Pages

11.7.12

Een van vier vakansieresepte

‘n Vriendin van ons, een wat baie lief is vir boeke en vir lees, kry dit nie oor haar hart om voor in ‘n boek verjaarsdag- of Kersfeeswense te skryf nie – die boek is vir haar te spesiaal.
Ek, aan die ander kant, is van daardie mense wat in boeke skryf, ook nie net voor nie, maar waar ek ook al nodig ag om iets aan te teken, of te onderstreep.
My resepteboeke is dan ook vol aantekeninge. Dan ook nie noodwendig suiwer om iets soos ‘n verdubbeling van die knoffel of suiker aan te toon nie, nee – ek sal iets hê soos “Vir Ankie se 40’ste verjaarsdag,” of “Kersfees 2004.”
In ‘n resepteboek wat ‘n oudleerling my jare gelede gegee het, is ‘n gunsteling resep waarby staan:  “Nooit ‘n sukses nie, die kaas kook uit, maar divine.” In ‘n ander pen, op ‘n ander geleentheid aangebring, ook:  “2 x tamatie”.
Dis nou al hoeveel jaar later, en ek het die resep nog nie so suksesvol soos op die prentjie nie. Die volgende keer wat ek die resep probeer gaan ek dit in die prutpot maak; ek het immers al die oond, ‘n stoofplaat én ‘n elektriese braaipan probeer. Ek weet die Duitsers doen dit in kookwater – as my prutpot ook nie werk nie, sal ek straks dan maar ‘n groot pot kookwater in die gereedheid kry.
Ons had vriende oor vir ete en met net soveel kinders as volwassenes om die tafel het ek maar afgesien van die wildsvleispastei (ons het dit in elk geval ‘n vorige jaar dieselfde tyd gehad) en vir iets meer kindervriendelik gegaan.
Dit was weer nie ‘n sukses nie, maar lekker soos altyd, indien nie die lekkerste ooit nie.
En ek is eintlik bang om hiervan te vertel – ander vriende wat ook van tyd tot hier  lees, sal sommer hoogs die duiwel in wees – dis altyd op hul wenslysie, dit wat jy gemaak het toe ons die eerste keer kom kuier het, en op ‘n manier het ek nog nooit so ver gekom om dit weer vir hulle te maak nie.
Maar laat ek tog die resep deel – dit het die potensiaal om elders ook ‘n familiegunsteling te word.
Ek volg lankal nie meer die resep nie, so ek kan dit met vrymoedigheid sommer enige iets noem: Willem se Spaghetti & Meat balls (omdat hy al ses of sewe jaar daarna vra), Jeanette se Spaghetti & Meat balls (oor dit van haar is wat ek die resepteboek het) of Spaghetti & Vleisballetjies met kaas.
Spaghetti & Vleisballetjies met kaas omdat dit nie sommer jou alledaagse, derderangse meat balls & spaghetti is nie, maar spaghetti met vleisballetjies én kaas – en dan is die kaas nie in die sous of bo oor gestrooi nie... dis binne in die vleisballetjie self, in sy maag, by wyse van spreke.
Dis dan nou ook waarom die resep nooit ‘n sukses is nie – die kaas bak of braai plek-plek uit. Gelukkig is die flops altyd in die minderheid, so dit maak nie saak nie.
Jy het nodig, vir agt volwassenes, die volgende (of vir 4 volwassenes die helfte van die volgende):
Vir die vleisballetjies

1 kg maalvleis
2 koppies broodkrummels
2 eiers
2 gekapte uie (lekker fyn)
heelwat gekapte pietersielie (4 deeglik opgehoopte eetlepels)
2 of 3 knoffelhuisies
150 gram mozzarella kaas
sout en peper
as jy het wat in die huis rondstaan:
4 eetlepels pesto
gerasperde parmesaankaas (die poeierkaas is egter tydmors)

Vir die sous

1 gekapte ui gebraai
1 rooi soetrissie gebraai
(gaan helfte-helfte van elk as jy die resep vir 4 maak, of kies ‘n volle van die een – ek sal die soetrissie kies – die balletjies het immers reeds ui in)
4 400 g blikke tamaties
4 eetlepels Worcestershire-sous
2 of meer eetlepels tamatiepasta (noudat dit in klein sakkies kom, gooi ek ‘n hele klein sakkie by)
2 of 3 knoffelhuisies
sout en peper
genoeg suiker om die tamatie te temper
2 lourierlare
2 teelepels oreganum
2 teelepels basilie
as jy het wat in die huis rondstaan:2 of 3 glase van die vorige aand se witwyn

Wat die vleisballetjies betref:
Sny die kaas in 32 blokkies (of stukkies).
Verdeel die vleismengsel in 32 balletjies.
Moenie die balletjies mog het troffe vorm nie – verdeel die bal vleis in hompe, dan in 4 en 8 porsies, en laastens in 16 en 32 balletjies.
Kry dan ‘n kasie in elke balletjie.
As jou uie en pietersielie nie fyn gekap is nie, gaan jy baie se kaas in die gaarmaak afskryf.
Die kaas is ook waarom ek maar by broodkrummels bly en nie iets soos hawermout sal gebruik nie.
Wat die sous betref:
Die sous spreek vanself, maak hom net deur weg te trek met die gebraaide ui en soetrissie.
As jy nie met ‘n halwe blikkie tamatiepasta of tamatiesmeer wil sit nie omdat jy weet dit gaan sleg word – vries die res wat oorbly of gooi olyfolie bo op die res om suurstof af te sny en te keer dat die goed in die yskas sleg word.
Wat die twee goed saam betref:
Daar is een van vier moontlikhede, want jy moet die balletjies en die sous nou gaar kry.
In drie van die gevalle moet jy die balletjies eers in ‘n pan (‘n groot pan op die stoof, of elektriese braaipan) seël en buite om bruin kry (en kyk hoe die kaas uitbraai)
of jy doen dit in die oond (en kyk hoe die kaas uitgebraai het).
Vervang die mozarella met haloumi na so 7 keer wat jy die resep gemaak het en vertel jouself dit proe dieselfde.
Sodra die balletjies bruin en geseël genoeg na jou sin is (of jou geduld opraak, jy nie verder wil kyk hoe die kaas uitloop, of jy die vorige aand se wyn begin drink het, in plaas daarvan om dit by die sous  te gooi) dan kry jy die sous (wat jy op die vuur gekry het toe jy die balletjies begin vorm het) by die balletjies in die braai-, elektriese braai-, of bak- of oondpan. (As jy die tyd het en jy het die prutpot van vroeër af warm gekry het, en jy plaas die warm balletjies en warm sous daarin, werk dit net so goed.)
Nou moet die twee mekaar uitsorteer, of in die oond, of in die pan, of in die prutpot.
Of jy nie van die vorige aand witwyn gehad het nie en ‘n hele bottel oopgemaak het, drink jy nou die res terwyl jy die spaghetti gaar kry.
(Ek het die laaste week of wat van ‘n rugsak-en-tent-toer deur Europa baie swaar gedra aan my eie pasta-rol-en-sny-masjien, so ek maak my eie vars pasta.)
Nou kry jy die pasta onder in ‘n groot en mooi opdienbord.
Jy pak die balletjies bo op.
As die sous nog te nat is, (en jy die wyn bygegooi het, in plaas daarvan om op van dit te geniet ook) kook jy af tot jy daarvan hou en die regte samestelling gekry het. Jy kan selfs met ‘n lem daarin vaar en dit verpulp.
Skep dan die sous oor dit alles en rond af met vars gekapte basilie en pietersielie (jy kon dit in die begin by die sous ingewerk het, maar dan is die geur van die basilie nie so sterk nie, en lyk dit nie so mooi nie.)
As jy lui is om kos te maak, is hierdie beslis nie ‘n resep vir jou nie. Hou jy egter van kosmaak, en kuier saam met jou gade (selfs die gaste) in die kombuis, is die voorberei en gaar maak, net so lekker soos die eet.
Hierdie is die beste geneem van drie resepte. Elkeen vra vir slegs een blik tamatie op 500 gram vleis (nie net die een wat vir 150 ml witwyn ook vra nie). Ek het een blik op 500 gram in 1995 toe ek hierdie die eerste keer gemak het, gebruik – en nog nooit weer nie, ek verdubbel dit elke keer.
Ek het agtergekom dis ‘n Boere-ding – ons hou van baie sous by pasta (soos baie sous by reis, vleis en ertappels, soos ‘n hele vleisdis, in plaas van slegs maar ‘n vleissousie – vir geur – by spaghetti & mince.)
Ja, jy kan die kaas uitlaat – dis nie essensieel nie, maar, o, so lekker ietsie spesiaal, as jy die balletjie sny.
Geniet asseblief.

Die foto's is natuurlik kierang - ek het hierdie op flickr gekry. My resep, wat nou ons resep is, lyk veel mooier.

No comments: