Pages

24.3.11

Laaste slapies

More sluit die skó-ó-óle
Juffrou word gebó-ó-óre
In ‘n blikkie bó-ó-óne
Sonder kop of tó-ó-óne
Onder die piesangbó-ó-óme

Nie Klaradyn wat dit vanoggend by die skool sing nie, maar die stomme kind se pa wat nie kan wag dat sy wakker word, sodat hy dit vir haar kan sing nie.

Maar ek was buite by die swembad besig en is toe nie dadelik by toe sy ontwaak nie – ek tref haar in die badkamer aan.

Die glimlag wat oor die gesig net groter en al hoe groter geword het terwyl ek haar al singend daaraan herinner het, kan ek nie in woorde beskryf nie.

More is dit weer:  “Pinch, Punch, hou-vir-die-laaste-dag! Nix!”

Maar vandag se kinders, hier waar ek skoolhou, ken dit nie.

Ek is daar oortuig van dat ons destyds nog tot in standerd 6 die laaste dag van skool op mekaar se skouers ge-pinch-punch het.

Ook as iemand met piksplinternuwe skoene of iets by die skool opgedaag het: “Pinch, Punch, hou-vir-jou-nuwe-skoene! Nix!”

Nix of orreltjies was jou twee middelvingers wat jy oor Duimpie se maters ge-koeksister het – dit het jou daarvan gevrywaar dat die een wat jy sopas ge-pinch-punch het, jou terug pinch-punch.

(O, ja, vir die wat nie weet nie, pinch-punch was ‘n knyp en ‘n klop op die skouer – partykeer met venyn, meesal heel goedig, op die skouer toegedien.)

By ons was almal eintlik altyd in orreltjies  want in plaas van gekoeksisterde vingers, is die knoop in jou skoenveters ook as orreltjies of nix geag. En wee jou as jy iemand pinch-punch wat reeds ge-nix of in orreltjies is, dan tel jou eie nix as vrywaring geensins – jy word dubbel en dwars teruggekry!

Maar more sluit die skole en blou kolle op die arm of te not, ons (ek?)wil Saterdagoggend 04:00 in die pad val see toe.

Daarom wou ek die naweek al gepak het.

Maar die sleepwaentjie wat ons eers Saterdag gekoop het, kon vanweë die vakansiedag Maandag, eers Dinsdag registreer word.

Kom Dinsdag, toe is die registrasiekantore se rekenaars aflyn.

Hulle probeer Woensdag weer en kom hierdie keer reg.

Maar Woensdag is my motor in vir ‘n diens en ek kan die waentjie nie gaan optel nie.

Vanmiddag is dit nou motor én waentjie optel – ses dagreise te perd in agt verskillende windrigtings van mekaar verwyder.

Ons pak dan maar Vrydag... of Saterdagoggend.

Want daar’s nog die hondekos, die hamster, die budgies, die swembad, Ouma Nooi se goedjies. En dan is ons nog nie eers seker of ander ouma al uit die hospitaal ontslaan is nie.

Miskien kom ons Sondag in die pad.

Maar dit maak nie saak nie.

Want more sluit die skole en Juffrou, én Meneer, én klein Mejuffrou – die hele gesin – word opnuut gebore in ‘n ander roetine, ‘n ander siklus, ‘n róúte less travelled – en dít maak ‘n hemelse verskil.

1 comment:

Danel said...

Ag hoe lekker. Soos ek vir my gaste sê wat in die pad val hier by my: Veilig ry en pasop vir die potholes!