Pages

30.11.11

Einde-van-die-skooljaar-gedagtes


Vandag al, en dan nie more nie, wat Klaradyn se graad 1-skooljaar tot 'n einde kom. Juffrou is dan ook al gister, vir hoeveel jare nie nou al nie, onder die piesangbome, sonder kop en tone, in 'n blikkie bone, gebore.

Wanneer die piesangbome bygekom het, weet ek nie – dit was nie daar in 1971 toe ek by Ou Juffrou Scholtz in die klas was nie.

En wat van pinch-punch – hou-vir-die-laaste-dag-NIEKS! geword het, weet ek ook nie. Gister sou dit hou-vir-die-tweede-laaste-dag-NIEKS! gewees het.

Ons het letterlik ge-pinch, so knypbeweging teen die maat se boarm uitgevoer, en dit opgevolg met 'n vriendelike punch. Die nieks (wat seker nix) moet wees, was dan jy wat beide hande se vingers gekruis gehou het – dit het jou daarvan gevrywaar om terug geknyp en geklop te word.

Behalwe natuurlik nou as jou opponent orreltjies skree, die oomblik wat jy hom pinch-punch. Orreltjies het na jou skoene se veters, wat permanent (soos jou vingers in die nieks-houding) geknoop of gekruis was, verwys. Dit sou beteken het dat jy daardie persoon geklop het terwyl hy eintlik amnestie had – jý is nou in die warm water en moet weghol want nou kan hý, jóú op sý beurt weer op die boarm bykom.

En kortvoorlank hol almal op die speelgrond rond.

Of die meisietjies hulle hiermee opgehou het, weet ek nie – ek kan my nie 'n enkele wuiwende vlegsel oproep wat voor my uithol nie.

Hierdie ritueel het homself vier keer 'n jaar afgespeel – elke keer wat die skoolvakansie aanbreek – en dan nog op één ander geleentheid – die dag waarop jy dit met 'n blink piksplinternuwe paar skoolskoene op die skoolterrein waag. Pinch-punch, hou-vir-jou-nuwe-skoene-NIEKS!

Klaradyn weet danksy Tannie Pat darem iets van hierdie nieks af. Elke keer wat ons daar by hulle wegry, verlede Sondag weer, sal Pat haar hand deur die motorruit inwerk en Klaradyn met 'n ligte last-touch-nieks! vermaak. En al verwag Klaradyn dit nou al, word sy steeds elke keer onverhoeds betrap.

Ag, dis darem maar lekker om kind te wees. En lewenslank kind te kan bly.

My skoonpa sê telkens vir my en Annieka, as ons byvoorbeeld kla oor die een of ander insident of verantwoordelikheid, dat grootword nie vir sissies is nie. Grootword is nie vir sissies nie – niemand het gesê dat dit maklik óf lekker gaan wees nie.

Maar dan praat hy met twee semi-volwassenes.

Ons het al vergeet dat grootword, vir graad 1-kinders, letterlik ook iets is wat nie vir sissies is nie. Grootword sit nie in enige man se broek nie, of soos my vriend Harm sal sê, dit vat 'n man op 'n perd.

Nou, hier teen die einde van die jaar, met almal moeg en oorstuur gewerk, so onlangs soos verlede week, het ek Klaradyn uitgeluister, of afgeluister as sy en Mamma gesels, en dikwels met 'n hart wat ruk en oë wat wil-wil skiet, gedink dat ons grootmense so geneig is om net te vergeet dat grootword regtig nie vir sissies is nie.

Groeipyne is iets letterliks. Maar figuurlik net so reëel en meer alledaags.

Wat vir 'n volwassene niks anders as sommer net allerhande klein-kindertjie-kak is nie, is vir daardie klein kindertjie van jou alles behalwe lawwe poefies, vir hom of haar is dit dodelike erns.

Klaradyn het nou die aand in die bad (altyd saans in die bad of na storietyd in die bed, dat haar dag se hartgeselsies los kom) met opregte ontsteltenis vertel dat sy 'n suigstokkie vir 'n maatjie gegee het, en dat hierdie maatjie die suigstokkie toe vir 'n ander gegee het.

Vir ons is 'n suigstokkie 'n suigstokkie, dis niks. Klaradyn, op haar beurt, kry hoogstens een keer in miskien twee weke, skelm twee suigstokkies in haar een sakkie skool toe. As sy 'n suigstokkie met jou deel, is dit spesiaal. En as jy hom dan uitdeel aan 'n ander dan kan en mag en sal dit vir haar as verwerping oorkom.

En ons almal moet daar deur, is daar deur, en gaan steeds daar deur.

Ek dink onwillekeurig aan 'n kennis wat oor 'n afstand vanuit haar motor by die inkopiesentrum se parkade op haar vriendin uitgekyk het, waar dié rustig, op haar eie, 'n koppie tee by 'n eet-en-drink-plekkie sit en geniet. Sy besluit om haar vriendin te bel en speels te sê ek sien jou, hê 'n lekker tydjie. Toe die vriendin egter haar selfoon in haar handsak opgespoor kry en op die skerm sien wie dit is wat bel, moet my vriendin toekyk hoe die vrou die foon dooddruk en in haar handsak terugplaas.

Grootword is nie vir sissies nie – dit vat 'n man op 'n perd.

En hier is Klaradyn vandag 'n hele graad 1-jaar groter.

Verlede jaar hierdie tyd het ons begin skoolklere koop – Annieka het haarself voorgeneem dat sy nie op nommer 199 in die nuwe jaar agter skoolklere gaan aanry nie, en genadiglik by hierdie slim voorneme van haar gebly.

Klaradyn kan nou nie verstaan dat dit nie noodwendig nou tyd is om weer nuwe skoolklere te kry nie – sy dink dis iets wat einde van elke jaar vervang moet word, nie iets wat vervang word slegs as die klere te klein of uitgewas en verrinneweer is nie.

En in haar skoolklere het ek my kind hoogstens drie keer hierdie jaar gesien. En as ek daaraan dink, en dat die jaar nou verby is, wil ek huil.

Ek het een keer hierdie jaar die voorreg gehad om kind skool toe te kon neem – dit was dag 1 van graad 1 toe ek toestemming moes vra om die vroegoggend by die werk weg te kon neem en dit te kan doen; vir die res van die jaar, moes 'n ander dit doen.

Een keer hierdie hele jaar het ek in 'n eksamen vroeg by die skool weggeslip dat ek en my kind kan voel hoe dit voel as haar pappa haar na skool kom kry – o, dit was lekker en spesiaal om my kind in skoolklere te sien.

Haar ouma maak regtig seker dat ons kaalvoetkind op haar netjiesste lyk as sy skool toe gaan – dit was 13:00 en steeds was my kind se hare die mooiste gebind en gevleg en in plek van al die kindertjies daar. (Ouma, jy is 'n ster. Baie dankie vir dit wat jy vir ons beteken deur wat jy vir ons kind beteken. Dis regtig net my eie bloedma wat jou dit miskien sou kon nadoen – het sy net die geleentheid gehad.)

Ek wou verlede week weer hier teen 12:30 skelm wegslip om haar op te gaan tel en te kyk of sy nog so mooi in haar skoolklere lyk, maar toe val daar iets voor en toe ek 12:45 in die motor kon klim, was ek bang dis te laat – en Ouma was teen daardie tyd in elk geval ook al self reeds weg by die huis en tien teen een reeds onder die boom in haar motor voor die skool.

So dis dan hoe dit is – geleentheid om my kind in haar graad 1-jaar bý, of ván, die skool te kry, is verby, die uurglas het leeggeloop.

Ek sou elke ma of pa, elke koei of bees van 'n ma of pa wat ek so gereeld hoor kla oor 'n kind wat by die skool afgelaai of getel moet word, graag daaraan wil herinner dat hulle hul seëninge moet tel, dis 'n god gegewe voorreg wat hulle toebedeel is, nie alle ouers is dit beskore nie.

Die Moolman-huishouding het deur die loop van die jaar darem strome van ander vorme van seën, tot oorlopens toe, geniet, en wat 'n voorreg was dit nie gewees nie.

Ook nie net vanjaar nie – van daardie eerste dag op kleuterskool is dit asof ons kind met 'n goue lepel in die mond gebore is, kom dit by onderwysers. Ons kind is deur drie engele aangeraak. Hoe lank dit nog gaan voortduur weet ek nie, maar ons sal die nuwe skooljaar eersdaags met groot vertroue ingaan.

En daar het ek toe inderdaad, onverwags, wel die voorreg om Klaradyn by die skool te sien, so op haar laaste dag. Ek is laerskool toe om uit te help met die kleuterskoolkonsert. Ek het nie verwag dat sy gaan kom inloer nie – ek het haar nie vertel dat ek op pad is nie – netnou kon ek nie my sake by my eie skool in orde kry nie, en dan is sy teleurgesteld. Ek het weliswaar die heeltyd, van waar ek op die vertellerstoel sit, geloer of sy nie een van die talle kleintjies was wat kort-kort kom inloer het nie. Maar helaas. Toe die kleedrepetisie net mooi tot 'n einde kom, besef ek dis 3 minute voor die skoolklok lui – en ek sit gou af na die kind se klas toe.

Die verbasing was groot om Pappa en Ouma daar te kry, maar ek moes terug saal toe, so ons het nie juis gekuier nie.

Maar dit was spesiaal – 'n hele skooldag se pret en plesier het al in haar uniform kom sit; my kind se hare was egter nog net so mooi en in plek soos op 'n Maandagoggend.

In Kringe in 'n Bos vra Saul vir Kate (of Kate vir Saul) hoe hulle oor die berg wat voor hulle lê, gaan kom. Die antwoord is dan “tree vir tree.”

Ons pad is nog lank, en hoe steil hy gaan wees, weet nugter – maar hand aan hand, en tree vir tree, het ons reeds tot hier gekom – ek sien uit na die volgende trek. Met Mamma links en Klaradyn regs of in die middel, kan dit net 'n plesier wees.


27.11.11

Dis partykeer beter om niks te weet nie


Ek weet nie watter een van die twee my die ingrypendste geraak het nie: die nimmereindigende vreugde van geboorte (Klaradyn) of die nimmereindigende afsluiting en tot einde kom van so 'n geboorte (Judy se dood).

Dit was vir my lankal duidelik dat Klaradyn se geboorte my lewenslank en elke dag opnuut sal verbly.

En moenie moed opgee nie, ek het dit nie vanaand oor Judy en haar dood nie, maar oor iets anders.

Want tog was ek op 47 naïef genoeg om te dink dood, anders as geboorte, kom tot 'n einde en gaan verby.

Dis dalk oor ek wat die dood betref so onervare is: ek was 'n kind toe my pa dood is en het hom jare na sy dood, toe ek begin man word, vir die eerste keer begin mis.

In daardie tyd, ek was op universiteit, sterf my oorlewende ouma ook.

Maar toe kom die weermag, en toe ek daar uitgespoeg word, kon Ouma se dood my ook nie meer raak nie.

So ek was al die tyd onder die vals indruk dat dood tot 'n einde begin kom. Na 'n ruk.

En dit lyk my nou dat dit nie die geval is nie:

Ek word steeds weekliks weer daaraan herinner hoe volslae verby en finaal die ingrepe van die dood is – soos nou toe ek in die verbystap ‘n bankstaat nadertrek en sien dis Judy s’n.

En tog, ten spyte van die finaliteit en die afskeid wil hierdie voortdurend-daaraan-herinner word (hoe ontsettend vir altyd verby dit is) nie tot einde kom nie.

Ek gesels onlangs met 'n dierbare vriendin wat amper 30 jaar ouer as ek is (dit wil sê sy sit opgegaar met amper 30 jaar meer ervaring en kennis en wysheid en insig as ek) en sy sê: “My pa is donkiesjare al dood en ek mis hom party dae, na al hierdie jare nog steeds soos ek niemand anders nog ooit in my lewe gemis het nie.”

Ek was in die ongelukkig bevoorregte posisie om my ma, my ma grotendeels, die laaste paar jaar van haar lewe en lank voor haar dood al te kon mis.

So ek sal lieg as ek sê ek mis die ou vrou.

Dit wat ek sou kon mis, die vrou en ma-figuur wat ek sou kon mis, het ons lankal van afskeid geneem, en om die pad saam met haar die laaste vyf jaar te kon loop, het my half gewoond gemaak aan 'n nuwe ma, 'n ander ma. 'n Ma wat ek grotendeels nie sal mis nie.

Tog is daar, maar alte natuurlik, talle ander kleiner goedjies, oomblikke, momente, wat ek (begin ek nou vermoed) as ek die dag 74 soos my vriendin is, nog steeds sal mis, asof dit gister was dat ek dit laas beleef het.

En dan lei ek af dis geensins 'n geheim nie, maar eerder net nóg een van daardie dinge waarop NP van Wyk Louw se woorde van toepassing is:  die wat weet, die sê nie; die wat sê, die weet nie.

En as ek dan nou nie kan weet wat die ingrypendste is nie – geboorte of dood – dan wil-wil ek begin wonder hoeveel te meer ingrypend en immer onvoltooid dit nie moet wees nie as hierdie twee hande vat en jy as ouer met die dood van dit waaraan jy geboorte geskenk het, gekonfronteer moet word.

Beide my oumas het op gevorderde leeftyd een van hul seuns aan die dood afgestaan.

Ouma Van Wyk het ek by herhaling hoor sê dat ouers nie gemaak is om hul kinders te moet begrawe nie.

Maar ek het dit net gehoor, ek kon dit nie verstaan nie. Ek was 'n kind.

Twee baie goeie vriende van ons, moes 'n jong kind aan die dood afstaan.

Ons lewens, het aangegaan.

En ek het tot en met Judy se dood, gedink hulle s'n ook...

Annieka se een oom en tannie het langs twee kinders se grafte moes staan.

Ek het eendag by die tannie gehoor sy word nog elke oggend met al haar kinders in gedagtes wakker.

Maar ek het nie verstaan nie.

'n Vriendin van my het 'n suigeling moes begrawe.

Ons praat nie. Nie daaroor nie.

En toe beleef ek, vir die eerste keer as volwassene, dood van 'n naaste aan die hand van Judy.

En ek sê verlede week, uit die bloute, vir Annieka dat sy bly kan wees dit is haar nog gespaar – daar is niks onder hierdie son so erg, so ingrypend, so finaal soos die dood nie. En daar is niks onder daardie selfde son waarop selfs die voorbereidstes onder ons so totaal onvoorbereid op is, as juis die dood nie.

Maar vanaand tot ek na die bankstaat kyk en ek lees dis Judy s'n, en my binneste ruk opnuut, vir 'n kort oomblik by die herinner word aan die finaliteit van die dood wat nooit tot 'n einde kom nie, ineen, toe word ek weereens herinner dat ek selfs nog minder geweet het van jou eie kind begrawe as wat ek voor my ma se dood vermoed het ek weet.

Ek dink ook ek begin verstaan waarom daaroor nie gepraat word nie, waarom as het ware weer van vooraf vriende gemaak moet word: ouers wat 'n kind aan die dood afstaan kom self ook tot sterwe, hulle sterf nie net hul kind af nie, maar groot deel van hulself. Die deel wat sou kon praat oor die dood van 'n kind, is self dood en bestaan nie meer nie – dis 'n ander vriend, 'n ander mens, 'n nuwe mens wat jy van vooraf moet leer ken, 'n nuwe mens wat van nuuts af moet probeer leer om te leef.

En dan sê ek nie dis hoe dit ís nie, dis hoe ek my as oningewyde buitestaner dit voorstel, indink en probeer verwoord.

Ek weet egter nie van beter nie, en is baie bly ek weet nie van beter nie.

'n Ander vriend van my moes van sy tweelingbroer afskeid neem. Gelukkige op 'n relatiewe jong ouderdom.

Of maak ouderdom nie saak nie? Is 14 makliker as 44?

Is dit die bloedverwantskap wat die dood vererger? Of die lengte en duurte van die verhouding? Of die diepte, aard en omvang?

Ek weet, weer eens, gelukkig genoeg, nié.

Ek weet net, kyk ek na die ervaring om drie maande later steeds weekliks van Judy afskeid te moet neem ('n afskeid wat, begin ek vermoed, nooit 100% end kry nie) dan besef ek telkens opnuut, in die woorde van Ouma van Wyk: “Ouers is nie gemaak om hul kinders te begrawe nie.”

Mag ek nooit verstaan wat sy daarmee bedoel het nie – want wat sy bedoel het, het ek nie die vaagste benul van nie.
Ek weet dit nou weer. En meer. Terwyl hierdie skrywe duidelik daarvan getuig.

24.11.11

Pa-wees is darem maar lekker

Daar is vir my min dinge so erg soos 'n kind wat by my op hoërskool kom en sy toespraak soos 'n resitasie uit sy kop opsê.

'n Toespraak word, wat my betref, gepraat en nie opgesê of geresiteer nie.

Ek self lewer tot ses keer op 'n dag dieselfde toespraak ('n les wat ek aanbied) maar ek praat my les, ek sê dit, ten spyte van voorbereiding en instudering, nie soos 'n papegaai op nie.

Gedigte word uit die kop geleer en geresiteer – dis 'n baie belangrike vaardigheid en ek is jammer dat ek die idee kry dit word 'n klompie jare nou al sleg afgeskeep in ons skole.

'n Kollega van my wat Engels gee laat haar leerders elke gedig wat sy met hulle behandel, memoriseer en resiteer. Van die grote kinders se kant af, selfs, is daar geen teenkanting nie, maar waardering.

Die Indiër-seuntjies en –dogtertjies (ek is nie seker van welke geloof nie) wat smiddags kleintyd moet leer om bykans hul hele heilige skrif uit die kop op te sê, is die res van hul landgenote ver vooruit en baie beter toegerus as hulle ook.

Maar 'n toespraak is nie 'n gedig nie – in 'n toespraak praat jy, na die beste van gebrekkige wete, jou gedagtes. Jy sê nie jou woorde op nie.

En jy lees dit ook nie af nie. (Party kinders dink mos ons assesseer voorbereide lees, as ons 'n toespraak of praatjie assesseer.)

Met Klaradyn is dit moeilik, sy kan seker al van sleutelwoorde gebruik gemaak, maar dis net soveel lekkerder om van sleutelprentjies of –gedagtes gebruik te maak.

Hulle moes hierdie week praat oor 'n dier van hul keuse. Haar direkte antwoord op my vraag oor waar en hoe ons aan die inligting gaan kom, toe ons agterkom die boek wat ons soek is by Ouma, was letterlik (en dis tog of sy so effe ongeduldig met my was oor ek tog so dom vraag kan vra):  “Nou maar ons Google dit tog net, Pappa!”

So toe google ons 'n spul feite; sy kies nie 10 feite nie, maar 13, en toe begin die lekker – ons moet prentjies google wat haar 13 hoofgedagtes by haar sal tuisbring.

Ek het later maar opgehou om haar van my skoot af te probeer hou – dis ongelooflik hoe party van hulle (of is dit almal) net aldag en heeldag op en oor jou moet wees.

Ek het 'n hele paar dinge van Komodo-drake geleer wat ek nie voorheen geweet het nie.

Hier is my kind se geselsie (ons lees van kloksgewys van links bo):


Ek verwoord dit so:

1.       Al is Komodo-drake reeds duisende jare met ons, is hulle eers 100 gelede ontdek toe 'n vliegtuig tydens WO1 in die see gestort het en die vlieënier tot die veiligheid van die naaste eiland geswem het – net om toe op 'n spul van hierdie ongediertes af te kom.

2.       Op die Komodo-eilande leef vandag nog net sowat 5000 van hierdie diere in hul natuurlike habitat.

3.       Hierdie diere is natuurlik nie drake nie; hulle word wel van tyd tot landkrokodille genoem.

4.       Eintlik is hulle die grootste akkedisse op aarde en daarvoor bekend dat hulle die enigste akkedissoort is wat prooi veel groter as hulself dood en verorber.

5.       'n Komodo-wyfie lê tot so veel as 30 eiers op 'n slaag en daar is ongeveer vier keer meer wyfies wat uitbroei as mannetjies.

6.       Komodo-drake het 'n baie stadige metabolisme en hoef slegs 12 keer 'n jaar te eet. (Hierdie kos wat so lank vat om te verteer, het natuurlik tot gevolg dat die stomme goed aan akute, chroniese, baie erge, halitose lei – maar Klaradyn wou dit nie ook oordra nie). Hulle eet bykans enige iets (die prentjie van die ark)

7.       As hulle jou nie dadelik dood maak nie, het jy nie rede om bly te wees nie – hul speeksel is so vol gif dat jy binne 24 uur van vergiftiging vrek as hulle jou net gebyt het. (Hulle reuksintuig is so sterk dat jy maar kan hardloop so ver as wat jy wil – hulle sal jou opspoor en vreet daar waar jy gevrek het.)

8.       Hulle kan nie soos drake vlieg nie, maar is besonders goeie swemmers – hulle swem tussen die eilande rond op soek na kos en maatjies van die teenoorgestelde geslag.

9.       Hulle het 'n lewensverwagting van 50 jaar.

10.   Hulle weeg vier keer meer, en is drie keer langer, as Klaradyn.

11.   Dit wil voorkom asof hulle lewenslange bondgenootskappe (huwelikke) aangaan.

12.   Hulle besit wel die vermoë om ongeslagtelik voort te plant. ('n Wyfie wat reeds 4 jaar in gevangenisskap was, lê te mooitjies eendag haar eerste eiers in die dieretuin en broei haar werpsel uit.)

13.   Omdat die gediertes ook onder mekaar vreet, beskerm die kleintjies hulself deur in hul eie mis rond te rol en so 'n weersin (of teensin) in die grotes te wek.

Klaradyn het dit nie wou noem nie, maar dis blykbaar so dat die goed eerder sal aas as om te jag. Hul reuksintuig stel hul in staat om enige ontbindende diere oor groot afstande heen, op te spoor en so aan die lewe te bly.

Ja, ons kinders hou vir ons besig, maar dis een groot vet voorreg.

22.11.11

Dis dan nou amptelik sulketyd

Dis nou meer as 'n jaar dat ek nie meer rook nie.

En ek weet ek sal nie weer rook nie.

Ek sal seker lewenslank nog lus word om te rook as ek dit ruik of aan iemand herken, maar self rook? Beslis nie.

Ek het nie begin om noemenswaardig baie gewig op te tel nie. Ja, ek het aanvanklik, die eerste week of wat, gepeusel en geknaag – ek sou selfs die stoel se pote in my keel afgestuur het as daar niks anders was nie.

Maar toe is die gier ook verby, ek sit 'n wag voor my mond en maak nie 'n asblik van my maag nie.

En 8 maande later begin ek skielik uitswel soos 'n vy aan 'n tak.

Ek het in my kas 4 hemde wat gemaklik pas, die vier wat ek begin Oktober MOES koop, omdat ek elke oggend soos 'n te groot piesang in 'n te klein skil voel.

Die broeke is 'n groter nagmerrie – ek kan nog met 'n hemp waaruit ek swel, skool toe, maar as die broek se twee punte nie meer by mekaar uitkom nie, kan ek met daardie broek nie skool toe nie.

Ek het nou nie minder nie as 9 broeke na heel regs in my kas geskuif – oor ek bloot nie meer in hulle kan kom nie. Dan is daar nog 'n paar waarin ek miskien nog kan kom, maar nie langer as 'n uur kan bly nie.

Ek kontroleer – ek tel nog nie, maar ek kontroleer – nou van Dinsdag af die kilojoules wat ek in my maag afstuur. Ek kan nie anders nie.

Gister het ek van 'n moontlike oorsaak vir die skielike gewigstoename (ek het dit aan die middeljare toegeskryf) van die laaste drie of vier maande gekry.

My cholesterol neig na hoog, dit is nie bo die perk van normaal nie, maar grensend aan dit wat as hoog geag geword. Aangesien die mans in my familie nie ou bene gekou het nie, stel die doktor toe voor ek gebruik medikasie. Dit het my so twee maande geneem om die eerste maand se pilletjies op te gebruik. En ek het nie weer gaan pille kry nie.

Nou sê iemand my dis die geneuk met cholesterol-pille – dit maak jou liggaam verslaaf aan hulle, so by so dat as jy eers op die goed is, jy daarop moet bly. Die liggaam wil daarna glo nie sonder die pille doen, wat dit voorheen self en sonder hulp van pille gedoen het nie.

Bla, bla, bla, bla...

Maar as ek terugdink aan wanneer ek met die pilletjies gestaak het, en wanneer ek begin gewig optel het, dan maak dit perfek sin.

So of dit nou die rede is waarom ek skielik begin stoel het, of nie, maak nie saak nie – ek het ten minste 'n verklaring waarmee ek myself kan vereenselwig. As baie ander, en daar is die letterlikes,  kan glo Noag het saam met hom op 'n skip 'n broei- en teelpaar van elke lewende dier op aarde – ook die duisende soorte wat intussen uitgesterf het, en die duisende soorte wat in ons eie tyd nog wag om ontdek te word – geneem, omdat die ganske aarde oorstroom is, kan ek glo die cholesterolpil se dienskontrakverstryking het my vet gemaak.)

Oktobermaand gesels ek toe een oggend om die ontbyttafel by 'n gastehuis met 'n doodnugter mansonderwyser van ongeveer my ouderdom.

En hy eet gesond, sonder om my oorlade vetterige bord lipiede en ander gemors te kritiseer.

Hy vertel my toe van die dieet wat hy in daardie stadium toe vir rapsie meer as 'n maand volg en hoe goed dit hom nie net doen nie, maar hoe goed dit hom laat voel, ook.

Om 'n lang storie, kort te maak – ek dieet dan nou van Dinsdag af.

In hierdie stadium is dit nog net 'n eetplan, en nie 'n dieet nie – ons het nog hopeloos te veel verkeerde goed in die ys- en koskas wat eers moet op en uit. Daar was byvoorbeeld die lekkerste bak ertappelslaai wat ek in Helman’s mayonnaise verdrink het, wat moes op. Ek weet nog nie hoe lank ek is nie.

En ek weet nie of ek kans sien om die twee appels wat ek elke dag eet, eers te weeg om te weet hoeveel kilojoules in hulle opgesluit is nie

Ek het ook nie die wilskrag om, nadat ek gelees het hoeveel kilojoules daar in 100 g bruin rys en lensies is, te weeg hoeveel weeg 'n koppie bruin rys en lensies, sodat ek kan bereken hoeveel kilojoules daar in my porsie rys is nie.

Ek weet bruin rys en lensies is beter vir ons almal as wit rys sonder lensies, daarom het ek dit gekoop.

Ons sal seker weldra begin weeg en tel en mal gaan.

As ek my splinternuwe elektroniese skaal kan glo, het ek sedert Dinsdag van 126.7 na 123.4, vandag, beweeg. Ek glo nie die skaal nie.

Ek eet beslis nie minder as voorheen nie, eerder oordeelkundiger.

Ek het byvoorbeeld nog nooit voor skool ontbyt geëet nie (ek eet oor naweke ontbyt, en as ek in gastehuise bly). Nou eet ek elke oggend 'n bordjie hawermoutpap (weliswaar sonder die twee eetlepels dubbeldik room en stroom regte egte esdoringstroom – soos ek eintlik daarvan hou – met 'n knypie kaneel of skeut whisky daarby).

En dis amper die lekkerste van die hele storie – daardie vyf minute van rustig wees om tyd te maak om ontbyt te eet.

Ons neem kos skool toe, vir 13:00 of 14:00, en 'n vruggie vir pouse.

Die guru aan wie ek my ore uitleen sê ons moet aanhou eet waarvan ons hou, ons met net kilojoule-vriendeliker weergawes selekteer. Asof iemand nou dalk van 'n gesonder opsie vir Nutella-sjokoladesmeer op wit brood sal weet!

 Wat sou die baie vet kon vervang aan die repie rooivleis wat die tipe biltong is waarvan ek die meeste hou? En hoe nou gemaak met vars wit brood en regte egte botter (of soos ek daarvan hou, regte egte botter afgerond met 'n grypie vars wit brood)?

Die ander ding wat hy propageer, is dat jy openbaar moet gaan met jou dieet en dit nie in die kas moet hou nie.

En dis wat ek vandag doen – ek staan by die stadspoorte en verkondig dit luid:  Hans Moolman is op dieet! En baie begeesterd daarby!

16.11.11

Goeters van glas

Ek kry 'n week of wat gelede die volgende SMS-boodskap:

Ek het gister Coenie se Hart van Glas-CD gekoop. As jy net deur die lirieke lees, laat dit jou stil. Dié man raak my siel aan, elke woord wat hy skryf is waar en ek kan met al die liedere identifiseer. Ek sal later luister: ek betwyfel dit, maar netnou bederf die luister – net miskien – die ongelooflike teks wat elke lied dra.

Ek antwoord nie, Annieka het ook dieselfde boodskap gekry en dit bevestig vir my die euforie waarin my vriend is – ek sal nie nou pla nie.

Maar Maandag lees hy in 'n binnekringvergadering die volgende voor en ek besluit om van die man se nuutste CD te vergeet en eerder te probeer om 'n opname van dié ou bekende te bekom:

KATEDRAAL

In my kerk is daar geen dak nie
Geen reliëf of skildery
Geen kandelaar wat hoog moet hang nie
Almal kan hier toegang kry
Want my koepel is die hemel
Hoog genoeg vir al die sterre
Breed genoeg vir die planete
Hier sal jy stilte
Hier sal jy vrede
Hier sal jy rus by My kom kry

In my kerk is daar geen mure
Wat ‘n horison beperk nie
Daar's geen deure en geen slot nie
Geen register om te merk nie
Want die berge is die suile
Waar die arende kan skuilhou
Ja, die vlaktes is my vloere
Hier sal jy stilte
Hier sal jy vrede
Hier sal jy rus by My kom kry

In my kerk is daar geen vensters
Wat met brandglaskleure blink
Geen nagmaalbrood wat jy moet breek
Of wyn wat iemand nog moet skink nie
Want in my kerk sien jy die kleure
In die skemer as die son sak
En die laaste wolke saampak
Hier sal jy stilte
Hier sal jy vrede
Hier sal jy rus by My kom kry

In my kerk is daar geen koor of
Orrel wat die rus verstoor nie
Hier vra niemand vir jou geld nie
As jy bieg, sal niemand hoor nie
Want die storms is perkussie
En die wind wat nooit wil rus nie
Maak musiek in al die bome
Hier sal jy stilte
Hier sal jy vrede
Hier sal jy rus by My kom kry.

Ek is toe uit, en kom toe weer terug, nie met een nie, maar met twee CD’s, want Coenie de Villiers het oor die jare heen al baie met my reggekry.

Sedert daardie eerste keer.

Daardie eerste keer was iewers op universiteit, iewers in die tagtigerjare.

Ek het daarna al baie keer skuldig gevoel daaroor, nie net oor Coenie se Skoppensboer nie, maar so baie ander ook.

Toe dit duidelik word dat ek op Potch gaan swot, het dit my ma, soos enige ordentlike ouer daardie jare, betaam om haar seun vroegtydig na hierdie Wes-Transvaalse dorp te ry en 'n boekrekening vir die mannetjie se studies by een van die twee studenteboekwinkels op Die Bult oop te maak.

So had ek dan van die heel begin af, 'n boekrekening by Pro Rege. (Ek verbeel my die een langsaan se naam was Wesfalia, maar dan verbeel ek my weer Wesfalia is die naam van 'n skool op, of voorstad van, Klerksdorp.)

Ai, en vir die volgende vier jaar het my ma op Alberton die pot aan die kook gehou, nie om die pot aan die kook te hou nie, maar om maandeliks haar seun se Pro Rege-rekening te betaal.

Dit was soos 'n bodemlose put, 'n kredietkaart sonder limiet: sien ek 'n boek, dan skryf hulle hom vir my op en arme Judy, enkelouer en broodwinner wat sy toe al was, moet betaal.

En sy het nooit die rekening bevraagteken nie. Het sy geweet ek koop boeke wat streng gesproke nie voorgeskrewe universiteitshandboeke was nie, maar sy het my maar laat begaan?

Of het sy gedink dis maar soos dit is, om vier jaar lank, elke maand nuwe studiehandboeke aan te moet koop?

Ek weet nie.

Maar ek het nooit iets anders as boeke op die rekening gekoop nie, nie skryfgoed nie, nie tiklint nie (ja, dit was nog tikmasjiene, Underwood portables, waarmee ons gewerk het) – nie eers koeverte of kaartjies of ander oulike goedjies (wat maar min was) wat die plek van tyd tot tyd aangehou het nie.

Dis nou tot hulle 'n rak met tapes ook gekry het – 'n klein maar eksklusiewe musiekversameling.

En daar koop ek toe een Saterdag, ek het Bult toe gestap, Coenie de Villiers se eerste vrystelling – Skoppensboer, in die hoop dat die rekening wat op Alberton gaan aankom gaan sê:  Coenie de Villiers – Skoppensboer. En as my ma dan sou vra wat dit is, dan sê ek bloot dis 'n nuwe digbundel wat ons vir Afrikaans-Nederlands nodig het.

Ek onthou dit goed, want dis die enigste musiek wat ek op rekening gekoop het. Ek het ander musiek, Laurika Rauch wat Ou swart kitaar sing, ook daar gekoop – maar dit was kontant. Skoppensboer was op skuld, ma se skuld, en ek verbeel my vandag dit het die asembenemende bedrag van R20-00 gekos.

Ek onthou ook spesifiek dat ek gestap en nie fiets gery het nie – ek sien myself oor die bult stap en die kasset in my walkman sit – gevolg deur die beneweling (wat meer as 20 jaar later steeds duur): 'n eerste, heel, heel, eerste kennismaking met Coenie de Villiers.

Ja, Coenie was nie bekend en gewild in daardie jare nie. Ek kan my nie indink dat die Afrikaanse Diens van die SAUK my aan Coenie de Villiers gestel het nie. Nee, ek het daardie eerste kasset gekoop (ek het dit steeds in 'n boks in die garage) suiwer op grond van omslagontwerp ('n bont harlekyn) , die naam (Skoppensboer), en die feit dat dit 'n nuwe Afrikaanse sanger is wat die musiek vrygestel het.

En van toe af het hierdie man al baie met my reggekry, met my uitgerig.

Hy het my al vertel dat ek verlief is, hy het my al laat verlang na mense wat ek al ontmoet het, én, belangriker nog, hy het daarin kons slaag om my na mense wat ek nog nooit ontmoet het nie te laat verlang.

Hy had my al by herhaling bly dat ek in Suid-Afrika bly. Hy had my al nostalgies, in verset, aan die dans, gil en jil.

Hy het al bykans alles aan my gedoen. Behalwe nou om my te laat huil.

Hy het al snaakse dinge aan my gedoen ook, maar meer nog – hy het mý al vreemde en snaakse dinge laat doen.

So het ek van die snelweg afgetrek om Umgababa, aan die ooskus van ons land, op te gaan soek.

En toe ek daar nie dadelik kry wat ek soek nie, het ek spoedig op 'n grondpad beland, tussen palmiete uitgery, en twee ure later eers weer die snelweg begin soek.

'n Goeie 15 jaar terug – ons is daardie jaar via Vosburg af Kaap toe, net om te kyk hoe lyk dit op Vosburg – het gebeur wat ek altyd hoop sal gebeur met Laurika se liedjie wat vertel van niks wat so rooi soos wingerdblaar in die Hexriviervallei hang as jy daar afry nie. Maar ek is nog nooit in die herfs af Kaap toe nie – ek het elke keer die liedjie in die gereedheidshouding, en ek luister met oorgawe, en sing met net soveel oorgawe saam, maar verdomp of die wingerde rooi wil staan.

Maar hierdie agtermiddag ry ons deur die Karoo, drie motors (waarvan die eerste al twee kilometer anderkant Johannesburg, by die eerste tolhek begin probleme gee het) en ons motor trek onmiddellik toe dit begin reën op die soom van die pad af. Die ander wonder dadelik wat is fout en trek ook af.

Maar toe hulle nader begin stap om te kom verneem wat aangaan, toe gooi en elke motordeur wawyd oop en trakteer hulle, top volume, op Coenie se Karoonagte.

En ons is uit, almal uit, en die stof staan op uit die veld, en ons dans.

Wat 'n katbos is, en hoe kambro ruik, sal ek nie weet nie, maar daardie agtermiddag was ek omring van katbos, en ek onthou tot vandag toe nog hoe die kambro daar langs die pad geruik het.

Party van die mense in Coenie se liedjies gee kleur en vorm aan my familie – as die smous op die plaas kom aandoen en die ma stuur die kinders uit, verwyt ek nie my ouma oor die storie wat ek hoogstens twee keer in my lewe oor haar gesuggereer gekry het nie.

Elke liedjie vertel 'n storie. En so is dit ook met Coenie.

Ek en Annieka het een Valentynsaand in sy geselskap deurgebring (ons onthou hom, hy sal ons, of die venue, nie eens meer onthou nie.)

Ek het talle ander lieflike herinneringe aan konserte en optredes oor die hele land, groot teaters, klein intieme teatertjies.

Die man kan ons Pretorianers tog so maklik so goed laat voel.

Ja, die man en sy musiek kan met my toor.

Maar nog nooit het hy my laat tjank nie.

En toe vanoggend, in die verkeer op pad werk toe, kry hy dit reg, nie een keer nie (miskien is dit oor ek hierdie tyd van die jaar moeg, oorwerk en uitgemergel is) maar twee keer, twee snitte, direk na mekaar – die een van die pa’s, en dan die een van die ma’s.

Maar nou sal ek eers moet opstaan en oopsluit en motor toe, die lirieke is nog te vars – ek kry dit nergens op die internet om te cut & (illegally) paste nie.

Jy kan dit luister ook, ek sal die skakel gee, maar lees eers. (Nie almal hou van hoe die man sing nie – hê dan net waardering vir die liriek.)

HART VAN GLAS

My huis is nie 'n plek nie –
'n kamer of 'n land nie
My huis het nie 'n tuin nie,
'n dak of selfs 'n deur nie
My huis is waar my kinders is,
Ek is tuis as ek kan weet
waar elkeen hom of haar bevind:
dis ál wat ek moet weet

Want ek loop in my pa se skoene,
ek loop in my pa se jas
En ek weet ná soveel jare
'n pa het 'n hart van glas
'n Pa het lief, maar onvolmaak –
dis dikwels krom en skeef
En al gebeur dit veels te laat
kom sy liefde tog op dreef

My huis het geen adres nie,
geen straat of poste restante nie;
geen lig in donker vensters nie,
geen nommer op die hek nie
Want my huis is waar my kinders is,
Ek is tuis as ek kan weet
waar elkeen hom of haar bevind:
Dis ál wat ek moet weet

Koor

Steve se tjoklitbeksoentjies wat so soet soos lemoentjies is, is my kleintyd se Pappa-en-Klaradyn-liedjie.

Hierdie een weet ek, gaan my (ons) nog op ver paaie dra.

En toe ek nou klaar so lekker ry en tjank, te skaam om links of regs in die oggenspitsverkeer te kyk, toe kom staan en foeter die man, én Amanda Strydom én Sibongile Khumalo die volgende in my gemoed, en daar huil ek sommer oor oorle’ Judy ook:

THULA

Daar’s 'n moeder in Soweto,
daar’s 'n ma op Waenhuiskrans
Daar’s 'n baba in haar arms
terwyl sy om die kamer dans

Sy sing sag, soos net 'n ma kan
'n deuntjie in die nag –
oor haar drome vir die toekoms:
wat sy van haar kind verwag

Sy sing oor ou legendes;
van mense lank reeds dood
Sy sing oor diep riviere –
van voorspoed en van nood

En die wysie wat sy neurie
word duisend keer herhaal
Vir honderdduisend moeders
is dit dieselfde ou verhaal

Thula thu, thula baba thula sana
Thul’ u bab’ uzobuya ekuseni.
Thula thu, thula mtwana thula sana
Thul’u bab’ uzobuya enthabeni.

Sobe si khona a baye beshoyo
Bethi buyela u buye le khaya    
Sobe si khona a baye beshoyo,               
Bethi buya mtwana ubuye le khaya

Thula thula, thula sana
Thula thula, thula baba
Thula thula, thula mtwana
Thula thula, thula ba…

Daar’s 'n ma in Gugulethu;
daar’s 'n ma in Graaf-Reinet
Sy sing 'n ou-ou liedjie
vir die baba in haar bed

Dis 'n lied wat elke ma ken –
sy gaan haal hom diep, en ver
Dit vertel van kronkelpaaie;
van die maan en morester

Ja, dis die soetste melodie
wat 'n mensekind kan hoor
Jy kan dit nooit vergeet nie,
want sy sing dit oor en oor

Al lyk hul soms verskillend
bly elke ma oneindig trou
En sy sing haar lied van liefde
Vir alle kinders, ook vir jou

Thula thu, thula baba thula sana...

Haai, dat hierdie man dit toe nou in soveel jare nie kon regkry nie, en toe vanoggend skielik sommer twee keer.


(Toe vergeet ek van die skakel, en vanoggend kry ek die ding nie aan die gang nie - wat 'n jammerte!)