Miskien het dit met die ligging van ons erf te doen, die vloei van die spruit hier anderkant verby, die belyning van die planete, of dalk die onbekende gru-dood van ‘n ewe onbekende met die een of ander meer onbekende vloek op dié lappie aarde, maar feit bly staan: ons is nie ‘n vreeslik teelkragtige spulletjie op een werf versamel nie.
‘n Boetie of sussie vir Klaradyn het ek en Annieka toe nooit die lig kon laat sien nie.
Óf Boeta, óf Snuffels (of soos ek die saak uitkyk – hulle al twee) is gus. Dis nou al vier jaar dat Snuffels al om die ses maande stomme Boeta se hormone net so deurmekaar krap, maar helaas, al wat ons ooit hiervan kry is die iesegrimmige aanloop tot die gebeure van Snuffels se kant af, en dan Boeta wat week lank vir ons almal ‘n irritasie is.
Toe is my geld op die konyne, maar konyne vreet voortaan uit my mond soos konyne. Ek sal nooit weer sê iets of iemand teel aan soos konyne nie, want al sit ons met twee mannetjies (wat 24 uur ‘n dag, 7 dae ‘n week, 12 maande ‘n jaar met mekaar in stryd gewikkel is om die dominante mannetjie te wees) het daar in al hierdie tyd ook nog niks van gekom nie.
Tussen Snuffels en ‘n rot sit ons met twee van dieselfde geslag kwartels op die grond.
Die vinke lê eiers – tot groot opwinding van my en Klaradyn, maar dis waar dit stop.
En dan het dit seker iets met die ligging van die erf, die spruit hier naby, of die stand van die planete te doen, maar die duiwe lê nie eers eiers nie – nóg die diamantduifies, nóg die kaneelduifies.
Maar toe, seker ook al meer as ‘n maand gelede, begin die Indiese Ringnekparkiete saans die wittebroodsuite wat ek vir hulle aangelê en met saagsels uitgevoer het, betree.
Ek, wat nou al geruime rukkie vermoed ons almal is getoor, raak natuurlik nie opgewonde nie – dit is tien teen een maar net die koue wat hulle binnetoe jaag. Ek kan my nie indink dat hierdie voëls se biologiese klokke so ingestel is dat hulle wanneer die koue op sy strafste is, met kuikens, moet sit nie.
Maar toe, inderdaad, seker so vier of vyf weke gelede, kom ons een agtermiddag by die huis aan, en daar is net een parkiet op die stokkie.
En van toe af hoor ons soggens net een, en kom net dié een ooit uit die hout broeinessie uit.
Maar ek lig nie die deksel om te kyk presies wat aangaan nie – netnou wip die broeipaar hulle vir ons en verwerp die eiers in die nes.
So hou ons die broeiproses met verwondering dop. Ons raak van talle vreemde dinge bewus en daar is talle vrae wat ons kenners sou wou vra oor die betrokkeb voëls se ongewone parings- en broeigedrag.
So val dit my dadelik op hoeveel morsiger die mannetjie word – dis net groente en vrugte wat halfpad geëet rondlê waar jy kyk. Ek lei toe ook af hy moet sy wyfie voer deur die kos weer op te bring want sy kom nooit uit om water te drink of kos te eet of te iets nie.
Intussen wil moeder daar binne ook nie so draai dat ons haar binne die houtnessie, deur die ronde gat, kan sien nie.
Een keer die vakansie verbeel ek my darem ek hoor haar daar binne rondskuif – groot opwinding.
Sy gedra haar vir alle praktiese redes presies soos ‘n toegemesselde neushoringvoëlwyfie – met die een verskil net: sy is nie toegemessel nie.
Maar drie weke, het vier weke geword, en nog ‘n vyfde week het gekom en gegaan sonder enige taal of tyding hoegenaamd of van watter aard ook al uit die nes.
Ek begin oor die wyfie bekommerd raak, want dis duidelik, die hok is so morsig omdat hulle nie meer al hulle kos eet nie – daar bly elke dag groente en vrugte oor, dit terwyl hulle voor die groot broei aangebreek het, elke dag selfs meer geëet het as wat ek die laaste week of wat vir hulle uitsit.
Teen Vrydag begin ek al gesigte sien van die stomme wyfie wat haarself uitteer op drie of vier windeiers, of eiers wat lankal van die koue verkluim het. Maar hulle instink kry hulle nie so ver om die eiers te los nie.
Saterdagoggend ruik ek selfs of ek nie verrotte vleis begin ruik nie – maar straks, as sy in die proses van toewyding aan haar eiers, die tydelike met ewige verwissel en stertveer in die dak gesteek het, is sy teen hierdie tyd van die koue eerder al biltong.
En teen Saterdag, toe ek weer terug by die huis kom, en ons is nou al verby amper ses weke, verbouereer ek maar die pappa-to-be en haal die tentpen wat die hokkie se knip op sluit hou, uit, en skuif die nes nader.
En wat sal ek ontdek toe ek die hok se deurpaneel oopskuif – niks, net mooi niks. Niks, soos in daardie niks wat jy met ‘n –f spel en in die ou dae soos ‘n hoë, skril bliep- of beeep-geluid oor die radio geklink het: nie ‘n eier nie, nie twee of drie eiers nie, om die waarheid te sê, nie eers ‘n donderse ongehude moedertjie van ‘n dag oud nie.
Ek vroetel selfs met my vingers tussen die saagsels rond op soek na biltong of beentjies van ‘n kannibalistiese ritueel, maar niks – ons sit al die tyd, nie met ‘n broeipaar in die hok nie, nie met ‘n wewenaar in die hok nie, maar met ‘n graswewenaar of geskeide man – want sy vrou het hom verlaat, ses weke gelede al!
Hulle twee wat saam haar ontsnapping beplan het, kan dit nie wees nie. Daardie tentpen is goed 15 cm lank. Vir twee parkiete om hom 16 cm gelig te kry, van buite, met hulle binne, deur ysterdraadgaatjies van 1 cm by 1 cm, is vir die vernuftigste geveerde vriende ‘n saak van onmoontlikheid.
Dit laat ons met een van agt ander moontlike skuldiges: die drie spanjoele, ek, Annieka, Klaradyn, Martha of Amos.
Die drie spanjoele kan dit nie wees nie. Behalwe as hulle skelm afgeloer het toe ons Madagascar gekyk het en gesien het wat die pikkewyne alles kan uitrig as hulle op mekaar staan. Want, behalwe as hulle soos die stadsmusikante van Bremen die een op die ander se rug staan, kan hulle onmoontlik nie by die tentpen uitkom nie. En dan moet ons nog ‘n diere-afrigter uit Hollywood invlieg om die boonste een van die trio te leer om die tentpen op en uit te lig. En as hulle dit bemeester het, moet die hefboom en knip gelig en omgedop word – daar is nie ‘n manier nie.
Dit laat ons met myself, my vrou, my kind, die huiswerkster en die tuinwerker.
Ek het Klaradyn dopgehou toe ek die ontdekking gemaak het – daar is nie ‘n geringe kans dat dit sy kon gewees het nie. Sy waag dit nie naby die deurtjie nie, wat nog te sê met haar hande binne die hok. En as sy die moed bymekaar sou geskraap het, en sy het die een laat uitvlieg, sou sy histeries en in trane gewees het. As sy dit probeer wegsteek het, sou sy lankal nagmerries en versteurde slaappatrone daarvan ontwikkel het.
Meer nog – sy sou op haar eie by die skool moes wegsluip, huis toe kom, die ding doen, terug gaan skool toe, opgetel word en die middag saam met ons hier instap toe ons sien die een parkiet is in die broeines.
Annieka, wat geen maar geen belangstelling toon in die kyk van die agtermiddagsepies nie – ons het trouens nie eers televisieopvangs op ons erf nie – toon daagliks groter belangstelling in die agtermiddagsepies op TV 2 as in die parkiete. Dit sal my vrou nie wees nie. En dan is sy hoogsbegaafd daarby – sy sal nie so onnosel wees om te wil redeneer dat daar niks van sal kom as sy net daaroor stilbly nie. Kom ek rep geen woord nie, dalk kom niemand agter die een voël is weg nie, en dan gebeur daar niks.
Ek kan nie onthou of dit ‘n Donderdag was toe ons van die “broeigedrag” bewus geword het nie – Donderdae is Amos hier.
Maar ek weet nou al wat ek sal hoor as ek een van die twee werkers uitvra. En buitendien sou hulle my tog sekerlik gesê het.
So wat van die een ringnek geword het, weet ek nie.
Ek vermoed dit hou tien teen een verband met die Higgs boson en deeltjie-krag te doen, want met die ligging van die erf, die spruit hier naby, of die stand van die planete, kan dit onder hierdie son beslis nie verband hou nie.
Is daar straks iemand wat help met die bou, hier ter plaatse, van nog ‘n Groot Hadron-deeltjieverdeler soos die een van die Atlas-projek in Genève. Ek vermoed Martha (en, o, ek kan baie stories, en mooi stories ook, van hierdie liewe bemoeisame mens vertel) sal maandeliks ook ‘n rand of wat wil bydra om haar onskuld te bewys – al vat dit soos met die goddeeltjie ook nou 40 jaar om dit te verklaar.
No comments:
Post a Comment