Pages

31.3.11

Ushaka

As dit aangaan soos dit nou aangaan, gaan ons vanaand 18:00 slaap. Ons gaan slaap elke aand, nadat ons die eerste aand 20:30 gaan inkruip het, 'n halfuur vroeër as die vorige aand.

Dit móét nou end kry!

Maar ons is net so moeg! En dis net so lekker!

Annieka laat val gister tereg dat sy nie by haar boeke en ek nie by my skootrekenaar uitkom nie – nie hieroor of daaroor nie; bloot omdat ons so voluit en ongebreideld heerlik vakansie hou.

Klaradyn het gister vir die eerste keer in vier jaar selfs in die motor aan die slaap geraak.

Sy hét altyd in die motor geslaap. Dit was trouens vir 2 jaar lank al manier hoe ons haar aan die slaap kon kry. Word dit tyd vir haar middagslapie, dan staan ons motor se kant toe.

Dan ry ons, soms twee blokke, soms vyf en veertig minute, voor ons haar uitdra kamer toe.

As ek die geld gespaar het, wat ek destyds aan brandstofgeld uitgery het om haar aan die slaap te kry, kon ek die kind eendag vir 7 jaar aan 'n mediese fakulteit op universiteit gehou het.

Maar toe, knap na sy twee geword het, vat ons haar toe mos Nasionale Kruger Wildtuin toe. En daar skakel jy mos nie áf, klim jy in die motor nie, jy skakel áán, juis om die diere op te spoor.

En van toe af was dit verby met Doris Day – die mêrrempie maak nie meer 'n enkele oog in die kar toe – dis of haar brein in die hoogste versnelling en rat inskop, die oomblik dat ek die motor aansluit.

Dis nou vir amper vier jaar, tot gister, toe ons 17:00, na ons 09:00 daar gestop het, by Ushaka Marine World wegtrek. Ek dink nie dit was twee blokke nie, toe is sy uit.

Bygesê, groot en sterk soos ons is, was Pappa en Mamma self pootuit en moeg en seer op plekke waar ons lankal nie meer gedink het ons nog plekke oor het wat kan seer word nie.

Eintlik het ons al drie 08:00 nog moeg en pootuit van die vorige dag se dag op die strand in die motor geklim en rigting ingeslaan Durban toe.

Kyk, so lief soos wat ek vir die see is, so haat ek die strand. En gaan ek af, dan is dit af see toe, nie af sand en strand toe nie.

Vir 'n taai, olierige gelê op 'n handdoek, ín die son, of onder die son uit in die een of ander vorm van skaduwee, het ek nog nooit kans gesien nie – dan sny ek eerder gras met 'n naelskêrtjie  of politoer my motor met 'n sagte tandeborsel.

Die gevolg is dat ek die oggend in die water deurbring en net een keer uitkom om 'n vinnige roomys te gaan koop.

Klaradyn, lyk dit my, is net so lief vir die water, en moet sy kies tussen bo by Mamma en haar boek, of onder in die water by Pappa, kies sy die water. (Mamma maak in elk geval ook net of sy lees, sy lê heerlik en slaap terwyl die vlieë en die brommers in en uit by haar mond!)

Saam met die vorige dag se roomys, het ek ook teruggestap gekom met een van hierdie polistireenplanke waarop jy op jou maag met die branders tot op die strand ry.

Dis nou vir Klaradyn.

As ek in 47 jaar nog nie een keer met so 'n plank tot op die strand kon kom nie, gaan ek ook nie vanjaar nie.

Mense en vriende wat direk links en regs van my, op presies dieselfde oomblik as ek, wegtrek, word tot op die strand gedra; my lig die branders hoogstens so paar sentimeter op, en daar bly ek hang terwyl ek toekyk hoe die ander tot voor gedra word.

So my kind leer hoe om dit te doen, kan ek ook nie.

Twee keer breek die brander óp haar en stuur haar gat-oor-kop strand toe. Dan hardloop sy huilend na Ma toe.

Maar teen die tyd dat ek my eie broek weer van om die knieë  aan die bas het, haar ingehaal het en bo by hulle uitkom, dan sê sy:  “Kom, Pappa, kom ons gaan swem!”

En dan wil die kind nou ook nie meer afhanklik van haar pa in die diep water ronddobber nie, nee, sy begin stadig maar seker genoeg selfvertroue ontwikkel om dit op haar eie te wil aanpak. Nie die dieptes nie, daar waar sy kan staan, om met die kom van elke nuwe brander in die water opgelig te word en dan weer oomblikke later neergesit te word.

Daar waar sy kan staan, is daar vir Pa net een van twee moontlikhede – óf hy staan op sy knieë óf hy hang wydsbeen daar rond. (En dís waarom my bene so vreemd styf is – ek spandeer die grootste gedeelte van die dag in die mees ongewone posisie!)

Maar ek gee nie om nie – ek is in die water, en dit saam met my kind, so waarom sal ek kla.

Na so 'n dag in die water, is dit te verstane dat ons nie die laatnagkerse laat brand nie.

Na so 'n dag in die water, is dit te verstane dat dit drie lendelam Moolmans is wat gister in die motor klim Durban toe. (Klaradyn van moeg, Pa van moeg én seer bene, en ons gloeiende rooi beet van 'n Mamma, van te lank aan die slaap val in die son.)

Lendelam egter ook net tot ons 09:00 daar stop, want toe ons uitklim, is dit of daar nuwe krag in ons are borrel.

Annieka kon, te wyte aan haar af been, nie verlede jaar meedoen in die pret nie – so sy voel sy moet inhaal op dit wat sy uitgemis het. Klaradyn gooi haar volle gewig, uit die aard van haar natuur, agter enige iets wat lyk na pret – daarvan het Ushaka sommer hope te bied. En ek stel myself ten doel om twee keer soveel pret as verlede jaar te hê.

So, ja, die Moolmans carpe diem met 'n joie de vivre wat skrik vir niks en min ons sal kan nadoen.

Dis eers toe ons op die rand van tot die dood toe honger en moeg is, dat ons 'n oomblik oorbeweeg in die stadige baan in om 'n ietsie te rus en te eet. Maar ook nie vir lank of te veel nie, hoor – dan roep die glybane en tubes en tjoeps weer.

Ek het as jong seun, selfs jong man, nog gewonder hoe die dikke ooms met hul pekelbalies vir pense dit regkry om so sonder skaamte op die strand en ander openbare plekke rond en uit te hang.

Maar toe kom ek agter dat dit eintlik maklik is – jy word net self ouer en word 'n oom, jy ontwikkel  bloot net jou eie onnodige spaarwiel of twee om die middellyf  - dan kry jy dit sommer vanself lag-lag, skud-skud, waggel-waggel, dril-dril reg.

En as jou eie kind 6 is, maak dit nie saak of jy 26, 36 of 46 is – jy klim en klouter, glip en gly en speel en spat elke oomblik vir 'n vale saam met haar en agter haar aan.

Ons het geleentheid om te gaan sit vir een van twee dolfynvertonings, die robbe en pikkewyne se konsert, die voedingsessie van die pikkewyne en selfs die noenmaal van die haaie, maar kom by niks uit nie. As ons weer by 'n uurglas uitkom dan sien ons hy het deur en leeggeloop:  die vertoning is al lankal aan die gang of die ete iets van die verlede – behalwe nou as ons bly en wag tot hulle dit more weer van vooraf aan doen.

Hoogtes en skuinstes en bulte en hobbels waarvoor Klaradyn voor middagete nie kans gesien het nie, is sy 100% reg en gereed voor na ete:  “Pappa moet net eers gaan, dan wag Pappa daar onder vir my. En Mamma kom na my, vir as ek iewers in die middel vashaak, gaan staan of agterbly.”

Een van die goeterstes, wat hulle adverteer as óf die hoogste, óf die skuinsste, óf die langste in óf Afrika, óf die suidelike halfrond, óf miskien selfs die ganske wêreld, het die slegte gewoonte om my elke keer, as ek onder kom, 'n gratis en verniet enema te gee. En toe ek eers 'n derde keer twee derdes van my swembroek my uitkry daar waar swaartekrag en wringkrag en wrywing dit vir my gaan bêre het, en dit met 'n kloppende sinushoofpyn wat nou al langer as 'n uur amok maak in my kop, toe roep ek halt en klim van die bus af.

Moeder en dogter ry rustig voort terwyl ek 'n apteek gaan soek en op pad soheentoe en terug heerlik window shopping doen.

Teen die tyd dat ek dertig minute later weer by die girls aansluit, het hulle intussen ook die hoogste rat vaarwel geroep – ek spoor hulle in die een of ander kiddies pool op. Annieka verwelk soos 'n verwelkte Lorelei op 'n mensgemaakte rots, terwyl Klaradyn op en af in 'n mini kleuterglybaantjie.

Maar ek het op my omswerwinge na 'n apteek verby 'n plek gestap wat wafels en room verkoop. En dis waar ons drie, net mooi 17:00 instap, om 'n heerlike dag op 'n soet en ryk, soete en ryke noot af te sluit.

Episodes 1, 2 en 3

Vir die goudprys kyk jy die nuus om sewe in Afrikaans; landbouradio bring jou hoogte wat die huidige prys van mielies, koring en wol betref.

En wonder jy hoeveel 'n wetsgehoorsame landsburger die laaste tyd  vir 'n liter brandstof opdok, is dit nóg makliker – jy kyk op die pomp as  jy gou R10-00 se petrol ingooi om jou tot by die eerste stopstraat te neem.

Maar waarteen verhandel dentien deesdae?

Ek het die mark al 'n goeie veertig jaar gelede vaarwel geroep en het al hierdie jare later nie meer 'n idee op watter vlak om weer tot die kleinhandelmark toe te tree nie.

Ek het 5, of 10, of 20 sent gekry – 50 sent of ‘n rand, wat 'n plaas se prys was, sou ek onthou het as dit was hoeveel ek gekry het. En buitendien, R1-00  was in daardie jare nog lank nie 'n munt nie – dit was ‘n bruin noot met 'n skaap (verbeel ek my) en Jan van Riebeeck se golwende haredos op.

En papiergeld vir 'n melktand! Vanwaar Gehasi! Nog nooit gehoor nie!

Klaradyn was destyds baie laat om tande te sny. En soos wat sy babatyd tot soveel as agt tande agter haar portuur was, sit sy al van verlede jaar letterlik met 'n bek vol tande, terwyl ander maatjies in dieselfde klas reeds soveel as 6 tot 8 tande gewissel het.

En dis nie 'n geval dat sy nog nie permanente tande kry nie, sy krý – hulle laat trouens net nie op hulle wag nie; om die waarheid te sê, húlle wag nie vir die melktande om te verkas nie en steek sommer agter hul voorgangers kop uit.

Te aardig!

Maar die tandarts, Oom George, sê ons moet los. Niks wat ons nou doen, of nou nié doen nie, gaan dinge oor twee, drie jaar bemoeilik óf vergemaklik nie.

En wie is ek om van George te wil verskil. Hy is 'n knappe en eerbare oudleerling wat in ’91 matrikuleer het. Hy krap nou al vir jare in my bek rond, Klaradyn vertrou hom al en Annieka sou ook by hom gewees het as dit nie was dat sy die eerste ekeer per toeval by sy vennoot beland het en nou nêrens anders wil gaan nie.

Hierdie week is ons weer met Klaradyn by hom. 'n Ander maatjie wie se permanente tande ook nie kon wag vir die melktande om te verkas nie, se tandarts het die eerstes onder verdowing die trekpas gegee; sy argument die plaak wat op die nuwe tande ophoop en skade kan veroorsaak.
                                                                                                   
Toe weet ek nie of dit hy is wat nóú geld wil maak, en of dit George is wat oor drie, vier jaar, as ons met baie probleme sit, sommer baie meer geld wil maak nie.

Maar toe blyk dit dat dit nie tandarts is wat jare later geld maak as daar probleme is nie, dis die ortodontis.

Vir 'n oomblik wonder ek toe of die ortodontis 'n sekere persentasie van wat hy uit jou maak aan die verwysende tandarts oorbetaal of nie. Maar die man werk so mooi met Klaradyn, dat ek sommer opnuut respek vir hom kry.

Ek is daar oortuig van dat dit die maatjie se tandarts was wat 'n vinnige pennie of wat wou maak, toe hy die kind deur die trauma wat net 'n tandetrekker kan aanbring, gesit het.

George wil glad nie nou totter nie, hy stel dit dat sy eers emosioneel meer ryp en opgewasse moet wees om ingryping te hanteer.

En waar ons toe raas as Klaradyn aan die een tand wat sy teen 'n maatjie se skedel losgestamp het, wikkel en woel, laat George haar met die volgende opdrag: “As jy weer by my kom, moet jy daardie tand lankal self los- en uitgewikkel het – dis jou verantwoordelikheid, en as jy hom uit het moet jy sorg dat Mamma en Pappa jou beloon vir die werk wat jy gedoen het.”

Wat hy sê maak sin:  dis beter as die kind wikkel en woel, voor ander ruk en pluk; die kind weet en voel waar en wanneer om te stop, die ander nie.

Ons maak van die tand gaan uit iets groot. Ons neem selfs die fliek Tooth Fairy weer uit, net om die regte gemoedstemming te kom. Ek oortuig Klaradyn dat Afrika tandemuise en die res van die wêreld tandefeetjies het.

Ek vertel van die keer wat ek nie 'n enkele sent van die tandemuis gekry het nie – my tand was te vol gaatjies en hulle kon hom nie eens vir een van die tandepaleis  se buitegeboue, wat nog te sê die voorkant, gebruik nie. Miskien moet sy haar tand uitkry voor hy sleg word en die muise niks met hom kan doen nie.

Ook Ma val in met 'n storie en 'n stertjie.

O, en daar  laat Klaradyn nie op haar wag nie:  sy word 'n meisie met 'n missie.

En toe ons weer sien toe is die tand uit. (Met miskien so bietjie aansporing, of letterlike in-grýp-ing  van Oupa se kant af.) Dit gebeur voor skool, en daar moet die tand opsluit skool toe, toegedraai vir almal om te sien.

Die aand word twee skoene uitgesit – een met 'n blokkie kaas in, die ander met die tand.

Ons maak seker dat die geldjie in en die kaas geknaag is voor ons gaan slaap – dit het een jaar gebeur dat Klaradyn wakker was voor Sinterklaas sy rondes gedoen het, en ek en Annieka moes lelik bontstaan.

En op die ou einde sou dit nie saakgemaak het of ons R5-00, R10-00 of R20-00 in haar skoen gesit het nie – sy sou steeds, salig onbewus van die waarde van geld (of die gebrek aan waarde daarvan)  die R30-00 speelding  gekies het, wat sy wel gekies het toe ons iets gaan koop het.

Maar ons het haar maar laat begaan – jy is immers net een maal jonk genoeg om onvoorwaardelik in die tandemuis te glo.

***

Die eerste helfte van dit alles hier bo is meer as 'n maand gelede, maar ek kon nie klaar kry nie, toe volg die tweede helfte nou die anderdag toe die skool en sy werk my so 'n rukkie 'n gelaatstaan het.

Maar vandag het die twee helftes toe nie twee derdes geword van dit wat daar is om te vertel, en het ons gister die laaste derde bygekry.

En is ons nie spyt dat ons haar toegelaat het om onvoorwaardelik in die tandemuis te glo nie!

Hulle het toe mos nou 'n grag loop staan en bou al om Durban se nuwe akwarium, soorts van 'n kanaal waarop jy en jou kind in bloedrooi eietydse trekkerbinnebande kan dryf. Dan is dit Ma en Klaradyn op een, en ek op my eie; dan weer andersom.

Hierdie ronde is dit ek en Klaars wat deel. Wat presies gebeur het, sal ek nie weet nie. Ek sien net die kind vat-vat skielik so na haar mond, ek raak bewus van 'n spatseltjie rooi, en toe van die tand wat afsak in die soutwater (nie van die see nie, maar van al die ou ooms en tannies en kindertjies se piepie) om ons.

Losserig, maar hoogstens losserig en glad nie los soos in los-los nie, was die tand beslis; egter nog meer as 'n maand van enige nuwe haasbekstatus af. Ek vermoed sy het hom seker maar aan die opblaastjoep se handvatsel gestamp, of iets.

En dit maak ook nou nie saak hoe dit gebeur het nie – die feit bly staan:  die kind se tand is uit en weg, en sommer baie weg.n dit terwyl haar tande so goed opgepas is dat die spitterwit goedjies in die tandepaleis se voorste fasade gemessel kan word vir versiering.

Vroeër die dag, toe Pappa met Dogter tussen sy bene in een van die 11 glybane af is, het hy, die oomblik toe swaartekrag die twee in die poel aan die onderste ent spoeg, so gekonsentreer om Doggie se kop bo water te hou, dat hy skoon van sy eie bril vergeet het – en daar is dié toe nou in die mensgemaakte maalkolk ingesuig.

Gelukkig het hulle lewensredders gereed om diegene wat nog in die lewe is teen die tyd dat hulle aan die onderpunt van die glybaan kom, te red. Ek wink dié man, wat jare gelede sou kon deurgaan as een van Koning Shaka se impi’s, toe nader en hy duik ewe behendig in die maalkolk af.

Ek lei af die man moes al talle valstande, haarstukke, donkerbrille  en silikon boesems uitduik , want hy weet dadelik waar om te gaan soek, en dis nie lank nie of ek skud sy hand in dankbaarheid.

Maar 'n stel valstande in 'n maalkolk aan die einde van 'n glybaan is gans anders as 'n enkele wisseltandjie in die kilometerlange grag om die vesting gegrawe. En self al is die keel wat Klaradyn toe daar in die water opsit, so 'n keel dat die bestuur selfs besluit om die hele grag vir haar leeg te tap, weet ek ons sal daardie stukkie skitterwit nooit weer sien nie.

En nou kan ek Annieka ook nie vir 'n oomblik sonder Klaradyn saam by mekaar kom om op 'n plan van aksie te besluit nie. Die gevolg is dat sy borduur in die rigting van 'n antwoord, en ek borduur voort in die rigting van my oplossing. Maar dis duidelik dat haar antwoord en my oplossing twee verskillende goed is. Tussen rietrotte, oewermuise, GPS’e en SMS’e, duikspanne, 'n knaakdierflottielje en –verkennerskorps, selfs die Paashaas wat op nommer 199 bygesleep is, is die hele storie is nou al so aangelap dat Klaradyn regtig breindood moet wees as sy nog enigsins enige iets glo.

Maar met 'n Pa en Ma wat so lekker speel, kan sy nie anders as om heerlik saam te wil speel nie, en sy doen.

Met die dat dit een van die tande is wat sy plaasvervangende permanente tand lankal uit en gereed het, is daar nie juis van haasbek sprake nie.

Dis tog of die –s so effentjies sleep en sing, nie soos dit moet nie – juis oor die ander tand reeds uit is – maar tog. En dit klink vir hierdie pappa tog te strelend op die oor.

Ek subsidieer die bloody tandemuis sommer met 'n rand of wat.











Af see toe

'n Kollega van my het dit verkies om in twee dae af te ry Bloemfontein of Durban toe; nie van Windhoek af nie – van Pretoria af. Af Kaap toe, slaap hulle drie keer oor.

Deesdae ook nie húlle nie, maar hý – die huwelik het nie gehou nie. Maar of dit met sy rustige gearendheid te doen het, weet ek nie.

Ek het hom en sy vrou altyd hul vakansies, en besonder die heen- en weerreis, beny, want hoewel ek nie oorslaap nie – ek slaap te veel op die pad en agter die stuur self – is beide die Blommestad en Durban vir my 'n dagreis, nie te perd nie maar per auto, van Pretoria af.

En dis nie oor ek so stadig ry nie – ek betrap myself deesdae al hoe meer dat ek die motor in die rooi druk en plek-plek, veral teen afdraandes, vinniger as 100 km/h ry – dis dat ek so baie van stop en bene  rek hou.

Ek mis die wit tafeltjies en ingeboude stoeltjies die hele land vol langs die pad na al die jare steeds – deesdae ook net kol-kol in die Vrystaat en darem minder wyd versprei in die Kolonie dat 'n reisiger dié rustige hawes langs die pad aantref.

Ek is nog nie die eerste keer oor die Jukskeirivier nie, dan wil ek al gestop het en 'n lekseltjie koffie oor die lippe gestuur het. Maar deesdae is dit mos snelweg en die gemiddelde man wat daagliks tussen Johannesburg en Pretoria pendel, weet nie eers meer hoeveel keer en waar hy oor die Jukskeirivier ry nie.

Voorts verkies ek dit om die geld wat ek op topaaie sou mors, uit te gee vir ekstra petrolgeld om die alternatiewe roetes via mooi en interessante dorpies en plekkies te ry. (Stel dit as 'n uitdaging – Durban toe sonder tol! Wanneer laas was jý byvoorbeeld op Weenen en onthou jy nog hoe mooi dit in daardie omgewing is?)

Om 'n lang storie kort te maak, sonder om ompad te vat: verlede jaar was hel – ek en Annieka het na 17:00 in nat en bewolkte weer hier by die kampplek aangekom. Dié wat mooi onthou, sal onthou dat sy met 'n gebreekte been en krukke in die pad geval het.

Ons het die aand net met een van die twee tente gesukkel, toe jaag ek die twee vrouens – ter wille van die volgende twee weke my én hulle behoud – in die kar en af na die eerste beste (en toevallig ook die duurste) restaurant in 'n 200 km radius vanaf waar ons bedremmelde tentjie staan en verwelk onder die aanslag van ‘n seewind en 'n spoegseltjie reën.

Hierdie jaar, toe doen ons dit anders.

Dis nie ek wat sê ons moet vroeg ry nie, dis Mamma self – en sy sê nie 'n vae algemene vroeg nie (verlede jaar se vroeg was immers in die omgewing van 10:00)  – sy koppel 'n baie spesifieke tydstip daaraan:  04:00.

Ek lê toe van 02:00 af wakker en wag vir die wekker om 03:30 af te gaan. 04:02 toe groet ons die honde en Klaradyn pik 'n traantjie oor sy hulle so gaan mis.

Ons is toe 11:30 hier.

Ons het net een keer gestop – op Harrismith en dit het ons R300-00 aan petrol en R300-00 aan 'n motorwerktuigkundige gekos.

Die motor het die hebbelikheid om nie aan te wil sluit as hy baie warm gery is nie – dit het al twee keer van te vore (een keer op Colesberg, en die ander keer kan ek nie onthou waar nie) gebeur. Maar wag jy 'n rukkie, dan sluit hy dadelik soos 'n droom aan. Maar gister word toe 'n nagmerrie met die dat ons van die ding se geneigdheid vergeet, en die eerste wat ek doen is om die man te skakel wat die petroljoggie by my aan beveel. (Maar dis oor ek mos nou 'n sleepwa agter my aankarring dat ek omtrent die heeltyd wág vir 'n onheil om my en my gesin te tref.)

Toe die tandelose teertang en lunsriem van 'n man 15 minute later daar aankom in 'n motor wat ek oortuig van is hulle iewers teen 'n afdraande aan die gang moes stoot, en hom wil wys hoe die motor nie vat nie, die luier die enjin as het ware al nog voor ek die sleutel klaar gedraai het, en weg is ons – R300-00 later.

En net daar kry ek toe verskoning om nie weer te wil stop voor ons nie die motor by ons staanplek afsluit nie. Mamma Annieka se tande trap al vir ure water, en dis al of Klaradyn self nat hier om die ore uitslaan, toe ons 11:30 hier stop.

Drie, vier ure later toe het ons die tente met militêre presisie staangemaak en is ons ingetrek.

Toe gaan koop ons kruideniersware.

En dan kan 'n mens mos nie tradisie wat jyself begin het, jaar twee sommer net so staan en verbreek nie. Waar is jou sin vir rite, vir roetine, vir die sakrale dan? Ons maak mos nie aand een kos nie, ons trakteer onsself op 'n welverdiende uiteet.

Tuisgekom, gaan maak ons in die maanlig weer voete nat op die strand; ons het, soos Pappa en Klaradyn dit noem, 'n middernagtelike avontuur, as ons almal in die swembad gaan afkoel. Toe is dit koffie en iets soets, en toe die bed.

Dit moet vreeslik gereën het, maar daarvan weet ons niks, dit besef ons eers 02:00 toe iemand wil gaan piepie en ons kom af op die tent en gazebo se dakke wat vol poele water staan en wag om uitgegooi te word.

Ek gooi dit uit en word weer aan die slaap met die branders wat my droomland toe sus.

Dit is en bly lekker by die see.


25.3.11

Armoede se gat

In Car van Maart 1971, presies 40 jaar gelede, kos die duurste motor op die Suid-Afrikaanse mark, die duurste Mercedes, nie soveel soos my 5 voet sleepwa my vandag uit die sak gejaag het nie.

In dieselfde tydskrif word ook 'n 5 voet Venter-sleepwa adverteer, die ’71-model van dit wat ek vandag uit die Venter-werf gesleep het – die kliënt s'n teen R145-00.

En tog kon dit nie anders nie.

Dit kan seker al vir 6 jaar nie anders nie.

Geneuk is net, toe ons die eerste keer na Klaradyn by ons aangesluit het, vir 'n hele vakansie gaan kamp het, hét ons 'n sleepwa getrek... en die motor se gasket moes vervang.

Die stomme kar was daarna nog nooit weer dieselfde – ek moes die gasket selfs 'n tweede keer, sonder enige wesenlike rede, vervang.

Gevolglik kampeer ons die laaste vyf jaar, soms vir soms vir so lank as twee weke, sónder sleepwa, maar mét:  twee 3-man tente (waarin 'n volwassene kan staan), 'n gazebo, 3 kampstoele, 3 strandstoele, twee opvoutafels, 'n Coleman-koelboks, en dan nog die kombuis- en eetgerei, beddegoed, matrasse, klere, speelgoed, twee skootrekenaars, storieboeke (vir elkeen) en wat ook al Annieka en Klaradyn nog op nommer 199 aangedra bring.

Al wat nie saamgaan nie, is die kruideniersware – dit koop ons daar waar ons tent opslaan.

Die gevolg is dat ons motor 'n groter gevaar vir die insittendes inhou as die mees oorlaaide taxi op enige pad, nie net in Suid-Afrika nie, maar die ganske Afrika.

Annieka se nek was verlede jaar vir twee weke in spasma na ons eers weer tuis was na die seevakansie. Dit het verband gehou met die feit dat sy al die pad van daar tot hier, vanweë die kampeerstoele in die binneruim van die motor, nie haar nek vir een oomblik kon reguit hou nie, maar op 'n kinkel getrek gesit het tot in Gauteng. En dan was haar knieë, te wyte aan die 5 kussings, 13 boeke en twee skootrekenaars by haar voete, nog oor haar ore gehaak tot ons uiteindelik tuis kom.

Moes ek skielik briek, het ons almal die gevaar geloop om onthoof te word deur 'n tafel of twee wat iewers teen die dag vasgedruk was.

En was daar 'n pap wiel, het ek 'n insleepdiens gebel. As ek sê die kattebak was vol, dan bedoel ek dat die kattebak vol was. Elke kubieke sentimeter wat op die ou einde vakant was, is met onderklere, blikkieskos, strandemmertjies, hengelgerei en breekgoed gevul.

Het enige iemand 'n idee hoeveel vermorste spasie is onder die kattebak se vloer in die “kelder” waar die spaarwiel sit. Ek het daardie spaarwiel toe gepak met skulpies en goed wat andersins sou moes agterbly, en waar die domkrag en dinge is, heelwat kombuisgoed gepak. (Die kampeerlig was trouens na 'n jaar nog steeds daar in die versteekte ruim weggesteek – en het ek toe sommer ook die een kampeergasstofie wat so lank soek was, na 'n jaar weer opgespoor.)

Oor ons die kruideniersware daar oorkant koop, is dit nie eers 'n geval waarvan ons kan sê dat die terugkom makliker is as die gaan nie – die grocery trommels kom darem leeg terug nie.

Die teendeel is eerder waar – ons kom terug met veel meer as waarmee ons gegaan het.

Verlede jaar was dit drie van hierdie opvou strandstoele sonder bene waarmee jy so op/in die sand sit, om net die drie grootste items te noem.

Daarom dat ek toe maar 'n sleepwa aangekoop het:  ek het geweet Annieka sal met niks minder hier weggaan as waarmee ons verlede jaar teruggekom het nie. En as ons dan nog dáárop moet verbeter deur met nóg meer terug te kom, is daar sweerlik nie plek vir Klaradyn nie, en moet ons haar met Telkom se oornag pos- of een of ander koerierdiens terugstuur.
Daar is net 20 kg verskil tussen 'n 5 en 6 voet sleepwa.

Ek weet egter wat ek alles in 'n kubieke voet ekstra ruimte kan pak – lag-lag 'n verdere 200kg (indien nie meer nie). En dáárvoor is my motor nie gebou nie.

Toe berus ek maar by die kleiner een.

Die ding staan nou gepak, die girls het nou net klaar gebad. Dié gaan ek nou pos, en dan gaan ek slaap. Annieka praat van 04:00 reeds in die pad.

Ek is bly want dit beteken enige iets tussen 06:00 en 08:00 (ás alles goed gaan).

Laat dit met elke leser goed gaan, of hy nou werk en of hy nou met vakansie is.






24.3.11

Laaste slapies

More sluit die skó-ó-óle
Juffrou word gebó-ó-óre
In ‘n blikkie bó-ó-óne
Sonder kop of tó-ó-óne
Onder die piesangbó-ó-óme

Nie Klaradyn wat dit vanoggend by die skool sing nie, maar die stomme kind se pa wat nie kan wag dat sy wakker word, sodat hy dit vir haar kan sing nie.

Maar ek was buite by die swembad besig en is toe nie dadelik by toe sy ontwaak nie – ek tref haar in die badkamer aan.

Die glimlag wat oor die gesig net groter en al hoe groter geword het terwyl ek haar al singend daaraan herinner het, kan ek nie in woorde beskryf nie.

More is dit weer:  “Pinch, Punch, hou-vir-die-laaste-dag! Nix!”

Maar vandag se kinders, hier waar ek skoolhou, ken dit nie.

Ek is daar oortuig van dat ons destyds nog tot in standerd 6 die laaste dag van skool op mekaar se skouers ge-pinch-punch het.

Ook as iemand met piksplinternuwe skoene of iets by die skool opgedaag het: “Pinch, Punch, hou-vir-jou-nuwe-skoene! Nix!”

Nix of orreltjies was jou twee middelvingers wat jy oor Duimpie se maters ge-koeksister het – dit het jou daarvan gevrywaar dat die een wat jy sopas ge-pinch-punch het, jou terug pinch-punch.

(O, ja, vir die wat nie weet nie, pinch-punch was ‘n knyp en ‘n klop op die skouer – partykeer met venyn, meesal heel goedig, op die skouer toegedien.)

By ons was almal eintlik altyd in orreltjies  want in plaas van gekoeksisterde vingers, is die knoop in jou skoenveters ook as orreltjies of nix geag. En wee jou as jy iemand pinch-punch wat reeds ge-nix of in orreltjies is, dan tel jou eie nix as vrywaring geensins – jy word dubbel en dwars teruggekry!

Maar more sluit die skole en blou kolle op die arm of te not, ons (ek?)wil Saterdagoggend 04:00 in die pad val see toe.

Daarom wou ek die naweek al gepak het.

Maar die sleepwaentjie wat ons eers Saterdag gekoop het, kon vanweë die vakansiedag Maandag, eers Dinsdag registreer word.

Kom Dinsdag, toe is die registrasiekantore se rekenaars aflyn.

Hulle probeer Woensdag weer en kom hierdie keer reg.

Maar Woensdag is my motor in vir ‘n diens en ek kan die waentjie nie gaan optel nie.

Vanmiddag is dit nou motor én waentjie optel – ses dagreise te perd in agt verskillende windrigtings van mekaar verwyder.

Ons pak dan maar Vrydag... of Saterdagoggend.

Want daar’s nog die hondekos, die hamster, die budgies, die swembad, Ouma Nooi se goedjies. En dan is ons nog nie eers seker of ander ouma al uit die hospitaal ontslaan is nie.

Miskien kom ons Sondag in die pad.

Maar dit maak nie saak nie.

Want more sluit die skole en Juffrou, én Meneer, én klein Mejuffrou – die hele gesin – word opnuut gebore in ‘n ander roetine, ‘n ander siklus, ‘n róúte less travelled – en dít maak ‘n hemelse verskil.

23.3.11

'n Hoogtepunt van 'n rukkie terug

Ek redigeer op die oomblik twee jaar se dagboekgesels en so loop goed wat nou gebeur gevaar om verlore en vergete te raak.

So kan ek byvoorbeeld nie onthou hoe dit gebeur het dat ek twee weke gelede, en al diep in Februarie, vir die eerste keer na die aanvanklike eerste-dag-van-graad-1, gesien het hoe Klaradyn in haar skoolklere daar uitsien nie.

Dag 1 het ek verlof geneem om darem daar te wees as die kind haar eerste tree gee. En dit was lieflik.

Maar daarna is dit in haar pajamas dat ek haar soggens sesuur kar toe dra of abba. Sy trek by Ouma aan, daar ook waar sy ontbyt eet. Ons moet te vroeg by ons eie skool wees; ons sien nie kans om haar 06:30 by haar skool af te laai nie en daarom dat sy by Ouma deur die oggenroetine gaan wat ander kinders haar ouderdom soggens by hul eie huise het.

Haar skool kom 13:00 uit; ons 14:00 en dis 14:30, op die vroegste wat ons haar eers weer te siene kan kry. Teen daardie tyd, as ons haar by Ouma of Tannie Carina se naskool-sentrum kry, is sy ook lankal uit haar skooluniform en in speelklere.

So hoe sy lyk in uniform, haar hare netjies platgekam en in plek, het ek, behalwe vir dag 1 se onthou van, nie 'n idee nie.

En toe, verlede week, toe loop ek haar om die een of ander rede, op die een of ander manier, in haar skoolklere raak. Maar verdomp of ek kan onthou waar, hoe en hoekom.

Ek onthou egter dit was 'n oomblik en geleentheid wat my vaderhart verbly en my gemoed die hoogtes in gelig het.

Annieka het twee of drie keer moes hoor hoeke heerlikte dit was, Klaradyn moes by herhaling aanhoor hoe mooi sy vir my  lyk; Annieka laat val toe teen die derde keer dat sy 'n elektroniese dagboekinskrywing sien aankom.

Maar ek redigeer die ou goeterstes, ek kom by die huidige dinkwerk wat op datum gebring moet word nie uit nie.

Dis nou tot nou toe, vandag toe, toe my gedagtes eers weer 'n draai in 1980 rond by my eie hoërskool op Alberton gaan maak het. Ek moes in standerd 7 of 8, straks al 9, gewees het.

Miskien was dit een of ander feesjaar vir die skool gewees, die jaar waarin ons almal op die rugbyveld 'n gimnastrada gehou het, ek sal nie weet nie. Maar ons ís, die hele skool, een mooi dag af pawiljoen toe en daar het die Administrateur van Transvaal ons toegespreek.

Wat hy daar gemaak het, weet ek nie, wat hy te sê had, onthou ek, met een enkele uitsondering na, net mooi niks van nie, maar dis daardie een enkele uitsondering wat my gedagtes vanoggend gaan draai en lug skep het.

Want hier teen die einde van sy toespraak voor die 1400 leerders op die pawiljoen, laat val hy dat hy in die gewoonte is om skole, daar waar hy besoek aflê, van 'n vakansiedag te voorsien.

Ja, dis waar, soos eerste ministers amnestie kan gee as hulle lus het, had hy die mag om skool se leerders 'n skooldag af te gee. En toe doen hy dit – die Hoërskool Alberton se leerders is een dag nie skool nie omdat die destydse Administrateur van Transvaal hulle afgegee het.

Behalwe nou vir daardie dag, is vandag, meer as 30 jaar later, in die meer as 36 jaar wat ek óf agter óf voor die skoolbanke deurgebring het, die enigste dag wat ek op iemand se wish & command nie skool het nie.

Kyk, hier in die ou dae het ek dit as onderwyser gehad dat 'n hoof twee dae 'n jaar het waarin hy sy leerders nie skool hoef te laat gaan nie – die een dag is meesal opgeslurp deur atletiek interhuis; die ander deur atletiek interhoër.

So af, soos in af, julle bly by die huis, was en is dit nooit gewees nie – ons het steeds skool toe gegaan, ons het net nie skoolwerk gedoen nie.

Maar toe kom spreiligte binne baie skole se bereik en in plaas van dag-byeenkomste, word interhuis skielik 'n middag-aandbyeenkoms.

Party hoofde maak, met die afdag wat hy in die proses wen, nou wat hy wil, party kermis, ander vier verjaarsdag en baie vergeet net liefs van die geleentheid en gebruik dit akademiese tyd.

Hier in my omgewing gee die hoofde hul kinders die dag meer dikwels na 'n interhoër oorwinning pasella.

Maar toe wen my skool tien jaar in 'n ry die interhoër en die ander hoofde begin die dag verniet weggee omdat die skool tweede, of derde, of selfs vierde, in die interhoër gekom het. In 'n stadium, so vier jaar gelede, het die een hoof selfs sy skool afgegee omdat hulle van laaste posisie verbeter het na tweede laaste.

En almal kry af, behalwe natuurlik die wenskool, nie jaar een nie, en teen jaar nege nog steeds nie.

Maar toe die skool gister, op 'n Donderdag, vir die tiende agtereenvolgende jaar met die louere by die byeenkoms wegstap, toe kondig die hoof aan dat die hele skool, personeel ingesluit, vandag af het.

En wie is die blyste van almal?  Hans Moolman.

Want is dit nie wonderlik nie – ons kan Klaradyn skool toe vat, soos ons elke dag sou wou, moes ons nie so vroeg by ons eie skool gewees het nie!

Ek kan vir my kind, anders as oor 'n naweek, in die middel van 'n skoolweek wakker maak met 'n koppie tee, soos dit hoort. (Onder omstandighede laat ons haar soggens so laat as moontlik slaap, want sy is soggens al by Ouma afgelaai wanneer al haar maatjies nog vir 'n halfuur en langer in droomland is.

Naweke ontbyt ons in die bed. Nou kan ek my kind ontbyt gee by die mosaïek-tafel wat ek spesiaal geplak het om die kombuis 'n huislike karakter te gee, maar soggens nooit by uitkom om brekfis te kan geniet nie.

Meer nog, die kersie op die koek – ek en Mamma kan haar 13:00 by die skool optel!

Op die oomblik is dit nog lank na 13:00 toe, maar ons het al om die tafel ontbyt, ons het al ge-koffie-in-die-bed en die lekkerste tot op hede vandag:  ek en Mamma het saam met haar tot voor die klas gestap.

O, en was dit nie 'n heerlikte nie! Ouma vertel altyd hoe die entjie tussen die motor en die klas verloop en ek luister met geregverdigde jaloesie; vanoggend kon ek dit self beleef en besef Ouma dik nie aan of vertel sommer storietjies nie – dit ís die lekkerte wat sy beskryf en van vertel.

Ek is daar heilig oortuig van dat ek in meer as 36 jaar van in die onmiddellike omgewing van skoolbanke verkeer, ek 'n skool se atletiekspan nog nooit so baie dank verskuldig was, soos vandag die geval is nie. 

PMK

Toe ek kortpouse destyds begin blog het, was dit vir my belangrik om in die begin 'n inskrywing te maak rondom die naam waarop ek besluit het.


En met 'n lang- en kortpouse by die skool, het dit aanvanklik niks te doen gehad nie – dit het suiwer verband gehou met 'n uitdrukking wat ons op universiteit hehad het:  “Pouse is net 'n sigaret lank.”


Heel in die begin is die woorde heel letterlik gebruik – die pouse tussen die eerste en tweede bedryf van die toneelstuk, die pouse tussen die eerste en tweede helfte van die aanbieding en konsert, is net 'n sigaret lank – tyd vir enige iets meer as om gou 'n sigaret te trek, is daar nie.


Later het ek dit figuurlik ingespan – die ontspanning, of die lekker, die sigaret, tussen al die res wat eerder inspanning en sleg is, is van korte duur – net 'n sigaret lank.


Die verposing, die asemskep, die pouse, daarom, is net 'n sigaret lank


So “Pouse-is-net-'n-sigaret-lank” het toe 'n kort verposing onder die naam “kortpouse” geword. So kort en nietig dat dit nie eens 'n eienaamstatus met 'n hoofletter geniet het nie.


Maar oor ek my pouse-sigaret en koppie rooibostee afgestaan het (en vir 'n onnie is pouse heilige tyd) om my dinkwerk agtermekaar en op datum te kry, was kortpouse natuurlik heel gepas – dis immers my skoolpouse wat deur die blog opgeslurp word. En dis 'n Moewieser van moewiese opofferings, as jy in ag neem dat ons by ons skool slegs een pouse het – en selfs dié enkele een was nog altyd te kort vir 'n sigaret én 'n koppie tee, dis óf die een óf die ander – wat nog te sê 'n sigaret, tee, piepie, blog én 'n geselsie of vinnige vakvergadering.


Wat die naam natuurlik gans en al belaglik en verregaande gemaak het, was die feit dat elkeen van my inskrywings so ontsettend lank, en woordryk, en overdadig was – geen kort in dié kortpouse nie.


(Dit het my natuurlik nie gepla nie, en pla my steeds nie – blog jy, soos in blog in die ware sin van die woord, moet jou inskrywing kits en kort en op die man af wees; jou leser is deel van die vinnige verbruikerskultuur. Ek blog nie, ek hang my langdraderige gedagtes en ander wasgoed in die openbaar.)


Maar toe, toe ek agterkom die kort in kortpouse moes eerder lank in langpouse gewees het,  was dit lankal te laat – en ek wou toe ook nie verander het nie.


Die betrokke kortpouse was toe oor die lang termyn gesien besonder kort en op die ou einde net 'n sigaret lank – twee jaar en vier maande (om min of meer presies te wil wees).


Toe ek kortpouse afsluit met die woorde “Dit was kortpouse” (eintlik baie melodramaties oor dit die laaste woorde ooit oor Springbokradio eggo – “dit was Springbokradio; this was Springbok Radio”) het ek geweet ek sal nooit weer kortpouse onder die naam kortpouse hou nie.


Boordensvol het ek al by Wordpress geregistreer gehad sedert iewers einde verlede jaar.


Miskien is daar so woord, 'n intensiewe vorm, en ekwivalent van propvol of tjokkenblokvol – die Afrikaanse speltoetser dui dit nie as 'n spelfout aan nie. Miskien het ek die woord uit 'n sonnet van Johan de Lange, Laatherfs, verbeel ek my, in sy tweede digbundel, 'n gedig wat ek op universiteit leer ken het.


Die woord herinner my ook aan 'n gedig in die versamelbundel Groen waarin die volgende frase voorkom:  “tot barstens toe vol gepak met fruktose” (waarin soet ryp kersies besing word).


Boordensvol bring my uit by 'n positiewe oor boord gaan, 'n oorloop van wat-ook-al: liefde, emosie, woorde en sinne. Maar ook by vrugte-boorde(ns)vol – en in besonder die kersieboorde rondom Ficksburg wat ek as kind leer ken het.


En hierdie oor boord, overdadig, mildelik, geil, tot oorlopens toe vol, hierdie rykdom wat die woord boordensvol vir my oproep, het my oor twee jaar en twee maande gereeld uitgebring by: Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.


En dis wat kortpouse vir my was, wat blog vir my is – 'n uitlaatklep vir dit wat die hart van vol is – hoofsaaklik die kanariegeel, amber, hiasintblou en papegaaigroen; maar ook die kleure van klip kaneel en wolke (as ek by Lina Spies kan gaan leen).


So ja, Pappa-Mamma-en-Klaars was amper Boordensvol.


Toe wou ek speel met iets rondom “dinkwerk op datum kry”. Ek is van nature vrot met die op datum kry van enige iets – van tuinwerk tot merkwerk, met die een enkele uitsondering natuurlik:  my dinkwerk.


En dis iets anders wat ek doen as ek blog – ek teken my gedagtes aan, verwoord dit, ek kry my dinkwerk op datum.


Ek hou van die allitererende -d’s. Maar toe word iets rondom dinkwerk wat op datum gekry word ook  opgeweeg en te lig bevind.


Aan die woordgroepverbinding Pappa-Mamma-en-Klaars het Annieka my bekendgestel as sy vertel hoeke lekker tye die Pappa-Mamma-en-Klaars-tydjies is wat ons as gesin geniet.


As sy dit gebruik swymel ek, dis die mooiste van mooi.


As opskrif en titel van blog hou ek daar nie veel van nie – dis Sarie- en Rooi Rose-agtig, nie eers verfynd of verwyfd nie – sommer plein vroulik en chickerig.


Maar dan, aan die anderkant, ek kan nie my blog Die mymeringe van 'n groot grootwildjagter of Agter die doellyn en oor die dwarslat noem nie, bloot omdat daarin nie veel van die veld (nóg die jag- nóg die sportveld) vertel word nie.


Ek hou boek van Pappa, Mamma en Klaars; dikwels bloot Pappa-Mamma-en-Klaars. Maar los van mekaar en sonder 'n koppelteken wel ook.


Vandaar dan die naam.


Na ek kortpouse nekomgedraai het, het ek natuurlik heel halfmas en halfwas probeer aanhou klets met 'n verbeelde leserspubliek, die waarskynlike leser.


Maar dit was nie lekker nie en wou nie vlot nie.
Het ek gedigte geskryf, gebore uit pyn van die een of ander aard, sou ek miskien kon. Maar waar ek eenrigtinggeselsies aanknoop, eerder oor die mooiweer as die onweer, kan ek wat ek skryf nou maar eenmaal nie in my binnekamer hou nie, ek het nodig om dit aan die een of ander klok te hang, al is dit nie die groot klok nie.



Dan noem ek dit eenrigtinggeselsies, want dis wat dit is – ek blog geensins in die sosiale sin van die woord blog nie. Ek soek nie geselskap of uithangplek nie, eerder 'n kapstok vir my woorde, 'n pen om dit aan te hang – en dit bied Blogger my.


Hier is geen Afrikaanse leserspubliek nie – as jy my hier lees is dit oor jy weet ek is hier en jy wil my lees.


Wordpress het 'n Afrikaanse bloggemeenskappie, veel kleiner as die Litnet-platform, 100 keer groter as hier – maar vir 'n Afrikaanse Afrikanerdom se laer- (en ander) trekkery sien ek nie weer kans nie. (Daar sou die naam, vanweë talle soutkoekies wat met die een hand in Wordpress en die ander hand in Litnet staan, Pêrels voor die swyne moes wees – en daarvoor het ek ook nie lus nie. Verder beledig dit 100% van die lesers, terwyl die skoen slegs 10% pas.)


So Pappa-Mamma-en-Klaars sal dit dan wees.
Lekker daarvan is dat ek dit, soos Price Waterhouse & Cooper wat bloot PWC geword het, en die kolonel se braaihoender wat sommer net KFC is, kan PMK – ter wille juis van die haastige kits verbruikerskultuur-leser.

22.3.11

Tot in die afgrond? Nooit!

'n Baie belangrike lewensles wat party mense ongelukkig (vir hulself én veral vir almal om hulle,) genoeg is om nooit te leer nie, is die een wat die boodskap helder en duidelik tuisbring dat 'n mens nie noodwendig altyd alles kry wat jy wil hê of jou hart begeer nie.

Party individue vorder nooit veel verder as die smag en sug na die onmiddellike behoeftebevrediging so eie aan 'n suigeling nie en kry lewenslank wat hul wil hê aan die hand van tantrums en trane.

Is jy die vierde of vyfde kind in 'n gesin van sewe, glo ek leer jy die les makliker en gouer as byvoorbeeld 'n enigste kind.

Soos Klaradyn.

Soos ek. (Met 'n Boeta wat 16 jaar ouer as ek is, het ek en hy elkeen basies die voorreg gehad om as het ware soos 'n enkelkind groot te word.)

Maar met een aan die bors, een op die heup, Boetie teen die been en 'n Sussie by Ma se enkels rond (en dan nog een aan die kom ook) val die lewe nou maar net eenmaal so vir jou uiteen dat jy vroeg-vroeg reeds maar al te goed weet dat jy nie alles kry waarna jou handjies of ogies reik nie.

Jy weet ook kleintyd al dat vloermoere en ander desperate measures wat meer dikwels die gewensde vrugte in die enkeling se skoot laat val, jou net mooi nêrens gaan bring nie.

Behalwe dat Klaradyn 'n enkelkind is, en sy daardeur reeds verder na agter in die ry staan vir die aanleer van hierdie les, het sy ruim een derde van haar lewe tot op datum, meer wakker-tyd per week in die geselskap van haar ouma en oupa deurgebring as by haar ouers.

En Oumas en Oupas is daar vir net een ding – om te bederf, omdat hulle mag; of hulle die kind nou twee keer 'n jaar sien, en of hulle die kind nou bykans elke dag sien.

So ja, Sussie is nou 6 en weens die lieflike omstandighede wat haar omring sukkel sy maar nog 'n bietjie om vrede te maak met die uiters onaangename wat elke nou en dan haar pad kruis – sy kry haar eie sin nie.

En om nie jou eie sin te kan smaak nie, is vir die een dalk 'n alledaagse algemeenheid waaraan jy lankal gewoond is, maar vir 'n ander is dit trauma grensend aan 'n onmiddellike eksistensiële krisis, en word die meegaande gevoel van teleurstelling soveel luider en intenser en hewiger en snotter en traner beleef.

Dan is dit natuurlik ook nie die lewe wat die kind die belangrike lewenslessies soos hierdie een moet leer nie – dis hul primêre leermeesters, hul ouers, wat die boodskap tuis moet bring.

En dis waar ek faal en vers te ver tekort skiet.

Was daar vyf, het dit met die derde een, die vierde reeds in die pyplyn, straks makliker begin gaan, maar nou sit ek met net een. En dan sê ek ek, maar dis eintlik ons – Annieka sukkel eweseer, indien nie meer.

En dit onder verswarende in plaas van versagtende omstandighede: ons het haar nie op 'n jong en jeukerige stadium in ons eie lewens deel van ons bestaan gemaak nie; nee, ons beide was reeds gevestig in ons beroepe, klaar geresies en gejaag, toe ons haar gehad het.

So van verdeelde aandag is daar weinig sprake – ons is nie jonk en onbesonne nie, maar oud en oorversigtig, grys en wys genoeg om te weet ons kind kom eerste, meer eerste, verder eerste, as wat miskien die geval sou gewees het, was ons jare jonger en aan die voetheuwels van ons volwasse lewens.

En dan het ek en Annieka beide sulke slegte voorbeelde in ons eie ouers gehad – aan beide kante sou die ma’s en pa’s letterlik enige iets opoffer in belang en ter wille van hul kinders.

Ek het altyd gesê my ma sal helder oordag, op straat, druk die nood genoeg, haar onderklere van haar lyf stroop en verkoop, as die geld wat sy daardeur verdien, in my of my broer se belang aangewend kon word.

Annieka se ouers nie veel anders nie. Trouens en inteendeel, eerder uit dieselfde hout gesny.
Nou met sulke voorbeelde, kan dit nie anders nie dat ek en Annieka, maar sukkel om ons eie kind te leer dat sy nie alles kan kry waarop sy haar wil sit nie.

Daar was 'n briefie, seker 'n week terug, van 'n boekuitstalling en –verkoping in die saal.

Maar dit was tussen 08:00 en 14:00, en hoe sal ek en sy dit nou kan bybring.

So kom en gaan die Woensdag en die Donderdag van die uitstalling toe, sonder dat iemand 'n sprook of wat sprak.

En hoe mos ons nou weet die kinders gaan in pouse saal toe, loop deur en begeer soos enige grootmens wat van boeke hou, ook maar begeer as hulle in die boekwinkels ronddwaal.

Sy het glo Donderdagmiddag, toe Ouma haar kom optel, gevra of hulle tweetjies nie dan maar saal toe kan stap nie – die tannie is nog daar.

Maar Ouma had nie haar beursie aan haar nie, en hulle moes regmaak vir netbal.

So Vrydagoggend, pas wakker gemaak, toe pruil daai mondjie, toe trek die lippie skeef en is dit of daar 'n traantjie wil biggel.

Nee, Pappa moet geldjie saamstuur, want julle het nie gister en eergister nie, en die tannie weet watter boek dit is wat sy wil hê – so 'n een oor diere, 'n Engelse een, soogdiere.

Ek laat val toe dat die uitstalling verby is, dit was net gister en eersgister.

En sy laat val dat dit is hoekom sy huil – sy weet dis te laat, maar ons het haar nie met 'n boekegeldjie skool toe gestuur nie.

Toe besef ek boekegeldjie is soos koeldrank- en snoepiegeldjie, 'n sewe randjie wat jy in die beursietjie wegsit vir pouse se bederfie.

(Ag siestog, en vandag die graad 1’s in die groot skool, nie meer soos verlede jaar toe hulle nog in gewone klere as kleuters deurgegaan het, na die snoepie begelei word nie, maar in rye moet staan en hul beurt moet afwag en oopstoei en druk, vra sy nie eers meer 'n snoepiegeldjie nie.)

Ek probeer toe verduidelik wat die verskil tussen 'n koeldrankie se prys en die gemiddelde boek se prys is – maar dis nie 'n fiskale feit wat jy op ouderdom ses, oomblikke na jou kind met 'n piepie wakker geword het, tuisbring nie.

Nou dis maklik – hier is geleentheid om te leer 'n mens kan nie altyd alles in die lewe kry wat jy wil nie.

Maar so maklik is dit ook nie:  die trane is byvoorbeeld definitief nie tantrum-trane nie, nie afpers-en-op-gevoel-speel-trane nie; dis nie eers trane nie, maar trane wat terug gehou word, trane wat weg- en toe- en afgeknyp word – opregte hartseer wat 'n pappa se hartsnare roer.

Ja, sy sal vergeet. Ja, ons kan dit ignoreer en daar sal onder die son niks van kom nie.

Maar my kind het 'n boek oor soogdiere by die tannie eenkant gesit en haar gevra om dit vir haar te hou.

My kind vertrou die tannie, vertrou die lewe.

Kan ek haar nie meer leer, meer van die lewe leer, deur die boek in die hande te kry nie?

Ek weet nie.

Materieel kan ons haar nie bederf nie, al wou ons.
Maar emosioneel? Te veel liefde (enige iets met 'n te is ongesond)?

Tog kan ek haar nie teleurstel nie.

Fout, miskien, ek weet.

Maar wat gaan dit van my vat?

Ek bel die kleuterskool waar ek weet die vrou al die jare haar boeke uitgestal het.

Dit kos my 'n oproep, niks meer nie – nie eers van my tyd nie, want ek bel my belle terwyl ek by die skool stap en terreindiens doen.

'n Tweede oproep verder (ja, sy weet presies watter boek dit is) en sy sal die boek Maandag by die kleuterskool aflaai – ek kan dit daar optel en die R120-00 wat dit my uit die sak jaag daar laat.

Klaradyn se gesig toe sy dit daar aflaai (Maandae tel die kleuterskooljuffrou haar vir een middag 'n week se naskool op) kon ek nie beleef nie, maar 'n uur later, toe ek daar stop, het ek haar op my sien afhardloop om my die boek te wys, en dankie te sê en om die bene te val.

Wat 'n vreugde!

Ek betwyfel ook nie die opregtheid van die dankbaarheid en blydskap nie, geveinsd is dit beslis nie:

Ons ry Voortrekkers toe, sy met die boek op haar skoot – haar kop en neus tussen die blaaie.

Ek stop vir 'n kouedrankie vir ons elkeen. Ek klim in, en koeldrank in die hand, terwyl sy blaai, sê sy steeds ingedagte en haar aandag eintlik net in die boek:  “Baie dankie vir die koeldrank, Pappa!”

Toe weet ek, dis nie bederf nie, dit kom vir haar nie sommer net vanselfsprekend nie – nie die boek nie; ook nie die koeldrank nie.