Pages

20.3.11

O, die huiswerk

Tannie Carike en Ghoempie sing 'n liedjie waarin die refrein (of titel) o, die huiswerk is.

Ek en Annieka het hierdie liedjie al jare gelede onwelvoeglik verklaar - dit programmeer 'n negatiewe persepsie by jong en ontvanklike kleuters.

Min het ons geweet wat op ons wag.

Die volgende is sowat 'n maand gelede neergeskryf:

Naweek 1 van jaar 1 in graad 1 is die Saterdag gevul met 'n ouerbyeenkoms in die saal, aangebied deur niemand anders nie as die ATKV met die oog op niks anders nie as die jaarlikse redenaarskompetisie.

Einde week 2 van maand 2 laat val Annieka vandag dat dit belaglik was – hulle kon die hele naweek afgestaan het aan 'n werkswinkel met die tema Hoe oorleef jy en jou kind graad 1, meer spesifiek, graad 1-huiswerk.

En ek is dit met haar eens.

Ja, daar was vroeg al 'n oueraand, en ja, daar is by huiswerk stilgestaan, maar dit het ons beslis nie toegerus vir dit wat week twee in alle erns en verwoed losgetrek het en op ons afgevuur is nie.

By dié vergadering is bloot genoem dat die graad 1’s eersdaags huiswerk gaan kry, dit gaan 20 na 30 minute van ons tyd in beslag neem en ons moet asseblief nie teen ons eie tempo vooruit beweeg nie.

Drie weke later kan ek my nie indink dat enige regdenkende mens vir 'n enkele oomblik net daaraan kan wil dink om vooruit te beweeg nie – op 'n goeie dag neem die huiswerk ons twee uur om te voltooi. En ons het min goeie dae – die gemiddeld is eerder twee en 'n half uur.

As dit ons derde kind deur graad 1 was, het ons die huiswerk straks gans anders benader. Selfs as daar nog twee op pad graad 1 toe was, was ons dalk meer ge-chill, 'n mens leer immers uit ronde 1 en kom sterker anderkant uit.

Maar ons het net een rondte, Klaradyn, Graad 1, 2011, NOU, daar kan nie later op verbeter word nie.

Huiswerksessies in ons huis het van uit die staanspoor nie net twee dinge wat nie in die sessie se guns tel nie – 'n onnie-pappa en 'n onnie-mamma – maar drie – 'n onnie-mamma-en-pappa-kind daarby, 'n kind met 'n stewige skeut van mamma se presisie en 'n ewe stewige skeut van pappa se kreatiwiteit bygevoeg.

Ek illustreer graag aan die hand van een enkele voorbeeld, hoewel minstens drie toepaslike voorbeelde bykans daagliks opduik.

Die juffrou het dit goed gedink om die kinders 'n reeks van kolletjies (soos dit op 'n dobbelsteen verskyn) te laat inkleur.

Maklik, dit sal niks meer as twee minute neem nie.

Nie vir Klaradyn nie. Die 5 kolletjies van die 5 word 5 blomme, die 4 kolletjies van die 4 word 4 lolipops. Dan is daar nog suiglekkertjies, gesiggies en kat-ogies daarby. Hierdie vyf groepies kolletjies is elk in 'n raam – Klaradyn los nie negatiewe spasie om die kolletjies oop nie, sy kleur alles in.

Wat Pietie twee minute en een kleurkryt neem, neem Sarie twee minute met vyf kleurkryte – 'n kleur vir elke reeks kolletjies. Klaradyn speel oor 15 minute heen met al 24 kleurkryte.

Waar lê die fout? Beslis nie by die juffrou nie, sy is sielsalig onder die indruk die huiswerk hou haar bloedjies op die langste 20 minuutjies besig.

Dan het ons nou vaardighede verbonde aan inkleur ingeskerp. Wat voorlê is nog die geletterdheid, nie net syfers nie, maar ook nommers.

Die jaar skop af met die letter –l. Die opdrag is eenvoudig:  Kry soveel goed as wat jy kan wat deel is van die kombuis en begin met die letter –l.

Dis maklik – lepel.

En dan?

Laai. Laaikas.

Lieflik!

Kry nou prentjies van 'n lepel en 'n laai, nie sommer enige laai nie, 'n kombuislaai.

En dan het jy twee. Meer as nege tiendes van die bladsy lê nog braak.

Laevetmelk, laevetkaas, laevetmaaskaas, laevetbokmelk, laevetmargarien, laevetbotter, laevetroom.

Dis kroek en hoe moet 'n kind weet van “laevet”?

Ek kroek toe maar, by gebrek aan 'n arsenaal kombuiswoorde wat met 'n –l begin, vir “laevetkaas” in.
Toe ons uiteindelik 'n prentjie van kaas opspoor (bogger die feit dat dit volroom is) vra ek Klaradyn wat dit daardie is, maar sy het vergeet van “laevet” (hoe dan nou anders) en haak af met “maer kaas”.

***

Na twee weke doen ons saam met 'n maatjie huiswerk, dis in die rukkie tussen netbal en drama, en toe kom ons agter ons plak nou al twee weke lank prentjies van woorde wat met die klanke begin, hulle knip woorde uit. Wie is reg en wie is verkeerd?

Vir my pla dit glad nie – my kind se gedagtes moet betrek wees by klanke wat met letters verbind, of sy dit nou aan die hand van prentjies doen, en of sy dit aan die hand van woorde doen, is in hierdie stadium om het ewe – solank sy net daaglikse omgang met die klanke en woorde het.

Vertel dit nou vir twee neurotiese linkerbrein mammas, en kyk waar slaap jy vanaand.

Ek verkies die prentjies, nie hieroor of daaroor nie – dit knip soveel makliker uit as jy nog net 6 is. Om woorde te kry wat groot genoeg is, is al 'n stryd, en as dit groot genoeg is, is daar nie juis negatiewe ruimte tussen bo en onder nie – dit verg vaardige vingertjies om dit behendig te doen.

Ek het na middag 4 besef ons versnipper nou al ons tydskrifte – daar is nie manier dat ons tot by –z gaan kom met ons voorraad tydskrifte nie.

So nou as ons in die Huisgenoot is by “MET NET EEN ARM MATRIEKAFSKEID TOE” en ons is bly oor die NET wat ons het, dan sorg ek dat ons die MET, EEN, ARM, MAT, AF en SKEI ook het. Ek bêre elkeen van hulle in 'n banksakkie saam met al die ander woorde wat met dieselfde letter begin.

Ek was al lus en tik woorde op papier, lekker groot en in verskillende lettertipes, dubbel spasiëring. Gestel die volgende letters is v, k en r, dan tik ek iets soos:

van                        kam                       rook                      veer                      keel                       raap                      vir                          kos
rooi                       vuis                       krag                       rats                        vies                       klip                        reus                      vis

Dan knip ons middag een al die v-woorde uit. Die tweede middag knip ons nie –r’e uit. En die derde middag is ons gelukkig – “Kyk, jy het gister al vir ons al die k-woordjies uitgeknip, my Lief!”

Had ek 'n kleurdrukker, en ons kon dit bekostig, het ek die bladsy vol kolomme en rye getrek, dan steel ek prentjies van die internet en plaas dit in die verskillende selle:

kraai                      vis                          rot                         keel                       vrou                      ribbok                  klip
vos                        ring                        knop                     vark                       robot                    kaggel                  vuis

By gebrek aan prentjies, moes die woorde nou instaan, maar ek glo dis maklik om te begryp.

Helaas, ons het nie 'n kleurdrukker nie. En kies ek swart op wit buitelyn-prentjies sal Klaradyn dit ook nog wil inkleur, en daarvoor sien ek nie kans nie.
***

Dan is daar nog die wiskunde geletterdheid, of dan nou “gesyferdheid”.

Ek noem dit musiek, want dit herinner my aan toonlere.

Juffrou het Maandag laat weet die kind moet tot by 20 en terug tel. Ek dink ons begin by 1; Annieka reken 'n mens begin 2. Terwyl ons mekaar uitwis oor 'n 0 of 'n 1,  kleur Klaradyn solank in.  

Toe ons mekaar uitsorteer gekry het, kom Klaars aan die beurt, en ons kom met 'n skok agter sy kan dit nie doen nie. 45 minute later, toe kan sy dit doen – tussen haar trane deur.

Toe wil Juffrou dit Dinsdag weer doen. En ek dink vir wat wil sy dit weer doen, ons het dit dan nou gister bemeester!

Maar dis nog niks – sy wil dit toe Woensdag, Donderdag en die daaropvolgende Maandag en Dinsdag weer gedoen hê.

Toe eers besef ek die kind hoef dit nie eerste middag (nag?) al te bemeester nie, ons het tyd.

Almal in die huis het dit nie noodwendig dadelik gesnap nie. Party het dit trouens nou nog steeds nie gesnap nie.

Met al die vaardighede, geletterd- en gesyferdhede na bykans twee uur uiteindelik agter die rug, moet ons nog hersiening doen. Dis nadat ons gelees het.

Dan wil iemand nog hê ons moet 'n resitasie ook oefen, maar dit lyk my Klaradyn het haar voet neergesit – kunswedstryd doen dit nie vir haar nie.

Ek en Ma kry haar kop nie gedraai nie – my geld is op die juffrou. Ons sal moet sien.

Wie eerste gaan knak, weet ek nie. Miskien is dit Mamma, miskien is dit Dogter. Dis tien teen een óf Mamma, óf Dogter wat Pappa net een mooi middag totaal oor die rand stuur tot in 'n plek van veilige bewaring, ver van
huiswerk en sulke dinge af.

***

Hierdie is bykans 'n maand gelede, straks meer as 'n maand.

Baie het intussen verander – die huiswerk het minder geword.

Nee, dis nie dat ons daaraan gewoond geraak het nie, die huiswerk hét mínder geraak.

En ja, ons is ook meer vaartbelyn.

Toe ek hierdie vandag lees, het ek nie kon glo dis hoe ek 'n maand gelede gevoel het nie.

En dis hoekom ek blog – 'n mens vergeet so maklik.

1 comment:

Anonymous said...

hierdie het ek nou baie geniet! Tessa is darem die tweede kind, so met my gaan dit makliker met die Gr 1 huiswerk, maar ek onthou met Carel was dit net so erg vir my. hy is nou Gr 4 en glo my, nou is dit vir my nog erger. sal seker met Tessa ook beter gaan as sy daar kom. dankie vir die lekker blog. vicki