Ons het Saterdag in die geselskap van die skool se Verteenwoordigende Leerlingraad deurgebring. Die VLR is niks anders nie as die twee klaskapteins van ouds wat in elke klas tot leier verkies word. Ons span ook nog ‘n prefekkorps wat uit die matrieks verkies word, in om sekere leierskapspligte wat nie binne die jurisdiksie van die VLR val nie, te hanteer, en die prefekte is ook saam.
Klaradyn gaan nog elke jaar van haar lewe saam op hierdie jaarlikse uitstappie – maar waar my of Annieka se bydrae nog altyd vir die middag geskeduleer was en ons tradisioneel eers na middagete aangemeld het, was Annieka se spreekbeurt vanjaar voor ontbyt, terwyl ek eers na 16:00 aan die woord moes kom.
So Sussie is knap voor 06:00 in haar slaapklere in die motor gelaai en ons het die uur en ‘n half kampterrein toe aangepak. In ‘n stadium fokus ons so op Annieka se aanbieding, dat ons by die afdraai van die snelweg af, verby ry. Die 90 minute op die pad word toe 120.
Daar aangekom, hol Mamma om haar aanbieding te gaan maak, en Sussie kry haarself uit haar pajamas in speelklere in – sommer in die kar. En toe begin die pret.
Ek was gerat met nie minder nie as ses pakke speelkaarte, Rummy Cup, tekengoed, drie speletjies wat die brein uitdaag; selfs ‘n storieboek ingeval van reën en ons uitgekuier raak met die res van die goed.
Maar nee, o, aarde, toe ons in ons speelpakkie uit die motor klim, toe begin, soos ek gesê het, die pret, en op die ou einde het ons vir 20 minute geteken (toe die leerders met een van hulle lesings besig was en ons reeds die swembad vir langer as ‘n uur en ‘n half tot ons privaat beskikking had) en vir tien minute om die aandete se kamp- en braaivleisvuur kaart gespeel.
Die res van die dag was ons, óf in die water, óf op ‘n hindernisbaan se hindernis, óf besig om een van die literiabaan se uitdagings op ‘n graad 2-vlak op te los.
By die hindernisbaan het ons eers my graad die 17 minute wat dit hulle van die begin tot die einde en afsluiting met hul spankreet geneem het, aangemoedig. Toe het ons hier en daar aangespoor en toegejuig. Maar die oomblik toe die laaste groep so drie hindernisse in die roete in was, toe het ons gesinnetjie, met Klaradyn as ystervrou-atleet, eweneens op graad 2-vlak, die hindernisbaan kafgedraf. Dis nou met uitsondering van die laaste “putjie” wat luiperdkruip in ‘n moddersloot en onder deur ‘n trekker-buiteband in ‘n watergat/modderpoel ingesluit het.
Agtermiddag, na ons boerbokkies met ‘n sterk Europese verlede (sulke kleinerige bruin en swart boerbokkerige bokke wat beslis nie regte egte uitgevrete Suid-Afrikaanse op-die-soom-van-die-pad boerbokke is nie) met die hand gevoer het, dis nou toe die groot kinders se dinkwerk op die literiabaan ons verveel het, is ons af plaasdam toe.
By die dam het die leerders vlotte moes bou, maar in al die tyd wat hulle vlot gebou en hul vlotte uitmekaar gebreek het, het ek en Klaradyn met ‘n boereplaasweergawe van ‘n glybaan die dam ingeplons.
Toe elke graad se vlot natuurlik eers finaal afgeskryf is en die groepe die foefie-slide, glybaan en ander pretgoed wat in die dam ingebou is, begin beset, het Pappa en Klaars die glybaan aan hulle afgestaan.
Dis toe ook op daardie punt Klaradyn my amper afgeskryf het. Sy wil toe mos na Mamma, daar doer, aan die oorkant van die dam (ja, daardie spikkeltjie daar oorkant kan miskien Mamma wees) gaan. En nee, sy wil nie stap nie, sy wil swem.
Ek is onmiddellik trots op die afstand wat my dogter wil afbyt en wil haar nie ontmoedig nie. Ons pak ons eie Midmar-myl toe aan. Die myl word toe 25 meter en toe kan Sussie nie meer nie, toe moet Pappa haar verder uitswem.
En Pappa was op skool reeds nie ‘n wafferse swemmer nie – en van toe af het dit vir 29 jaar nog net verder agteruitgegaan.
Ons kom met Pappa se kloppende hart en fluitende longe by die spikkeltjie aan wat halfpad darem gelukkig Mamma se gestalte begin aanneem het.
Die maklike ding sou wees om nou die langpad terug na my bril en ons handdoeke grondlangs aan te pak. Maar met my dikke kale bolyf gaan ek nie die kinders ‘n skrik op die lyf wil jaag nie, en ek besef ons sal tot daar anderkant moet swem.
Ek groet my vrou met die woorde dat hulle ‘n ogie op ons moet hou, verdwyn ek halfpad onder die water en kom nie weer op nie, moet hulle iemand instuur om Klaradyn te gaan red.
Op die retoer was ons nie 10 meter in nie, toe maak Klaradyn haar op my maag tuis en ek moet die res van afstand op my rug agteruit probeer spat en plas en watertrap.
Ons het dit gemaak en ek het 10 minute gevat om te herstel, nie waar nie, op ‘n snotglad slymbedekte onderwater sementtrap.
Toe ons net na 20:00 in die motor klim om die slaggat-pad terug aan te pak, sê Klaradyn, lief en dierbaar wat sy is: “Sjoe, dankie julle, dit was ‘n baie lekker dag.”
En toe Annieka 30 meter verder, dis nou dertig meter verder in ‘n motor op ‘n grondpad, vra of sy darem vanoggend die klompie buffels gesien het, toe word ons met stilte beantwoord.
Sussie het letterlik dankie gesê vir die lekker dag, haar kop neergesit en dadelik, onmiddellik, aan die slaap geval.
Maar dit het my oortuig, nie dat ek oortuiging nodig had nie, Sussie het nie net ‘n lekker dag gehad nie, sy het ‘n heerlike dag gehad.
No comments:
Post a Comment