Dit is en bly die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand.
Die houtkappers en ander geveerde vriende sorg soggens vir 'n ongekende
malsheid in die lug, en om wakker te word sal geen ander tyd van die jaar so
lekker wees soos juis nóú nie.
Maar wat die mens se kalender betref, hou hierdie tyd van
die jaar 'n amperse malligheid in wat vir niks skrik nie. Na twee weke waarin
beide ek en Annieka vyf uit die vyf weeksaande by die skool sou moes wees as
ons nie doelbewus begin nee sê het en briek aandraai nie, tref
Klaradyn toe ook verlede week 'n week met drie uitsonderlikhede in een week
ingeprop. Dis nou benewens Voortrekkers en swem en kuns (waarvan laasgenoemde
twee op Woensdag moes sneuwel om terug te staan vir die res).
Dinsdag het sy by Drama-klas 'n kommunikasie-eksamen afgelê.
Toe ek Annieka vra of dit lekker was, laat val sy dat dit nie iets is wat as lekker beskryf kan word nie – dit is en
bly 'n eksamen. Maar ons kind het haarself goed gehandhaaf en dit was beslis
blootstelling en ervaring wat gebou en nie en gebreek het nie.
Dit is en bly maar iemand wat uit ander 'n bestaan moet maak
en toe met die gedagte van 'n kommunikasie-eksamen vorendag gekom het. Klaradyn
se portuur moet oor hul gunstelingspeelding gesels en ook op vrae rondom die
onderwerp van bespreking kan reageer. Dan kan Mamma of Pappa uit hul
gunstelingboek voorlees, waarop hul dan weer eens moet reageer. Óf
hulle kan self lees, met dien verstande dat die eksaminatrise deeglik daarvan
bewus is dat hulle nog beginnerlesers is.
Klaradyn berei toe die eerste klompie bladsye van Babalela – oor jare heen beslis die boek
wat sy die meeste na gevra het – voor. En met die dat sommige skole die boek as
graad 1-leesboek aangekoop het, reken ons dit gepas vir haar ouderdom en
leesvaardigheidsvlak.
En toe maak die tannie die boek in die middel oop en sê
Klaradyn moet lees – glad nie dit wat Klaradyn voorberei het nie. Maar sy lees,
weliswaar nie so vertolkend soos die eerste helfte wat sy voorberei het nie.
Die outjies na haar het duidelik gestel dat hulle sekere
bladsye voorberei het, maar Klaradyn wat on
the spot in die hot seat sit
gemaak is, het haar sit uitgesit, en, volgens haar, baie geniet.
Die meeste van vandag se kinders wat die voorreg het om iets
soos dramaklasse met kommunikasie-eksamens te kan geniet, het natuurlik
hopeloos te veel speelgoed om enigsins iets soos 'n gunstelingspeelding te kan
hê;
selfs iemand soos Klaradyn wat nie soos talle van haar maats toegegooi onder
speelgoed grootword nie. (Gooi ons haar toe, is dit onder liefde en, materieel
gesproke, onder boeke.)
Klaradyn kies toe haar hart se punt – 'n soft toy waarmee sy 'n sterk emosionele
band het. In plaas daarvan om Annieka toe te gooi onder salfies en roompies en
doekies en borslappies en skoentjies en dingetjies, het die dames op die
personeel dit agt jaar gelede goed gedink om hulle geld saam te gooi en een
ekstra-groot, jumbo-jumbo-grootte, wollerigste van wollerigste, wollerige
speelgoed-honde gekoop.
Dis regtig een van daardie wollerige speelgoed-diere waaroor
die gemiddelde ouer of kind lewenslank regtig net kan droom – dis bloot net te
groot en te duur om te kan koop.
En vir Klaradyn was dit vanuit die staanspoor 'n uitgemaakte
saak – sy gaan oor Broensie praat. Ons het die dier voor Klaradyn se geboorte,
Bruno gedoop; sý het dit jare later van die troetelnaampie, Broens, voorsien – maar as sy baie lief
vir die dier voel, wat bykans altyd is, praat sy van Broensie. Hierdie verkleiningsvorm is natuurlik heel belaglik want,
selfs op sewe, is die dier, van sy toontjie via sy kroontjie tot sy ander
toontjie, uitgestrek, steeds langer as Klaradyn van haar kop tot haar toon.
En Woensdag, na Dinsdag se eksamen, moet die kind toe in 35
grade plat resies op die skool se jaarlikse interhuis hol. En ook nie net plat
resies nie – sy moet vir haar span stokkieresies ook hol. (Toe haar juffrou
vroeër
die dag vir 'n ander seuntjie vra of hy die middag deelneem, antwoord hy dat hy
wel gaan hol, “maar ek is nie een van
daai wat met die ysters hol nie.”)
Ek het in my laerskoolloopbaan hoogstens sakresies gehop in
'n baan, dis al. Annieka se atletiekprestasies, en sy praat óf
nie veel daaroor nie, óf daar was nie veel daarvan nie, was, verbeel ek my, ook
eerder op die veld as om die baan.
So ons was altwee vreeslik verbaas en trots om te hoor
Klaradyn verteenwoordig die Berghane op die interhuis en sy moet tot dan elke
dag hardloopklere saamneem skool toe om in die aktiwiteitsperiodes te kan
oefen.
Wat die sewejariges betref is die Berghane egter vir die
volgende ses jaar uitgelewer aan die onderpunt van die atletiese genepoel.
Klaradyn het in die bondel, eintlik nader na die stert se kant toe, daar
aangekom. Maar dit was vir haar een vet heerlikte – al wat miskien vir haar nie
so lekker was nie, was die feit dat sy nie onder die eerste drie opgeëindig
het nie. Maar daardie nie lekker nie
is so gering dat dit geensins opweeg teen die lekker nie.
Ek het besef ons moes die kind beter voorberei het toe die
een Mamma laat val dat hulle die wegspring en uit-die-blokke-kom, vorige agtermiddag by die huis geoefen het.
Miskien moes ons haar meer opge-psyche
het, die kompetisieding en wenmotief ingeprent en –dril het, ek weet nie.
Maar met die aflos, sorg Klaradyn toe vir die mooiste
oomblik wat net die mooiste in haar karakter verklap. Vir 'n ander Pappa sou
dit straks die grootste verleentheid wees, maar soos met die lekker en die nie-lekker-nie hier bo, was die verleentheid gering geensins iets
wat opweeg teen trots wat in my hart oorgeloop het nie.
Klaradyn spring toe in die buitebaan weg. Dit het tot gevolg
dat sy 'n hele paar tree voor die maatjie in die middelste en binneste bane
staan. Ek weet nie of die rede hiervoor ooit duidelik aan die kleintjies
uitgespel is nie. En soos die noodlot dit wil hê, spring een van haar beste
maatjies vir die ander span in die binnebaan weg.
So toe die skoot klap, spring Klaradyn vervaard weg, maar
kyk dadelik om, om te sien wanneer kom haar maatjies dan. En toe mis sy die
bondel en die res van haar maatjies, en toe wag sy vir hulle, dat hulle haar
kan inhaal en dat hulle saam lekker kan hol en jol.
En daar maak my kind haar skuldig aan die mees
prysenswaardige optrede wat ek onder omstandighede nie kan aanprys nie. Hierdie
vaderhart sal daardie mooiste van mooi oomblikke nie sommer gou vergeet nie;
wat vir ons nederlaag kon wees, toe een groot sege en oorwinning.
Daardie aand raak ons meisie onder die tafelgebed aan die
slaap – sy het 'n heerlike agtermiddag gehad. (Ook die eerste keer dat ek my
kind bed toe stuur sonder dat sy haar huiswerk klaar gedoen het – maar dis ons
wat ons voet neergesit het, nie ons kind nie.)
Vrydag, toe breek die lekkerste van lekkerstes op die
skoolkalender aan: kaskar 2012.
Ek het darem al heelwat kaskar-byeenkomste in my lewe
meegemaak.
Die allerlekkerste van allerlekkerstes was Alberton se
jaarlikse, propperse, kaskarwedren. Hier is nie al in die rondte gehardloop om
geld in te samel nie, hier is bult-af gestoot om te sien wie wen, die karre in
verskeie kategorieë, die drywers en stoters en bestuurders in verskeie ouderdomsgroepe.
Ou-Alberton, soos ons die oudste deel van die dorp genoem
het, is teen 'n bult gebou, en een van die steiler state is hierdie betrokke
Saterdag feestelik afkordon en in 'n resiesbaan omskep. Toeskouers het die
sypaadjie volgestaan en daar was ballonne en trofees en spookasem en
springmielies.
En toe ek begin skoolhou, toe stoot ons in die rondte op die
sportveld om geld te maak.
Van hierdie soort het ek al baie as registeronderwyser
meegemaak.
Deesdae huur die skole kaskarre in; ek onthou die jare toe
elke klas sy eie kaskar moes kry, of self bou. (Een jaar is my klas se geleende
kaskar gesteel – maar die diewe het die ding na hulle den moes stoot, toe spoor
ons die ding twee dae later met baie rondvra en uitvra en snuf en speur in
East-Lynne op en stoot dit al die pad terug skool toe.)
Hierdie was egter my eerste kaskar-byeenkoms as ouer. En dis
net so lekker, indien nie lekkerder nie.
Waar die laerskole, tot ons hoërskole se nadeel, nie meer
atletiek beoefen met toeskouers wat toejuig en sing met stringe dirigente nie,
het iets daarvan oorgeskuif kaskar toe. Elke klas het sy eie kreet en daar word
luidkeels aangespoor en –gepor.
Ek kon Klaradyn nie kwart voor drie, vir vyfuur, by haar
skool kry nie, Mamma moes dit doen; ék het my weg deur vyftien dekadente
koeke, in ons skool se jaarlikse feestelikheid waarvan potjiekos en koeke 'n
item is, geproe en beoordeel.
En nou weet jy hoe elke bakker en bakster van sy of haar
koek is – hulle wil elke beoordelaar van 'n volwaardige porsie voorsien. En hierdie
beoordelaar weet hy moet daarin soos met 'n wynproe – hoogstens 'n
teelepelgrootte per koek. En hoekom kan hier maar soos by wyn iets soos 'n
diskrete spoegbakkie ook maar wees nie – die laerskool se brief het genoem die
ouers help stoot as dit hul kind se beurt is om te bestuur.
Toe ek, uitgeswel soos 'n balie en soet tot agter my ore by
die huis aankom, tref ek Annieka soos 'n resiesperd in 'n wegspringhok
aan: “Jy moet gou maak, daar is nie meer
parkering of plek vir 'n muis om die skool nie, ons gaan laat wees, dis
vreeslik groot, met vreeslik baie mense – ons kind kan verbouereerd raak, dis
amper soos by die Randse Paasskou oor Paasnaweek.”
En sy het nie oordryf nie. Ek het daardie skoolterrein nog
nooit so besig gesien nie. Dis soos karnaval, kermis en basaar tegelyk.
Ons het weer eens besef ons kind se juffrou is die beste. Sy
het gevra dat ons nommers van 1 tot 30 vir die outjies sal maak om aan te
steek. Op die manier kon elkeen sy beurt afwag om om die baan gestoot te word,
niemand kon huil en kla dat 'n ander voor hom of haar, of meer as hy of sy,
agter die stuur en om die baan was nie – alles het in beheersde numeriese
volgorde geskied.
En dan was die doel by ons kuipe duidelik – die leerders
moet die pret hê. Gevolglik het die maatjies, en nie die maatjies se ouers
nie, die meeste van die stootwerk gedoen. Met 'n ander uitgangspunt sou ons
klas strakkies meer rondes kon afmerk, maar vir die kleintjies was dit die
lekkerste van lekker om mekaar te kon stoot. En wat die stootwerk betref, het jy
nie nodig gehad om jou beurt af te wag nie – die oomblik wat jy kans sien, kan
jy inval.
Klaradyn se een maatjie het die een oomblik nog gehuil oor
haar voet as bestuurder iewers in die pad van 'n as of speek gekom het, maar
toe ek weer sien, toe stoot sy asof haar voet in geen jare met ys behandel is
nie, en weer 'n keer, en nog 'n keer – as ons die kind nie teen ronde drie
aangesê
het om nou briek aan te draai nie, sou sy haarself in die opwinding van die
oomblik reguit in 'n floute in gestoot het.
Ook Klaradyn het meer rondes op haar voete, as op haar boude in
die bestuurdersitplek, meegemaak.
Ek wou darem een keer voel hoe dit voel om my kind om die baan te
help kry (miskien wou ek voel hoe dit voel om laat te gewag het om 'n gesin te
wil begin) en toe ek wegtrek, was ek skaars enkele treë verder klaar spyt,
vreeslik spyt – my broek wou afsak tot op my knieë.
Netnou nog het ek gelag vir oudleerlinge uit die vroeë jare
negentig wat lankal nie meer die superatlete en rugbyspelers van 30 jaar gelede
is nie. Daar hol ons interhoëratleet van ouds nou met kniestut agter sy seun
aan, en net voor hom is een van die skool se destydse Springbok-drome met 'n
effense hinkepink agter sy dogter om die baan.
En nou voel dit of elke oudleerling sedert 1989 gereed staan om
vir Meneer Moolman, wie se broek oor twee treë onder op sy knieë gaan lê, te
lag. Met die een hand op die stootstang en die ander op die gat, maak ek toe
maar klaar. Net om twee rondes later te sien dat 'n ander oudleerling van 1990,
wat intussen buurman en vriend geword het, sit met dieselfde dilemma as ek –
hoe verder ons hol, hoe meer neig die broek af onder toe.
En dis my eie skuld, ek moes geweet het. Ek was nie lus vir iets
wat knel (om my al groter wordende maag) nie en het toe die eerste beste broek
met 'n rek gekies – dit was toe my swembroek wat streng gesproke twee nommers
te groot vir my is. Ek kón die broek ook nie stywer vasbind met die lawwe veter
voor by my naeltjie nie – die flappe was al klaar reeds op hul uiterste en
kleinste toegetrek.
Die kinders sou van vyf tot sewe hol, en ek het begin uitsien dat
hulle nou oormoeg word sodat ons mammas en pappas kan inskop en begin stoot –
my eerste ronde met my een hand op die bonsende perisentrum van my boepens, het
my net lus gemaak vir nog.
Maar voor die kinders kan begin uitsak, is dit duidelik dat 'n
stormreën
wat vir niks skrik nie oor ons gaan uitsak lank voor die ghong 19:00 slaan. Ek
dra ons stoele motor toe, toe die koelboks met vrugteysies en ys. Toe ek weer
by die kuipe kom, het Ouma en Oupa wat hulle by ons aangesluit het,
verstandiglik verkas – hulle motor het baie ver parkeer gestaan, en dis net per
groot geluk dat hulle droog by die huis gekom het.
Die volgende oomblik ruk 'n stormwind ons kuip se tent, met
my aan die een punt, amper hoër as die pawiljoen en ons breek met
moeite die kuip af.
Ook net betyds dat ons onder dak kom.
Ons kan egter nie dat die kinders se aand in teleurstelling
eindig nie – ek nooi summier 'n klasmaatjie se ouers (die pappa nóg 'n
oudleerling van 1990) om by ons te kom eet. Die mammas en kinders huis toe in
die een motor, ons pappas in die ander om die winkels voor toemaaktyd nog oop
te vang.
In die winkel kom die oproep deur: verander die spyskaart na iets wat nie krag
nodig het nie, daar is 'n kragonderbreking.
Toe maak ons kos en kuier by lamplig – te gesellig, en die
kinders het 'n heerlike agtermiddag en aand om nog lank te onthou.
Volgende jaar maak ons weer so – hopelik sonder die storm en
die reuse doringboom wat 20 meter van ons motorhek af die hele pad toe, en die
kragdrade stukkend, geval het.
Die drama-eksamen sal nie vroeër of later kan skuif nie, die
skoolprogram sal nie veel kan verander nie, maar ons sal daar deur.
Ons het weliswaar van die swem 'n SMS gekry om ons te nooi
na 'n vriendskaplike gala wat volgende week plaasvind. In belang van ons kind,
en onsself, het ons dit vir hierdie jaar van die hand gewys.