Dit is van kleintyd al duidelik dat ek van kosmaak hou. Inaggenome die gesins- en breër familieband waarbinne ek gestalte aangeneem het, is dit te verstane.
Ek maak nie kos om bloot net kos in my maag te kry nie – ja, die hedonis in my vra om bevrediging, maar kosmaak voed meer as net my maag, dit voed my siel ook.
Ek kommunikeer dat wat ek nie sommer in woorde kan omsit nie, met die kos wat ek voorsit, met die aandag en tyd en moeite en liefde wat ek insit.
Ek praat met jou, ek sê ek is lief vir jou, jy maak vir my saak.
As ek die botter Maandag in sy papier op die tafel sit, maar Woensdag in ‘n bakkie voorsit en Vrydag in bolletjies gerol aanbied, het ek drie verskillende boodskappe by jou tuis probeer bring.
‘n Vriendin vertel dat sy nooit juis van kosmaak gehou het nie, maar dit tog geniet het toe een van die kleinseuns op nege eendag uitroep: “Oe, Ouma, ek wéns my maag was groter!”
En vir my sal so ‘n opmerking ook die adrenalien en melatonien en elke goed-voel-ensiem en ding in my liggaam in die hoogste versnelling en rat plaas.
Ek weet trouens nie wat die lekkerste rondom kosmaak is nie – my eie stiltetyd en liefdesdiens in die kombuis om die kospotte, of die sakrament om die etenstafel en sy borde nie.
En dan het ek in hierdie verband die afgelope ruk bewus geword van dimensies in my liefde vir kosmaak en voed waarvan ek nie die vaagste benul had nie:
As ek smiddags vier die twee Indiese ringnekparakiete hulle vruggie vat, dan gaan loer ek hulle af vanuit die kombuisvenster om te sien hoe hulle die vruggie geniet – eintlik deel ek so in hul genot.
Ek betrap myself dat ek hul vier kosbakkies (drie vir kos en een vir water) volmaak met die ook op kleur en variasie. Ek sit ook nie byvoorbeeld die saad- of vrugtebakkie elke dag op dieselfde plek nie – ter wille van afwisseling, en om verveling te probeer voorkom, wissel ek dit ook af.
En dan praat ek nog nie van die hase nie. Ek pak hul aandbord met ‘n verskeidenheid groete partykeer suiwer met die oog op ‘n aantreklike aanbieding. Die spatsels beet word effekberekend tussen die ligter skyfies patat en koolblare ingewerk. Ek maak daarmee soos een wat sy Griekse slaai finaal afrond met die wit blokkies fetakaas en donker korrels olywe.
My kop raas. Maar dis met lekkerte dat ek die bord dan in my kelner, Klaradyn, se hand prop en haar die haashok instuur.
Dan is daar nog die bedelaar in Colbyn waar Psalm 23 in Kerkstraat doodloop.
Psalm 23 is ‘n stukie pad waar enige outjie uit Pretoria-Moot ware waters waar daar waarlik rus is en die groenste van groen weivelde kon geniet. Maar toe bou hulle gholf-oefenbof op die stukkie vleiland en niks was daarna ooit weer dieselfde nie.
Ek boikot nie die tolpad skool toe suiwer op grond van suinigheid nie, ek verkies bloot die rustigheid wat Psalm 23 my bied.
En as jy aan die einde van die Psalm kon, knap na jy nou net gery en die oorloop van jou olie- en lewensbekers bedink het, staan daar ‘n ou man by die T-aansluiting met Kerkstraat.
En in die baie van die bietjie wat ek het, is daar oorgenoeg om hom soggens van ‘n toebroodjie te voorsien. Ek maak vir Klaradyn ‘n skoolbroodjie. Baie keer maak ek vir my en Annieka ‘n broodjie. Dit vat niks van my om vir die man ook ‘n ietsie te maak nie.
Ek het agting vir sy ouderdom en sy growwe hande, ek respekteer sy sout-en-peperbaard. Ek weet hy is wyser as wat ek slim is – en dis vir my heerlik om vir hom ‘n toebroodjie te maak.
Ek het hom nog nooit bakhand sien staan nie. Hy staan bakhand sonder om bakhand te staan, want ek weet werk gaan hy nergens kry nie, nie op sy ouderdom nie.
Sê maar vir my dis mense soos ek wat mense soos hy op straat hou. Dit maak nie saak nie. Ek weet die Lotto-geld en die staat gaan nie ‘n broodjie in sy hand stop nie, verhinder my nie om dit te doen nie.
Haai, en selfs vir die ou man kan ek nie maar net twee snye brood aanmekaar plak met grondboontjiebotter of iets nie. Dit moet keurig wees en iets om na uit te sien, iets om te mis as ek die oggend nie daar verby kom nie.
Party oggende is daar nie tyd nie, of, soos vanoggend, bloot nie nog brood of ‘n vruggie nie – dan ry ek maar ‘n ander pad. Maar eintlik weet hy – as ek het, dan gee ek; die dag as ek nie het nie, dan hou ek verby.
Om hom te sien eet, of bloot net afloer en die papier oopskuif om te sien wat op vandag se broodjie is, gee vir my onberekenbare genoegdoening.
So, ja, dit ís soos ek gesê het: ek weet nie wat die lekkerste is nie, die bak van die brood, of die uitdeel van, en deel in, daardie symste brood nie.
1 comment:
Hi Hans, ons Trial en Error blog ook nou live... uiteindelik! Hiermee link as jy wil follow:http://trialanderrorcooks.blogspot.com/
Groete,
Inge
Post a Comment