Waar ek toe FUNRACE moet lees, lees ek toe FURNACE. Iets wat natuurlik nie sou gebeur het as die kind dit net reg gespel het nie: FUN RACE.
En natuurlik weet ek ‘n FURNACE is ‘n smeltkroes of hoogoond, maar ek word dan nou uitgenooi na die skool se Fietsryklub se heel eerste FURNACE. So in fietsry is dit tog sekerlik nie ‘n oond nie, maar iets wat lekker en opwindend is.
Nou was die kind vier jaar gelede ‘n baie getroue ondersteuner van die filmklub wat ek en ‘n kollega van die grond af probeer kry het. Hoe kan ek die seun dan nie nou wil help nie – as hy ‘n fietsry-furnace wil hou, dan is ek in.
As hulpgraadvoog sien ek dit ook as ‘n geleentheid om die graad 9’s te inspireer om in hul massas in te skryf vir hierdie fietsry-furnace. Dit maak ook dat ek nie alleen hoef te ry nie – ek kommandeer die dame wat leiding neem by die graad 9’s op om saam met my te kom ry.
En dit maak nie saak dat sy nie ‘n fiets het nie – ek het mos nou ‘n bakkie: ek gooi my én Annieka se fietse agter op en die saak is reg.
Die kleredrag het my aanvanklik bekommerd – ek kan nie hierdie tradisionele fietsryklere dra wat so vreeslik revealing is dra nie. Ek is natuurlik lankal nie meer gepla oor wat die broekie kan reveal nie, dis die balie om my maag wat deur ‘n T-hemp afgeëts word, wat my bron tot kommer is.
Maar toe onthou ek iets van ‘n “Geel trui vir ‘n wenner” uit die dae van Boontjies Bezuidenhout en die Rapport-fietstoer. Ek het ‘n borrie/kanarie/gifappeltjie/goudgeel sweetpak wat al oud en opgedra was toe ek Annieka in 1994 ontmoet het. Ek kan dit aantrek. En ek wonder of daar nog steeds ‘n ding soos ‘n geel trui in fietsry is – dalk snap die leerders nie my verwysing nie.
Maar so is ek toe Donderdagoggend in die donker met die fietse gelaai, skool toe. Klaradyn hou haar pa dop wat in die donker sukkel om die fietse op die bak te kry. Sy hê vir haar ma te vertelle: “Ag, siestog, Mamma, arme Pappa hoef nie vandag te wen nie, hy moet dit net geniet!”
Dis ‘n gesukkel. Op die ou einde het ek die twee fietse se voorwiele af – ja, fietse word nie meer gemaak soos toe ek kind was nie, die wiele kom nou tjoef-tjaf af. Ek moet net onthou watter wiel is wie se wiel en ‘n aantekening in my gedagte maak van hoe om die remme weer gekoppel te kry. Em vir my fiets is die remme nogal belangrik – ek het nie wafferse agterbrieke nie, ek het trouens geen agterste brieke nie en is op die voorremme aangewese.
Ek en my kollega hou langs mekaar skool, so die fietse wat ons voor die klas vasgesluit het, maak nogal ‘n indrukwekkende vertoning.
As sy tog net vroeër op die fiets geklim het, sou ons vroeër agtergekom het Annieka se voorwiel is pap. Eintlik het ons dit vermoed, maar dis eerste die laaste periode dat sy toe ‘n fietspomp geleen kry en agterkom die wiel is nie net pap nie, die ding het iewers ‘n spyker of doring deur.
Gelukkig het ek die laaste periode ‘n vry periode en ek hop met die wiel in die pad om ‘n binneband te vervang. Daar is nie tyd om met patch & solution te sukkel nie, dis al na 13:30 en ons furnace skop 14:30 af. Seker ‘n verkeerde metafoor daardie – ons furnace val dan maar eerder maar 14:30 in die pad. Of so iets.
Bruce Reyneke, wat ek aldag wil Bruce Fordyce, moes ‘n fietsryer gewees het. Hy het ‘n fietswinkel ‘n katspoegie van die skool af. Maar ek het al baie daar verby gery en besef sy fietswinkel is nie soos die Blou Meul op Alberton waar al Alberton se seuntjies hulle fietse gekry het nie. Bruce Reyneke se winkel is vir swaargewig fietsers, en ek hou verby na die tweede een, ‘n entjie verder af in die straat.
Maar o, wee, dit is toe ook soos ‘n boetiekhotel vir fietse. Om ‘n fiets te was kos R150-00! Die goedkoopste fiets is duurder as my Venter-sleepwaentjie, en die duurste fietse is almal duurder as Annieka se motor.
Ek sien selfs fietse met skokbrekers.
Maar nie ‘n enkele dikwielfiets wat jy moet back pedal as jy wil briek nie.
Die binneband kos toe nie ‘n plaas se prys nie. Hulle wou natuurlik eers dat ek die ding voor 17:00 moet kom optel, maar tyd vir was en kennel fees opbou, is daar nie – my furnace begin oor minder as 25 minute.
Gelukkig het ek teen skoolmuur my fout agtergekom, daar was ‘n plakkaat van die geleentheid op en ek het gesien dis toe al die tyd ‘n fun race (weliswaar funrace gespel). Netnou het ek in die fietswinkel gepraat van die furnace waaraan ek gaan deelneem. En die mense het my klaar so aangestaar.
Daar het kort klere vergeet. En dis warm. My geel trui vir ‘n wenner sal ek seremonieel om my my middel bind, maar aan sal ek hom beslis nie trek nie. Ek kry toe ‘n T-hemp wat my soos ‘n te groot, oorryp piesang in ‘n te klein skil laat lyk by iemand present en ons kom by die wegspring byeen.
Daar is heelwat kinders. Ek hoor ons spanlede moet mekaar aflos – daar is sewe rondes. Ons span is toe nou al klaar drie sterk (in plaas van twee) en ons sit ons voete neer: ons ry saam vir die lekker. En doen ons net twee of drie of vier of vyf rondes, is dit ook goed so. Ek moet in elk geval nog dramaklas toe met Klaradyn, Annieka het vroegaand koor, Klaradyn moet by Ouma-hulle slaap, ek gaan Jannie du Toit luister (op uitnodiging) – so ons moet gou maak.
Hulle begin toe praat van ‘n roete wat uitgespan is met rooi chevron plastieklinte.
Ek dog nog die heel tyd, meer nog na ek gehoor het dis ‘n fun race, dat ons al om die skool in die pad gaan ry, soos ‘n pretloop om geld in te samel vir ‘n kind se nieroorplanting, of ‘n kerk wat in Malawi gebou moet word.
Maar nou is daar ‘n roete – die verkenners en bespieders sê dis ‘n baie tawwe 2.4 km – uitgewerk, al aan die binnekant teen die grense van die skool af. Daar teen die walle op en af, onder die bome deur. En so aan. En so voorts.
En toe klap daar ‘n skoot en ek dog alle hel is nou los, maar dis toe inderdaad die afsitter.
Ons drie het die agterlangs gestaan, en die wat nog agter ons was, het ons binne die eerste 70 m verby geskiet.
Iemand het in ‘n stadium reëls oor ‘n megafoon uitgespoeg, maar ons het nie geluister nie – ons was soos resiesperde in die wegspringhokke. Al wat ek weet is dat jy uit die pad moet trek as iemand van agter kom en “Trek!” skree.
Ag, siestog, maar daar het ons nie mooi geluister nie, die idee is dat jy net na links, of net na regs moet aftrek – ek weet nou nog nie watter kant nie. En so gebeur dit toe dat ons omtrent die kinders van agter begin afskryf omdat ons voor hulle inTREK! as hulle agter ons verbyTREK!
Woorde om die roete te beskryf, het ek nie. Ek het die woorde, maar dis te veel en ek het nie tyd om so baie en lank te tik nie.
Laat ons net sê dit sou gehelp het as ek agterste remme gehad het. My groottoon se nael sou byvoorbeeld dan nie nou gelig en blou gewees het nie – ek het op een afdraande met my voete probeer keer dat ek gat oor kop val.
Ons kon nog die swaeldampe van daardie duiwelse afsitterspistool ruik, toe haal die outjies ons al van agter af in, toe is hulle al besig met die tweede ronde.
My hare het in ‘n stadium in die takke vasgesit.
Ek is blou op plekke waar ek nog nooit blou was nie, en ek nie eers die vrymoedigheid sal hê om vir my eie vrou te wys waar dit orals is nie.
En my longe! O, my longe! Dis of ek nie meer as twee jaar reeds nie meer rook nie, dis of ek die laaste 40 jaar al elke dag 40 Lexington-sigarette rook.
Ek weet nie of dit van die skud oor die rowwe terrein was nie, of wat nie, maar dis of ek by die fisioterapeut was – daar het dinge op my bors losgekom wat ek nie gedink het los kan kom nie – my asemhalingskanale was in geen jare so oop soos van Donderdag af nie. En dit van uitasem en niks meer nie.
Oral langs die pad was klaskaptein en prefekte met vlaggies. Dis om seker te maak jy sny nie hoeke of dele van die baan nie. In ‘n stadium spring hier enetjie voor ons in om te sê dat ons nie daardie kortpad, daardie gelykpad-kortpad kan vat nie. Mense, dit was die naaste wat ‘n voetganger nog ooit aan doodgery deur ‘n fietsryer gekom het.
In sy geheel was die enkele ronde wat ons drie gery het, ook die naaste wat ek in my lewe aan extreme-sport sal kom.
Maar dit was heerlik. As ek nie so moeg was nie, as ek nie so lekker gelag het nie, as ek nie my gate so uit geniet het nie, sou ek ‘n tweede ronde wou doen. Maar ek was op. Ek het so gebewe van die uitputting dat ek skaars die Energade kon drink wat iemand vir my aangedra het.
Wat van die noodhulpmannetjie geword het, weet ek nie. Hy is aangesê om saam met ons te ry met sy rooi tassie. En hy het. Maar ook net tot op ‘n punt, toe is ons waaragtig te stadig vir sy energievlakke, toe roep hy ons vaarwel.
Ek het in ‘n stadium gehoop daar spring ‘n spyker of kameeldoringboomdoring onder my bande in – maar verniet – die bloody wiele hou.
Maar dit was lekker en alles die moeite werd – daar was duidelik die meeste graad 9-spanne van almal.
En toe my hart en longe net eers weer bedaar het, toe stoot ons die fietse op bakkie toe. Maar ons stop net eers by die adjunkhoof met die boodskap dat hy maar Vrydag se toesigrooster kan uitwerk – ons fietsryspan gaan beslis nie daar opdaag vir skool nie.
No comments:
Post a Comment