Pages

6.7.12

‘n Groot teleurstelling en nog groter verblyding/verheugenis en dit in een aand

Eintlik voel ek skaam of skuldig dat ek so opreg en so diep teleurgestel is.
Teleurgestel is dalk nie eers die regte woord nie, dis erger; dis eerder ontnugter, volslae en volkome ontnugter.
Ek het die volgende baie spesiale fabel van Esopus, baie spesiaal omdat dit die oudste fabel is wat ons vandag het (circa 800 v.C.) in Afrikaans oorvertel:
Die valk en die nagtegaal
Hier is hoe die valk die nagtegaal wat hy styf in sy kloue vasgeknyp het aangespreek het toe hy hoog met haar die wolke ingevlieg het. Terwyl die nagtegaal jammerlik en skril geskree het van die skerp naels wat haar sagte lyfie deurklief het, het die valk magsbehep gesê: “O, jou ellendige skepsel, vir wat babbel jy so klaend? Jy is in die magsgreep van een wat veel sterker as jy is – jy sal gaan waarheen ek ook al met jou wil gaan, selfs al sing jy ook hóé mooi. Jy eindig bes moontlik binnekort my volgende maaltyd op, ás ek dit so wil hê en die gedagte my behaag. Straks besluit ek nog om jou te laat gaan.”
Dis ‘n swaap wat reken hy kan te staan kom teen een wat veel sterker as hy is – hy sal verslaan word, en nie net veel pyn nie, maar ook vernedering lei.
Hesiodus, wat die fabel aangeteken het, is baie spesifiek oor presies watter nagtegaal hier sprake van is, die spikkelkeelnagtegaal.
So wonder ek toe nou hoe lyk ‘n spikkelkeelnagtegaal. Ek, wat nie eers weet hoe lyk ‘n doodgewone nagtegaal nie.
Om die waarheid te sê, van ek my verstand gekry het, weet ek van ‘n nagtegaal eintlik net een ding:  daar word gesê dat hy van alle voëls die voël met die mooiste sang is.
Hans Christian Andersen se sprokie rondom die nagtegaal is danksy Klaradyn aan my bekend; ek het dit eers as volwassene leer ken, toe ek sy versamelde sprokies vir haar gekoop het.
Tog weet ek dis in die volksmond die voël met die mooiste sang denkbaar.
Toe besef ek, nie net weet ek nie hoe ‘n nagtegaal lyk nie – ek het nog nooit eers een hoor sing nie!
En dit terwyl ek met ‘n hele paar baie sterk vooropgestelde, hoogsgeromantiseerde, idees rondom ‘n nagtegaal sit:  hulle sing in die nag, daarom is hulle nagtegale (wat ‘n gaal dan nou ook al mag wees, hierdie voëls is nié dagtegale nie; daar is nie ‘n ander voëlsang wat by hulle kan kers vashou nie; omdat hulle so mooi sing, moet hulle vreeslik mooi wees; hulle is geheimsinnig en moeilik om op te spoor; hulle is groter as ‘n duif, maar kleiner as ‘n kraai.
Waar ek ook 47 jaar hieraan kom weet ek nie, maar dit, en dan die sprokie van Hans Christian Andersen en, ek verbeel my dit is Keats of Wordsworth se Ode to a Nightingale, is al wat ek van die magiese voëls weet.
Hoekom magies? Nee, ek sal nie weet nie, maar daar sal en moet iets magies wees aan voëls wat oor sulke wonderlike kwaliteite beskik.
En toe maak ek die fout om van die internetbiblioteek gebruik te maak, en ek bodder nie eers met ‘n fotosoektog nie, ek val sommer dadelik weg met videogrepe.
Daar kom ek dadelik agter dat my beeld voete van vreeslike nat klei het, ek het my ore my hele lewe lank aan ‘n ouvroustorie uitgeleen – niks, maar niks, wat ek al hierdie jare geglo het, is enigsins waar nie.
Die minste wat ek verwag het, is ‘n videospan wat in die nag werksaam moes wees, iewers in ‘n Europese donker woud. Fout nommer een: die goed sing helderoordag, elkeen van die goedjies wat ek digitaal opgespoor het.
En dan sê ek ook nou goedjies met ‘n rede, want die goedjies is niks anders as goedjies nie – die naaste aan ‘n LBJ/KVV (little brown job/kleinerige vaal voëltjie) wat ek in jare gekom het.
As die maan dalk op een moet val, is die kol moontlik so groot soos ‘n duif, maar sonder  die maan is hierdie voëltjie niks groter as ‘n gemiddelde mossie nie.
En dan nou die dierasietjie se sang:  dis mooi, dis baie mooi, maar dis hopeloos oorgeromantiseer. Ek kan aan tientalle Suid-Afrikaanse inheemse voëltjies of somerbesoekers dink, wat enige dag net so mooi, indien nie mooier nie, as hierdie goedjies sing.
Dis duidelik dat die sprokies rondom die geveerde vriendjies in Europa, waar die rykdom aan voëllewe nie naastenby so groot as die skat van Suider-Afrika is nie, ontstaan het.
Verstaan my mooi – dit ís mooi, dit ís lieflik, maar nét so mooi, en nie eers mooier nie, as wat ons in ons eie land het.
Kersvader se klere in die kas, was kleintyd nie so ‘n groot ontnugtering nie.
Ek het die vrouens, pas uit die bad en gereed om bedwaarts te beweeg, nader geroep om te kom luister, en om te kom kyk.
Annieka het reageer, presies soos ek – en dit sonder dat ek haar voorgesê het.
Klaradyn, wat nog nie met meer as 40 jaar se disinformasie en propaganda sit nie, het dit beleef soos sy enige ander soortgelyke voëltjie sou beleef het:  dis lieflik en baie spesiaal.
Maar feit bly staan:  Oom Paul Kruger of Koning Shaka sou gelag het as ‘n buitelandse gasheer enige een van hierdie voëltjies op ‘n Europese besoek onder hul aandag gebring het as sou dit kwansuis die voëltjie met die mooiste sang ter wêreld wees. Dis nou maar wors.
Na die teleurstelling, toe die verblyding – en ek weet nie wie is die blyste, ek of Klaradyn, nie. Miskien is dit vir een van ons ‘n verblyding; vir die ander ‘n verheugenis. Maar wie, watter woord gaan kies, weet ek ook nie.
Na ons toe verskillende nagtegale uitgekyk en –geluister het, is Mamma, koud en vaak, bed toe. Klaradyn had egter nog speel in haar oor en ons twee sit om die tafel aan vir ‘n potjie UNO Rummy.
Ek en sy het vroeër die middag ook gespeel, en daar, vir die heel eerste keer in haar lewe, op sewe jaar 10 maande, wen sy toe ‘n speletjie van hierdie aard. En dit sonder dat ek haar enigsins doelbewus laat wen het, of agteloos en slorderig van my kant gespeel het.
En daar gaan staan en doen sy dit na besoek aan die internet se nagetgale waaragtig weer ‘n keer! Sy kon trouens, as sy net wakkerder was, ‘n ronde vroeër al uitgespeel het.
Ek het so lank daarna uitgesien om hierdie klas van ding saam met haar te kan speel. Verlede jaar het ons Rummy Cup begin speel en dit het goed gegaan.
Eergister het ek die soortgelyke UNO Rummy uitgekry. Dit verg darem meer strategie en beplanning as gewone Rummy Cup.
Dis nou nie meer lank nie, dan sal die handjies vaardig genoeg wees dat ons nie met teeltjies hoef te speel nie, maar dat sy ‘n gedeelde hand kaarte in haar hande vas kan hou, en, o boetie, dán gaan ons lekker begin speel!
Die kersie op die koek was om met ‘n glasie yskoue melk en ‘n klein ronde sjokoladetjie elkeen na sy eie bed te stap. Ook haar nagtegaalgekwetter daar rondom:  “Pappa, daar is darem niks lekkerder as om met ‘n glasie yskoue melk bed toe te kan gaan nie, en dit nog met ‘n sjokoladetjie daarby nie! Lekker slaap en dankie vir die lekker dag. Lief Pappa. Ek wonder wat Liezel more gaan sê as ek haar vertel ek kan nie net UNO speel nie, ek wen al selfs my pa.”
Hier sit ek al die tyd met ‘n  nagtegaal onder my eie dak, maar ek weet nie, ek moet dit eers besef na ek dit in die vreemde gaan opsoek het.

Naskrif:



Hierdie tweede video het my herinner aan die keiser se nagtegaal in die Andersen-sprokie.


Om hierdie een se keel dop te hou is 'n voorreg.

Vir my die interessantste egter die verwysing, weliswaar op Wikipedia, dat die woord nightingale al vir 1 000 haar uit Angel-Saksies met ons is.

No comments: