Ons het sedert laas enkele eerstes en lekkertes gehad. Dis egter hopeloos te min om uit te brei tot ‘n propperse PMK-geselsie.
Egter nie gesels wat ek vanaand wil doen nie – ek soek antwoorde, ek soek inligting.
Een van slegs enkele beste laerskoolvriende is seker 20 jaar gelede in ‘n frats skietongeluk oorlede.
Had hy nog gelewe het ek direk by hom aangeklop want dis saam met hom dat ek van my lekkerste kindertryd-speletjies gespeel het. Veral die een wat ek seker nou drie of meer jaar oor wonder.
Die ander een was een vet lekkerte, maar dis nie iets wat ek Klaradyn wil leer nie, iets wat ek nou al drie jaar wag om haar te kan leer nie – dis ‘n regte egte 100% seuntjie-speletjie van ouds.
Jy het nodig:
- Twee seuntjies. Ek en Casjohan was ‘n perfect match. Partykeer was ons drie, maar dit het nooit so lekker gewerk nie.
- ‘n Lekker lang gang. Tannie Marie en Oom Cas se gang was net reg en die ouer sussie, Greta, en ander huismense moes versigtig in die gang af om nie ons opstelling te breek nie.
- Die gang het ‘n liggewig mat nodig, en by gebrek aan ‘n liggewig mat, dan ‘n kombers of wat. Jy wil kontoere, ‘n landskap met optes en aftes en slote en ravyne kan skep. Sonder ‘n mat, sonder obstacles, is dit so goed jy speel albasters, want al vaardigheid wat jy dan nodig het, is om te kan mik.
- Albasters.
- Twee lekker groot stelle plastiek soldate. Garetolletjies en vuurhoutjieboksies vir tenks, wapenopslagplekke, ondergrondse petrolreservoirs of wat jou verbeelding ook al toelaat.
Ons het die moer uit mekaar se manskappe en infrastruktuur gerol met daardie albasters – ure aaneen.
Ek het begrip daarvoor dat dit seker nie 100% post-Apartheid/Grensoorlog/Koue Oorlog is om oorlog-oorlog te speel nie, en had ek ‘n seun, sou ek een van daardie pappas gewees het wat nie sommer geweertjies en ander doodmaakgoed gepropageer het nie. Maar as ek nou 100% eerlik moet wees, kan ek regtig nie dink dat ek enige letsels oorgehou het van ons kleintyd se oorlog- en geweldspeletjies nie.
Maar dit nou maar daar gelaat. Dis ‘n debat op sy eie, en miskien is dit ‘n goeie ding dat ons toe nooit ‘n klein Hansie gehad het nie.
Die ander speletjie was Battleships wat ons vir net soveel ure besig gehou het. En dan praat ek nie van die borspeletjie wat later van tyd gekom het nie – ek praat van blokkiespapier, pen en potlood; ‘n swart Croxley skryfboek tussen ons twee staan gemaak.
Ek en Klaradyn het vandag het vandag ons eerste potjie Battleships gespeel.
Ek troos my daaraan dat dit hier gaan, nie om oorlogvoering ter see nie, maar vektore en die lees van kaarte. Ons het vandag meer van wiskunde geleer as van maritieme maneuvers.
Met die pen en die potlood het ons ook blokkies getrek. Ek sien hulle noem dit Squares op die internet. Dit sou ons by die skool in die eksamenklas gespeel het, dit hét ons by die skool in die eksamenklas gespeel.
Eers was dit egter Racetrack, maar dan beslis nie Racetrack wat ek op die internet opgespoor het. Jy het jou baan geteken presies soos hulle uitspel, maar daar was nie blokkies nie; ons het die pen staangemaak op die papier, en met jou wysvinger op die pen se kop het jy hom dan vorentoe geskiet. Daar waar die streep ophou, het jy jou kolletjie gemaak. En so het jy geskiet tot jy oor die wenstreep is.
Die speletjie wat ek onthou, maar ook nie onthou nie, bring eintlik al drie speletjies in een heerlikheid bymekaar: Battleships, Racetrack, en die plastieksoldaatjies met die albasters.
Ons het ‘n slagveld op papier uitgeteken (soos die soldate of die skepe). En dan het ons geskiet met penne (soos in ons weergawe van Racetrack).
Maar hoe dit gewerk het, wat ons geteken het, en wat die reëls was, weet ek lankal nie meer nie. Ek onthou daar was tenks – die tenks se spore was die penspore wat ons oor die bladsy gestuur het. Het ons landmyne geteken om te keer dat die tenks by ons forte uitkom. Hoeveel tenks was daar? En hoeveel forte?
Maar ek weet nie eers of dit tenks en forte en landmyne was nie.
Al wat ek weet is dat ek ure se pret gehad het – tot standerd ses en sewe nog.
Jy het vorentoe beweeg met die pen. Miskien het jy iewers heen gejaag, jy wou iewers uitkom. Of miskien het jy van iets weggejaag – jy wou wegkom. Ek weet nie, maar dis die breedste van breë trekke.
Maar net so breed soos wat dit is, so vaag is dit ook.
Dit help nie ek vra vandag se kinders nie – hul vermaak is Nintendo en Wii en Blackberries en Ipads en klomp ander goed wat ek nie eers weet hoe om te spel nie.
My ou maat is al jare in sy graf.
Ons tydgenote sal tien teen een, soos ek, net ten dele, vaagweg en ten mínste, gebrekkige, onder-dele, onthou.
Ek en my ander beste skoolvriend is steeds beste vriende. Maar dis mos nou maar hoe dit met maatjies gaan – by die een speel jy hierdie goed en op een manier, by die ander speel jy ander goed en op ‘n ander manier. Ek kan my nie vir een oomblik indink dat ek en Riaan ooit enige een van hierdie speletjies gespeel het nie.
Dit help nie ek bel of stuur e-pos nie.
Ek weet wel ek en Klaars, selfs ek en Mamma en Klaars, sal lekker pret kan hê in baie van die tydjies wat ander kinders voor die televisie sit of met oorfoontjies in hul ore besig is om BBM-boodskappe vir mekaar te tik.
Ons doen dit ook. En daar is niks verkeerd mee nie. Maar ook soveel ander. En suffel meer.
No comments:
Post a Comment