Pages

15.7.12

2 tot 4 van die kwansuise 4 vakansieresepte (en nog meer)

Ek verbeel my ek wou vier resepte deel.
Ek het een gedeel en twee mense het genoem dat ek hulle afgeskrik het met die woorde dat jy van kosmaak moet hou as jy dit maak.
Maar dis oor die uitrol van pasta klaar ‘n missie is, en dan nou die vleisballetjies en dan die sous. En dis baie skottelgoed. En tyd.
Ag die woorde eerder as inspirasie en aanmoediging, nie as afskrik nie.
Die tweede resep het ek by ‘n vriendin gaan plak toe ek sien sy begin ‘n kosmaakblad – toe kom dit nie hier nie.
Die derde resep se oorskiet het ek ons vanaand viskoekies van geëet.
En wat die vierde was weet ek nie.
Sien, ons het vakansie gehou. En uitgerafel, soos dit hoort.
Ek moes vanaand soek na die selfoon se laaier om die ding gelaai te kry voor more.
Met Judy in ‘n houtkissie – geen ouetehuis sal my weer oor haar hoef te bel nie – en my vrou en kind 24/7 by my, het ek nie enige nodigheid om telefonies in die hande gekry te word nie, so hy is voor die vakansie laas gelaai. Daar kom nou boodskappe en missed calls in, maar die foontjie kan maar mal gaan; nie een sal klink soos die noodberigte van ouds oor RSG nie:  “Hans Mooman word versoek onmiddellik met sus-of-so in verbinding te tree – hierdie oproep is in verband met sy moeder/vrou/dogter nie.”
En terwyl ek nou by die Afrikaanse diens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie is, laat ek die tweede resep, mosterd na die maal, plaas. Want dis hoeka waar die gesels verlede week begin het:
Die Afrikaanse diens van die SAUK, hulle staan al jare bekend as Radio Sonder Grense, maar vir my sal dit altyd Die Afrikaanse diens van die SAUK wees, gesels nou een middag oor eiervrug.
Ek hoor iets wat heerlik klink, maar hoor verkeerd, en toe ek die Italiaanse naam wat ek onthou, google vir ‘n resep, toe kom ek by minisalami’s (volgens die een spelling), en iets anders (wat ek nie hier waar kinders ook lees, kan noem nie) volgens die ander spelling uit.
Toe google ek die ingrediënte wat ek onthou: eggplant/aubergine, potato, sweet peppers, red peppers, baby marrow/zuchinni, noem maar op, maar verdomp of ek iets kry aan dit wat die luisteraar oor die radio gedeel het.
Toe klim ek onder my kookboeke in en stel op die ou einde iets saam uit ‘n Griekse kookboek op die rak.
Dit vra vir bietjie meer as ‘n kilogram se eiervrug. Maar dit noem dat jy die resep met murgpampoen ook sou kon saamstel. En iewers vertel hulle ook, as die eiervrug nie hoogseisoen, wanneer dit op hul soetste is, gepluk is nie, kan jy die smaak en geur aanjaag met rooi soetrissie.
Toe sorg ek dat ek in die omgewing van 2.2 kilogram van al drie groentesoorte het, meer eiervrug en murgpampoentjies, een groot soetrissie.
Dan wil my Griekse boek hê ek moet die eiervrug (in my geval eiervrug en murgpampoentjies) in 1 cm skywe sny. Ek het myne met ‘n snyer, seker so 4 mm diktes gesny, en die eindresultaat was net so lekker.
Hierdie goedjies braai jy nou, enkellaag, in ‘n pan – tot elke kant mooi bruin is en jy alles oor die pan se geoliede boom het.
Dit pak jy nou in lae in ‘n bak en geur ruimskoots met sout en peper. Ek het my dun velletjies gefrummel en gevou in die bak gepak.
Bo oor gooi hulle ‘n tamatiesous van twee 400 gram blikke tamaties. En ek het besluit om ‘n sous wat aan Spaghetti & Meat Balls se sous herinner, te maak:
2 400 g blikke tamaties
2 eetlepels Worcestershire-sous
1 eetlepel tamatiepasta
2 of 3 knoffelhuisies
sout en peper
genoeg suiker om die tamatie te temper
1 lourierlaar
1 teelepel oreganum
1 teelepels basilie
‘n Skeut witwyn (ek het verskoning gesoek om ‘n bottel wyn oop te maak)
Hierdie sous word nou afgekook tot dit fluweelagtig voorkom (of tot jy dit fluweelagtig genoeg na jou sin verklaar)
Dan gooi jy die sous oor die groente en strooi sowat halwe koppie gerasperde parmesaankaas (bly weg van klaar gerasperde poeierkaas, dis snert, dan eerder enige kaas in die yskas) oor dit alles.
In die oond vir 30 minute. En dan eet jy dit.
Ons het ‘n vleislose aandete gehad, maar dit sal ‘n voortreflike, onoortreflike, bykos  by gebraaide skaaptjops oor die kole ook wees.
Verdomp op ek die vierde resep kan onthou.
Die derde was eenvoudige vis wat baie lekker is:  Bo oor jou vissie in die oondpan gooi jy ‘n molshoop vars broodkrummels (van nie so vars brood) waarby pietersielie ingetjop is. En dan bedruip jy met jou botter/olyfolie/sout/peper/knoffel-sousie wat jy aangemaak het. In ‘n warm oond tot die krummels goudbruin is. As die vis gaar is voor die broodkrummels lekker bros is, moet jy dit maar onder grill rooster – pasop net vir brand.
(Ek het toe sommer die sampioene ook van krummels voorsien. Hulle is voete na bo in ‘n oondpannetjie staangemaak. Ek het parmesaankaas en vars tiemie met die vooraf gegeurde vars krummels gemeng, dit oorgegooi en toe aangeklam met olyfolie. Heerlik. Maar moenie krummelvis en krummelsampioene saam voorsit nie, dit word seker nie so gedoen nie, maar ons was in bui vir oefen en eksperimenteer en kan Tannie Emsie Schoeman en haar etiket maar maan toe stuur.
Maar die vierde?
Nee, ek weet nie.
Ons het lekker steak en tjips en gebraaide uieringe gehad. (Dun uieringe in melk gedoop, toe in gegeurde meel en toe in baie warm olie vir 2 minute). Maar dit was nie dit nie – dit was sommer net lekker.
Ek en Annieka en Klaradyn het die lekkerste kuieraande in die kombuis gehad.
Vanaand weer. En dis wat my agter die rekenaar het:
Ek hét Mammas dit hierdie week hoor sê:  “Ek kan nie wag vir die skool om weer te begin nie!”
Wat nog erger is, dit was mammas wat nie werk nie.
Ek en Annieka is op punt knak omdat ons nog drie weke saam met ons kind vakansie sou wou hou.
Ons het vanaand vir Klaars dankie gesê vir die lekker vakansie, en haar daaraan herinner dat nie alle mammas en pappas bly is die verbode s-woord begin more weer nie.
Maar dis seker nie ons kind wat so spesiaal is nie, dis seker ons omstandighede.
Werkende Mammas sal in party opsigte bly wees die skool begin weer – daar hoef nie dagsorg vir die kinders in plek gekry word nie, die bekommernisse is minder.
Mammas wat nie werk nie, wil seker die kinders onder hul voete uitkry en weer gaan tee drink by die verskillende uithangplekke.
Maar as jy, soos Hans en Annieka, beide in die onderwys is en bevoorreg genoeg is om saam met jou kind vakansie te kan hou, dan is en bly vakansie die wonderlikste van alle gesinstye saam – by die huis, in die Kaap, op Mauritius of in Milaan.
Ek dink onwillekeurig aan twee Langenhoven se sê-goed, en is nog nie eers seker presies hoe om die kloutjie by die oor te bring nie. Maar dit het nou in my gedagtes gespring, so laat ek dit deel:
Dis van te veel sonskyn dat die woestyn ‘n woestyn is.
Van die ander een het ek al ‘n foto gemaak, maar nog nie op FB geplaas nie. Miskien moet ek sport, vir die doel van vanaand se gesprek, net na vakansie verander.



Soos gewoonlik weet ek nie watter een die beste werk nie.


No comments: