Pages

27.5.12

Katbos en Kambro, as dit reën in KwaZulu-Natal

Die heuwels roep uit, met die klank van m-u-u-siek! Hulle word nie net lewendig en roep uit nie, hulle gee saam met die kranse antwoord dat harte bibber en beef.

Ja, in vergelyking met Pappa, Mamma en Klaars is die ganse Von Trapp-gesin ‘n swerm stom swane gewees wat, volgens ‘n Antieke Griekse legende, kort voor die einde van hul ondermaanse bestaan vir die een en enigste keer ‘n stem kry, ‘n ietsie sing, en dan knap daarna sommer net vanself sterf.

Ons, aan die ander kant, sal vir ons ‘n pad uit enige oorlog oop kan sing, van hier tot in Timboektoe, en weer terug ook as dit moet. Die mense maak net pad as ons sing. En hulle maak nie net pad nie, hulle gee sommer pad.

Ek dink ek het dit al genoem dat dit nogal ‘n vreemde gesig, en net so vreemd op die oor is, as ek en Klaradyn die strate in vaar op ons fietse en hierdie sewejarige meisietjie met die blonde haartjies sing as ons verby kom, soos Jacques Brel haar dit nooit in sy eie leeftyd sou kon nadoen nie, sy Drinklied uit volle bors:  “Dit ruik na bier, en dit ruik na wyn, van Londen af, tot in Berlyn; dit ruik na bier, en dit ruik na wyn, hier van Parys, tot in Turyn.”

En as ons weer verby op pad  terug kom, kuier ons in Amsterdam op die kaai:  “Op die Amsterdamkaai eet matrose hul vis, dit is fyn opgedis maar die porsies tamaai...”

Genadiglik gaan dit hier teen die einde so vinnig en opgerui dat Klaradyn nie voor 16 die volle waarheid en strekking van die lied se slot sal snap nie.

Ons is ‘n singende gesin, dis nou maar wors. Annieka sing nie juis nie; sy kan nie sing nie en hou haar mond maar toe. Ek kan nog minder sing, maar het in al die jare nog nooit die vaardigheid en takt bemeester om my bek toe te hou nie.

Ek onthou, soos gister, die dag in standerd 1 toe ons in die klas gesing het. Dit was vroegoggend en vir al wat ek weet het ons gewyde liedjies gesing. My juffrou, Juffrou van Rooyen, wat deur die loop van die jaar Tannie Marthie sou word omdat ek en haar seun daardie jaar, tot vandag toe nog, die beste van vriende sou word, was agter in haar stoor besig. Sy het uit gekom en by die stoordeur bly staan. Toe ons met die een versie klaar het, en inasem vir die wegtrek aan die volgende versie, het sy, baie ordentlik en eintlik vreeslik diplomaties, gesê:  “Hansie, jy hoef nie so hard te sing nie.”

Ai, en my arme kind is dieselfde. Sy het in haar graad 1-jaar DRIE keer vir ‘n kooroudisie gegaan. Sy was vanjaar al twee keer vir die oudisie. En toe hoor ek die koor tydens die skool se Hemelvaart-erediens. Dis regtig die skool se juniorste van junior kore, en dan is hy nog baie klein ook. Ek het heel agter in die kerk gesit en gesien die kindertjies se mondjies gaan oop en daar is ‘n tannie wat handbewegings maak, maar ek het my hoogstens verbeel ek hoor iets. Dit kon selfs ‘n selfoon gewees het wat iewers gelui het, ek is nie seker nie.

Maar toe vertsaan ek waarom my kind in haar lewe nie vir haarself ‘n plek ‘n hierdie koortjie oop sal kan sing nie – sy doen wat haar pa doen, wat haar pa haar kleintyd al geleer het: sy sing nie om mooi te sing nie, sy sing om lekker te sing, met oorgawe lekker te sing.

Dis dan ook miskien hoekom sy toe na die vyfde onsuksesvolle kooroudisie by die huis kom en te vertelle het dat die kinders haar vertel sy nie bekommerd hoef te wees nie – volgende jaar se koor is die senior koor, daardie koor is heelwat groter en sterker en dan hoef die kinders nie almal heeltemal so mooi te sing nie.

My arme kind. Maar ek moet bieg, as ek enigsins ‘n juffrou met ‘n hart vir kinders was, en dieselfde kind is voor my vir haar vyfde selfopgelegde kooroudisie, het ek die kind in my koor gesit met die woorde:  “Poppie, jy kan kom koor sing maar dan moet jy Juffrou belowe om net jou mondjie oop en toe te maak en te maak of jy sing.”

Dis presies wat met my gebeur het toe ek die eerste dag in graad 1 instap; ek moes saam met maatjies op die verhoog op koorbankies staan en maak of ek sing. Ek het mos twee dae voor ek moes skool toe gaan, pampoentjies of masels gekry en is twee weke, wat soos ‘n maand gevoel het, in ‘n donker kamer opgesluit gehou. En toe ek uiteindelik vir my eerste dag instap, toe is sommer reguit saal toe, verhoog en koorbankies toe, om iets te sing waaraan die ander maatjies twee weke lank geoefen het.

In elk geval, dit gaan eintlik oor drie goedjies, wat ek nie wil vergeet nie, wat ek hier wil aanteken; drie goedjies waarvan ek die derde een, drie jaar later, hoeka al halfpad vergeet het.

Hulle sê mos ‘n mens moet sekere goed aanteken, ons het selfs ‘n boek daarvoor gekry: wanneer die kind die eerste keer kruip, die eerste woorde (dag en datum), gewig en lengte en omtrek, ‘n stamboom wat terug gaan tot in die voorste geslagte in, en ek weet nie wat nog alles nie. Ons het hierdie boek nie bygehou nie, en die meeste klein goedjies wat ek wou onthou, het ek lankal vergeet. Maar twee en ‘n half van vandag se drie, gelukkig nie.

Ons is in Pilanesberg Natuurreservaat. Klaradyn sit agter in haar karstoeltjie en begin, terwyl ons ry en diere soek, uit volle bors te sing, oor en oor, soos ‘n plaat wat vasgehaak het: “Foo, foo, glôdie-da-fóó – glôdie-da-fóó.” En dan weer, omdat die plaat regtig vasgehaak het, oor en nogmaals oor: “Foo, foo, glôdie-da-fóó – glôdie-da-fóó.”

Nou sy was nog regtig klein en kon skaars praat of dan nou woorde inmekaar geryg kry  om samehangende sinne agtermekaar in ‘n ry te kry.

Omdat daar duidelik ‘n wysie is, weet ons dis ‘n liedjie, maar kry uit haar uit dat dit beslis nie ‘n liedjie is wat sy by die kleuterskool waar sy pas begin het, geleer het nie. Dis iets wat sy op ‘n video (ons praat steeds van video al is dit lankal ‘n DVD) gekyk het, en ek en Annieka wonder hardop in die kar watse video dit dan nou kan wees wat die juffrou met haar maatjies gekyk het.

Nee, kom dit toe byna dadelik en baie duidelik van agter, dis nie ‘n kleuterskoolvideo nie, dis een by ons eie huis, ons het die video al baie gekyk.

Maar die kind is klein, baie klein, sy weet nie wat die naam is nie. En sy kan regtig nie die storie vertel nie – die storie is mos nou in Engels, die kind kyk eintlik net prentjies en luister byklanke. Maar die brein, soos ‘n spons, neem alles in, onder andere: “Foo, foo, glôdie-da-fóó – glôdie-da-fóó.”

Klaradyn het vir nog ‘n halfuur gesing, en ons het vir nog ‘n halfuur getob oor wat dit dan nou is waaruit hierdie liedjie van Klaradyn kom, maar toe sou iets ons aandag weggelei het en ons is huis toe. Klaradyn het van tyd tot tyd haar liedjie gesing en ons het selfs saam begin sing.

Dit was September dat ons in die wildtuin was; vir ons jaarlikse wegbreeknaweek as Pappa verjaar. Oktobervakansie kyk ons een aand ‘n video, en toe ons die video insit en hy begin, sê Klaradyn dat dít die video van haar liedjie is. Ek en Annieka staan nie eers op om te gaan piepie nie, ons is te bang ons mis die liedjie, want selfs al weet ons nou “foo-foo, glôdie-da-fóó” kom uit Ice Age, het ons steeds nie die vaagste benul watter liedjie dit kan wees nie.

En toe, seker so twee derdes deur die fliek, val alles in plek – die verhongerde diere trek weg, iewers vanuit ‘n boom hou ‘n groepie aasvoëls die exodus dop. Al wat hulle sien, is ‘n spul sterwende diere wat binnekort aas gaan wees, en hulle sing:  “food, food, glorious food.”

Wat my kind se brein in Pilanesberg daarby uitgebring het, sal ek nie weet nie. Is ons verby ‘n trop iets wat in die pad geval, gelyk het, of herinner het aan, die trekkende diere in die fliek?




Of was ons, wat gery en kyk het, vir haar soos die starende aasvoëls, ek weet nie.


Feit bly staan, haar ontwikkelende breintjie het iewers ‘n laterale denkpatroon ingeslaan en sy het die lyn getrek.

Skottelade en skottolade is die ander woordjies uit daardie tyd wat ek nooit wil vergeet nie. Dit was nie verkeerd onthou of dekodeer, soos met glorious food nie, maar ‘n artikulatoriese onvermoë van die tande, tong en lippe om die woord sjokolade korrek te vorm en uit te spreek. En nou weet almal dat sjokolade iets is wat enige kind altyd opgewonde het, so dis met ekstase en oorgawe dat my lieflingsdogtertjie, kleintyd, altyd van skotte- of skottolade gepraat het. Ek sien en hoor haar, soos gister. Maar die sien raak by die dag moeiliker, juis omdat ons so gewoond raak aan ‘n sewejarige, amper agtjarige, gesiggie.

Soortgelyk hieraan is die tongetjie wat in stadium met probeer gesukkel het, en al wat wou uitkom poebee was. Maar die derde een, wat ek net halfpad onthou, hou soos glôdie-da-fóó ook verband met ‘n liedjie. En ons is weer met vakansie en in die kar. Ons is vir die eerste keer af see toe. Ons ry vir die dag uit en ek sit Coenie de Villiers in die CD speler.

En oor ons ‘n singende gesin is, soos die Von Trapps voorgegee het om te wees, sing ons almal binne oomblikke saam, Klaradyn die hardste van almal:  “...ruik jy katkos en kano, as dit reën in die Klein-Karoo...”

En ek help haar toe, tot ontsteltenis van haar ma, reg en hê te vertelle dat dit nie katkos is waarvan die man sing nie, maar katkots (in plaas van katbos).

Wat ons egter, laf en verspot, daardie dag met die kambro wat kano geword het, gemaak het, kan ek vir al die geld in die wêreld nie vandag onthou nie.

Maar so bou ‘n mens, ‘n pappa, herinneringe op wat hy nooit as nimmerste nooit-ooit vir al die geld in die wêreld sal verruil nie.
 

22.5.12

Tamatiesop, nomaals tamatiesop, en nogmaals tamatiesop


So onlangs soos 28 Mei 2011 vertel ek hier van die vrou wat ek trompop in die Spar geloop het om te hoor of sy my kan vertel hoe om tamatiesop te maak. Annieka had mos lus vir tamatieroomsop, maar ek het dit in my ganske lewe nog nooit gemaak nie.
30 Mei 2011 erken en bely ek dat ek, in ‘n poging om ons lus te bevredig, verskillende soorte blikkies sop op die proef gestel het.
Van die wintersop wat ek met ‘n liter tamatiesap saamgeslaan het, het ek nooit vertel nie – ‘n mens hang nie vuil wasgoed in die openbaar op die draad nie; jy gee dit vir jou vrou en kind om te sluk.
Haai, en hier is dit nog nie eers ‘n jaar later nie, en ek het al vier keer, twee verskillende tamatiesoppe gemaak. Een keer, die een op ‘n Vrydagaand, en toe die ander die Saterdagaand, net om die Sondagaand van elk ‘n bietjie te proe, sodat ons kan weet watter een om volgende te maak.
Ons kon toe nie besluit nie, en maak nou maar elke week al om die beurt, eers die een, dan die ander. Neem ek vir ons skool toe, maak ek dit voor skool warm en ry die warmfles aan skool toe – dan mors jy nie pouse kosbare sopdrinktyd om die sop nog warm te kry nie.
En eintlik kom die resepte al van verlede jaar af, ek het dit verlede jaar al by herhaling gemaak. My vriendin wat die Hotelhouding en Spyseniering aanbied, kom toe na ‘n praktiese sessie met die twee lieflike potte tamatiesop daar aan. En oomblikke later teister ek haar vir die resepte.
Ek verbeel my hulle skep beide soppe saam in een bord en kry dit dan met vernuftige vurkbewegings om aan ‘n marmerkoek se beslag te herinner. Ek weet nie waar hulle aan die resepte gekom het nie, dis dalk algemeen en alombekend, ek weet nie. Ek glo nie ek pleeg plagiaat nie – ek wil nie soos Deon Meyer en sy vrou op die rooi tapyt beland omdat ek die een of ander tydskrif se sopresepte aan my lesers afsmeer nie – so hier is dit met die sterkste aanbeveling denkbaar.
Tamatieroomsop
Vir 8 porsies:
30 ml olyfolie (of enige ander olie as niemand kyk nie)
1 ui, fyn gekap
2 knoffelhuisies fyngekap
2 selderystokke aan dieselfde behandeling as die ui en knoffel uitgelewer
4 ml droë oreganum
1500 ml groenteaftreksel
4 x 400 g geblikte tamaties in tamatiesous
30 ml tamatiesmeer (hulle verkoop deesdae sulke oulike klein sakkies, maar as jy ‘n blikkie koop en daar bly oor, kan jy dit net met olyfolie bedek en in die yskas hou)
25 ml suiker
500 ml room
sout en peper
Dan braai jy eers die goed wat jou gesonde verstand jou sê om te braai.
Dan gooi jy alles behalwe die room by en laat dit prut terwyl jy wyn drink.
Dan stuur jy dit deur die versapper.
By met die room (ek het al 250 ml ook gebruik)
Sout en peper.
Tamatiesop
Vir 6 porsies:
30 ml botter (haai, ek sien dit nou eers raak – olie werk net so goed)
1 ui fyngekap
15 ml gekapte knoffel
30 ml tamatiesmeer (daai sakkies of die res van verlede week se blikkie)
1 kg ryp tamaties opgesny (het jy ‘n goeie versapper kan jy die skil maar hou, so nie moet hulle kookwater toe om gestroop te word)
1.2 l groenteaftreksel
25 ml suiker
10 ml sout
10 ml vars basiliekruid gekap
peper na smaak
Soteer uie en knoffel
In met basilie
Dan die tamatie – prut vir 10 minute
Nou die aftreksel – prut vir 35 minute
Voedselverwerker
Suiker, sout en peper
En daar kry ek vandag die volgende resep by ‘n kollega wat my met die beker sop in my hand sien. Ek het dit nog nie geproe nie. Maar ek gaan dit beslis op die proef stel, binnekort:
Tanja se tamatiesop
2 blikkies tamaties in tamatiesous
1 gerasperde ui
3 knoffelhuisies
500 ml hoenderaftreksel
125 ml room
1 pakkie spekvleis
‘n gesonde skeut Worcestershiresous
‘n handvol vars basilieblare
sout, peper, suiker
gerasperde Parmesaankaas as jy bedien.
En dan volg jy maar weer kop. Braai eers en gooi dan by. Verpulp. Room laaste by. En dan Parmesaan.
Ek sal die resep uit die staanspoor verdubbel – sodat ek nie met ‘n halwe kannetjie room in die yskas agterbly nie. Ja, ek weet ‘n mens kry kleiner kannetjies, maar ek gebruik die room maar net as verskoning, dis eintlik maar net omdat dit vir my so lekker lyk en klink.
Ek sal laat weet sodra ek dit gemaak het. Miskien gaan ek ‘n week moet oorslaan want vyf weke in ‘n ry tamatiesop is nie vir my ‘n probleem nie; dis my kind wat al ‘n rooi gelaatskleur begin ontwikkel.

20.5.12

Eieragtige monsters uit die buitenste ruim

Iewers teen die einde, as Saul en Kate hulle dirty weekend in die bos het, en hulle het onder andere rondom Kate se pa, MacDonald, wat soos ‘n berg tussen hulle staan, bekommerd is, vra Kate:  “Hoe gaan ons oor die berge kom, Saul?” Hy antwoord dan:  “Tree vir tree, my skat.”
Dit was vir jare vir my die mooiste stukkie teks in Dalene Matthee se roman, Kringe in ‘n bos.
En as ek self, manalleen, of ek en Annieka, saam, voor ‘n berg te staan kom, het ek myself al telkemale in die agterkop daaraan herinner dat ‘n mens soos Saul en Kate oor sulke berge kom – tree vir tree.
In 1997 of 1998 stap ek my longe lam en my lyf in ‘n styfte in met ‘n formidabele man van diep in die sewentig. Ons kom te staan voor ‘n skotige opdraande, so skotig dat dit netsowel Helshoogte genoem kon wees. Die oom deel toe met my hoe hy met sulke opdraandes afreken:  “tree vir tree”. Maar hy gaan voort en vertel dat hy dit by die groot olifante geleer het – hulle stap enige berg oor sonder om moeg te word, bloot omdat hulle dit rustig, tree vir tree, sonder om hulle enigsins in te span, doen.
Maar dit daargelaat, ek wil by die ander lieflike sinnetjie, vroeg in die boek, uitkom. Saul lê vir die tweede keer in sy lewe oog op Kate, hy is ‘n seun 14, miskien 15. Volgens sy gedagtes het Kate vir hom so mooi, so anders gepraat, so “(o)f haar woorde spierwit skoenlappertjies is wat uit haar mond kom en oral gaan sit.”
As ons daar kom, sê ek deesdae grappenderwys vir die graad 11-dogters dat hulle die eerste seun wat sulke dinge van hulle en vir hulle sê, vir die eerste keer eers weer moet los, as hulle mekaar klaar in die kerk die linkerhand gegee het.
Maar dit ook eintlik daargelaat, ek wil nóg by Saul, nóg by Kate; nóg by graad 11-dogters, nóg by metaforiese berge, uitkom.
Dis eintlik daardie skoenlappertjies, daardie mooi wit skoenlappertjies, so mooi dat Dalene Mathee hulle inspan om ‘n mooie dogtertjie se mooiste van mooi woorde mee te beskryf, wat ek as aanknopingspunt wil gebruik.
En dit alles omdat Klaradyn vanoggend, tussen my en Annieka in die Sondagoggend-winter-inlê-bed, skielik kwytraak:  “Ek moet daardie skoenlapper skiet!”
Bid jou dit aan – “EK, MOET, daardie SKOENLAPPER, SKIET!”
Klaradyn is met haar Nintendo besig. (Nintendo, vir die wat nie weet nie, is ‘n hedendaagse palmgrootte gerekenariseerde speletjie waarmee kinders, die wie se ouers nie die veel duurder en groter Wii kan bekostig nie, hulle deesdae besig hou.)
Daar is verkillende speletjiesprogramme wat jy vir die ding kan koop. Ons het vir Klaradyn twee gekoop - een oor troetelkatte en –honde, en een oor die modebedryf.
‘n Ouer moet maar kyk wat hy koop, want party van die speletjies gaan net oor een ding en dis moord en doodslag, goed wat ek my seun nie eers sommer mee sal laat speel nie, het ek net een gehad.
Nou die ding is eintlik meer van ‘n frustrasie as ‘n plesier. Behalwe dat die musiek en byklanke enige mens teen die mure uitdryf, skryf die ding in Engels. En Klaradyn se leesvermoë in Engels is op graad 2-vlak.
Ons het hier in die begin vertaal en gehelp, maar toe raak dit so knaend, en ons so ongedurig, dat Klaradyn op haar eie begin voort snork, leer en probeer, probeer en fouteer het.
En nou kan sy haarself van tyd tot tyd lieflik alleen besig hou. Verslaaf aan die ding, wat ek gevrees het, is sy nie; daar gaan partykeer twee of drie weke om sonder dat sy by hom uitkom. Baie van die ding se binnewerkinge het sy self ontdek, die meeste, maar ek is seker daar is nog honderde wat in die program se geheue wag om ontdek te word.
Maar toe ontdek ek vanoggend, op grond van Klaradyn se opmerking oor die skoenlapper wat geskiet moet word, iets wat my kind so op haar eie uitgeruik en oopgekrap het. So sonder dat ek geweet het dit lê en wag om geaktiveer te word. En as ek geweet het dat dit onder die oppervlak lê en wag om gevind te word, het ek die speelding straks nie eers gekoop nie.
Want skielik moet my kind toe nou vanmore ‘n skoenlapper doodskiet.
Ek doen nie sommer doodskiet-speletjies, en dan nogal ‘n skoenlapper van alle dinge, nie!
Ek kyk waarmee my kind besig is, en ja, inderdaad, niks anders nie, sy is inderdaad besig om dit wat haar in speletjie aanval, dood te skiet, moer toe te skiet, op te fok van ‘n kant af. Op 7. ‘n Meisie.
En dit op ‘n speletjie oor snoesige katte en dierbare honde waar jy Brownie-punte verdien as jy jou kat uitborsel of jou hond vir ‘n stappie om die blok neem. Wat het daarvan geword?
Nee, sy het maar so spelenderwys en aan’t vroetel met die knoppies daarop afgekom.
Ek kon dit nie glo nie!
En dis so slim gedoen.
Om dit realisties oor te laat kom, sien jy jou onmiddellike omgewing op die skerm voor jou – dis die ding se kamera-oog wat dit deurgaans daar projekteer.
En dan torpedo daar sulke eiervormige goeterstes op jou af, wat jy moet skiet. En hoe meer van die goed jy skiet, hoe beter vir jou.
Maar dis nie al nie – die kind is toe besig om my en haar ma, haar bloedeie biologiese ouers, dood te skiet!
Sy het gevra om ons af te neem. En ons het ingestem. Sy neem van die more tot die aand met die ding foto’s. Toe Annieka laas getel het was dit meer as 2 500 foto’s wat sy al geneem het.
Min het ons geweet dat die kontrepsie self met hierdie laaste foto’s wat sy van ons geneem het, gaan en dan jou gesig omvorm tot hierdie eieragtige monster wat kan oogknip en selfs sy mond kan oopmaak.
Eintlik nogal vernuftig en jollie oulik – as dit nou nie was dat die ding met al sy kennis en vaardighede gedoen het wat dit gedoen het nie.
En as die een agter die knoppies en snellers en vuurpyllanseerders dan nou klaar ‘n stuk of tien van hierdie mammamonsters doodgemaak het, dan kom die moeder van alle mammamonsters en spoeg uit haar mond tien nuwe monsters wat jou teister.
En dan maak jy van vooraf dood.
So elke nou en dan kom daar weer ‘n pappamonster ook verby.
En dan nou die skoenlapper, wat ons van dit alles bewus gemaak het.
Dis verskriklik! Daar het hulle die kind klaar bekendgestel aan die basiese van al hierdie speletjies wat nie my goedkeuring wegdra nie. My kind dood en moor en saai slagting en verwoesting so ver soos sy gaan, en dit met ‘n glimlag op haar mond.
Ek is nie een van daardie hiperkonserwatiewe pappas wat ‘n kommunis of die Antichris agter elke bos wil uitskop nie, ek sal nié my kind se musiek agteruit speel om te hoor of daar die een of  ander geheime boodskap is nie, en ek is nie van mening dat die Nintendo-vervaardigers deur die Illuminati beheer word nie, maar dit dra beslis nie my goedkeuring weg om my kind in ‘n gewelddadige oorlogsmetafoor groot te maak nie.
Ek wil nie my kind afgestomp vir geweld die huis uitstuur nie – ek gaan nie toelaat dat die televisie dit doen nie, nog minder haar eie speelgoed oor troeteldiertjies soos katjies en hondjies (en dan nou eieragtige look alike monsters van haar gesin) nie.
Die geleentheid sal hom wel voordoen dat ons in gesprek hieroor kan gaan.
Maar die vermetelheid!
En skoenlappers! Verbeel jou. Maar straks verstaan sy nie die skoenlapper nie, en is dit iets wat sy juis nie moet doodmaak nie.

Ek verbeel my egter daar iets met skoenlappers - die meisies, toe ek klein was, mog dit nie op hulle broeke gedra het nie.

Ek spot nou, maar onthou julle die dae?

En dan maak ek beslis nie 'n berg van 'n molshoop nie, maar ek sal hierdie eiermonstertjie wat tussen ons kom nesskop het, klein treetjie vir klein treetjie aanpak. Soos Saul en Kate.

15.5.12

Hans, Koos, Jan-Harm en nog enkele ander

My grootste claim to fame, trouens nie my grootste nie, maar enigste aanspraak op roem (neffens nou die feit dat ek vir orrelis Ockie Vermeulen skoolgehou het) is die feit dat ek baie laat een aand in die ry gestaan het om by ‘n konsert van Koos Kombuis in te gaan, toe een van die seuntjies van ‘n plaaslike hoërskool (en ek wonder nog steeds of sy ma geweet het waar hy was) afhaak en vra:  “Oom, is Oom Koos Kombuis, Oom?”
Nou hier is ons twee ‘n goeie vyftien jaar later enkele minute uitmekaar afgeneem. Ek dink jy moet regtig baie dronk wees om ons twee vandag nog te wil verwar.



Enige iets is eggter moontlik, want dan is dit soos hy nou die anderdag by Janharmsgat op Cullinan vertel het:  “Die mense het my jare terug gekritiseer dat my gehore net uit dronk skoolkinders bestaan – dis lankal nie meer so nie; deesdae bestaan my gehore net uit dronk volwassenes.”
Destyds op universiteit, in 1983, was daar in die biblioteek, op die rak met digbundels, ‘n bundel met die naam Brekfis met vier.. Dit was een bundel met genoeg gedigte van vier digters om dit ‘n volbloed digbundel te maak.
Andre le Roux du Toit was een van die vier digters en ek het oor vier jaar heen gereeld deur die bundel gelees. Die man se gedigte het ek lateraan trouens omtrent almal uit my kop geken.
Kort daarna het ook twee kortverhaalbundels van die man verskyn, Die Kaap is weer Hollands was een, en wat die ander was, het my nou ontgaan.

In hierdie stadium was Andre le Roux du Toit ook nie meer Andre le Roux du Toit nie, maar bloot Andre le Toit. Daar was glo in die Afrikaanse letterkunde nie ruimte vir nog ‘n enkele Le Roux nie – ons had klaar vir Ettienne le Roux, en na Totius was daar ook nie oorlewingskans vir ‘n tweede Du Toit nie, vandaar die Le Toit.
Maar toe is ek weermag toe, en gediggies en versies en konsertjies moes plek maak vir weerbare weerlose jong manne se hardebaard grootmensdinge.
Gelukkig was Elizabeth Albrecht en haar Suiderkruisfonds, ons bekommerde ouers tuis en die Poskantoor darem aan ons kant.

En ek het al elders daarvan vertel maar die konsert van nou die anderdag waarheen goeie vriende ons genooi het, het die ou herinneringe en die baie lekker weer oopgekrap.

Die Poskantoor het toe mos in die tagtigerjare ‘n kartondosie spesiaal vir troepies se ouers om pakkies grens toe te versend, verkoop.
Donderdagaand was posaand, dan het jy die kilometer of wat deur die bos hoofkwartier toe gestap en gehoop daar is iets vir jou.
Judy was baie getrou met een pakkie elke maand, een van hierdie spesiale Poskantoor-pakkies.
Nou Judy is ‘n baie presiese mens gewees; sy het daardie boksie gepak op ‘n wyse dat hy 100% vol is en daar nie ‘n geringe kans bestaan dat selfs ‘n tuisgebakte speserykoekie miskien kan skuif en breek nie. Was daar iewers ‘n 2 cm2 spasie, dan sal sy ‘n pakkie malvalekkers (van daai met die klapper om) koop en een in ‘n plastieksakkie sit om die 2 cm2 te vul.
Nodeloos om te sê dat bykans alles, of dit nou breekbaar is of nie, soos Noritake of Royal Albert in koerantpapier toegedraai is, selfs elke maand se De Kat en Insig.
En as ek klaar het met De Kat en Insig dan lees ek maar die verpakking van hoek tot kant deur; meestal was dit bladsye uit die plaaslike gemeenskapskoerantjie, die Alberton Rekord/Record, wat daardie jare gelukkig uit meer as net advertensies bestaan het.
Maar eendag toe is dit ‘n bladsy uit Beeld met ‘n klein beriggie, skaars vyf paragrafies lank (ek het dit vandag gaan soek, maar Beeld se internet-toeganklike argiewe gaan net tot 1989).
Dit vertel van ‘n nuwe Afrikaanse sanger wat pas ‘n plaat (kasset?) by Deon Maas se Shifty Records uitgegee het; die naam van die vrystelling is Ver van die ou Kalahari, die sanger, Andre le Toit, gaan onder die naam Koos Kombuis en die kasset kan teen R25-00 van Shifty Records bestel word.
Nou Andre le Toit (Andre le Roux du Toit?) se debuutgedigte Brekfis met vier het ek uit my kop geken; sy eerste digbundels, sy destydse kortverhaalbundels het ek gekoop en sommiges daarvan letterlik gememoriseer vir vertolkingsprogramme – en nou kom hy en sing ook nog.
So wat doen ek? Ek sit R25-00 van my danger pay in ‘n koevert en stuur dit vir hulle via die veldposkantoor met sy privaatsak.
(Ek het sommer vir die man ‘n brief ook geskryf en vertel dat ek saam met een van sy universiteitsvriende my basiese opleiding gedoen het.)
En via die einste privaatsak (en ek kon nooit verstaan waarom iets met so ‘n X-rated naam nie eerder privaatsak XXX-127, in plaas van X127 is nie) kry ek toe ‘n maand of wat later my eerste tape van Koos Kombuis.
(En ‘n brief van die man homself om te vertel van ons gemeenskaplike vriend.)
Wat daardie tape in 1988 of 1987 vir ‘n Hans Moolman op die walle van die Okavango-rivier beteken het, kan vier en twintig jaar later helaas nog steeds nie in woorde omskryf word nie.
You had to be there, at that time, in that times, and in my shoes.
Ek het hom voos geluister, ons het hom voos geluister, en het een of ander kolonel my in die middel van die nag wakker gemaak, sou dit vir my makliker gewees het om die hele kant 1 vir die man op te sê, as wat dit sou wees om my eie magsnommer uit te roep. (En dis iets onvergeeflik in die geselskap van die SAW&Seuns. 13988212BG, is seker nie sleg vir 22 jaar later nie.)
In ‘n stadium het die man my vervreem (tien teen een oor ‘n kortverhaal wat ons met die matrieks gedoen het en ek tot vandag toe oortuig is die man spook gerook was toe hy dit geskryf het; en nou moet ons sy snert as literêre werk ontsluit). Maar dit was eers lank na ek die reeds vermelde aand laat by die KKNK in die ry staan en die seuntjie vra met kennelike verafgoding in sy oë of ek Koos Kombuis is.
Na die aanvanklike vervreemding het hy my egter die laaste klompie jare weer teruggewen, nie net wat musiek betref nie, maar alles wat hy skryf en kwyt raak.
As ek egter ‘n tafel moet volmaak, sal dit nie hy wees wat ek nooi nie, maar sy vrou. Verbeel ek my of noem hy haar Karretjie? Kannetjie? Ek weet nie.
Wat van hierdie genie sou geword het as dit nie vir haar en die gesin wat sy vir hom gebaar het was nie, weet ek nie wat van die man sou geword het nie. Dat hy dan lankal nie meer met ons sou gewees het nie, is ‘n feit.
Gelukkig was dit nou die dag by Janharmsgat net ek wat hom geken het, en nie hy wat my ook geken het nie. Anders het ons mekaar uitgekyk en die spieëls in mekaar se oë herken; nou was dit, die gode sy dank, net ek wat met die intrap- en eerste oogopslag gedink het: “Magtig maar jy oud geword.”

14.5.12

Gister, Sondag, Moedersdag

Klaradyn se lewensmotto sou enige dag Gaan groot, of speel dood kon wees.
Dis nie noodwendig oor sy self so groot met alles gaan nie, maar oor sy alles met soveel oorgawe doen. Sy koop so ín op ‘n ding, en dan loop sy enduit met passie en toewyding.
Ek wonder hoeveel seuns en dogters wat ‘n week of wat gelede saam met haar die Voortrekkers se Junior Kok-kenteken verwerf het, wél gister vir hulle ma’s, soos die saadjie die Saterdag in hul gemoedere geplant is, die roereiers wat hulle daardie oggend leer maak het, gemaak het.
Klaradyn het.
Dit was ‘n uitgemaakte saak:  Moedersdag neem sy vir Mamma roereiers vir ontbyt.
Ek was soos gewoonlik douvoordag op en wakker.
Annieka was later wakker.
En toe dit al half nege se kant toe staan en ons kind slaap nog steeds, toe maak ek haar maar wakker.
Maar eintlik het Moedersdag al Vrydagaand met ‘n Moedersdag-bederfie begin: ons het saam met Mamma Mr Popper’s Penguins gekyk.Ek en Klaradyn het die fliek sonder Mamma op die groot skerm gaan kyk, en toe ons Vrydag in die videowinkel voor die rakke staan, kom Klaars met dié fliek vorendag omdat Mamma dit nog nie gesien het nie, en sy seker is Mamma sal dit geniet.
Ek weet Mamma klok na tien minute saam met ons op die rusbank voor die televisie uit, maar daar geniet sy die fliek só, dat sy, vir die eerste keer in maande, nee, jare, enduit wakker bly.
Saterdag is ek vroeg, voor ses al by die skool, maar teen 11:00 laai Annieka Klaradyn by my af en ons kan, presies soos my pa met my gedoen het, vir Mamma ‘n pakkie gaan koop.
En daar wil sy vir Mamma ‘n worshondjie gaan kry.
En toe iets wat ek ongelukkig heeltemal vergeet het – iets soos ‘n juwelekissie en eintlik die een in die speelgoedwinkel waarop sy al langer as ‘n maand haar ogie het.
Maar toe ek haar eers in die eerste winkel het wat ek vooraf vir ons uitgesoek en uitgekyk het, maak sy dadelik ‘n keuse wat ek weet vir haar en Annieka na aan die hart sal lê.
Hoe na dit aan Klaradyn se hart lê, word toe Sondag duidelik toe sy aan Mamma bieg: “Mamma ek het vir jou gekies wat ek vir jou gekies het, omdat dit vir my self so lekker sal wees om iets present te kry.”
Dat my kind hiérdie universele waarheid op 7 al moet snap!
Op die ou einde is daar drie pakkies en vier kaartjies van die kind af.
Ek het Annieka vooraf gewaarsku dat sy ontroer gaan word, en daar is dit toe ook so.
Na ons bekendstelling aan Breytenbach se rooiborsduif vir sy allerliefste, sien ek toe Klaradyn teken ‘n rooiborsduif op die een kaartjie, en haar boodskap is heel eenvoudig:  “Mamma is my Rooiborsduif.”
En dan, net so mooi en opreg vir my, iets soos:  “Dankie dat Mamma saam met my are, air, when, where, we en you oefen.”
En dan is dit nie voorsê van my kant af nie, dis haar eie gedagtes en konsepte.
Selfs waar ek moes skryf, het Klaradyn gaan staan en opstel skryf. Maar Annieka weet ek ag haar as die beste ma vir enige kind – Klaradyn het dit pas weer met haar woorde bewys – en Mamma moet toe maar tevrede wees met mondelingse woorde van dank van my kant af.
Dis vir my moeilik om te kies wat vir my die lekkerste van die hele dag was:  die wakker maak, of die roereiers maak.
Met die dat die kind toe nou tot kwartdag sou geslaap het as ek haar nie wakker gemaak het nie, maak ek haar toe nou naderhand maar wakker. En anders as ander oggende (voor skool) is sy dadelik pikwakker, in ‘n leopard crawl sluipmodus om Mamma (wat maak of sy slaap en al ‘n hoofstuk of twee van haar boek agter die blad het) tog nie wakker te maak nie.
Dis ‘n oomblik wat letterlik nie met geld gekoop kan word nie. Sy herinner aan die Pink Panther toe sy in die gang af en en alles in rat probeer kry.
Ons kan Mamma nie wek met “Veels Geluk Liewe Mamma” nie, toe word dit maar:  “Opstaan, opstaan, dis ‘n heerlike dag, die son skyn al en die voëltjies lag!”
En toe die roereiers na ons haar pakkies oorhandig en tee gedrink het. Kyk, jy kan ontbyt maak en dis vir jou lekker om vir jou ma ontbyt te maak, en jy kan ontbyt maak en dis vir jou lekker om ontbyt te maak. En dis wat Klaradyn gedoen het – sy het die kosmaak ook geniet. Sy wou dit goed doen en sy wou dit reg doen. Ek begin so stadig maar seker die vermoede kry dat ek daarin sal slaag om my hele gesin en familie se liefde vir kosmaak aan haar sal kan oordra.
En daar eet ek en Annieka al te lekker, maar die Merrempie is versadig geëet aan die dubbeldik-dubbelroom Griekse jogurt met heuning en gekapte amandels as eerste gang van ons tweegang-ontbyt.
Na Sondagskool, en hierdie ontbyt, is daar nie ‘n manier dat ons weer gaan eet nie – ons gaan fliek.
En behalwe dat ons versadig is, lyk die kombuis soos twee weke voor die skepping – nie so leeg nie (trouens en inteendeel) maar so woes. Ek dink Mamma sou ‘n Mr Delivery-ontbyt meer geniet het, selfs al was die kos smakeloos en yskoud – enige iets om haar kombuis te spaar.
Ek kan tog nie dat Klaradyn opruim nie! En ek moet my hande oppas vir my werk – wat gaan gebeur as ek die dag nie meer ‘n rooi pen kan optel om te merk omdat ek so baie skottelgoed gewas en opgeruim het nie! En op Moedersdag gaan ek Mamma nie kan instuur om op te ruim nie, dit is immers Moedersdag – ons MOET net eenvoudig gaan fliek.
Mamma kan kies. (Enige iets om haar gedagtes weg van die kombuis te lei!)
En daar word Mamma kan kies toe Mamma moet betaal want Pappa het sy beursie, sonder enige voorbedag, by die huis vergeet.
So score (kaptaliseer?) Pappa darem toe ook so ‘n ietsie op hierdie geldmaak-dag van Mammon en sy geldmark-vriende.
Maar ek kla nie, ek kon die dag afsluit soos ek hom begin het: met ‘n bakkie dubbeldik-dubbelroom Griekse jogurt met heuning en gekapte amandels as nagereg.

Kinderdag, Seundag


Dit was dan nou my eerste Moedersdag as weeskind.
My eie kind en haar moeder het my dag so vol lekkerte en liefde gehad, dat ek nie tyd en geleentheid had om enige krane en trane oop te wil draai nie.
Ek het in aanloop tot ons gesinnetjie se Moedersdag in elk geval geweet, wat ek al die jare weet: Moedersdag is net nog ‘n geldmaakdag, ek gaan nie Sondag vir Judy liewer wees as wat ek die vorige Maandag was nie. Onse ouers is onse ouers en ons is vir hulle lief, dwars deur die jaar, die hele jaar deur, elke dag.
En tog het ‘n tikkie weemoedigheid my wel ‘n rukkie gelede oorval toe ek, sommer van lawwigheid en nie van koue nie, vir Klaradyn ‘n warmwatersak vir die nag voorberei.
Sy het gekla haar voete kry kwansuis snags koud – my voete sou ook as ek myself alnag en heelnag oopgeskop het. Maar dit daargelaat. Feit bly staan, ek het myself teen slapenstyd betrap dat ek soos Judy al die jare, vir ‘n ketel wag om te kook sodat ek die rubbersak met groot omsigtigheid gereed vir die bed te kry.
Hoeveel keer het ek nie in my lewe vir my mammie kookwater in haar warmwatersak gegooi nie! Hoeveel meer kere het ek haar dit nie self sien doen nie!
“As jou voete warm is, is jou hele lyf warm.” Hoeveel keer het ek haar dit nie hoor sê nie!
En toe ek vanaand ongeduldig wag vir Klaradyn se water om te kook, toe sien ek weer my ma geduldig voor die ketel wag dat sy haar bottel kan vol maak. Ek beleef in my geestesoog die sorg en presisie waarmee sy die water ingooi en seker maak die prop is dig gesluit. (Eintlik met ‘n tikkie trots dat ek dit doen, oor ek haar dit nadoen, en oor haar goeie voorbeeld en sy so ‘n goeie leermeester was.)
Haar stiltetyd het sy saans in die sitkamer gehou, soms by kerslig. Maar Bybel het sy nie gelees nie – die Bybel was vir haar te moeilik om te verstaan, het sy altyd graag gesê. Al wat sy had, was haar geloof en gebed. Al wat sy nodig had, was geloof en gebed.
Ek het, toe die vryer vertaling van die Bybel, Die Boodskap, op die mark gekom het, vir haar een jaar vir haar verjaarsdag – dalk selfs ‘n Moedersdag vir al wat ek weet – ‘n kopie gekoop. Sy het ‘n besoek of wat verder steeds ge-oe en ge-aa, maar toe ook stil geraak en Die Boodskap het stil op die kassie langs haar bed bly staan.
Die Bybel en baie van wat sy daarin lees, het haar geloof net om- en deurmekaar gekrap, sy kon en het daarsonder klaargekom. (Miskien oor sy die Liefde had, en dit opsigselwers klaar genoegsaam was.)
Sy het nie haar gebede in haar gedagtes gedink nie, nee, sy het dit saggies gepraat, elke woord en sin met haar asem en artikulasieorgane gevorm. As ons, hier later jare en laaste jare voor hulle ouetehuis toe is, saans by hulle aan huis oornag het, kon ons altyd hóór sy bid.
Wat sy te sê had, kon ons natuurlik nie hoor nie; dit was ‘n dowwe geprewel, soos toegeweide nonne met stringe gebedskrale doen.
Nie dat ons ooit nodig had om te hoor wat sy vir die Here te sê had nie, ek weet eintlik van ek aan my verstand gekom het, wat sy aand na aand op haar hart had:  dank oor haar kinders en die afbid van die Here se beskerming oor hulle. Het sy iets vir haarself gevra, sou dit net een ding wees en dit is dat die Here haar moet behoed en bewaar sodat sy na haar kinders kan omsien en daar kan wees om vir hulle iets te beteken.
En dan, wintermaande, as sy klaar gebid en die kers uitgeblaas het, het sy die kombuislig aangesit en haar warmwatersak vir die bed voorberei.
Aand na aand.
Het sy hier by ons aan huis kom kuier, het ek haar bederf met die maak van die sak.
Want het sy gereis, dan was dit met die warmwatersak.
‘n Elektriese kombers hét sy gehad, hier teen die einde, die laaste vyftien jaar of so, voor sy ouetehuis toe is. Maar sy het nooit vat gekry aan die ding nie. Miskien oor sy bang was vir die ding. Miskien oor sy gedink het dis te luuks en spandabelrig, ek weet nie.
Toe ek op hoërskool was, had sy wel so ‘n elektriese velletjie, die grootte van ‘n kleinerige kussingslopie, waarmee sy haar voete, soos met ‘n warmwatersak, verwarm het. En dit was vir haar genoeg – as jou voete warm is, is jou hele lyf warm.
Maar niks kon naby haar warmwatersak kom nie.
En daar kry Klaradyn toe ‘n week of wat gelede een present.
En dis eers toe ek hom vanaand vir haar vol maak, en ek staan daar voor die ketel, soos my oorlede mammie, dat ek besef hoe baie ek my ma mis, hoe baie daar van, en rondom, en omtrent, my ma is, wat ek mis, en nooit weer gaan hê nie.
My broer ook. Ons het vandag gepraat en oor en weer gepraat oor hoe dit gaan. Maar Moedersdag nie aangeroer nie, selfs al het dit in stilte kliphard en luid tussen ons gesprek gelê.
As ek net ‘n agste van die ouer wat my ma vir my was, vir Klaradyn kan wees... Dán sal ek weet dat daar op hierdie aardbol nie nóg ‘n kind met so ‘n goeie ouer soos my en Annieka se kind, ons kind is nie.
Dit maak my en my broer natuurlik die gelukkigste twee seuns wat nog ooit met hul voete op die aarde getrap het.
Wat ons gedoen het, om dit te verdien, sal ek nooit weet nie, maar ek weet dat dit ons met ‘n moerse verantwoordelikheid los: om die voorbeeld wat aan ons gestel is, na te volg.
En maklik is dit nie. My broer probeer al jare; ek die laaste sowat agt.
Maar wat ‘n voorreg.
Dankie Ma, Mamma, Moeksie, Juds, Judy, Judsy, Joerie, Mammie, Ou Vrou, Ou Lady, en (as Klaradyn nie naby is om te hoor nie) ander Enigste-Dierbaarste-Engelhart-Skat.
Ek het dit al baie gedink, maar nog nooit hardop bely nie:
Partykeer wens ek regtig daar is ‘n hemel presies soos ek my dit as kind voorgestel het: jy staan daar, iewers op ‘n wolkie, langs Pa, en julle hou ons wat tydelik hier op aarde agtergebly het, dop, julle luister ons af en hou ons elke beweging dop.
Dan sou ek goed gevoel het, want dan sou ek geweet het, jy weet hoe ons voel, hoe ons jou mis en hoe ons jou eer.
En al is jy nie hier om ‘n gelukkige Moedersdag met ons te kon deel nie, het jou twee seuns steeds ‘n baie gelukkige Kinderdag, Seunsdag gehad, en dit alles danksy jou.
Gelukkige Moedersgag Ou Vrou, ons is lief vir jou.

6.5.12

Vrydagaand se sop




‘n Mens maak nogal ‘n lekker ertjiesop (en as dit nie vir jou lekker is nie, sal jy ten minste met my moet saamstem dat dit ‘n lekker dik ertjiesop is) van 18 kleinerige blikkies ingelegde ertjies, gemeng met so 4 blikkies melk, ‘n blokkie of wat ekstrak en heelwat snippers spekvleis.

Ons het sowat ‘n week gelede heerlike ertjiesop aan huis by vriende geniet en hierdie gasvrou se heerlike ertjiesop het my by die gedagte gebring  om my ertjiesop, nie van gedroogde groen erte nie, maar van blikkies ingelegde ertjies te maak.

Saam met haar, eintlik ook seker C. Louis Leipoldt wat moet pa staan vir die lekker dik sop waarvan ek seker nog genoeg vir ‘n weermag in die yskas het.

En dan het dit niks met sy Kos vir die kenner  of Polfyntjies vir die proe, of enige van die drie ander Leipoldt-kookboeke wat ek op die rak het, te doen nie; dis die man se empatie met die Boerevolk en die veel nader kennismaking met die Anglo-Boereoorlog as wat ek en my generasie ooit sal kan hê, wat die sop vandag in die Moolmans  se yskas het.

Hy gaan skryf toe mos nou destyds  Die ou blikkie, een van die baie gedigte wat hedendaagse lesers lankal nie meer lees nie, nie net omdat hulle twee en drie en meer geslagte, en meer as 110 jaar, van die Anglo-Boereoorlog verwyder is nie, maar ook omdat dit daarom so ouderwets, so oudmodies uit de oude doos, en so sielswroegend en so lank is:

Die ou Blikkie.

Wat is die ding, wat jy daar hou?
Wat droom jy oor 'n blikkie, vrou?
'n Armsalige ou blikkie?
Wat is die ding tog nou vir jou?

"Ek wil hom skoonmaak, dat hy blink
Soos silwer in die sonskyn: dink,
Die armsalige ou blikkie,
Daaruit het Gert en Griet gedrink.

"Ek wil hom met die grond hier vul,
Hier, waar die suring bloei so gul,
Die armsalige ou blikkie:
Miskien kan ek my droefnis kul.

“Ek wil daarin 'n plantjie plant,
Wat groei aan Griet haar graf se kant:
Die armsalige ou blikkie,
Was vasgeklem in Griet haar hand.

"As ek so in die sonskyn sit,
So blou die hemel bo, so wit
Die armsalige ou blikkie,
Dan droom ek weer oor dat en dit:

"Ons konsentrasiekamp is daar;
Die oorlog word ek weer gewaar—
Ag, armsalige ou blikkie,
Waarom het God ons nie gespaar?

"Was Gert en Griet nie heel my hart?
Die plaas is afgebrand en swart—
En jy, armsalige ou blikkie,
Herinner my nog aan my smart.

"Ons kan die plaas weer opbou: ja,
Jan het al geld op leen gevra;
Maar, armsalige ou blikkie,
Kan Gert en Griet my ooit weer pla?

"Daar in die konsentrasiekamp,
Daar in ons aaklig oorlogsdamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Daar is hul lewe uitgestamp!"

Vergeet, wat jy gely het, vrou:
Ons is weer vredevrinde nou!
Die armsalige ou blikkie,
Wat is die ding tog nog vir jou?

"Dit laat my dink aan Gert en Griet:
Al is dit 'n gebroke riet,
Die armsalige ou blikkie
Is anker teen my sielsverdriet.

"Die plantjie, wat hierin sal groei,
Sal elke jaar opnuut weer bloei,
Ag, armsalige ou blikkie,
Al is my trane opgeskroei;

"Want ek het nog 'n traan gespaar,
Nog 'n paar sugte opgegaar,
Om, armsalige ou blikkie,
Jou plantjie veilig te bewaar.

"As ek vanaand my kers uitblaas,
Dan werp die maan 'n silwerwaas
Oor jou, armsalige ou blikkie,
En oor ons afgebrande plaas.

"Ek luister; en dit skyn vir my,
Klein Gert is weer hier aan my sy,
By jou, armsalige ou blikkie,
Om weer 'n slukkie melk te kry;

"En Grietjie staan daar by die deur—
Ja, kyk, haar voorskoot is verskeur!
Ag, armsalige ou blikkie,
Hoe kan ek eensaam wees en treur?

"Die dood het albei weggehaal;
Ons plaas is afgebrand en vaal;
Maar, armsalige ou blikkie,
My hart is nog nie net so kaal.

"Solank jy op die vensterbank
Hier by my staan, so skoon en blank,
Kan ek, armsalige ou blikkie,
Nog stil wees en vir God nog dank,

"Dat Hy, toe daardie oorlogsdamp
My kinders al twee in die kamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Die lewe so het uitgestamp,

"Nog in my hart het hoop gegee,
Dat ek bedaard was in my wee,
Ag, armsalige ou blikkie,
Te dink, ek sien hul weer, al twee!

"Met jou het Griet en Gert gespeel,
En ek het nog in jou 'n deel;
Ag, armsalige ou blikkie,
Laat ek my maar nog iets verbeel!

"Verbeelding — dit is alles nou,
Wat ek nog het: laat my dit hou!
Ag, armsalige ou blikkie,
Jy is my anker teen die rou!"

Maar kom ons so ver om wel deur die gedig te lees, en verby die styl en manier van doen, die digterlike vryhede, argaïsmes en rymdwang, wat ons lankal nie meer in gedigte ken nie, kyk, dan is daar beswaarlik ‘n leser wat nie aan die hart gegryp word deur die storie en gebeure wat in die gedig afspeel en opgeroep word nie.

En alhoewel Klaradyn gaan tafel dek en  roereiers maak het om haar Junior Kok-kenteken te verwerf, was daar ‘n ander Voortrekkers-graadgroep wat ‘n eerste kennismaking met die Anglo-Boereoorlog moes hê en ek is toe gevra om rondom die poësie wat die oorlog opgelewer het, ‘n inset te lewer.

Ek het nog op skool kennis gemaak met Leipoldt se Aan ‘n seepkissie, Dis al deur Jan F. E. Cilliers, en Totius se Vergewe en vergeet. Maar nadat ek ‘n jaar of wat gelede al met onderwysowerheidsweë langs aangespreek is omdat ek nog gestruktureerd en geroetineerd een maal ‘n week met my graad 8’s en 9’s ‘n poësieperiode op die rooster het, ‘n poësieperiode waarin ek hulle gedigte en van gedigte leer, het ek vermoed my graad 4’s gaan nie een van die gedigte ken nie en ek kan hulle aan al vier bekend stel.

Ek was reg. Maar onderwys Suid-Afrika het my stoutste verwagtinge oortref:  ons is nou amper soos Engeland wat lankal reeds die ganske Anglo-Boeroorlog uit hul skoolkinders se geskiedenishandboeke uitgeskryf het, die kinders leer nie juis meer van die ABO nie, hulle leer op laerskool trouens niks meer van die ABO nie.

Maar dit daar gelaat.

Ons het vandag die internet wat die geskiedenis soveel makliker toegankliker maak. Ek het op skool nie geweet hoe lyk so ‘n seepkissie waarmee Leipoldt destyds in gesprek getree het nie:


Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier in ons land as 'n doodkis te dien;
Hulle het op jou letters geverwe, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.

Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Het hier in die kamp met sy sussie gekom—
En jy was bestem, soos jy weet, seepkissie,
Daar oorkant in England, as doodkis vir hom!

Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Was fluks en gesond, vir sy jare nog groot;
Maar hier in die kamp, soos jy weet, seepkissie,
Was hy maar drie weke, en toe—was hy dood!

Onthou jy vir Jannie? Jy weet, seepkissie,
Hy het in sy speletjies met jou gespeel;
Die son het sy krulkop geskilder, seepkissie,
So blink as sy strale, as goud so geel.

Op die Vrydagmôre, onthou jy, kissie?
Het Tannie gesê: "Ag, klein Jannie die hoes!"
En die Vrydagaand, soos jy weet, seepkissie,
Was Jannie se lewe al half verwoes.

Hulle het jou op Saterdagmiddag, seepkissie,
Gedra na sy tent as 'n doodkis daar!
Die wit gesiggie—jy weet, seepkissie,
Die handjies gevou en gekruis oormekaar.

Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier vir ons kinders as doodkis te dien:
Hulle het vir jou lykies gevinde, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.

Nou se dae kan 'n mens sommer ‘n stuk of agt of nege van die goed vir die kinders wys.


Twee van die meeloper-mammas of spankapteins het my na die tyd kom geluk wens en dankie sê vir die feit dat hulle Dis al nou vir die eerste keer, sedert skooldae kan insien en verstaan. En dan is daar so min om in te sien of te verstaan. En hierdie min is al wat daar is.

Ek het so gesoek na ‘n afbeelding van die bekende skets wat ek in 1989 by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkunde Navorsingsmuseum?) op Bloemfontein gekoop het. Dit beeld die banneling by sy vrou se graf uit, iewers in die agtergrond die murasie van die afgebrande plaasopstal en ook die voël iewers bo in vlug. Maar hoofsaaklik net veld en lug, die blond en die blou. Ek kon dit nêrens opspoor nie.


Dis al

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en 'n voël draai bowe in eensame vlug -
dis al

Dis ‘n balling gekom
oor die oseaan,
dis ‘n graf in die gras,
dis ‘n vallende traan -
dis al

Ek is oortuig daarvan dat Vergewe en vergeet my eerste blootstelling aan beeldspraak en allegorie was, ons sou seker net die woord simbolies gebruik het om die verwysing na die doringboompie en die ossewa te ontsluit:



Vergewe en vergeet

Daar het 'n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.


En eendag kom daarlanges
'n osseswa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.


"Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap."


Die ossewa verdwyn weer
agter 'n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.


Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.


Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.


Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.


Ook het die loop van jare
die wonde weggewis-
net een plek bly 'n teken
wat onuitwisbaar is.


Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.


Daar was drie ander mede-aanbieders van die dag se program. In die ou dae kon ek glo is so ‘n program miskien aangewend om haat teen die Engelse aan te blaas, die hele Voortrekkersbeweging is immers in die opbloei van Afrikaner nasionalisme gebore, die ABO het die beweging name soos penkoppe en verkenners gegee om na van die lede te verwys. Maar ek het niks hiervan in die 10 ure wat ons die kinders besig gehou het, by enige een van hulle opgetel nie.

Toe ek in 1989 begin skoolhou het, kon ek dit dadelik sien, vandag, in 2012 kan ek dit steeds duidelik op skool sien: die leerders wat Voortrekkers is het ‘n iets positiefs, ‘n iets sterks, ‘n tikkie selfvertroue en anderse leierskapsontwikkeling wat hulle van die res onderskei.

En dis hoekom ek Klaradyn daar het – dit doen die kinders goed. Miskien was dit jare terug ‘n propagandamasjien; ek kry beslis nie die idee dit is vandag meer so nie.

Ek het hoendervleis gekry, gister, by die aanskoue van die ontwikkelingsgeleenthede wat die kinders geniet het, en hoe hulle dit aangegryp het. Daardie outjies het geleenthede geoes terwyl ander kinders, dieselfde ouderdom en saam met hulle op skool, se lande nog braak lê.

Klaradyn se kenteken het aangehou tot 14:00, ons het deurgedruk tot 18:00. Ek dink ek was gisteraand voor haar aan die slaap. Toe Mamma terugkom van die koor, het ek nie eers wakker geword nie.

En vandag kan ek ook maar ontspan: die middagete, aandete en Maandagoggend se ontbyt staan immers klaar gemaak in die yskas - heerlike ertjiesop.