Pages

29.12.11

Die Kuifie-fliek


Die puriste sal van my verskil, en hulle is welkom.

Maar die puriste het nie sewejarige dogtertjies wat hulle graag aan Kuifie bekend wil stel nie.

Ek het.

Klaradyn het Die Avonture van Kuifie:  Die Farao se Sigare geniet.

Ek wil my verstout om te sê dat sy dit baie geniet het.

Maar sy is en bly 'n kind van die 2000’s.

Haar huidige vermaak is 3D Nintendo en Wii, nie Europese strokies van 60 jaar gelede nie.

Daarom het ek nie geskroom om haar fliek toe sleep nie – as dit gaan help dat sy van Kuifie hou, dan is dit goed en reg.

Hierdie benadering het beslis gehelp wat Asterix en Obelix betref. Ek het nog lank voor sy 'n woord Engels kon verstaan elke Asterix-fliek wat ooit gemaak is, aangekoop. Ons het dit verslind, en al is sy nog te klein om die strokiesboeke ten volle te geniet – wanneer hulle die goed eendag weer in Afrikaans gaan uitgee, weet ek nie – volg sy die stories en raak sy vasgevang as ek dit al vertalende vir haar voorlees.

Een van haar Kerspresente vanjaar was 'n Where is Asterix-boek, geskoei op die beginsel van Waar is Willie.

Ek wou gisteroggend 09:25 al saam met die meisies in die fliek gesit het, maar iemand het iewers jare gelede van 'n boom se vrugte geneem en ons leef van toe af in 'n gebroke werklikheid.

Toe die oorlosie egter 16:00 sê, toe voed ek die hase en prop die motor (seker vir die tweede keer vanjaar nuut gewas en skitterblink) vol met én die gesin én die span van twee arbeiders wat Annieka vir die dag aangelê het.

Met 'n effense detour verby die busloods, skiet ons toe reguit deur flieks toe.

Annieka wil nie gaan nie, is onder protes saamgesleep en dreig ons af met die woorde dat ons beter moet toesien dat sy die grootste verpakking springmielies denkbaar kry – dis immers al rede hoekom sy saamkom, die springmielies.

(Ek vertel dit nie om haar in 'n slegte lig te plaas nie, maar juis omdat haar reaksie aan die einde, toe ons twee ure later by die fliek uitstap, so 'n 180 grade u-draai en wending gemaak het.)

Die derde keer toe ek vir ons gesinnetjie 3D-brille moes koop, was die laaste keer. Van toe af bêre ek dit na afloop van die fliek voor in die motor se mossienes.

Maar die fliekbase het slim geword, jy spaar deesdae net R5-00 om jou eie brille te bring – verby is die dae toe jou bril die fliekkaartjie 3D-fliek toe duur gemaak het. Jy betaal nou bloot duurder om in 'n teater in te stap waarin 'n film in 3D vertoon word. (En die wat weet, sal vir jou sê, dis dieselfde skerm, dieselfde projektor – die spoel of rol kos die teater nie 'n sent meer as die film in die teater langsaan waar dieselfde fliek, nou net in 2 dimensies, en nie 3 nie, vertoon word.

En, ja, ek kon kies, 3D of nie, maar 2D was nooit eers 'n opsie nie.

Ek, Hans Moolman, wil net drie goed sê:

Spielberg het 3D geensins as foefie gebruik nie – dis suiwer ingespan om die fliek te ondersteun en te bou. Nie een keer is dit tot 'n uiterste gevoer nie, nie een keer is jy daarvan bewus gemaak, of het jy teruggedeins in jou stoel en voor jou gegryp of gekoes en gekeer nie. Dit kon maklik gebeur het, geleentheid was daar baie. Maar nee, die man doen dit in styl en maak nie sy fliek goedkoop met asembenemende 3D-effekte nie.

Ek het gewonder oor 'n ronde Kuifie en Spokie. Ek was bang dat die Kuifie-ikoon so sterk in my gevestig is dat ek nooit sal kan inkoop op 'n Kuifie wat soos 'n mens lyk nie. Ek het 2 minute in die fliek in, teruggesit en ontspan – daar bestaan by my geen twyfel dat as enige kunstenaar 'n 2D-tekening van die karakter wat Spielberg geskep het, sal maak, dit op 'n druppel water presies soos Hergé se karaktertjie sal lyk nie.

Die kind in Spielberg wat hom aangespoor het om die aksie destyds in Indiana Jones in te werk, is dieselfde kind wat werksaam was in die daarstel van die aksie in sy Kuifie-fliek. Ek kyk elke Indiana Jones elke jaar van vooraf – ek het gister gedink die man het sommige van sy Jones-tonele net in 'n ander karakter en omgewing getransponeer. Maar dit pla nie, en ek bedoel dit geensins negatief nie. Wat ek wil oordra is die volgende:  Dit wat maak dat jy Indy se flieks geniet (as jy dit geniet) is presies wat gaan maak dat jy van Kuifie se fliek (en hopelik flieks) gaan hou. Dis dieselfde kunstenaar aan die werk.

Ek sê ek het begin ontspan toe ek besef Spielberg se karakter is bloot die 3D van Hegré se 2D-weergawe, maar ek jok, ek het vroeër al begin ontspan, nog voor die storie begin het. Die opening van die fliek, die musiek en die titels, daardie lieflike paar oomblikke voor die aanvangstoneel van 'n fliek, het my klaar gerus gestel – dit het my dadelik vertel dat hierdie uit en uit 'n periode-fliek wees. Ek kan maar ontspan, hier gaan nie lastige anachronismes wees nie, die tydsgees is behou. Dis trouens suiwer die middel-twintigste-eeuse storie van ouds, bloot met een-en-twintigste-eeuse tegnologie oorvertel.

En daar is my drie goed wat ek wou sê, gesê.

Kom ons maak dit vyf, nee ses:

Ek weet nie eers wat die fliek se naam is nie – dis vir my bloot die Kuifie-fliek. Wel, weet ek watter drie boeke in meerdere en mindere mates in die fliek betrek is.

Thompson en Thompson geniet nie dieselfde prominensie as in die gemiddelde strokiesboek nie – hulle kon meer uitgebou wees – en ek mis Professor Cuthbert Calculus. Of laat ek eerder sê dat ek daarna uitsien dat hy ook 'n buiging in die opvolgflieks kom maak.

Gaan kyk die fliek, daar wag 'n aangename verrassing op jou.

Klaradyn wil ook iets sê:

Sy het uitgestap en by herhaling gesê dat dit die beste fliek is wat sy nog ooit gesien het. 'n Sewejarige kan dit van elke fliek wat sy sien, sê. Klaradyn het so iets in sewe jaar nog nooit gesê nie. Hierdie was vir haar 'n eerste, so ek verstaan wat sy probeer kommunikeer.

(O, dit was lekker om langs haar te sit en haar totaal en al onbevange te hoor kraai en lag en geniet. In 'n stadium het ek gewonder wie van ons twee dit die meeste geniet.)

En Annieka? Ek vermoed sy is 'n bekeerling. Sy het uitgekom en begin BBM om die fliek te bemark! Sy kon nie glo dat sy wat nie 'n Kuifie-aanhanger is, die fliek so intens kon geniet nie.

Ek lees ons kyk na uitreiking teen ongeveer Desember 2015.

Ek kan nie wag vir nommer 2 nie.

Wonder wanneer kom die DVD op die rakke.

Tot dan moet ek miskien werk aan my eie vertaling van Haddock se uitroepe, tussenwerpsels, vloeke en swetse wat ek mooi alfabeties byeengebring op tintinologist.org opgespoor het:

Aardvark! Abecedarians! Aborigine! Addle-pated lumps of anthracite! (old) Alcoholic ! Anachronisms! Anacoluthons! Antediluvian bulldozer!

Anthracite! Anthropithecus! Anthropophagus! Arabian Nightmare! Artichokes! Autocrats! Aztecs!

Baboons! Baby-snatchers! Bagpipers! Bald-headed budgerigar! Bandits! Bashi-bazouks! Bath-tub Admiral! Beast! Belemnite! Big-head!

Billions of blue blistering boiled and barbecued barnacles!

Billions of billious barbecued blue blistering barnacles! Billions of Bilious Blue Blistering Barnacles! Billions of bilious blue blistering barnacles in a thundering typhoon!

Billions of Blue Blistering Barnacles! Black beetles! Black Marketers! Blackamoor! Blackbird! Blackguards! Blistering Barnacles! Blistereing blundering bird-brain!

Bloodsuckers! Blue blistering barnacles! Blue Blistering Bell-Bottomed Balderdash! Blunderbuss! Bodysnatcher! Bootlegger! Borgia! Bougainvillea! Brat! Breathalyser! Brigands! Brutes! Bucaneers! Bully! Butcher!

Cachinnating cockatoo! Cannibals! Carpetsellers! Caterpillars! Centipede! Cercopithecus! Coconut!

Coelcanth! Colocynths! Corsair! Cowards! Crabapples! Cro-Magnon! Crooks! Cushion footed quadrupeds! Cyclotron!

Diplodocus! Dogs! Doryphore! Doryphores! Duck-billed platypus! Dunderheaded coconuts! Dynamiter!

Ectoplasms! Egoists!

Fancy-dress Facist! Fancy-dress Fatima! Fancy-dress freebooter!

Fatfaces! Filibuster(s)! Fourlegged Cyrano! Freshwater pirate!

Freshwater swabs! Fuzzy wuzzy!

Gallows-fodder! Gangof Theives! Gangsters! Gibbering anthropoids! Great flat-footed grizzly bear! Gobbledgook! Gogglers! Goosecaps! Guano-gatherers!

Gyroscope!

Harlequin! Heretic! Highwayman! Hydrocarbon!

Iconoclasts! Idiots! ... you, Imitation Incas, you!

You, interplantary goat, you!

Jellied eel! Jellyfish! Jobbernowl!

Kleptomaniacs! Koua Kouakouin Kouinkouin Koua Kouin Koua!

Lily-livered landlubbers! Liquorice!

Loathsome brute! Logarithim! Lubberscum!

Macrocephalic baboon! Megacycle!

Megacycle Pyromaniac! Mameluke! Miserable blundering barbecued blister! Miserable earth worms! Miserable miser! Miserable molecule of mildew! Misguided missles! MisterMule! Monopolizers! Monster! Morons! Moujiks! Mountebanks! Musical morons!

Nanny Goat! Nitwits! Nitwitted ninepins! Nyctalops!

Odd-toed ungulate! Ophicleides! Orangoutang! Ostrogoth!

Pachyrhizus! Parasites! Patagonians! Pestilential Pachyderm! Phylloxera! Pickled herrings! Pirates! Pithecanthropic montebanks! Pithecanthropic pickpocket!

Pithecanthropus!

Pockmarks! Politican! Poltroons! Polygraphs! Polynesian! Profiteers! Psychopath! Purple profiteering jellyfish! Pyrographers! Pyromaniac!

Raggle taggle ruminants! Rapscallion! Rats! Revenge!

Rhizopods! RKRPXZKRMTFRZ! Road roller!

Roadhogs!

Saucy tramp! Savages! Scorpion! Sea-gherkin(s)! Sea-lice! Sea lion!

Shipwreckers! Slavertrader! Slubberdegullions! Sparrows! Spitfire! Steamroller! Stoolpigeon! Subtropical sea-louse! Swine!

Squawking popinjay

Technocrat! Ten thousand thundering typhoons! Terrapins! Terrorists! Thundering typhoons! Tin hatted tyrants! Toads! Toffee-noses! Traitors! Tramps! Tribe of Polynesians!

Troglodytes! Turncoats! Twister! Two-timing Troglodytes!  

Ungulate

Vandal! Vegetarian! Vermicellis! Viper! Visigoths! Vulture!

Weevils! Whippersnapper! Wildcat! Woodlice!

Young monkey!

Zapotecs!

28.12.11

Jock of the Bushveld – die movie(s)

Ek frustreer Klaradyn partykeer grensloos as ek koppig weier dat sy in die motor bly wanneer ek vir 2 minute by die Spar om die hoek van ons inhardloop.

Of sy nou gaan nat reën en of die warm teer haar voete gaan brand, dit maak nie saak nie – ek los haar nie in die kar nie.

Ek vertel haar ek is bang hulle steel haar.

Ek het Annieka eendag gebel, toe antwoord iemand sonder om te antwoord. Toe hoor ek later Klaradyn was in die motor, Mamma vir twee minute in Spar, en ek het gebel met Mamma se foon in die motor; Sussie het probeer antwoord.

Ek was moeilik genoeg om ongelukkig daaroor te wees.

My pa het dit gedoen; my in die motor gelos en vir twee minute ingehardloop – kroeg toe.

Enige kroeg, die naaste kroeg.

Ek het al daarvan vertel in Kersfees se kenwysie.

Maar eendag, dit sou 'n Saterdagoggend, of in die vakansie gewees het, het hy weer die motor parkeer en gevra dat ek moet sit, hy kom nou.

Dit was in Alberton, Voortrekkerstraat.

Ek was jonk en het nog nie geweet van kroegtye nie – ek het om my gekyk en geweet ons is gelukkig ver van 'n kroeg, Alberton se hotelle was heelwat hoër op in die straat.

Ek verbeel my ook die Sjinese restourant wat tot lank na matriek op die eerste vloer van die gebou skuins van oorkant waar hy gestop het, besigheid gedoen het, sou eers baie later kom.

My pa is vir twee minute in die CNA in.

Hy het my nooit lank in die motor gelos nie, ook nie as hy as iets in die kroeg gaan wegslaan het nie – ek was vir hom te kosbaar, hy was vir my te lief.

Hy het ook nie gaan drink om dronk te word nie, ek vermoed hy het net 'n enkele brandewyn of so iets weggeslaan, en dan is ons verder Buitendien, as Pa wou suip, het hy dit by die huis vanuit sy bed gedoen, vir 'n week of twee wat hy nie kantoor toe gegaan het nie, die drank laat aflewer het,. Tot hy uiteindelik na die een of ander inrigting geneem is en sober teruggekom het.

My pa moes geweet het wat in CNA wag, hy het nie in die rakke gaan snuffel nie – hy het ingestap, 'n boek geneem, by die toonbank 'n kort boodskappie op die binneblad geskryf, en by my in die motor aangesluit met die woorde dat ek die boek moet lees, dis 'n goeie boek waarvan hy gehou het, en hy is seker ek sal ook van die boek hou.

Dit was 'n Afrikaanse vertaling van Sir Percy Fitzpatrick se Jock of the Bushveld, maar met die illustrasies van die oorspronklike Engelse uitgawe wat klassiek en bekend is.

Daardie twee minute, daardie dag, daardie bekommerd wees oor wat Pappa nou gaan doen, en toe kom hy uit die CNA met 'n boek in sy hand – vir my, en binne, in is sy kenmerkende handskrif, is daar 'n boodskap - vir mý... dit is die kosbaarste herinnering wat ek vandag 37 jaar later van my pa het.

Daar is baie herinneringe, nie almal mooi nie, baie is wel, maar die mooiste van hulle almal, die kosbaarste, is daardie oomblik.

Ek sien hom aangestap kom, ek hoor hom selfs praat.

Ek was tog nog nie 10 jaar oud nie – dit was 15 Mei 1974 gewees.

Saam met die datum, voor in die boek, ook die woorde:  Aan Oubaas Van Pappa.

Ek het my pa se naam, 'n skryftafel en koper konfoor van die familieplaas, ek het die gedigte wat my pa geskryf het, die foto’s wat hy geneem het, maar nie net hou die boek vir my die kosbaarste herinnering aan my pa in nie, dit is die kosbaarste besitting wat ek van my pa het.

Want ek sien hom stap, ek hoor hom praat.

Ek verbeel my selfs ek weet watter baadjie hy aangehad het, ek sien die stukkie spoeg in die hoek van pa sy mond wat die gewoonte gehad het om daar 'n draderigheid te trek as hy praat.

Ek ruik hom selfs.

Of is dit sy haarolie – dit was immers die sewentigs.

Ek het die boek oor en oor gelees.

En weer 'n keer oor en nog 'n keer oor.

Later, as ek wou huil, het ek net die slothoofstuk gelees.

Of sommer net die tweede laaste bladsy. Weer 'n keer, en dadelik nog 'n keer.

Later, baie jare later, dertig en sewe en dertig jaar later, het ek nie meer nodig om die slothoofstuk, of hier vanaf die tweede laaste bladsy te lees, om aan die tjank te gaan nie.

Lankal ook nie meer oor die storie nie.

Die boodskap op die binneblad is al genoeg.

En selfs nog minder – net die onthou, die herinnering, die in-my-geestesoog-oproep van daardie oggend in Mei.

Gisteraand toe kyk ons die animasiefilm wat hierdie jaar vrygestel is.

Ek het al vir my en Klaradyn die ouer fliek uitgeneem, maar sy het binne die eerste 10 minute snuf in die neus gekry en gevra of die hond gaan doodgaan.

Ek kan nie oor sulke goed vir my kind lieg nie, oor baie ander goed, ja, maar nie oor sulke goed nie.

Toe weier sy om verder te kyk.

Hulle het in ’92 twee eindes verfilm, maar ek was nie seker of ek die een met die hond wat oor die bult en in die sonsondergang in verdwyn, of die een waar hy in die hoenderhok geskiet word, in die DVD-speler had nie.

Toe gaan slaap ons maar.

Klaradyn doen nie doodgaan in stories en flieks nie. Ek wil haar so graag weer na Charlotte se Web laat kyk, maar verniet.

Dis ook hoekom ons die 2011-animasieprent nie op die groot skerm gaan kyk het nie – sy wil die fliek nie sien nie, diere gaan dood.

Gisteraand het ek haar uiteindelik so ver gekry, met die kindertjie-animasiefliek, wat, soos ek haar verseker, natuurlik altyd 'n gelukkige einde sal hê; anders is dit nie 'n kindertjiefliek nie.

Maar met Jess se afsterwe, nog nie eers halfpad die fliek in nie, toe tjank die drie van ons heerlik op 'n streep waar ons op die bank voor die televisie sit.

Ek was baie bly, want toe is daar vanuit my kind se perspektief uiteindelik 'n rede vir 'n Pappa wat hartseer is - Pappa het seker geweet Jess gaan doodgaan.

Ek het mense hoor kla, destyds toe die fliek vrygestel is, oor die Amerikaanse aksente en verkragting van die storielyn.

Dit het my geensins gepla nie.

Niks, maar absoluut niks, kan die wonderlike kindertyd-herinneringe wat Jock van die Bosveld by my oproep, ooit bederf nie, nie eers Duncan MacNeilie se tweede poging in 20 jaar om hierdie storie op die silwerdoek oor te vertel nie.

Miskien moet ek maar eendag begin oefen – dan los ek Klaradyn in die kar, hardloop in Spar in, en kom uit met 'n groot wollerige speelding in my hand.

Die kere wat ek in 'n kroeg was, kan ek op 47, letterlik op drie vingers van my een hand aftel.

26.12.11

Kersfeesete-terugblik


En daar is die askar 'n rukkie gelede verby, sonder om ons gemors op te pik – dit terwyl die asblik al verlede week in Woensdag tot oorlopens toe vol was!

Gewoonlik kom die outjies in die aand, in die aand laat, so laat dat ons meestal al in die bed en aan die slaap is, as hulle hier verbykom.

Nie vandag op Tweede Kersdag nie, o, nee, vandag kom hulle ure voor hul normale tyd. So al asof ons Boxing Day hier by ons het, en hulle kom haal in die gees van hierdie tradisie wat lank nie meer deel van ons Kersfees is nie - as dit ooit was.

Iemand het gevra dat ek foto’s sal neem van die voltooide haashok.

Ek het helaas nog nie, selfs nie noudat dit lankal nie meer suiwer haashok is nie – die haashok het Oukersaand ook voëlhok geword en is nou twee Diamantduifies en twee Indiese Ringnekparakiete ryker.

Ai, dit was 'n spesiale vroegoggend-Kersoggend! Ek het hemel op aarde in my eie binnehof gehad; so in die geselskap van die vier geveerde vriende.

Ek was grootbek oor die Kersete, maar dit het uitgewerk presies soos beplan.

Ek spog graag:

Voorgereg – gevlegte aspersies


Dit was lekker om verplig te wees om jou voorgereg met jou vingers te móét eet. Toe ek die bordjies pak, dis nou toe die twee girls elk 'n pre-Christmas supper beauty sleep neem, gebeur dit dat ek twee ekstra bordjies pak; nie hieroor of daaroor nie, sommer omdat ek genoeg aspersies het, en met Judy in die gedagtes aan die sentimentele liedjie van die empty chair at the table gedink het:

There's a Broken Toy in the Stockin'
Hangin' there on the Christmas Tree
And a Story's told by a Star of Gold
And the Light on the Christmas Tree

Bless all the Angels up in Heaven
May they watch o'er him, oh so Tenderly
There's an Empty Chair At The Table
And a Light on the Christmas Tree

Heads Bowed in Prayer to ask His Blessing
For that One still so Dear to you and Me
There's an Empty Chair At The Table
And a Light on the Christmas Tree

En ook maar goed ek het, want toe ek en Klaars knap na 17:00 in die straat afhardloop – sy op haar nuwe rolskaatse en Pappa aan die hand om te keer vir val, kom die boodskap dat Oom Erik-hulle gou 'n draai kom maak.

Toe geniet hulle die twee ekstra voorgeregporsies saam met ons, voor hulle huis toe is om die honde en katte kos te gaan gee.

Die dure parmesaankaas was verruklik. Ek het die tralies bloot aangeklam met olyfolie, suurlemoensap en fyn knoffel, sout en peper – vingerleklekker.

Beestong

Dit was Phillip de Vos wat geskryf het:

“Die een ding wat my kan laat steier,
Is beestong in wynsous,” s
ê Dreyer.
Ek weier volstrek,
Wat kom uit 'n bek –
Gee my maar verkieslik 'n eier.”

Toe ek vir die eerste maal in my lewe beestong kook, toe dink ek weer aan hierdie man se woorde.

Al die resepte laat vir twee of drie ure kook, maar die Woolies-verpakking het dit duidelik gestel – 70 minute. Ek het al die ander ignoreer en my ore aan Woolies uitgeleen. Ek laat my nou wraggies nie vertel dat Woollies se beeste se tonge soveel sagter kan wees as die gemiddelde ander beeste se tonge nie – 70 minute is beslis lank genoeg.

Een van die resepte wou dat ek die tong se vel na slegs 15 minute se kooktyd aftrek, en dit dan verder kook tot die tong sag is. Dit maak vir my sin, want ek het gewonder, toe ek na 70 minute met die vel vroetel, hoeveel van my geurmiddels waarmee ek die water gegeur het, wel deur die tongvel in die vleis gaan sit het.

Ek het die gaarmaak en sny van die tong sonder Klaradyn se kleine ogies gemaak – ek is bevrees, as ons merrieperdjie op 7 sien waar daai lekker tong vandaan kom, sit sy nie weer haar mond daaraan nie, en dring voortaan aan op eier – sonder om te dink waaruit 'n eier, in teenstelling met 'n tong, wat uit 'n bek kom, kom.


Ek het nie die vaagste benul
waarom die ding skeef laai nie!


Die ligte kolle is roomkaas, room en peperwortelsous –eersteklas; die donker kolle is Peter Veldsman se rosyntjiesous waarvan ek die bestanddele gedeel het.

Ontbeende varkboudjie

Hierdie was kleintyd altyd Judy se bydrae tot die Kerstafel, so daardie stoel was sommer baie leeg toe ek hom gekerf en voorberei het. Ek het destyds geweet dit was die begin van die einde van Judy se brein toe ek haar Desember 2000 gevra het of sy vir ons die varkboud vir die Kerstafel sal voorberei.

Sy het by my en Annieka in die kamer ingekom – ek sien haar op die bed kom sit, soos Ouma van Wyk (haar ma) altyd op 'n bed kom sit het, en toe sê sy dat sy graag die varkboud sal maak – maar ons sal haar net moet help, want sy het dit nog nooit in haar lewe gedoen nie. Sy het nog 11 jaar vasgebyt.

My crackling het, soos voorspel, geflop. Ek het aan die speel geraak met Klaradyn, en toe brand dit pikswart. En omdat ek Judy dit nie kan nadoen nie, het ek nie probeer nie. Hier wag ons nog vir skoonpa se skaapboud, wat die bord voltooi het.


Klaradyn het dit verder opge-zhoozsh (Hans het hoeka die tweede Zhoozsh-kookboek van Jeremy Mansfield en sy vrou by Oom Erik-hulle present gekry – twee jaar gelede was dit die eerste een) met vars koljander.

As Afrikaner het ek grootgeword dat daar net een ding by skaapboud is, en dit is kruisement. Ek het maar nou die anderdag eers die wondere van vars koljanderblare leer ken.

En toe ek gisteraand die boudjie met die vermenging van die twee kruie se geure geniet, toe besluit ek om nie weer die pad sonder vars koljander te loop nie.

Waarop kom ek vandag af? In die tweede Zhoozsh gee hulle 'n resep vir 'n pesto van koljander en kruisement, met knoffel, suurlemoensap en vars chilli daarby wat jy op skaaptjops aanbring.

Raai wat gaan die eerste resep uit my nuwe kookboek wees wat ek probeer?

Annieka het ook geswig voor 'n kookboek vir my, dis nou naas drie van Bill Bryson se boeke wat ek nog nie het nie, die een van Deon Meyer en sy vrou.

(Maggies! Dis Jeremy en sy vrou, Jacqui; Deon en sy vrou, Anita! Volgende, Annieka, is dit Eet saam met Hans en Ankie of beter nog – Pappa, Mamma en Klaars Kook!)

Eiervrug, tamatie en komkommer



Hierdie was my lekkerste van die drie slaaie. Ek hou van die komyn en gemaalde koljander daarin.

Koeskoes en pynappel met babaspinasie

Die dwars draai, sit vir my ore aan!

Daar was 'n misverstand rondom watter pynappel ons moes kry, blokkies of snippers – ons het die blokkies toe snippertjies gemaak. Saam met die neute en babaspinasie het dit vorentoe geproe.

Geroosterde soetrissie en feta met basilie



Met hierdie slaai het ek toe gegaan vir die prentjie (waarvan ek die resep nie kon kry nie) in plaas van die resep wat ek gehad het (maar nie 'n prentjie nie).

Dit was heerlik om die soetrissies oor die vlamme te skroei en te verwerk.

Tiramisu-trifle uit die 70’s

Natuurlik "pose" sy net,
ons is klaar met die poeding.

Ai, hierdie poeding bly 'n lekkerte. Klaradyn het heerlik gebou en geroom en versier met neute en kersies, en sommer tikkie groen kruisement ook. Ek was reg vir 'n bazaar-poeding se gevoel, maar sy het volstaan by wat on hier het.

Amper vergeet ek die kaasbord, aan die einde:

Hier is Klaradyn al in haar pajamas. Dit gaan egter nie om die pajamas of die kaasbord nie - let op die Kersgeskenk regs agter! Dis ook net 'n oupa wat 'n sewejarige van, nie een musiekinstrumenterige ding sal voorsien nie, maar TWEE - 'n kitaar, en daardie speeldoos met 'n ingeboude luidspreker ook.

Ek het genoem dat ons Oupa se present by Oupa-hulle moet laat bly, maar Oupa het so vasgeskop en walgeskop dat die ding toe hier by ons bly.

En soos wat die meeste Kersgeskenke teen Boxing Day klaar stukkend is, is dit toe nou nie die geval met hierdie een nie. Selfs sy baterye (nadat die goed al vanoggend 06:00 begin musiek maak het) hou nog.

En of dit nie genoeg is nie, ontdek ek vandag op die passasiersitplek die ekstra baterye wat Oupa saamgestuur het!

Ek is nie goed met foto's nie - hier's 'n sneppie van die tafel; maar dit gaan nie oor die tafel nie, ek wil spog met die silwer engeltjies wat Klaradyn self gemaak en silwer gespuitverf het.

Miskien moet ek tog 'n Pappa, Mamma en Klaars Kook oorweeg.

Ek het in maande nie foto's afgelaai nie. So kom ek toe nou af op ons wildspastei van iewers in Julie.



En vanaand, toe ek wil oorskiet kouevleis-en-slaai, toe is dit reënweer en die vrouens lus vir pannekoek! Kan jy dit nou glo! In die middel van die somer! Pannekoek!


24.12.11

Kersfees-spyskaart

Jare gelede bly ek in Duitsland oor by vriende van vriende se vriende.

Hoe ons daarby uitgekom het, weet ek nie (en hoe waar dit is, nog minder) maar die gasvrou maak toe die stelling dat die gemiddelde Duitser slegs twee keer 'n jaar by die kerk uitkom – oor Kersfees en dan weer tydens Pase.

Die gemiddelde wit Afrikaner, ja, slag my maar af, maar volgens my kan 'n Afrikaner bruin of selfs swart ook wees – die gemiddelde wit Afrikaner wil die Afrikaner net nie so definieer nie, en sorg op hul daarvoor dat geen Afrikaner wat nie noodwendig pikspierwit is nie, hom of haar onder geen omstandighede met die Afrikaner kan, of sal, of wil, identifiseer nie...

En daar het ek myself nou weer eens so sterk in die rede geval, dat geen wit Christen die sin se draad sal kan volg nie.

Wat ek my wil verstout om te sê, is dat die gemiddelde Afrikaner, vermoed ek, straks selfs die gemiddelde Suid-Afrikaner, as ek my dit nie mis het nie, deesdae dalkies nog steeds meer in die Kerk kom as die gemiddelde Duitser, maar dat daar min nasies en mense en volkies en gemeenskappe is (behalwe miskien die Britte en die Yanks) wat oor Kersfees so kan kosmaak en kook soos ons.

Baie rondom Kersfees is besig om te verander. Baie rondom die Afrikaner is besig om te verander. Ek kan my byvoorbeeld nie voorstel dat die volgende sinne wat 'n artikel in Beeld vroeër hierdie week afgesluit het, so min soos selfs net vyftien jaar gelede in die gemiddelde Afrikaanse koerant plek sou kry nie, en tog staan dit vanjaar daar:

“Christene glo dat die Koning van die heelal, God self, met Kersfees gebore is as ’n klein, menslike babatjie. Vir baie moderne mense klink dit ongeloofwaardig. Vir Christene is dit egter ’n kernpunt van die geloof.”

Wat egter dieselfde gebly het, hoe modern ons dan nou ook al geword het, is die ete en drinke rondom Kersfees.

'n Vriendin vra gister dat ek sal skryf oor ons naweek se spyskaart, en toe ek klaar het, besef ek ons Kersfees is dalk nie meer die Christusfees wat dit veertig jaar gelede was nie, dis gelukkig nie die geldmaak geskenkefees wat die geldmag daarvan wil maak nie, maar dis waaragtig steeds die eetfees wat dit al vir donkiesjare is.

Hier volg wat ek op haar versoek saamgeslaan het:

Oukersaand is ons en die ander kinders by die twee oues. Kersdag is die oues by ons. Ook nie Kersdag nie, Kersdag-laatagtermiddag met die oog op aandete.

Kersdag is tradisioneel kouevleis en slaaie.

Dit was seker jare gelede die koue left overs van Oukersaand met slaai, maar ons kook deesdae twee keer en het left overs om ons deur te hou tot knap voor Oujaar. Dan kook ons weer. Maar na Nuwejaar is ons gelukkig klaar uithangkos-gemaak tot die eerste verjaarsdag in Maart en Moedersdag in Mei.

Kersdag se koue skaapboud is so 'n sterk tradisie dat die twee oues gesê het ons hoef nie vanjaar boud te kry nie – hulle maak vanjaar lamsboud vir Oukersaand en sal sommer 'n tweede een gereed kry vir Kersdag.

Maar voor ons by die koue boud kan uitkom, het ons skielik eers voorgereg ook bygekry, nie omdat ons dit beplan het nie, bloot omdat ek ten duurste 'n blok 30 maande oue parmesaankaas aangekoop het.

Ons hét 'n inkopielys saamgestel waarop beslis nie 30 maande oue parmesaan aangebring is nie – maar toe kuier ons so lekker tydens die tradisionele Last-minute-Christmas-shopping-ontbyt, dat ons die kosaankope moet afjaag – ons skeur die aankopielys in twee, gryp elkeen 'n trollie en vaar die rakke in.

Maar ek is deur soveel resepte op soek na slaaie wat tog net nie 'n tradisionele mengel- gerasperde wortel- of ertappelslaai is nie, dat ek toe meer as dit wat op my lysie is, begin inpak.

En toe, voor die kase – wat ek by die kase loop soek het, weet ek nie – val ek toe vas by hierdie ingevoerde 30 maande oue wig parmesaankaas, en die kaas roep nie net uit om ingelaai te word nie, dit klim sommer vanself in my trollie.

By die huis gekom is daar niks, maar absoluut niks onder die resepte wat om parmesaankaas vra nie.


Toe kry ons 'n voorgereg by – 'n klassieke ou bekende, maar, by the looks of it, aangebied met hoogs feestelike flair.


Ek google nie resepte nie – ek google die prentjies van die kos wat ek wil maak, en as dit lekker lyk, gaan ek in en ondersoek die resep, of probeer dit sommer sonder resep namaak.


En dis hoe onshierby uitgekom het.

Met die ekonomie wat so sleg is en niemand wat af is see toe nie, was die tou by Woolies so lank dat dit al met die vleisrak af gegaan het. En terwyl ek toe nou so langs die vleisrak staan en luier op pad betaalpunt toe, kyk ek die beestong uit, en die beestong kyk my uit – en ek besluit om vir die eerste keer in my lewe koue beestong voor te berei.


En omdat dit totaal overdadig sal wees om 4 vleise oor Kersfees te hê, ruil die vriendelike beestong toe plek met die filet wat in die trollie was.

Ek gaan hierdie (omdat dit so mooi op 'n bord kan lyk) as vertrekpunt gebruik, maar omdat vroulief mal is oor iets soets saam met haar tong, gaan ek ook Peter Veldsman se rosyntjiesous uit Kos wat ons ken saamslaan:

½ koppie bruinsuiker
2 teelepels mosterdpoeier
2 eetlepels mielieblom aangemaak met 2 eetlepels suurlemoensap
1 lemoen en suurlemoen se gerasperde skil
1 koppie druiwesap
½koppie pitlose rosyne
sout, peper en rooipeper

En dan kry jy dit alles saam in 'n lekker sousie.

Die varkboud probeer ek nou al tien jaar elke jaar glasuur soos my ma dit haar hele lewe lank gedoen het. Vanjaar het ek opgegee – ek het by Woolies gekoop.

Maar ons oond is somehowstukkend – en dis nou te gou om te sê hoe die boud gaan uitkom.


Ek is nie lus vir 'n span nooddienswerkers van die plaaslike elektrisiën in die huis nie –dan was die oond lankal reg.


So ons kook vanjaar sonder oond.


Gelukkig het ons 'n Weber en 'n Jetmaster op die werf.

Dan is daar die drie slaaie (wat ek al gedeel het).

Ek het drie vertrekpunte opgespoor. Maar wat hierdie webwerwe so lekker maak, is die feit dat hulle soortgelyke resepte ook voorstel. Ek lees en bekyk dan alles, en doen op die ou einde bloot soos die gees my lei.

Soetrissieslaai - wat hierdie een opwindend gaan maak is die feit dat die foto nie by die resep pas nie. Ons het die resep op die inkopielys gehad, en ek het alles wat ek van die foto onthou het, ook gekoop. So watter een van die twee slaaie dit gaan wees, weet ek nie.

Eiervrugslaai - dit lyk nie so mooi nie, maar so geurig. As dit nie tot 'n mens spreek nie, is daar talle variasies op die prentjies onder die resep.

Koeskoesslaai - die meer bekende koeskoesslaaie is almal onder hierdie slaai, maar hierdie behoort 'n baie aangename verandering en variasie te wees.
Vanjaar is die eerste Kersfees sonder my ma. So om haar in die herinnering te roep – die varkboud gaan dit duidelik nie doen nie – gaan ek haar kwasi-tiramisu-kwasi-trifle uit die jare 70 van die vorige eeu, lank voor tiramisu hier by ons aangekom het, maak.

Sy het die vingerbeskuitjies, soos vir tiramisu, in koffie gedoop – eintlik koffie en 'n stewige skeut koffielikeur.

Dan 'n laag lekker stywe custard(custard – eintlik sommer net kastirt in propperse Afrikaans – klink darem net sedert kinderdae soveel lekkerder as die vaal en vervelige vla)

Hieroor sprinkel jy gekapte neute en opgesnyde glansvrugte (of wat jy ook al in die yskas het – klein stukkies gemmer is net so lekker)

Dan weer vingerbeskuitjies, vla en kougoedjies, vingerbeskuitjies en laastens, nie vla nie, maar styfgeklopte room.

En dan kan jy dit heel bo so kommen maak soos jy wil – ek gaan sewejarige klein Klaradyn kry om dit te doen, en knowing her gaan ons kersies en sjokolade vermicelli en thousands& thousands en gekapte neute en kruisement blare uit die tuin kry. Maar wat maak dit saak – dis Kersfees en dit moet 'n kindertjie-Kersfees ook kan wees.

Om ons deur te vat ounag toe, is daar 'n baie geurige, baie beleëkaasbord met konfyt en beskuitjies.

Daar was hierdie belaglike duur ingevoerde kaasbord, iets soos R200-00 verbeel ek my. Daar is nie 'n manier dat ek R200-00 vir 'n kaasbord betaal nie, toe stel ek my eie kaasbord saam.


Had ek tog maar die kaasbord gekoop. Twee winkels verder, toe het ek ver verby R200-00 aan hopeloos te veel kaas spandeer.


Gelukkig is 1 Januarie op sy lekkerste met net verskillende kase, brode en beskuitjies.