Pages

10.7.12

Maandagverslag

Dat ek nou moet waggel soos ‘n eend toe ons gisteraand bed toe gaan!
En vannag toe ek opstaan – ja, ek het amptelik nou oud begin word: as ek snags opstaan is dit nie om huis toe te gaan nie.
En toe vergeet ek van die waggel toe ek vanoggend so wakker as is dat ek onmoontlik nie weer sal kan slaap nie, en opspring om te kom peuter en totter met die rekenaarsleutelbord se toetse.
Sien, ek het gister ‘n eerlike, harde, drie uur se werk ingesit.
Al die jare, vra maar my vriende – daar is baie wat daarvan kan getuig – het ek in my onfiksheid ‘n natuurlike, ingebore stapfiksheid gehad, wat gemaak het dat ek nooit op enige staptoer, hoe straf ook al, met stywe kuitspiere gesit het nie.
Wanneer die ander van my kaliber lankal waggel en spierverslappers drink, dan huppel ek nog soos ‘n wildsbokkie. Maak dit dan maar ‘n oorgewig boerbokram.
Maar nou het ek voor my en Annieka se troue laas ‘n ordentlike staptoer gedoen. En die laaste 12 jaar het die tyd ook nie stil gestaan nie.
Ook nou al meer as ‘n jaar, as dit nie twee jaar is nie, dat ons nie meer tuindienste het nie. Hulle het die tuinvullis weggery, maar Amos en Patrick (dit moet daarom heelwat langer as ‘n jaar wees – my vrou het ons al by ‘n tweede tuinier na die span van tuindienste die trekpas gekry het) bou ‘n tuinvullis hoop.
En hierdie tuinvullishoop, wat ‘n jaar of wat gelede letterlik ‘n molshoop was, is maande nou al ‘n Arrarat. En hierdie Arrarat gaan nie met my doen wat die berg met Mohammed gedoen het nie. Ék sal by hóm móét uitkom.
Ek moes trouens lankal al – dit was Desember-vakansie al duidelik, maar toe rinkink ons in die Kaap rond en toe ons terugkom, toe is die geld op. April is toe net ‘n week vakansie, en toe ons klaar ons oë uitgevee het en weer sien, toe is ons terug by die werk.
Ons kan egter nie langer uitstel nie – die honde kan al letterlik met Everest opklim, en as hulle nie so bang was nie, oor die vyf voet hoë voorafvervaardigde sementmuur tot in die bure se erf parachute.
My skoonma het rondom Oktober verlede jaar, goed twee maande op haar eie tyd, as ons by die werk is, met Patrick in die tuin deurgebring. Hulle het gesnoei en ontbos teen ‘n tempo wat my bekommerd had ek het Natuurbewaring op my voorstoep om te kom kla oor wat ek aan die ekologie doen. En Skoonma was maar net bewus van Patrick wat iewers heen verdwyn met wat sy sê hy alles van ontslae moet raak. Maar waarnatoe hy is, en presies wat hy met die goed het, weet sy nie. So dra sy toe nie kennis van die monster waaraan Patrick tussen die buitegebou en die grensmuur geboorte skenk nie. En ons raak self, met ‘n skok wat die gemiddelde mens grys hare sal gee, eers daarvan bewus toe ons die honde hoor blaf, en hulle op kruin aantref waar hulle oor die muur afkyk in die bure se tuin om stertswaaiend vir die gewelddadige goed wat die bure aanhou, te blaf.
So, met die vakansie wat einde se kant toe staan en ek wat nog nie aan ‘n rooi pen geraak het nie, was gister die perfekte dag om die landskap agter in die tuin te verander en die berg weg te werk en te ry.
Teen vier jaar terug se goedkoopste pryse (toe Petrus nog hier was, voor tuindienste) sou dit my R1 400-00 gekos het aan twee groot vragte van dit wat die tuinvullisverwyderaars groot vragte noem. Hoeveel daardie R1 400-00 vandag is, weet ek nie, en ek stel nie belang nie, want selfs al was dieselfde, het ek nie die tipe geld om op tuinvullisverwydering te spandeer nie.
So ons doen dit self.
My oorlede mammie het nou haar intrek in ons motorhuis gedoen, in die gedaante en vorm van ‘n bakkie, so ek gaan huur die grootste, hoogste sleepwa waarop ek my oog kan lê.
07:00 toe hulle oopmaak, toe wag ek al vir hulle by die deur.
Teen 08:00 wil ek strate toe om stukarebeiders langs die pad te gaan optel – want toe is Amos, en die vriend wat ek hom gevra het om saam te bring, nog nie hier nie.
Teen 08:30 dra Annieka rooibostee met homopatiese druppels Rescue Remedy daarby ingevoeg, agter my aan.
09:03 stap die span toe hier in.
En ek moet merk.
Maar ons is 2 ure agter en hulle gaan nie sonder my klaar kry nie.
So toe werk ek tot 12:00 saam met Amos-hulle om die voetheuwels van die berg weg te werk.
En dit was regtig nie swaar of harde werk nie – die voetheuwels is letterlik agt maande se gras en die herfs se Witstinkhoutblare wat in swart sakke en op die wa moet kom.
Maar na 30 minute toe jaag en blaas my longe so dat ek van alles wat nou weke op en om my bors aangepak het, ontslae is. Saam met die droë gras en blare, waarteen ek ‘n ingebore en natuurlike allergiese reaksie het, sit ek toe 30 minute later toegeswolle oë, maar sinusse wat so oop is soos wat hulle in geen maande was nie.
Te heerlik – ek sweet selfs in die middel van die winter.
Ek moes toe natuurlik weer agterkom presies hoe pateties Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit is. Toe ons 15:43, oormoeg en oorwerk, met die laaste vrag by die tuinvullisdepot (eintlik seker tuinvullis-oorplaas-stasie) kom, die plek wat volgens alle denkbare vorm van bemarking en disinformasie om 17:45 eers moet sluit, toe is hulle reeds toe.
Die plek se tuinvullisdromme, seker so 15 houers so groot soos die bergingshouers wat vir spoorvragvervoer gebruik word, is de leste een vol.
En ek kan verstaan dat hulle nie tuinvullis kan ontvang as hulle nie die dromme daarvoor het nie, wat ek nie kan verstaan nie, is wat van die vragmotor geword het wat die hele oggend die dromme wat vol is, op kom te het nie.
So nou kan hulle niks anders as om die hekke te sluit nie.
Maar daar sit ons toe nou – ‘n gehuurde sleepwa wat moet terug, twee arbeiders wat na ‘n volgende provinsie moet ry net om by die huis te kom, en dit met ‘n vol vrag tuinvullis.
Alle ander stortingsterreine is kilometers van waar ons in Menlopark staan. En dis spitsverkeer, en 15:44.
Maar wat kan ons doen – ons wil dit net daar afgooi, maar ek is te veel van ‘n sissie – meer bek as binnegoed.
So daar sit die drie van ons toe af na die naaste stortingsterrein toe, maar “die naaste” is eintlik ‘n baie swak woordkeuse – dit klink soos naby, en ons het nie meer ‘n enkele stortingsterrein naby aan ons nie; ons ry bloot na die een wat die minste ver van ons is.
En ja, daar is ‘n ongeluk iewers voor gewees, dit neem ons 40 minute en ‘n halwe tenk petrol om daar te kom.
Ek laai Amos en sy vriend 18:00 by die busstop af, kom huis toe, bad, maak kos, en kyk DVD saam met Annieka en Klaradyn.
En toe ek slapenstyd van onder die Springbokvelkaros bed toe stap, toe waggel ek soos ‘n eend.
En vanoggend toe waggel ek meer.
En toe kon ek een van twee dinge doen:  ek kon onder die vraestelle inspring en begin merk; of ek kon agter die rekenaar inskuif.
Ek sal darem binne oomblikke weet hoeveel van die melksuur ek intussen afgewerk het. Ek moet net eers gou hierdie in die digitale ruimte pos.

No comments: