“Happy days are here again, da-dadda-da-dada, da-da... are here again.”
Ek ken regtig nie woorde nie, net die wysie en gelukkige gevoel.
En dis daardie gelukkige gevoel wat na vier jaar terug is.
En noudat dit terug is, weet ek regtig nie hoekom dit nie twee jaar gelede al terug gekom het nie.
Ek het tot ander insig gekom – gegroei.
En die hond is ook darem ouer.
Ons het vier jaar gelede ‘n derde hond gekry, en dit was die einde van honde in ons huis.
‘n Lang en hartseer storie, wat ter wille van die gebrek aan woorde om alles te vertel, ook ek wat nie derms wil uitryg nie, bloot opgesom kan word met: Ons het vir vier jaar nie honde in die huis gehad nie.
Dis nou nádat ons vyf jaar honde in die huis gehad het. En dan het ons moeite gedoen om hulle in die huis te hê. Ek het ‘n gat in die kombuisdeur gesaag (met ‘n deurtjie wat kan toeknip) dat hulle kan in en uit. Ek het selfs die slaapkamerdeur ‘n gat in gemaak – dat ons die deur kan toemaak sonder om ons twee brakke uit te sluit.
In die kamer was twee hondemandjies, maar was dit net ek in die bed, kon die honde maar op en het ek ‘n blinde oog in hul rigting gedraai. En was Annieka alleen in die bed, is dit ook of sy nooit bewus geword het van ‘n Boeta of Sussa wat so saggies-saggies, by haar, op my plek kom lê het nie.
En is ek en Annieka eers waar saam in die bed en die honde af mandjies toe, het dit steeds gebeur dat ons soggens wakker word en dan het daar jou wraggies een, partykeer selfs twee, honde deur die loop van die nag by ons voete aangesluit.
Maar belangriker as dit, en wat ek vier jaar meer gemis het, was om saans (soms snags) te werk, en een van my honde iewers by my voete te hê. Of dit nou in die studeerkamer, eetkamer of televisiekamer is.
TT Cloete het in ‘n stadium ‘n gedig geskryf en gemeld van die gerusstellende geluide as die huis se dakbalke snags kraak. Ek het dieselfde gerusstelling gekry van die honde se toonnaels, snags af in die gang – the tiny pitter patter of twee patryshonde op en af in die gang oor die teelvloer.
Die mooiste geluid van alles egter Sussa – sy het nooit veel erg aan die hondemandjie gehad nie – onder die bed, aan my kant, en haar stert wat onbeheersd aan die klap-klap gaan as ek inkom om te kom slaap, of as ek snags haar naam noem en my hand afstuur om met haar kontak te maak.
Maar die honde is nie net geluide nie. Hulle is ook ‘n fees vir die oog – patryshonde, enige patryshonde, alle patryshonde, is immers die sjokoladeboksste van alle sjokoladebokshonde.
En dan daag hulle ook die reukorgane uit, naweekaande voor die televisie, stel hulle selfs ook uitdagings aan jou smaakkliere as die laaste soutproppie, die een waarna jy so uitgesien het, van die tafel nie na jou mond beweeg nie, maar met liefde rigting na hul bekke vind.
En toe raak hierdie huis stil. En leeg.
(Dis nou met die jongste telg – maar die stories wat ek nie gaan vertel nie.)
Ek was klein seuntjie en het met Happies by my voete grootgeword.
Annieka was klein dogtertjie en het met Ogies by haar voete groot geword.
En hier sit ons met Klaradyn, en ons kan nie eers die honde (waarmee sy amper 4 geword het) meer by ons dieper as die kombuis in die huis hê nie.
Vir vier jaar berou ek die aankoop van die derde hond.
Met reeds drie honde op die erf, is ek nie bereid om nog ‘n hond op hierdie erf te onderhou nie. Daar is ook nie ‘n manier dat ek drie honde buite het, en Klaradyn kan een hond by haar in die huis neem nie. Ek sal dit nie toelaat nie. En die jongste, derde, hond sal dit ook nie toelaat nie.
Elkeen vir wie ons van die komplekse jongste hond vertel, maak dit duidelik – die hond moet weg, dierebeskermingsvereniging toe, asgate toe, solank die hond net weg.
Ek oorweeg dit nie.
Ek wil die dier nie eers in die koerant adverteer nie – ons emigreer Australië toe en kan die dierbare hondjie nie saamneem nie – of die een of ander liegstorie wat die een of ander sucker met ‘n slap riem sal vang.
En toe iewers in die vakansie het ek net mooi genoeg gehad, en Annieka het net mooi genoeg gehad.
Lank genoeg dat die stert die hond geswaai het (bedoelende die jongste disfunksionele troeteldier wat die lot van die ouer twee, en ons as gesin, bepaal het.)
Lank genoeg, reeds vier jaar te lank, dat ons nie ons troeteldiere kon troetel op die wyse wat ons gewoond was en wou nie.
Anders as katte het ons en die honde net één lewe, en kan ons die wonderlike geleentheid en voorreg om dit met mekaar te deel, nie verspeel en versmaai nie. Klaradyn is eersdaags groot en dan het sy in haar grootwordjare nie die vreugde en verryking van honde gehad wat sy as peuter en kleuter geken het nie.
Die jongste sal ons nooit kan verander nie, sy sal nooit verander nie, maar die feit dat sy in alle opsigte geremd is, beteken nie ons moet ons deur haar laat rem nie.
En ons gooi die hekkie tussen die kombuis en die res van die huis oop.
En daar is dit Kersfees! Vier maande voor die tyd. Mense-Kersfees én Honde-Kersfees.
Dis asof daar nie vier lang en hartseer maer jare tussen vandag en gister lê nie... alles is binne tien minute in dieselfde ou roetine van destyds.
Daar is nie verwyt, aanpassing of enige iets van die aard nie.
Ouer geslagte het vertel van God wat die lei met een veeg van Sy hand skoon vee, alles is vergewe. En presies so is dit met die honde. Dis asof die vier jaar in ‘n oogwink weggeval het, dit wás nie, en dit het nie gebeur nie.
Werk ek, is daar ‘n hond by my voete, saans klap en flap en klop en flip-flop sterte die mooiste toccata gaan ons bed toe.
Ons slaap deur. En die bure! Die honde het snags op hul eie vir die maan en verbeelde inbrekers geblaf – soms vir wat soos ure gevoel het.
Nou sal hulle steeds aan die blaf gaan, maar met rede en net totdat hulle die rede afgeskrik het – dis nie ‘n doellose gekef en geblaf al oor en om die erf nie.
Die eerste draaitjie wat ek soggens loop, sal ook nooit weer so rustig wees soos die afgelope vier jaar was nie – it’s difficult, when a man’s got to do what a man’s got to do, to do all you have to do, met drie honde wat op jou, en om jou, en oor jou, en tussen jou deur, met wapperende tong en stert kompeteer om jou liefde en vry en vryf en aandag nie.
Maar dis soos van ouds, die wonderlike van ouds. En soos dit hoort.
Happy days are inderdaad here again.
Soos ek nou hier tik, is Klaradyn met die jongste in haar arms op die bank langs my. Soos ek nou hier tik, is dit op die maat en ritme van Sussa se stert. En te oordeel aan Boeta wat nou net opgespring en uitbeweeg het, is Annieka seker nou ook hier – hulle hoor altyd die motors voor ons. Ja, ek is reg – daar hoor ek nou die hek oopgaan.
Happy, oh, such happy days.
No comments:
Post a Comment