Maar ek mis dit die afgelope 3 weke meer.

Kosmaak was nie sommer kosmaak (moer in 'n pot en sit 'n deksel op nie) nie; kosmaak was liefdesdiens en offervaardigheid by uitnemendheid.

Sy sou geen, maar geen, moeite ontsien nie.

Sy sou geen, maar geen, kortpaaie neem nie.

Met haar kos, hoe nederig en beskeie, hoe rojaal en overdadig ook al, het sy kommunikeer:  ek is lief vir jou, jy is vir my spesiaal, dit is vir my een groot voorreg en vreugde om hierdie vir jou voor te sit en met jou te kan deel.

Sy sou twee dae na mekaar om 03:00 opstaan om in die kombuis doenig te wees – hoe ouer sy geword het, hoe langer kon dit neem.

Na 75 kon sy haarself siek en doodmoeg kosmaak. Dan kom ons op 'n Sondag daaraan en dan is Judy nie 'n skaduwee van wat sy kan wees nie – dan weet ons sy het twee of drie dae aanmekaar gekook.

In die laaste jaar voor hulle ouetehuis se versorgingseenheid toe is, het ons doelbewus nie laat weet as ons kom nie, vir Oom Jack gevra om dit geheim te hou – sodat ons lekker met die ou vrou kon kuier en meer van haar kon hê.

En wanneer dit sommer pot luck was wat jy by haar geniet het, was dit met soveel liefde berei en voorgesit dat ook dít vir konings geskik was.

En wat Judy met haar kos suggereer het (haar liefde en jou spesiaal wees) het sy met die voorsit en bediening uitgespel – haar lewe lank. Tot sy nie meer kon nie. Al wou sy. En het sy steeds probeer.

Blomme, servette, silwer gepoleer. Nie die tweede beste skottel nie, die beste. Die tafeldoek gestryk.

Ag, en nou het ek en Jac baie daarvan in ons, dit wat nie in die gene aan ons oorgedra is nie, is met verloop van amper vyftig en amper sestig jaar se langdurige blootstelling aan ons afgesmeer. En dit sit.

Vergeet die bediening en voorsit, dis bloot goeie maniere – ek praat veral van die feit dat kosmaak veel meer as sommer net kosmaak is – dis offer, dis gee van jouself, dis sê: ek is lief vir jou, jy is vir my spesiaal, hier, neem my, maak met my wat jy wil ek is joune.

Dis liefdesbetuiging aan jou wederhelf, jou kind en elke kraai wat kom inloer.

Daar is vir my niks so lekker om soggens Klaradyn se kospakkie te maak nie. Ek is soms na 20 minute skoon moeg en uitgeput gekommunikeer aan net een ding – ek is lief vir jou my kind.

En omdat 'n mens nie van liefde en water alleen kan leef nie, moet ek vir my en Annieka ook soggens iets saamslaan.

Maar omdat ek soveel kommunikasie in my kospakkies pomp, kom daar periodiek 'n geneuk – daar is oggende wat ek nie kospakkie wíl maak nie.

Of ek begin van 17:00 af voorberei en gesels aan 'n heerlike aandete. Dan gooi Klaradyn die kar om deur dwars of sommer net oormoeg te wees. Dan wil ek nie meer kosmaak nie, dan wil ek die kos nie voorsit of selfs my mond daaraan slaan nie.

Dis dan, soggens om 'n kospakkie, of saans om die etenstafel dat ek dan versoeningswoorde in my kos moet lê. Natuurlik wil ek nie altyd nie. Natuurlik is dit nie altyd maklik nie.

Maar wat ek in woorde nie kan uitdruk nie, kon 'n porsie kos nog altyd oordra, selfs 'n appel in 'n bordjie met 'n messie.

Dan noem ek kosmaak danksy Judy ook 'n offer, en 'n opoffering.

Niks illustreer dit beter as die druiwe en sjokolade van die afgelope week of wat nie.

Daar is druiwe op die rak, alles ten duurste ingevoer uit die buiteland. Vir myself sal ek dit nooit koop nie. Vir Annieka ook nie. Vir Klaradyn wel.

Dan betaal ek R36-00 vir 'n tros druiwe wat my ander tyd van die jaar R6-30 sal kos. Dan kry Klaradyn elke korrel daarvan in haar kosblik (gewas en drooggeskud en in mini-trossies geknip).

En ek weet, as die tros klaar is, nie hoe dit proe nie, want ek het my lippe nie aan 'n enkele een geslaan nie.

Dis simpel, ek weet, maar dis vir Klaradyn – Klaradyn is spesiaal en haar druiwe is spesiaal.

Van die moeilikste, oor die kort termyn, rondom die dierbare ou vrou se afsterwe was dan,  soortgelyk aan Klaradyn se druiwe, die omgaan met haar sjokolade.

Ek het 'n kissie met 'n sleutel bo in haar kas gehou – hom het ek vol gehou met sjokolade en elke oggend vir haar twee gegee om te eet. Ek het ook 'n paar sjokies in 'n bakkie langs haar bed gehou – sodat die verpleegpersoneel dit kon opslurp en ek my verbeel my ma eet dit en dink aan haar kinders en geliefdes.

Dit was nie sommer enige sjokolade nie – haar gunsteling, Ferrero Rocher, kon ek weliswaar nie meer gee nie – dit het 'n neut in die middel waarin sy kon verstik, en fyn splintertjies neut wat in die voue  van die maagwand kon gemors veroorsaak.

Toe verander ek dit na hierdie peperduur Lindt-bolle/balle wat aan Kersfeesboom-balle herinner.

Daarvan het ek nooit in die bakkies langs die bed gesit nie – dit was Judy s'n en nie vir die verpleegpersoneel en verpleegpersoneelhulp nie.

En oor ek nie aldag en heeldag in die winkels rondhang nie, en die kissie waarin ek dit weggesluit gehou het, soos 'n groterige ydelheidstassie gelyk het, het ek lag-lag drie bokse van die goed daarin aangehou...

...sonder om ooit self 'n enkele een daarvan te eet.

Dis nou met die uitsondering van die een keer wat ek een geneem het omdat Klaradyn nie een wou neem voor ek nie ook saam met haar een eet nie.

Donderdagoggend voor haar dood, toe eet ons heerlik Lindt. (“Nee dankie, Ma, nie vir my nie, ek het nou net  gehad.” “Nee dankie, Ma, nie vir my nie, ek het nounet ontbyt gehad.”

Kuier ek in die siekeboeg waarin sy die Sondag opgeneem is, gaan ek eers kamer toe en bring 'n Lindt-bol of twee saam, vir haar en die ou Tannie wat langs haar lê.

Die aand voor haar dood, voer ek haar 'n bol met my gebruiklike woorde van die (voor-)laaste twee of drie weke:  “Eet tog maar 'n ietsie soets my ou vrou – die lewe is bitter genoeg.”

En toe gaan staan en sterf sy en los my met goed 24 van die bolle nog in die houte kissie.

Ek het vir Annieka gesê ek gaan dit weggooi – ek sien nie kans om dit te eet nie.

Maar ek is te suinig en my ingebore/oorgeërfde vrekkigheid laat my nie toe nie.

Ek het gedeel. Klaradyn het saans met storietyd gekry.

Miskien is daar nog in die antieke koekiehouer waarin ek dit oorgepak en langs my bed gesit het. Ek het lanklaas geloer.

Ek het self ook een of twee gehad.

Maklik was dit nie.

En ek het elke keer aan het tjanke gegaan.

Maar 'n lekker huil, was dit gewees, 'n hartseer huil, 'n huil wat jy nie omgee om te huil nie – want dis 'n huil wat sê ons is lief vir jou, jy is vir ons spesiaal. En hoe kan ons jou mis, as jy steeds met ons is.

Dat ek na die naweek nog in die lewe is, is suiwer genade. Die drie van ons is na die Gauteng Good Food & Wine Show)(of is dit Expo) toe.

Kos is mos nie sommer net kos nie, en as daar iewers 'n ophef van kos gemaak word, wil ek daar wees en my eie opheffingswerk doen.

Ek het vir die duur van die tyd wat ons daar was gepeusel, deurmekaar gepeusel.

Met padkos in die motor is ons al die pad van Johannesburg af terug Pretoria toe.

En toe het die besoek aan die kosgedoente my so inspireer dat ek vir ons drie 'n kleinerige filet berei het – nie dat hy so klein was nie, ons het Sondag nog oorskiet verwerk en geniet.

En die hoofbestanddeel, naas die beeshaas, a’la Judy Moolman, niks anders as room nie.

Ja, ongelukkig glo ek, nes my oorle ma, dat daar niks onder die son is, wat nie strate beter smaak met, nie 'n eetlepel of 'n skeut nie, maar 'n hele kannetjie room (of twee). Of dit nou bredie, biltong, vrugte, vleis, poetoepap of polenta is.

Want as jy gedink het ons Moolmans gaan op in die maak en voorsit van kos, dan het jy ons nog nie beleef as ons wegval en daardie kos, selfs al is dit 'n blink gevryfde appel, begin geniet vir wat dit is nie – 'n boodskap van liefde en gee en deel.

(Jammer ek moes aframmel en afjaag hier na die einde nie, maar die girls is klaar gebad en ons gaan nou eet. Bon apetit.)

Goed waaraan ek gedink het terwyl ek hier getik het - die meeste daarvan in Klaradyn se Voortrekker-uur - het ek al uitgesels. Ek het dit opgespoor en hier gepos.

En was ons aandete spesiaal - Klaradyn aard na haar pa/ouma. Ons het op 'n Maandagaand 'n "binnenshuise piekniek" op komberse in Klaradyn se kamer gehad. Sy het aangedra (en ons moes afdra) maar dit was heerlik gesellig.

Die drie van ons het laas so lekker op ons agteralies in haar kamer gesit en kuier, toe sy sommer nog 'n baba was - sy kon nog nie eers loop nie.

21.9.11

Kwartaal 3 se gedugte gedigte-program


Ek is baie lief vir skoolhou en die kinders vir wie ek skool hou. Partykeer kry ek die kinders egter meer jammer as wat ek vir hulle lief is, juis oor hulle met iemand soos ek opgeskeep moet sit.

Die kwartaal staan einde se kant toe en ek kyk terug op 'n wonderlike kwartaal van poësie, 'n kwartaal waarin ek die leerders uitgedaag het om talle grense te versit.

Maar ek kry hulle steeds jammer: net gister is ek by 'n handboekuitstalling oor die handboeke vir die nuwe interpretasie van die sillabus wat volgende jaar in aanvang neem. Ek maak 'n punt daarvan om te kyk na die gedigte wat in die boeke aangespreek word en kort-kort, gister, val dit my op dat die handboeke van my verwag om gedigte met die graad 10’s te doen waaraan ons die leerders in graad 8 al bloot- en bekendgestel het.

Maar terug na hierdie kwartaal en die leerders se gedigte – ons het die hele kwartaal in die Karoo gekuier, sommer vir drie gedigte op dieselfde dorp.

Ons het weggeval met twee Beaufort-Wes gedigte, so 40 na 50 jaar uit mekaar geskep. Die eerste was
NPVWL se Karoo-dorp: someraand.

Karoo-dorp: Someraand

Die laat-middag het room geword
en treine wat ver fluit
en ’n wit-bont klaas-skáwagter
wat wag-hou op ’n kluit

en rook uit die lokasie rook
en by die dorpsdam sing
en mense in tennisbroekies loop
die koper skemer in

dóér op die nasionale pad
loop motortjies onhoorbaar, hoog;
Oum-Appie-Slagkraal se ou fiets
kom staan, vanself, moeg, voor die oog.

Tant’-Tolie-met-die-kanker kom
sit op die bordienghuis se stoep:
vanaand gaan hoor ons nog hoe sy
Die Here en die uile roep.

Daarna loer ons in by Gert Vlok Nel se herinneringe wat op dieselfde dorp afspeel – en ek maak seker die kinders luister na Gert wat sy eie liedjie sing, en nie na ander weergawes wat die kinders beter ken nie. Ook wil ek die leerders bekend stel aan een van die meer vryer vrye verse wat ons in Afrikaans kry.

Beautiful in Beaufort-Wes

En jy was beautiful in Beaufort-Wes en ek was so verskrik en verskriklik lief vir jou en jy het op grafte en op treine en op Ford Fairlane se agterseats gevry en nou is jy en jou man both computer analysts en laas winter you tried to clip above your wrists en nou skryf jy vir my jy kan nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer iets vir jouself doen nie, nooit ooit weer vir my soen nie

En mooi mooi mooi was jou woorde ook terwyl jy menthol sigarette rook en daai sweet sweet dinge vir my se terwyl jy sweet sweet in my arms le en die presiese woorde het ek presies vergeet ek onthou net die rook en die sweet in Beaufort-Wes en jou kaal liggaam onder 'n cool summer cotton dress nie meer slaap nie, nie meer lag nie nie meer iets vir mekaar doen nie nooit ooit weer vir jou soen nie

En dis miskien soos 'n storie uit die Huisgenoot, maar jy't een aand skielik vir my weggestoot en in die rear view mirror jou gesig gekyk en gese 'miskien moet ek gelukkiger lyk' daardie aand kon ek nie aan die slaap raak nie en het gevoel hoe my hart losruk uit my lyf en soos 'n roeiboot in die rivier afdryf ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer iets ooit reg doen nie, nooit ooit weer vir jou soen nie

En die laaste herinnering waaroor ek sing is die nag toe ek en jy die melktrein aan en aan in die nag in ry tot anderkant die ding dong gong van die breakfast waiter in die gang verby en dit was my wake-up call my lief jy't gese wees asseblief lief vir my maar ek het gedroom ons het in Beaufort-Wes gaan woon en ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie, nie meer so iets doen nie,
nooit ooit weer vir jou soen nie

Toe word die kinders aan intertekstualiteit bekendgestel. Pieter Hugo tree in een van sy gedigte lieflik in gesprek met beide hierdie gedigte, en toe ontmoet die leerders hierdie man, wat ook in 'n stadium op Beaufort-Wes gewoon het, en sy gedigte:

My Beaufort-Wes – Pieter Hugo

I Vir NPvWL

ek bly daar waar
die laatmiddag nog room word
maar treine wat ver fluit
ongehoord in ou gedigte hoort

ek bly daar waar
die nasionale pad dag en nag dreun
en Gert Vlok Nel se ou fiets
soms verbyknerp vanself moeg voor my oog

ek bly daar waar prossies
sit op die bordienghuis se stoep
vanaand gaan hoor ons nog hoe
die lorriedrywers vir hul toet

II Vir Gert

my Beaufort-Wes is net
‘n verstopping op die N1

dis nie i beautiful plek waar treine eensydig
verbyswiesj na i liedjie vir koos nie
nee nee nee nie dit nie glad nie dit nie gert

my Beaufort-Wes is ‘n on-onderbroke lorriestoet wat
stop en ry en draai en toet en
exhaust brake en tjips en
diesel en meisies koop en
nagdeur op en af grom sodat
ek nie eers meer so half
wakker half iewers innie nag
ou moeë windpompe
hoenders of donkies gots is
daar nog iets wat so uit
dieptes gans verlore klink nee nie meer kan hoor nie

nie eers meer i treinerige trein kan hoor nie gert

ons Beaufort-Wes is net
‘n verstopping op die N1

Sommige verwysings in hierdie gedig verwag egter van die leser 'n wyer kennisname van Gert Vlok Nel se gedigte. Toe staan ons stil by die volgende gedig van hierdie man wat op sy beurt ook weer met NPVWL se oorspronklike gedig in gesprek tree:

die dag toe hulle vir Donkie Viviers

jou ma is dood.
by die skool.
het hy sy tas.
sy kop.
gespoeg.
& geskreeu.
& afgehol oor die groen velde van die rugby.
die totempale.
die busstoor, die hut van die vermoorde opsigter.
die xhosa-grassnyer, briljant & kru, dormant.
(sy vrou bo in die linnekamer, dom & sku, verreken.)
die wagtende ouers in motorige motors, latent.
die intriges op baisiekels, berekend.
verby bomerige bome.
toe verby my (& toe verby jou).
verby die gedig.
deur die na buite toe oop hek.
verby elsa wat haar eerste maandstonde in die biologieklas.
af in die lig straat.
verby die regop grafte.
daai een wat oos kyk.
die wat wes.
bo-oor huise strate poskantoor kerk.
die laaste stasie op die planeet, beaufort-wes.
inner inner in die skemer in.
tot in sy peperboomste peperboom.
in sy agteryardste agteryard.
& die laatmiddag het chroom geword.
& trein wat ysig fluit.

'n Mens kan egter nie jou kinders op intertekstualiteit wil wys, as jy nie jou kinders by die volgende Oudtshoorn/KKNK-gedig van Lou-Ann Stone uitgebring het nie:

Karoo-dorp: herfsaand      - Lou-Ann Stone
       na ‘n gedig van N.P. van Wyk Louw

Die laatmiddag het dronk geword
en uit tente gil dit luid
en ‘n wit-bruin rassevoorval
word uit die kroeg gesmyt

en rook uit braaivleisvure rook,
en by die dorpstadion sing
en mense in rugbybroekies loop
die rumoerende skemer in.

Dóér op die geraasplaas
loop die gemoedere hoog,
Ou-Appie-Vuiste is wéér in die koerant:
“Bekende swaai appels by die oog.”

Tant’-Tollie-met-die-kunsstreep
koop skilderye op die stoep,
vanaand praat die uile by die Boekeparadys,
Terwyl ‘n backtrack oor die koppies roep.

En omdat ons toe nou al so lank op die platteland en in die Karoo kuier, besluit ek toe om daar te bly met die volgende twee gedigte:

‘n blik op ‘n dorp - Pieter Hugo

die dorpie se vaal hoofstraat
sug stowwerig toe ‘n warm wind roer

en ‘n koeldrankblikkie so luierig
tinketing in die straat af begin rol

blikkeblinkabling verby die kraamsuster
se afgeleefde ou karretjie tingelingkelingting

verby die skool waar die verveelde kinders
amper aandagtig grinnik vir die tinkeblinkerinkink

verby kantore winkels kerk hotel al vinniger
tingtingtingtingketing die wind nou met rukke nukkerig

rakelings tingbliksing verby die regteragterwiel
van die lykswa wat statig-stadig in trurat straatin draai

gatoorkopoorkopoorkop tenketankatenketankateng
in die stofstorm bultaf dorpuit die ewige bliksemse vlakte in

En:

hoe om ’n dorp te verf

begin by die posbusse –
massiewe gholfballe, skoene, pampoene
geskakeer met fyn skadu’s van roes
verf dan die skoolbusse
skeur die banke en skryf op die dak
woorde wat rym met“oes” en “ak”
(onthou om spelfoute te maak)
skets die skoolmure na aan mekaar
om drome in te perk en daar te bewaar
teken dan ’n tandlose vrou by die drankwinkel-till
’n skoolrok by die kliniek in ’n ry vir die pil
’n beroofde bejaarde wat op ’n sypaadjie bewe
’n horlosie op ’n kerktoring sonder ’n sewe
’n kind wat rook agter ’n stegie se muur
en bergies wat baklei langs ’n uitgebrande vuur
laat alles dan verbleik en verweer
spoeg op die sypaadjies
boor gate in die teer
en herhaal
’n paar honderd maal
Herhaal

Annie Klopper

Naas Gert Vlok Nel en NPVWL se gedigte, kom al die ander gedigte uit 'n bundel wat verlede jaar verskyn het, Nuwe Stemme 4. Lees gerus meer oor hierdie bundel by, Tafelberg, die uitgewers van die boek.
Dit was vir my heerlik, dit het my ontsettend baie vreugde verskaf, om my leerders aan sommige van nuutste stemme en jongste gedigte in Afrikaans bloot te kon stel.

En dit alles te danke aan 'n verjaarsdagpresent (die digbundel) wat ek verlede jaar by die departementshoof van Engels en goeie vriendin van my, Annieka en Klaradyn, as geskenk gekry het.

So as die kinders vir my vies is oor die gedigte wat ons doen – min weet hulle dis nie op my nie, maar die Engelse juffrou, wat hulle hul gramstrorigheid moet uithaal!

Die enigste troos wat 'n onderwyser het, bly egter: iewers het dit aan iemand, al is dit net een kind, 'n verskil gemaak. En as dit het, is dit genoeg.